IT’S ABOUT TIME

March 15th, 2016

Op 13 Januarie 2014, begin Wim Fourie, my man, reisgenoot, geesgenoot en inspirasie, sy laaste bloginskrywing “ droommateriaal”, met die volgende profetiese woorde:  ‘n Nuwe jaar verdien ‘n nuwe uitsig. ‘n Agterlaat van die oue en die blye ontvangs van die nuwe. Die nuwe jaar vra vir ‘n nuwe foto.

 

Op 14 Junie 2014 sterf hy na ‘n reis van elf jaar met prostraatkanker, wat  op 3 Junie 2003 by hom gediagnoseer is.  Reeds in 2014 het ek ‘n besluit geneem om met hierdie blog, ‘n oop-oog reis, voort te gaan, maar ek het nie die moed gehad om te begin nie.  Op 4 Januarie 2016, ontvang ek ‘n uurglas as geskenk van Wim se niggie, Alta en dit word die prikkel om te begin.

 

123

 

Die afgelope jaar en sewe maande stoei ek met die grootste verlies in my lewe.  Hoe begin ‘n mens oor na ‘n sprokieshuwelik van agt jaar?.  Ek luister weer na die lied van Carly Simon, waarna Wim in hierdie laaste blog verwys:

“Take a look around now

Change the direction
Adjust the tuning
Try a new translation
Don’t look at your man in the same old way
Take a new picture…

(The stuff that dreams are made of)”

Ek lees weer die woorde op die uurglashouer- “ it’s about time “ en ek weet dat dit tyd is om ‘n nuwe foto te neem.

 

124

 

“ Being rich is having money;  being wealthy is having time.  You may search my time –worn face, you’ll find a merry eye that twinkles.  I am not an old lady, just a little girl with wrinkles.  Time is precious, but truth is more precious than time.  All great achievements require time.  A wise person does at once, what a fool does at last. Both do the same thing:  Only at different times.  You will never find time for anything.  If you want time, you must make it.  Opportunity knocks at the strangest times.  It’s not the time that matters but how you answer the door.  Regret for wasted time is more wasted time.  “

Ek wil jou uitnooi om ‘n nuwe foto te neem en saam met my oop-oog te reis.

 

Lynette Fourie

 

 

 

 

 

Droommateriaal.

January 13th, 2014

IMGP9714-1

‘n Nuwe jaar verdien ‘n nuwe uitsig. ‘n Agterlaat van die oue en die blye ontvangs van die nuwe.

Die nuwe jaar vra vir ‘n nuwe foto.

Carly Simon sing gepas:

Take a look around now

Change the direction
Adjust the tuning
Try a new translation
Don’t look at your man in the same old way
Take a new picture…

(The stuff that dreams are made of)

Onwillekeurig dink ek terug aan die dag vyftien jaar gelede toe die liedjie in ‘n Supermark in Barcelona gespeel het…

Toe die nagtrein vanaf  Parys vroegoggend die stasie op Barcelona binnekom, is dit asof daar ‘n vreemde stilte heers. ‘n Afwagting.

Die perron is donker toe ons afklim. Ons is in ‘n keldervlak van die stasie. Ons raap ons bagasie bymekaar en klim af. Ek ervaar ‘n vreemde gevoel toe ek van die trein afklim. Behalwe vir die donkerte van die perron klink daar in agtergrond klassieke musiek. Dit voel asof ek deel is van ‘n surrealistiese film noir. Ons beweeg met die roltrap na die boonste vlak van die stasie en verkyk ons aan die gewoel en al die winkels en besighede. Ons plaas al ons bagasie op ‘n hoop en begin rondom ons kyk/verken. Iewers moet ons blyplek vind. Ek bly by ons bagasie-stapel terwyl die toervriende gaan soek vir verblyf. Hulle kom terug na ‘n ruk en sê dat ons geholpe is met slaapplek vir ons paar dae in Barcelona.

Toe ons die bagasie optel om  die blyplek te gaan opsoek, is my kamerasak weg. Ek kyk en soek tussen die stukke bagasie. Die swart sak is weg. Gesteel. Iewers het ‘n skelm gesien dat die mense vreemd en onseker lyk en sy kans benut. Ek is kwaad – vir myself omdat ek nie die kamerasak oor my skouer gedra het nie, kwaad dat ek nie beter oog gehou het oor die bagasie nie, kwaad vir die dief, kwaad vir die vreemde stasie en stad. Ek is sommer kwaad dat ek in ‘n vreemde plek beroof is van my kamera wat ek as student met swaarverdiende vakansiewerk-geld gekoop het  een-en-twintig jaar vantevore. Kwaad ook veral omdat ek vroegoggend op die trein ook my videokamera en klaargeneemde films in die einste sak gepak het saam met my Asahi Pentax K1000 kamera. Al die foto’s wat ek in Londen en Parys geneem is, is daarmee heen. En toe word ek eers kwaad, by die besef dat die dief soveel van my herinneringe gesteel het en seker die rolletjies film wat gebruik is, iewers in ‘n asblik gaan weggooi. Die woede slaaan binnetoe en ek bly stil-kwaad. Ons probeer die diefstal by ‘n sekuriteitswag aanmeld maar kom agter dat Engels nie so maklike voertaal in Spanje is nie.

Ons vind uiteindelik ons selfsorg blyplek. Dit is nie te onaardig nie en het selfs ‘n uitsig oor ‘n deel van die stad. Maar ek bly teleurgesteld-kwaad op my bed lê. Die toervriende gaan later die stad verken en kos koop maar ek bly agter en voel gefnuik. Hoe gaan ek op die res van die toer nou foto’s neem? Al die wonderlike lande en stede wat voorlê en ek het geen getroue kamera in die hand om dit op film vas te lê nie.

Die aand gaan stap ons en begin die stad verken. Die binne-woede wil egter nie wyk nie. Ek kyk, maar ek sien nie. Ons stap deur ‘n inkopiesentrum. By ‘n musiekwinkel kyk ek na hulle klassieke musiek. die stasie het immers die toonaard van die besoek bepaal met die klassieke musiek wat daar gespeel het. Ek koop ‘n dubbel-CD met swaar klassieke musiek en koorwerke. Terwyl ons verder stap luister ek die musiek op ‘n  Cd-speler. Dit resoneer die sombere swaarte wat ek ervaar.

Die volgende oggend koop ons  kosvoorrade in ‘n Supermark – kaas, kouevleis, brood en sap. Toe ek die deur van die yskas oopmaak om die sap uit te haal, raak ek bewus van die musiek wat op die agtergrond speel – Ek hoor Carly Simon se stem en spits my ore vir die woorde:

Take a look around now, change the direction. Adjust the tuning,
try a new translation. Don’t look at your man in the same old way,
take a new picture. Just because you don’t see shooting stars
Doesn’t mean it isn’t perfect can’t you see…

 It’s the stuff that dreams are made of, it’s the slow and steady fire
It’s the stuff that dreams are made of it’s your heart and soul’s desire.

Op daardie oomblik besef ek dat ek nuut na my omstandighede moet kyk. Ek is in Barcelona, besig met ‘n uitgebreide reis. Ek kan nie toelaat dat ‘n simpele dief ook my reisvreugde steel nie. Ek moet n nuwe foto neem, met ‘n nuwe kamera. Ineens word hierdie stad met sy diepklinkende heimwee-musiek vir my mooi. Toe ons later Gaudi se Familia Sagrada kerk besoek, is ek ontvanklik vir die vreemde bekoring van die gebou en die stad. 

Met ons aankoms in Arles in Frankryk, koop een van die toervriende ‘n nuwe kamera aan leen aan my haar ou kamera vir gebruik op die toer. Nou kan ek weer met my  eie foto’s herinneringe van ons reis vaslê. Sowaar: “take a new picture.”

Eers later ontdek ek dat die titel van Carly Simon se  liedjie, The stuff that dreams are made of, eintlik ontleen is aan ‘n Shakespeare aanhaling. In The Tempest praat Prospero met Ferdinand en sê dan:

We are such stuff as dreams are made on.

Ons kuier die afgelope vakansie in ons hartshuisie in Philippolis. Ons sit in die agterste vertrek wat ons destyds met die aankoop van die huisie die “Oneintlike vertrek” gedoop het omdat dit so oninteressant en deurmekaar was. Verlede jaar het ons deurgedruk en die vertrek omskep in ‘n heerlike leef-en kuiervertrek. Ons sit by die greinhouttafel en gesels oor die transformasie wat die vertrek aan die huisie teweeggebring het. Ons kyk deur die antieke Oregon houtraam en sien die panoramiese prentjie van die geil wingerd, die bakoond, die stal, die plaashek en die rantjie wat sigbaar is, selfs ook die windpomp van ‘n buurman. Ons is intens dankbaar vir die gulheid van die huisie en dink daaraan hoe ons sy intrinsieke potensiaal raakgesien het toe ons dit agt jaar gelede gekoop het.  Die huisie  se verhaal is so met ons eie verhaal verweef. Ons het immers na die huisie kom kyk op dieselfde dag as wat ons verloof geraak het.

Die dag voor oujaarsdag nooi ons ‘n paar vriende oor vir ‘n ete onder die wingerdpriëel. Dis laatmiddag en die son kleur die wingerblare ‘n diepgroen. Ons sit om die tafel, skink ‘n glas vonkelwyn en vier die onherhaalbare oomblik. Nou. Die intense belewenis van so héél oomblik. Van Goedheid en Guns. Ons neem ‘n nuwe foto onder ons priëel. Die foto vertel van ‘n droom bewaarheid : Om saam met my reisgenoot en vriende ‘n feesmaaltyd te geniet om danke te sê vir ‘n jaar met sy kwota swaar en goedheid, maar ook  om dit op so goeie manier te kan afsluit. Om die seer van die jaar agter te laat en met ‘n nuwe verwagting 2014 binne te gaan. Met ‘n herwaardering van ons huisie wat aan ons geleen is. Van mekaar.  Van liefde. Hoop.Geloof. Van die lewe…

It’s the stuff that dreams are made of
What if the prince on the horse in your fairytale
Is right here in disguise
And what if the stars you’ve been reaching so high for
Are shining in his eyes

Don’t look at yourself in the same old way
Take another picture
Shoot the stars off in your own backyard
Don’t look any further
And you will see
It’s the stuff that dreams are made of….

 Dankie Shakespeare en Carly vir die waarheid.

 IMGP9792b-1 (3)

Die Tenacity borsel

December 7th, 2013

2013-boksies 094a-1 (2)

 

Soms (veral teen die einde van die jaar) is ‘n mense se moed- en geduldtenk maar boomskraap. Dan het jy versterking nodig!

Onlangs luister ek na die inspirerende lied wat Peter Gabriel en Kate Bush sing: Don’t Give up. Dit is ‘n lied wat inspireer tot volharding en aanhou, selfs al is al die omstandighede teen jou en alles in jou bring  jou naby die oomblik van handdoek ingooi:

I am a man whose dreams have all deserted
I’ve changed my face, I’ve changed my name
but no one wants you when you lose
Dan die refrein:
don’t give up
‘cos you have friends
don’t give up
you’re not beaten yet
don’t give up
I know you can make it good

Don’t give up. Hou uit. Hou aan.Volhard. 

Dit het my onverwags aan die Tenacity borsel laat dink. Dit was ‘n borsel wat ek as tiener gebruik het om my daaglikse taak uit te voer. Elkeen van ons gesin het ‘n paar werkies gehad wat ons moes doen in en om die huis: bv.  Ma en die sussies het kos gemaak, ek het help afdek en Pa het die skottelgoed gewas terwyl ek die afdroogwerk gedoen het en die sussies weggepak het. Kleinboet het dan gewoonlik een of ander nood ontwikkel en het homself verskoon uit die kombuis.

Elkeen het ook ‘n oggendtaak gehad om voor skool te verrig. Die sussies het gehelp met huishoudelike take terwyl dit my taak was om elke oggend terwyl ma koffiewater kook en ontbyt begin voorberei, elke gesinslid se skoene te poets.

Dit was ‘n behoorlike ritueel. Aan die begin van die nuwe kwartaal het ek vir my ‘n interessante koerant dubbelblad uitgesoek met heelwat berigte en ook advertensies. Die koerant moes dan die hele kwartaal hou. Soggens terwyl ek die vier pare swart skoolskoene en pa se bruin skoene op die koerant uitpak het ek dan so vlugtig ‘n beriggie gelees of ‘n advertensie bestudeer. Nodeloos om te sê: Ek het die koerantblad omtrent uit my kop geken teen die tyd dat ek dit teen die einde van die kwartaal met groot verligting kon weggooi!

Daar, terwyl ek sorvuldig eers die skoene met politoer gesmeer het en dan blinkgepoets het, het die tenacity borsel sy verskyning gemaak. Dit was my poetsborsel vir die skoolskoene. Op die rugkant van die borsel het die  woord Tenacity gestaan. Dit was vir my so interessante woord dat ek sy betekenis  moes uitvind. Ek vra een oggend vir my ma wat die woord beteken en sy sê: “Dit wat jy nou doen, is Tenacity – jy is besig om aan te hou poets tot die skoen mooi blink is. Tenacity beteken volharding.” Later soek ek ook Tenacity in die verklarende Engelse woordeboek op en ek vind die volgende sinonieme: firm, stubborn or persistent, cohesive, to stick or adhere. From Latin tenax, to hold.

Menige oggend was ek nie baie lus vir my takie as poetser van skoene nie want dit gevoel asof die skoene in elk geval sommer binne ‘n japtrap weer stofvuil sou wees. Tog het ek die koerantblad (wat teen die tyd al ‘n paar swart- en bruin merke op gehad het) oopgevou, die Nugget politoerblikkie oopgemaak, die borsel in die politoer gedruk en die eerste paar skoene begin politoer. Algaande het ek dan ontdek dat dit eintlik gouer gaan as wat ek gedink het en dat daar tog (moes ek teësinnig erken) iets lekkers daaraan  was om vuil skoene te poleer n blink te poets. So voor- en na prentjie. Tog onthou ek die onwilligheid om op ‘n ekstra koue wintersoggend onder die kombuislig te kniel en my taak uit te voer, terwyl ek eerder graag nog bietjie snoesig in die bed sou wou lê!  Op sulke oggende het ek die tenacity borsel ekstra styf vasgehou en vinnige poetsbewegings gemaak om die bloed vinniger deur my lyf te laat pomp.

Soms het ek probeer om tenacity in Afrikaans te vertaal, maar volharding sê nie so lekker soos tenacity nie. Eers ‘n paar jaar later sou ek in die weermag die woordjie vasbyt leer ken wat omtrent die beste vertaling van tenacity is. Daardie volhardende vashou terwyl jou geduld en moed al gedaan is. Die aanhou ten spyte van.

Ek bewonder mense wat daardie “Tenacious“-eienskap het. Vasbyt-mense.

Van so iemand lees ek in een van Dot Serfontein se verhale. In haar boek oor vreeslose Vrystaters,Systap onder die juk, vertel sy die verhaal van haar oumagrootjie, Tant Sannie van der Hoven van Leeukuil. ‘n Ware Tenacity Tannie.  Dié formidabele vrou was bekend onder almal in die omgewing en ook  volksleiers soos Brand, de Wet en Steyn was gaste aan haar huis. Sy het honderd-en-een jaar oud geword en as sy bietjie beter saamgehelp het, kon sy selfs heelwat ouer geword het, reken Dot Serfontein.

Die weduwee het haar g’n laat stuit deur enige teëspoed of  terugslag nie. Toe sy op tagtigjarige ouderdom  haar heup breek, het die kleinkinders begin reëlings tref vir versorging en ‘n invalidebestaan. Vir veertien dae het sy in die bed gelê en toe opgesukkel, die heup met boegoebrandewyn ingesmeer en met ‘n eetkamerstoel as loopraam  gehink tot in die kombuis. En dit was die einde van die gebreekte heup wat haar betref. Van daardie dag af, tot aan die einde van haar lewe, het sy gestap met ‘n eetkamerstoel as stut voor haar en met so skewe galoppie deur die huis beweeg. In die tyd het sy drie stinkhoutstoele opgeloop tot dig by hulle matte! Dis vasbyt!

Iets van hierdie (geloofs)vasbyt kry ons by die Ou Testamentiese profeet Habakuk. Te mide van die verwoesting wat die Galdeërs onder  sy volk en land saai, klim hy op die wagtoring en bly hy in gesprek met God. Te midde van al die verval, vyebome sonder vrug, wingerde sonder druiwe, ‘n olyfoes wat misluk en vee wat gesteel word uit kampe, nogtans sing hy sy Vasbyt-lied:

kee   kaw-khash’  an-ee’  aw-laz’

al sou die vrugte teleurstel, nogtans sal ek jubel (spring) van vreugde.

Ek gaan weer soek tot ek iewers ‘n Tenacity-borsel raakloop en dan die Habakuk lied sing, terwyl ek my skoene spieëlblink poets!

Daarna gaan ek weer aandagtig luister na Peter en Kate se lied: Don’t Give up.

rest your head
you worry too much
it’s going to be alright
when times get rough
you can fall back on us
don’t give up
please don’t give up

don’t give up
‘cos you have friends
don’t give up
you’re not beaten yet
don’t give up
I know you can make it good…

 

Die pad van ‘n Storie

November 13th, 2013

IMGP8699-1a (2) 

 Die lentebelofte is tasbaar in die lug. Ek is dertien jaar oud en my Ralleigh  fiets is my volbloedperd waarmee ek  teen die steil opdraand uitbeur na die besigheidsentrum toe om ‘n weeklikse aankoop by Pan African kafee te maak. Wanneer ek terugkeer, knyp ek  Die Huisgenoot onder my arm vas. Huistoe gaan dit haastig want  dit is afdraand en ek is gretig om verder te lees aan Engela van Rooyen se nuwe vervolgverhaal: “Die Blaasbalk blaas hard.”

Iets in die verhaal raak my dertienjarige gemoed. Ook die lewensgetroue illustrasies. By hoofstuk een is ‘n  tekening van ‘n man en ‘n meisie wat stap in ‘n boomryke straat. Die  eikebome is in hul herfskleure geklee en vorm ‘n mooi boog oor die paartjie. Hulle is klaarblyklik diep in gesprek – die man stoot ‘n fiets en hulle trap versigtig tussen die blare wat op die sypaadjie gestrooi lê. Die verhaal handel oor ‘n groep tokkelokke op die Kweekskool in Stellenbosch. Vir die volgende klompie weke leef ek my in in die verhaal van Gerhard en Dirk en die meisie wat so groot groot rol in elk van hulle se lewens speel, Edith.

Toe die verhaal eindig, is ek hartseer om afskeid te neem van hulle en van die mooie Stellenbosch. Tog is daar by my ‘n binneprentjie geskep van tokkelok-wees op Stellenbosch wat ek agt jaar later self sou ervaar toe ek as eerstejaar Kweekskoolstudent  op Stellenbosch aanland. Intussen het die opvolg van Blaasbalk  as vervolgverhaal in 1970 verskyn: “Silwer uit die Smeltoond.” Dit vertel Gerhard en Edith se verhaal verder waar hulle as pastoriepaar in hulle eerste gemeente werk. ‘n Paar jaar later verskyn ook  die sluitstuk in die trilogie, nl. “Mooi is die Erfenis”.

Op die eerste dag van my Matriekeksamen stap ek met vrees en bewing die skoolsaal binne waar ons die eksamen aflê. Op elkeen van die banke is ‘n helder kaartjie met ‘n bemoedigende teksvers daarop.  Op my bank lê ‘n heldergeel kaartjie met die woorde: ” Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (Ps 16:5,6) Dit word ‘n mottovers in my lewe. Ek stap as admissiestudent onder die mooi akkerbome in Tomstraat, Potchefstroom. Dit begin al ietwat soos die prentjie van die tydskrif voel, maar ek is nog net BA-student en nog nie tokkelok op die kweekskool nie.

Ek is seker dat die verhaal ook onbewustelik ‘n rol gespeeel het toe ek aan die einde van my Admissie-kursus op Potch moet besluit tussen Tukkies en Maties.

Februarie 1975 is ek ‘n ingeskrewe student op Stellenbosch. Die impossante Kweekskoolgebou pas presies in die prentjie wat ek het van Maties.  Bokant die marmertrappe van die ingang is ‘n inskripsie “Sol Iustitiae Illustra nos.” (Son van Geregtigtigheid bestraal ons).  Veral die roete vanaf my koshuis na die kweekskool langs watervore en onder eeue-oue eike vul die prentjie volmaak aan. Menige keer as ek van my koshuis na die kweekskool in Dorpstraat stap, wonder ek in watter huis sou Dirk en Gerhard kon gebly het in die verhaal. Ek kies selfs ‘n huis wat vir my die regte prentjie vorm van ‘n geskikte studente-skakelhuis. En ek wonder of ek ook my mooie  Edith eendag onder die eike gaan raakloop om saam met haar die eensame ruimte van ‘n pastorie aan te durf. Intussen lees ek  Engela van Rooyen se nuwe romans : Wenteltrap, Kontrapunt en Vuurwag en word deel van elke verhaal se inkleding en karakters. Ook onder die naam Engela Linde verskyn van haar meer populêre verhale.

Aan die begin van die tagtigerjare is ek predikant op ‘n plattelandse gemeente in die Oos-Kaap. Ek bly in ‘n reuse pastorie. Alleen. Ek wonder oor die meetsnoere wat (nog nie) in lieflike plekke geval het nie. By die dorpsbiblioteek vra ek al die nuwe Afrikaanse boeke aan wat ek graag wil lees. Ook “Vollermaan” van Engela van Rooyen.  Die tydskrifvervolgverhale wat ek so getrou in die Huisgenoot gelees het verskyn ook in die tyd in boekvorm en ek skaf vir my die drieluik verhale aan.

Na drie jaar word ek na ‘n gemeente in die Vrystaat beroep. Steeds ongetroud. Eers in 2006 lê ek en my reisgenoot ons herfsbelofte af in die mooie Clarens terwyl die bome hulle  herfstooisels aanbied as versiering. Tydens die geselligheid na die tyd, haal ek Ps 16:5,6 aan. Die meetsnoere het nou inderdaad vir my in lieflike plekke geval!

In 2007 moet my reisgenoot vir ‘n werksvergadering ‘n paar dae in Johannesburg wees. Ek lees in die tyd Engela van Rooyen se outobiografiese “Seisoene”  Dit is die eerste boek wat ek weer van haar lees sedert die grootse “Vuur op die Horison” wat ter herdenking van die Anglo-Boereoorlog verskyn het.

Die outobiografiese vertelling in “Seisoene” raak my intens. Toe ek  in die klein ure van die nag dit klaar gelees het, gaan haal ek al die boeke wat ek van Engela van Rooyen (Linde) het uit my boekrak en kom sprei dit op die dubbelbed om my. Ek dink aan al die jare van leesgenot wat ek van die skrywer ervaar het sedert die verskyning van “Die Blaasbalk blaas hard” as tydskrifverhaal in 1967. Ek besluit om die volgende oggend ‘n brief van waardering aan haar te stuur via haar Uitgewers, Tafelberg. Ek skryf dan ook die epos en stuur dit aan Tafelberg. ‘n Maand of twee gaan verby sonder enige reaksie. Ek besluit om die epos weer aan Tafelberg te stuur. Ek heg al my kontakbesonderhede aan. Ek kry bevestiging dat die epos diékeer wel aan haar aangestuur is.

Die volgende middag lui my telefoon.  Dis Engela wat bel. Sy het my epos ontvang en is baie bly oor die brief en die lang pad wat ek al loop met haar verhale (en vir al die kere dat Kleinwim bult-op getrap het om die nuwe hoofstuk van die vervolgverhaal te koop!). Ons gesels lekker en onderneem om weer kontak te maak – per epos en per telefoon. Ek vertel my reisgenoot van die goeie ontmoeting en ons sê dat ons graag eendag in Petoria by Engela en Kobie wil gaan kuier.

 In 2008 duik daar ‘n geleentheid op. Ons moet vir ‘n funksie in Pretoria wees en bly oor by vriende. Ek reël dat ons die Saterdag by Engela en Kobie ‘n kuiertjie sal inpas. Dit word ‘n oggend van heerlike kuier-gesels en dit voel of ons haar al jare ken. Ek kry ‘n groot geskenk. Sy vul die leemtes in my Engela van Rooyen versameling aan met boeke wat sy op haar rak het. Dit voel soos ‘n siklus wat na een-en-veertig jaar voltooi is.

Einde verlede jaar kry ek ‘n verdere verrassing. In die pos is daar vir my ‘n pakkie van Engela. Toe ek dit oopmaak, is dit al die ou Huisgenote van 1967 en 1970 met die verhale “Blaasbalk blaas hard” en Silwer uit die Smeltoond” wat netjies uitgeskeur  en genommer is. Ook die voorblaaie van die uitgawes stuur sy saam. Ek is kinderlik opgewonde en word weer vir daardie oomblik Kleinwim wat met sy Ralleigh weekliks bult-op trap om die nuwe hoofstuk van Engela se vervolgverhaal te gaan koop!

Die pad van die dié storie het inderdaad oor meer as veertig jaar geloop – van Virginia, via Klerksdorp, my studentejare op Potchefstroom en Stellenbosch, deur my eerste gemeente en tot hier waar ek nou weer in die Vrystaat bevind. Die wonderlike pad van ‘n storie!

2008-08-08 093a-1(2)

Die sware ligtheid…

October 28th, 2013

IMGP9550ab (3)

Sondag na Sondag het ek as dertienjarige in die bank gesit en (oorbewus van my onheiligheid) die letterboog bo die kansel gelees: Heilig, Heilig, Heilig is die Here. Dan het Heilig vir my soos ‘n swaar, onbereikbare woord gevoel. Heilig was net gereserveer vir God en engele. En die woord het my telkens skuldig laat voel. Onvolmaak. Feilbaar.

Na meer as veertig jaar sit ek weer onlangs, tydens ‘n doopgeleentheid in die kerk van my jeug. Die Heilig-boog is steeds teen die muur bo die kansel. Die kansel lyk minder onantasbaar en ver. Miskien het die feit dat die liturgiese ruimte se vloer gelig is, iets daarmee te doen, want die kansel troon nie meer so hoog bo die res van die gemeente nie. Selfs die woorde lyk nie meer veroordelend nie. Ek sien vir die eerste keer die “lig” gedeelte van die woord “Heilig”. En besef dat na veertig jaar my perspektief van die woord en die kerk tog verander het. Van die swaar,onverbiddelike, onbereikbare, na die meer toeganklike, vertroostende, versekerende.

Vreemd om te dink dat swaar en lig soos twee trek-osse langsmekaar ingespan kan word en één woord se betekenis duidelik deur die drif trek…

Dat lig én swaar elk deel vorm van die woord Heilig.

Teenstrydighede help mens om ‘n konsep beter te verstaan. In die gewilde liedjie van die “The passengers”, Let her go, word juis oor hierdie teenstrydighede gesing:

Well you only need the light when it’s burning low
Only miss the sun when it starts to snow
Only know you love her when you let her go

Only know you’ve been high when you’re feeling low
Only hate the road when you’re missin’ home
Only know you love her when you let her go
And you let her go…

‘n Mens moet soms by swaar begin soek om lig te verstaan.

In matriek is een van ons voorgeskrewe Nederlandse kortverhale: Wat gebeurde er met sargeant Massuro, ‘n verhaal is gekryf deur Harry Mulisch.Na al die jare bly die kerngegewens van die verhaal my steeds by (maars ek moes weer gaan oplees om die fyner detail te onthou):

‘n Mede-offisier skryf ‘n brief aan die Ministerie van Oorlog aangaande die vreemde gebeure rondom sersant Massuro tydens hulle tydperk in Nieu Guinea. Op ‘n gegewe oomblik kan sersant Massuro nie meer sy ledemate beweeg nie. Hulle besluit om hom na ‘n naburige dorp te stuur waar hy versorg kan word. Hy word egter al swaarder. Uiteindelik word hy so swaar dat hy deur die huis se vloer val. Wanneer hy sterf, ontdek hulle dat sy binneste kliphard geword het net soos graniet, vandaar die toename in gewig. Die gewig van herinnering en skuld wat hy sy lewe lank saamgedra het, het hom ingehaal. Hy het “swaar” geword vanweë onverwerkte skuld en binne-wroeging.

In Milan Kundera se roman, The unbearable lightness of being word juis oor die die “swaarheid”  en die “ligtheid” van menswees besin.

Die filosofie wat in die boek na vore kom wys daarop  dat die ligtheid van menswees betstaan uit die feit elke persoon slegs een lewe het om te leef en dat dinge wat in ‘n mens se lewe gebeur eenmalig is en nie herhaal word nie.

Daarteenoor is die dinge wat wel herhalend in die lewe gebeur en die besluite wat ons in ons lewens neem is dit wat die lewe sy “swaartekrag”  gee.

 Ek gaan grawe weer in my Hebreeuse en Griekse woordeboeke en sien dat die woorde vir heilig  qadosh (Hebreeus) en hagios (Griekse) is. Die woorde hou verband met vlekkeloosheid en toegewy wees.

‘n Woord wat egter met heilig verband hou, is die woord glorie – kabod (Hebreeus) en doxa (Grieks). Die Hebreeuse woord beteken oorpronklik “gewig” en “swaar”.

Miskien daarom dat ek die heiligheid en glorie van God as iets “swaar” ervaar het.

Tog is die prentjie wat in Openbaring 4 en 5 geskets word van die heiligheid van God op die hemeltroon, een van oorweldigende lig en heerlikheid. Daar is ‘n innige vreugde teenwoordig.

In my tienergemoed het ek  ‘n donker prentjie van ‘n bestraffende God gesien wat net wag om sondaars tereg te wys en met die wet te kasty.

Tog, wie God in Christus as Vader leer ken, weet dat hierdie straf juis sy volste uitvoeing op Golgota bereik het en dat toe die tempelvoorhang geskeur het, daar ‘n pad van lig en vryheid deur Christus se kruisdood geopen is. Heilig word dus “lig” gemaak deur die prys wat reeds betaal is. Ek hoef nie meer probeer heilig word of wees nie, ek is dit deur my verbondenheid met Christus.

 Toe ek dus onlangs tydens ‘n doopgeleentheid in die kerk van my jeug sit en weer na die Heilig, Heilig, Heilig is die Here kyk, is dit met die wete dat die klein seuntjie wat vandag in die naam van die die Drie-enige God gedoop word, iets van die ligtheid van die lewe kan ervaar. Ja, die swaar sal daar wees, maar die  besef – ek is spesiaal – die Almagtige het sy hand op my gelê, gee ‘n lewensblydskap en ligtheid. Mooi reis jongman! 

 IMGP9550a-1 (2)

Tussen Treine

September 12th, 2013

 

DSCF1071-1

 

‘n Oorrompelende liggroen lenteboom bevestig: die nuwe seisoen is hier. Om die verandering van die kaal takrangskikking na lewensgroen blaardraers te aanskou, is om die wederopstanding van die lewe te vier!

Saam met die nuutheid van die bottende seisoen ervaar ek onmiskenbaar die reiskriewelings in my lyf. Die meedoënlose  winter het ons beperk tot ons klein leef-en werkkring. Nou nooi die nuwe seisoen ons om te ontdek en te waag. Om trein te ry en nuwe landskappe te ontdek.

Die boek wat ek  lees, Mediterreense herinneringe, dra natuurlik by om my te laat droom oor allerlei eksotiese bestemmings en dorpies met die mooiste name wat musiekklanke oproep: La Maléne, Villeneuve, Minerve, Saint Julien-des-Molieres, L’Isle-sur-la-Sorgue…Op sy reis deur die Midi (Middagland, Land van die son) hou André P Brink noukeurig  dagboek van al sy ervarings. Dit sluit veral die streke van Provence en Languedoc in.

Hy kom tot die gevolgtrekking: “Miskien is elke reis in ‘n dieper sin ‘n soektog – na pit, ‘n essensie, ‘n hart. En al kom jy op die duur maar net by ‘n stukkie van jou eie hart uit, dan het jy – wie weet – ‘n soort skat gevind waarvoor die man in die gelykenis sy grond gaan verkoop het.”

In die dorpie Maillane is Brink in sy eie woorde op ‘n klein piëteitsreis want dit is die tuisdorpie van Frederic Mistral, die skrywer wat Provincaals weer op die voorgrond gebring het. Teen die fasade van die dubbelverdieping huis waar Mistral gewoon het, is ‘n sonnewyster aangebring met die inskripsie:

Gai lesert, beu ton soleu,

L’ouro passo que trop leu,

E deman ploura beleu

 

Vrolike akkedissie, drink jou son,

die tyd gaan alte gou verby

en more reen dit dalk…

Dit lyk vir my of  die inskripsie ook ‘n Carpe Diem bevestiging is wat van pas is in die nuwe seisoen. Benut elke dag as ‘n gawe van Bo. Leef met oorgawe. Dan eggo dit ook die woorde van die Prediker:

Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop.’n Hond wat lewe, is beter

as ’n leeu wat dood is….

Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen… (Pred (9:4,10)

Dit was dan juis ook met hierdie dringendheid om nie dinge uit te stel nie dat ek en my reisgenoot tydens ons kuier op Philippolis besluit het om plekke wat ons altyd net verbyry, van nader te verken.

Telkens as ons op die pad tussen Trompsburg en Philippolis ry, sien ons die afdraaibordjie na die ou stasie: PHILIPPOLIS  WEG.

Dié keer besluit ons om te kyk hoe die ou stasie lyk. Ons draai af met die grondpaadjie en ry die stuk of drie kilometer tot by die stasie. Toe ons by die hek inry, word ons getref deur die vervalle toestand van die eertydse mooi stasie: Philippolis Weg.

Ons begin summier foto’s neem van die ou naambord wat in sy verweerde toestand eintlik simbolies is van die verval en onbruik waarin die stasie verkeer sedert dit etlike jare gelede gesluit is. My reisgenoot stel haar kamera in om swart en wit foto’s te neem, terwyl ek die kleurfoto’s neem.

Dit word ‘n interessante middag op die stasie – ons neem ‘n paar detailfoto’s van die spore, boute en moere wat dit vashou, sinjale en watertenk. Toe  kom die stasiehuise aan die beurt. Die vreemde is dat juis die verval in die huise goeie fotomateriaal bied, maar tog is daar telkens ‘n gevoel van hartseer om te dink dat dit eens bewoon was en dat die stasie ‘n ontmoetingsplek was waar sommige persone se reis ge-eindig het en ander se reis weer begin het.

Uiteindelik stap ons weer  na die perron. Dit is behoorlik of mens in jou gedagtes ‘n prentjie kan sien van die stasie in sy bloeitydperk. Mense en goedere word hierheen vervoer en met opgewondeheid deur die wagtendes begroet. ‘n Seun, ‘n dogter keer terug van universiteit en sien met verlange uit na die kuier op hulle hartsdorpie.

Dit is asof ek weer die woorde en refrein van Richard van der Westhuizen se liedjie, Tussen Treine, in my kop hoor weerklink:

Elke keer was dit ‘n afskeid.
Elke keer weer ‘n begin.
‘n Honderd haltes langs die spoor.
Elke stasie het sy eie skim.

Tussen treine.
Tussen stasies.
Lê daar basies, net die leë spore.
Tussen treine.
Tussen stasies.
Lê die leë spasies van die onskuld nou verlore…

Onwillekeurig dink ek terug aan die epiese treinreis wat ek meegemaak het in 1967. Ek en my suster was deel van ‘n skooltoer na die destydse Rhodesië. Ons het vroegoggend op Virginia stasie opgeklim saam met die res van die toergroep en vir bykans drie dae gereis tot by die Victoria waterval by Livingston.

My ervaring van treinreis was baie beperk en dit het soos ‘n reuse avontuur gevoel om die kompartement te betrek en alles te inspekteer: Die groen banke wat ook sou dien as slaapbank snags, Die klein vlekvrye staal wasbakkie. Maar die eintlike avotuur was die venster met die afbeelding van ‘n springbokkop daarop wat kon afskuif. Dan kon jy jou kop uitsteek  en die wind voel waai – ‘n sensasie kry van beweging en spoed. Die avontuur was lekker totdat daar ‘n stukkie steenkool jou oog beland het, dan het jy gou jou kop teruggetrek en hulp gevra om dit uit jou oog te kry. 

Van die drie dagreise per trein om tot by ons bestemming te kom, onthou ek nie veel nie, net maar die opwindende gevoel om deur ‘n onbekende landskap te beweeg met die geklik-klak van treinwiele op spore as agtergrondmusiek. Ook die gerusstellende gevoel om saans (as daar uiteindelik rustigheid kom in die koepee) aan die slaap geskommel te word deur die ritmiese klanke en ligte skommeling van die treinwaens.

Iewers tydens die reis het ons die liedjie van die Sandpipers Guantanamera opskep tot Koos van der Merwe en dit dan gesing waar ons afgeklim het. Oppad na ons eindbestemming het ons op Bulawayo gestop en die Matoppos met sy kenmerkende klippe besoek en Cecil John Rhodes se graf besoek. Op ons reis terug het ons weer by die Khami-reünies vertoef.

Ons paar dae by die waterval was soos reuse ontdekking van hierdie grootse natuurwonder. ‘n Paar van ons het selfs die voorreg gehad om  in ‘n ligte vliegtuig oor die waterval te vlieg. Vir my dertienjarige gemoed was dit byna te veel om te absorbeer.

Met die terugkeer het ons ouers ons op die stasie ingewag. Soos gesoute reisigers het ons die verhale van ons reis een vir een opgediep en die soeweniers as bevestiging uitgehaal. Treinry was nou onlosmaaklik verbind met die reiservaring!

Die fotosessie op die verlate stasie van Philippolis Weg het skielik al hierdie herinneringe weer na vore  gebring. Toe ek en my reisgenoot later  die middag terugry Philippolis toe is ons opgewonde oor die foto’s wat ons kon neem, maar tog hartseer oor die verlies aan die mooi herinneringe van treine en stasies.

Toe ons  die swart en wit foto’s kyk wat die middag geneem is, is dit ineens of ons die klanke van ‘n wegstomende trein weer hoor. Ook die opbruisende gevoel onthou tydens die treinrit as jy jou kop by die venster uitsteek en die opwinding van ontdekkingsreisiger wees, ervaar.

Dan dink ek terug aan soveel dae.
Soveel stawe op die spoor.
Ja daar was voorheen ‘n tyd van treine.
Waar en wanneer het ons dit verloor?

 Ja die verlies van die verlore stasies bring hartseer, maar tog het elke reis jou nader aan ‘n stukkie van jou kern en jou eintlike hartklop gebring.

Bon voyage die lente!

                          IMGP8139a-1 (3)

‘n Reis van 3653 dae

June 3rd, 2013

IMGP9354a-1(2)

Om te reis is om te ervaar. Te ontdek. Te lééf.

Een basiese vereiste is dat jy darem moet lewendig wees ten einde te kan reis én die reis te kan boekstaaf.

Telkens op my lewensreis as ek voor ‘n taak te staan gekom het wat soos ‘n berg voor my lê, het ek myself bemoedig met die spreekwoord wat aan die Chinese filosoof Lao-tzu  (604 BC – 531 BC) toegedig word:

“‘n Reis van duisend myl begin met die eerste tree.”

Gister was dit die jaarlikse Comrades wedloop – vanjaar van Durban na Pietermaritzburg. Meer as veertienduisend deelnemers het aangetree om die wedloop van 89 kilometer aan te durf.

Kort na vyf het ek die uitsending begin dophou, geluister hoe die skare by die wegspringstreep bemoedig word met liede soos Nkosi Sikilel, Tshotsholoza en  die gebruiklike Chariots of Fire . Voor hulle het die 89 kilometer gelê en sekerlik in hulle harte dievraag: Sal ek dit kan voltooi in die vasgestelde tyd? 89 kilometer – gemiddeld 116,786 treë! Ek wil tog glo dat hulle nie aan die aantal treê gedink het nie, maar aan elke tree soos hulle dit gee, anders word mens heeltemal oorweldig!

Vandag wil ek skryf oor ‘n reis van 3653 dae en wie weet hoeveel treë?

Dis vandag 3 Junie 2013. In my gedagtes klim ek in ‘n tydkapsule en verplaas my na 3 Junie 2003. Ek lê in bed 22 in die Chirurgiese saal van die Medi Clinic, Welkom. Later sou ek so daaroor skryf:

“Something went wrong. Dit sien ek op die spesialis-dokter se gesig toe hy vra dat ek saam met hom na die kantoortjie in die saal moet kom. Die tweebed kamer is nie privaat nie.

Hy deel my die feite nugter mee: Die biopsie bevestig ‘n infiltrerende hoëgraadse adenokarsinoom. Die Gleasonskaal toon ‘n hoë 7. Die PSA telling wat nul moet wees is hemelhoog: 323 – net soos die Mazda! (Toe ek die telling later aan ‘n Doktersvriend van my deurgee, uiter hy net een woord: Bliksem!)

Die spesialis verduidelik die opsies. Hy teken prentjies op die papier – ‘n eendimensionele prostaat. dis nie my liggaam wat so lyk nie. Hy voeg die pyltjies in om na die verskillende behandelings-opsies te verwys. Ek neem dit in asof deur ‘n filter. Vra wat hy sou gedoen het as hy in my (prostaat) skoene gestaan het. Hy vertel. Verduidelik. Skryf moontlikhede op die papier neer. Professionele simpatie, met tog ‘n tikkie menslikheid wat deurskyn.

Ek luister na die inligting – uiterlik kalm, maar binnekant begin die gedagtes rondmaal. Nadat die dokter met ‘n simpatieke handdruk groet, vra ek die suster of ek in een van die onbesette kamers bietjie kan gaan sit. Sy knik begrypend en lei my na ‘n leë kamer. Sy trek die deur saggies agter haar toe. Ek kyk rond in die tipiese hospitaalvertrek. Waar begin mens om dié nuwe inligting deel van jou lewe te maak? Hoe hanteer mens die Aliens in jou lyf? Ek raak stil en vra die Vader vir kalmte. Veral ook vir wysheid om die nuwe stuk pad te loop. Later keer ek terug na bed 22. Skielik voel dit asof ek ‘ n ander persoon is as wat netnou hier uitgestap het. Ek reis nou in die skaduwee van die Groot K.

My reisgenoot bring vir my ‘n piouter kruis met ‘n blou steen in die kruispunt. Sy sit stil by my. So baie om oor te gesels. So min woorde. Ons reispad-vriendskap het dan pas eers begin.”

Vandag, 3 Junie 2013, dink ek terug aan die vreemde, wonderlike reis van tien jaar, 3653 dae (die drie skrikkeldae ingesluit!).

Vreemd, want dit is ‘n ongekarteerde roete, ‘n stuk onbekende pad met allerlei vreemde prosesse wat in jou lyf gebeur. Jy word ‘n vreemdeling vir jouself – jou lyf voel  vreemd en die die nuwe ervarings is vreemd. Nuwe toetse, nuwe prosesse, nuwe terminologieë wat jy skielik deel van jou verwysingsraamwerk moet maak. So word Navalbine, Texotere, Zometa, Androcur, Lucrin en Jevtana die chemo-soldate wat jou help om die vreemde leërmag van vyandelike selle in jou lyf aan te durf.

Wonderlik, want daar is soveel nuwe ontdekkings wat mens maak. Veral die ontdekking dat dit wat jy tot dusver as vanselfsprekend aanvaar het, eintlik net ‘n gawe is. Die lewe, jou gesondheid, liefde. Wonderlik in die sin dat jy met nuwe oë kyk na alles en almal. Verhoudings word kosbaar. Mense baie belangriker as dinge. Jy gryp die lewe aan.

En so begin hierdie reis van duisend myl. Tree vir tree. Hoogtepunt. Laagtepunt. Middelpunt. Wagpunt. Punt. Volgende tree.

My reisgenoot is vasbeslote – sy gaan hierdie onbekende reis saam met my aandurf, die slegte én die goeie dele.

In sy bekende boek Around the World in 80 days, vertel Jules Verne die verhaal van Phileas Fogg en sy “agterryer” Jean Passepartout wat die weddenskap van 20,000 pond aangaan dat hulle binne 80 dae om die wêreld sal reis.  Deesdae klink dit ‘n belaglike weddenskap om aan te gaan, want mens kan in ‘n dag of drie om die wêreld met ‘n straler vlieg. Tog was dit nogal ‘n moeilike uitdaging in 1872.Die reis bestaan meestal uit vervoermiddels soos stoombote en treine. Op hierdie reis is hy dikwels moedeloos, maar telkens gebeur daar iets wat hom laat aangaan. Hy keer terug na Londen en dink aanvanklik dat hy ‘n dag te laat is om die weddenskap te wen. Tog wys Passepartout hom daarop dat hulle oor die internasionale datumlyn gereis het en dat die datum dus ‘n dag vroeër is as wat hulle gedink het – dus betyds om sy weddenskap te wen!

Om ‘n reis, of die Comrades te voltooi, moet mens gewillig wees om elke deel van die reis  mee te maak, elke tree te gee. Sodoende kom die eindpunt stelmatig nader.

Op my reis met die Groot K, het ek weer die Groot A  herontdek wat groter is as die Groot K. In my reis die afgelope tien jaar was ek deurentyd bewus dat ek in die skaduwee van die Almagtige reis. Soos Ps 91:1 sê: Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. ( Ou Vertaling)

Om in die skadu van die Almagtige te reis is om telkens raak te sien hoe Hy voorsien, sorg. nes Elia in die woestyn ‘n engel by sy kop sien staan het met ‘n waterkruik en brood, so word mens bewus van elke dag se genadige voorsiening en sorg.

Tydens die Woordfees vanjaar op Stellenbosch, woon ek en my reisgenoot ‘n uitstalling van Evette Weyers by. Ons het ‘n opsie geneem op een van haar beeldhouwerke, getiteld Nag Engel. Nou vra ons haar meer uit daaroor. Sy verduidelik dat sy tydens reise telkens beelde teegekom het van Hypnos, die Griekse god van slaap. Hy het twee vlerke wat uit sy kop groei waarmee hy sy oë snags bedek. Dit is ook hy wat mense met sy vlerke toevou dat hulle kan slaap. Evette vertel egter dat sy op een bepaalde plek die beeld van Hypnos gesien het met een vlerk afgebreek. Dit het haar laat wonder: Hoe sou ‘n eenvlerk  Hypnos nog kon funksioneer? Toe maak sy die beeld getiteld :Nag Engel. Die beeld herinner haar dat ons te midde van soveel onvolmaakteheid in die wêreld nog steeds ons taak moet uitvoer. Nag Engel praat met my en my reisgenoot en ons koop dit. Ons het immers baie geleer van reis met een vlerk die afgelope tien jaar. Juis wanneer ons ons eie onvermoë besef het, het die vlerk van die engel van die Almagtige om ons gevou en ons gedra. Ver bo wat ons kon bid of dink.

So dikwels gedurende hierdie reis het Hy familie en vriende gestuur om ons ander vlerk te wees. Juis terwyl ek nou besig is om hierdie woorde te skryf, stuur ‘n goeie vriendin van ons vir my die aanhaling:

“Ons is almal soos engele met een vlerk; ons kan net vlieg as ons mekaar vashou.” ( Luciano de Crescenzo )

Dit beaam die Nag Engel waar hy teen die kamermuur hang.

“n Reis van 3653 dae (and counting!) is net moontlik as mense jou ondersteun, As die skadu van die Almagtige oor jou val…

                   IMGP8280a (2)

                                          Sola Gratia

Op die spoor van Tobie Muller…

March 2nd, 2013

 

Tobias Ballot Muller (Scan Euna)a-1(2)

Om ‘n spoorsnyer te wees, lyk vir my na ‘n kuns wat besig is om uit te sterf. Want ‘n spoor wat gevolg word, moet gelees word en verstaan word. Spoorsny verg geduld en volharding.

 Op Philippolis het ek geleer spoorsny. Nie ‘n dierespoor nie maar ‘n mensespoor. ‘n Verledespoor. ‘n Spoor wat in 1916 begin en steeds ‘n indruk laat. Sodat daar bykans ‘n eeu later op Sondag 24 Februarie 2013, twee spore kon ineenloop.

 Dié spoor het ‘n naam: Tobie Muller.

 In Desember 2005 word ons die trotse eienaars van ‘n historiese huisie op Philippolis – die Hartjiehortjiehuis. So genoem vanweë die hartjiepatrone wat in sy groen vensterluike gesny is. Die huisie is geleë in  Tobie Mullerstraat met sy karaktervolle huisies en spoedig word die huisie en die dorp vir ons  ‘n toevlugsoord tydens naweke  en vakansies.

 Die naam van die straat laat my wonder oor die dominee wat soveel jare gelede op die Philippolis in die bediening was. Op die straatnaambord staan die volgende kernfeite: 

Tobie Mullerstraat:

(13 8 1884 – 25 10 1918)

Predikant – Taalstryder

 Iets in die feite noop my om meer te wil uitvind oor die dominee wat slegs vier-en-dertig jaar oud geword het, maar klaarblyklik ‘n groot indruk op die dorp en gemeenskap nagelaat het.

 In die konsistorie van die historiese kerkgebou hang die geraamde foto’s van die eerbiedwaardige predikers wat reeds sedert die gemeente se ontstaan in 1862 hier gedien het. Toe ek by Dr Tobie Muller se foto kom, vertoef ek voor die sepia foto van ‘n jong man met ‘n reguit blik wat vanuit die raam terugkyk. Iets in die foto hou my blik gevange – ‘n onbevange eerlikheid en tog ook ‘n tikkie glinster in die oog. Ek wonder weer oor die belowende lewe wat so vroeg kortgeknip is.

 By die museum kry ek meer inligting en is daar ‘n foto-uitstalling van Dr Tobie Muller. Ek hoor by die kurator dat Philippolis die jong dominee wat pas sy doktersgraad verwerf  het, se eerste gemeente was en dat hy tydens die groot griepepidemie van 1918 gesterf het terwyl hy as pastor ander siekes bygestaan  het.

 Ek spoor ‘n boek oor sy lewe op, getiteld: Tobie Muller – ‘n Inspirasie vir jong Suid-Afrika. Die boek het sewe jaar na sy dood verskyn en is geskryf deur B. B. Keet en Gordon Tomlinson.

Daarin word sy lewensverhaal vertel – van sy geboorte as jongste seun van Ds (later professor) C F J  Muller en sy vrou Johanna (gebore Louw) op 13 Augustus 1884 in die pastorie in George.

 Ek ontdek ook die volgende interessante feite oor sy lewe:

 Nadat Tobie op Stellenbosch sy graad in Teologie met hoogste onderskeiding afgelê het, behaal hy twee Doktorsgrade: in Teologie (1912 in Utrecht) en in Filosofie ((1913) in Edinburgh).

 Terug in Suid-Afrika, lê hy sy proponents-eksamen af en dien vir drie jaar as hulpprediker in die gemeente Stellenbosch.Hy  beskik  oor die vermoë om belangrike waarhede op ‘n verstaanbare manier oor te dra. Dit maak van hom ‘n  baie gewilde leraar.Veral jongmense en studente vind aanklank by sy styl.

 In Maart 1915 tree hy in Stellenbosch in die huwelik met mej. Bessie Thom en hy word in Junie 1915 as predikant georden, na ‘n preek deur sy vader, Prof. Muller.

 Dan gebeur daar ‘n gelyktydig twee dinge: In Julie 1916 word hy benoem tot professor in Filosofie aan die Victoria-Kollege en daarmee saam ontvang hy ‘n beroep as leraar na die gemeente van Philippolis in die Vrystaat. Aanvanklik aanvaar hy die benoeming as professor, maar na diepe oorweging besef hy dat sy eintlike taak in die bediening lê en aanvaar hy die beroep na Philippolis.

 In Oktober verhuis hy en sy vrou en hulle vier maande oue seuntjie Christof, na Philippolis waar hy op 13 Oktober 1916 sy intreepreek lewer. Sy teksvers is 1 Kor 13:13: En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie, maar die grootste hiervan is die liefde.

 Vir twee jaar werk Dr Tobie in die gemeente van Philippolis en word hy geliefd onder oud en jonk. Hy snoer die gemeenskap oor verdeeldheid wat die oorloë teweeggebring het, saam. Hy leef die woorde van die vers van sy intreepreek daadwerklik uit.

Dan, in die jaar wat die eerste wêreldoorlog beëindig word, breek die Groot Griep uit. Die epidemie tref ook die gemeenskap van Philippolis vroeg in Oktober 1918. Getrou besoek Tobie muller die siekes, hy vertroos en staan hulle by. Dan tref die griep hom ook. Op Sondag 13 Oktober preek hy nog en dan versleg sy toestand. Op Vrydag 25 Oktober verloor hy die stryd teen die siekte. Hy word die volgende dag in ‘n eenvoudige houtkis begrawe in die begraafplaas op Philippolis. Hy laat ‘n jong weduwee en twee klein kinders agter. Sy seun Christof is twee jaar oud en sy dogter, Tobie, skaars drie maande oud. Hulle keer kort na sy dood terug na Stellenbosch. Tot sover kon ek die spoor van Tobie Muller volgens volgens die boek van BB Keet volg.

 Terwyl ek die boek deurblaai en die foto sien van die jong weduwee, Bessie Muller en haar Skoonma, Mev Johanna Muller saam met die twee jong kinders, Christof en Tobie, het ek bly wonder wat het geword van Dr Tobie se nageslag. Is sy kinders later getroud en het hulle kinders van hulle eie gehad? Leef van sy kleinkinders dalk nog? Weet hulle watter belangrike rol hulle oupa in die geskiedenis van Philippolis gespeel het? Weet hulle dat daar ‘n straat na hom vernoem is? Was enigeeen van hulle al ooit in Philippolis?

 Ek doen navraag by die ouer garde van die dorp en vind uit dat Tobie Muller se seun Christof klaarblyklik ‘n professor in geskiedenis geword het en dat sy dogter die eerste vrou was wat die pos as lektor in Anatomie aan die Universiteit van Pretoria beklee het. Verdere inligting kry ek egter nie.

 Met die naderkom van die 150-jarige fees van die gemeente te Philippolis verlede jaar, begin ek weer met my navrae. In Julie loods ek ‘n soektog op die internet. Ek stuur ‘n navraag aan ‘n Tobie Muller in Pretoria. Ek kry ‘n antwoord. Toe ek  die  boodskap op my rekenaarskerm sien, wil ek huppel van blydskap: Ja, skryf die persoon – ek is Tobie Muller en ek is ‘n kleindogter van Dr Tobie Muller wat op Philippolis was. Ek is die jongste dogter van sy seun, Christof. Eureka! ‘n Ywerige korrespondensie per e-pos volg waarin al die vrae wat ek wou vra en inligting wat ontbreek het, nou verskaf word. Sy stuur per e-pos aan my verskeie foto’s van Tobias Ballot (Tobie) Muller. Daar is ‘n foto van hom wat in 1899 geneem is, terwyl hy saam met sy Pa, Prof Muller vir vier maand in Skotland was. Die treffende foto van die jonge Tobie wat reeds lyk asof hy ‘n vergesig het op die nuwe eeu en toekoms wat voorlê, tref my. Ek laat maak ‘n vergroting daarvan vir ons huisie in Tobie Mullerstraat.

 Ek  vind uit dat albei kinders van Dr Tobie reeds oorlede is, maar dat Christof vyf dogters het uit sy huwelik met Liebet Geldenhuys, nl Euna en Elsabé (‘n tweeling),  Marié, Monica en ‘n laatlam, Tobie (met wie ek die korrespondensie voer).

 Dr Tobie se dogter wat op Philippolis gebore is, Tobie,  was inderdaad die eerste vrou wat die pos as professor in Anatomie beklee het. Sy is met dr CC  Pretorius, ‘n ginekoloog getroud en uit die huwelik is drie dogters gebore: Elizabeth, Anina en Tobie Henriëtte.

 Tobie Muller (die kleindogter in Pretoria) het haar nooiensvan behou na haar huwelik. Agterna dink ek daaraan dat sit baie moeiliker sou wees om haar op te spoor as sy nie haar nooiensvan behou het nie!

 Ek nooi haar en haar familie om die 150-jarige fees in Opkober verlede jaar te kom bywoon, maar sy het reeds ander verpligtinge in die Kaap daardie naweek.

 Die reëlingkomitee van die Philippolis-gemeente laat weet  dat hulle graag wil dat Tobie Muller die gedenksteen van die 150-jarige fees, vroeg vanjaar sal kom onthul.

 So gebeur dit dat op die laaste naweek van Februarie (verlede naweek), alle paaie Philippolis toe lei.

 Vrydagmiddag  (die 22e) stop daar ‘n motor met ‘n GP registrasie voor die Hartjiehortjiehuis. Agter die stuur klim ‘n sprankelende donkerkop vrou uit, sy stel haarself bekend: Ek is Tobie Muller.

 Ineens is dit asof die spoor tussen verlede en hede bymekaar begin uitkom! Haar suster Euna Easton klim ook uit en groet. So ook haar niggie Elizabeth Wessels (dogter van Prof Tobie Muller). Drie kleindogters van Dr Tobie en dit in Tobie Mullerstraat!

 Dit word ‘n feesnaweek in die volste sin van die woord. Vrydagaand kuier hulle saam met Lynette, my vrou en ek asook twee vriendinne wat saam kuier uit Welkom.

 Saterdag woon ons almal die ‘n feestelike kuier  in die Jobhuis by, waarna ‘n heerlike ete volg. Die res van die middag verken die drie kleindogters die dorp waar hulle Oupa sulke diep spore getrap het. Hulle besoek ook die kerkgebou  en sy graf.

 Saterdagaand is ‘n perfekte volmaanaand op Philippolis. Die groep hou piekniek onder die sterre by die labirint, digby die kerk.

 Sondagoggend is daar ‘n  diens wat aansluit by die 150-jarige fees van die gemeente. Tydens die diens word ook hulde gebring aan die werk van die leraars wat oor soveel jare in die gemeente gedien het, veral ook Dr Tobie Muller wat sy lewe gegee het in diens aan die gemeente.

 Tydens die diens word ‘n feesbundel aan elk van die drie kleindogters oorhandig deur Dr Carin van Schalkwyk, huidige leraar van die gemeente.

 Die diens word afgesluit met ‘n voorlesing van 1 Kor 13 deur Hannalize Nel.

Na die erediens, word die gedenksteen in die voorportaal deur Tobie Muller onthul. Skielik voel dit asof die spore inderdaad ineenloop, want op die steen staan:

 Gedenkplaat – 150 jaar van Genade Oktober 2012 – onthul deur Tobie Muller, kleindogter van Dr Tobie Muller – 24 Februarie 2013

 Op daardie oomblik sien ek in die glimlag van die kleindogter, iets van die glimlag van haar oupa.

 Die spoorsny was die moeitewerd!

 

Image295a-1 (2)

Boetstes

January 17th, 2013

 

D1010011abs-1 (12)

Op Litnet se webwerf sien ek adverteer hulle ‘n kompetisie getiteld” Geheueskyfies”.  Deur ‘n kort skets of beskrywing kan jy een lewensmoment in woorde vaslê nes ‘n kamera ‘n oomblik tydloos verewig op film of digitale skyfie.

Vanoggend wil ek so paar Geheueskyfies uithaal en vlugtig belig. Die saambindende tema is: Boetstes.

Vandag is my broer Ewald se nege-en-veertigste verjaardag. Ek kon sopas telefonies met hom gesels en sy opgewonde stem hoor: “Hallo Boet! Hoe gaan dit met jou?” En ek kon antwoord: ” Goed dankie, Boet, so bly om jou stem te hoor so op jou verjaarsdag.”

‘n Eerste geheueflits:

Dis besoektyd. Pa en ons drie kinders staan voor die groot glasvenster in Sister Leigh se   nursing home.  ‘n Verpleegster kom nader. Sy het ‘n bondeltjie in haar arms wat styf in ‘n wit kombersie toegedraai is. Sy hou die bondeltjie nader sodat ons kan sien. ‘n Geplooide babagesiggie kyk vir ons. Ek voel ‘n opgewondenheid. Ek, wat net twee sussies het, het regtig nou ‘n boetie. Ek staan nog nader aan die ruit en kyk stip na die gesiggie. Die donker ogies kyk terug. Toe, ek weet nie of ek my verbeel nie, lyk dit behoorlik vir een oomblik asof hy vir my oogknip. Dis asof daar in daardie oomblik ‘n band tussen ons gesmee word: brothers for life.

 Tweede flits:

Ek sit en teken in my kamer in ons huis in Van Ryneveldstraat. Ek is in matriek. My sewejarige boetie kom by die kamer in. Ek kyk gesteurd op. Hy kom staan by my en kyk na my tekening. Hy vra of hy ook ‘n vel papier uit my tekenboek kan kry. Ek gee vir hom ‘n A4 vel papier wat los in my tekenboek lê. Hy gaan tog net daarop krabbel! Hy verdwyn en dit is ‘n ruk stil. Ek besluit om te gaan loer wat hy doen. Hy lê op die marley teëlvloer in Pa en Ma se kamer. Hy is druk besig  om te teken – sy gesig die ene frons van konsentrasie. Ek wil lag toe ek sien hoe hy improviseer. Hy het Ma se rooi lipstiffie uit die spieëlkaslaai gehaal en daarmee op die papier begin teken. ‘n Man met ‘n baadjie en iets wat soos ‘n das of serp lyk. Ek kyk verbaas na sy skepping. Die patos in die tekening tref my. Hy hou die prent voor hom en reken dit is nog nie klaar nie. Hy gaan haal ‘n liniaal en trek die sykant daarvan oor die lipstiffie-prentjie. Hy smeer die rooi liggies oor die prent. Toe eers is hy tevrede. Sy lipstiffie-man met die hartseer gesig is voltooi. Ek vra of ek sy tekening kan kry en bêre dit agterin my tekenboek.

 

 Derde flits:

My studentebroer daag van Tukkies af op. Hy kom vir die naweek by my kuier. Toe hy uit sy liggeel Volkswagen Kewer klim sien ek hy is moeg. Hy het ‘n rustige kuiernaweek nodig.

Hy sit na ete en gesels met my by die eetkamertafel. Die verhouding tussen hom en sy meisie is verbreek. Sy het dit verbreek. Sy bruin oë is treurig. Ek voel genoop om iets te doen om net sy aandag van die seer af te lei.

Ek gaan haal my tekenboek en sit dit voor hom neer. Uit die tekenboek haal ek sy lipstiffie-mannetjie van bykans veertien jaar gelede. Hy kyk aandagtig daarna en is selfs verbaas toe ek hom daaraan herinner dat hy die hartseer man geteken het. Hy vra of hy weer ‘n tekening kan maak. Ek gee hom ‘n skoon blaai in die tekenboek en ‘n rooi oliepastel. Hy kyk onbeholpe na die skoon blaai en die pastel. Wat moet ek teken, is sy vraag aan my. Ek antwoord: Teken hoe jy gevoel het toe jou meisie met jou uitgemaak het. Hy neem die pastel en begin met besliste hale teken. Nog ‘n rooi mannetjie. Hy neem weer die liniaal en vee die rooi oor die prent. Dis asof sy die hartseer in sy oë minder is toe hy klaar is. Ek vra hom om beide tekeninge te onderteken. Ek  bêre beide. ‘n Paar jaar later het hy sy eie blyplek in die Kaap. Ek gee sy tekeninge terug aan hom, met die opdrag dat hy dit moet raam.Vanuit die goue rame kyk die twee rooi mannetjies – die en met treur-oë en die ander met gesakte kop en hangskouers.

 

Vierde Flits:

Dis Goeie  Vrydag sowat twintig jaar later. My Reisgenoot en ek lê ons huweliksbeloftes aan mekaar af. Ek het met my broer gereël om die ringe aan te gee as ons by die gedeelte in die formulier kom. Die diens begin en daar is nog geen teken van hom en sy vriendin nie.  Halfpad tydens die boodskap hoor ek ‘n geskuifel in die kerkie. Toe ons omdraai tydens die sing van ‘n lied, sien ek Broer en sy vriendin het hulle plekke in die tweede bank van voor ingeneem. Hy is laat vir die diens, maar betyds vir die funksie wat hy moet vervul. Toe hy vorentoe kom om die ringe te oorhandig, gee hy my so half stoute, half verskonende kyk. Die ondeundheid blink in sy bruin oë.

Vyfde Flits

Ons kuier by my broer. Hy het onlangs ‘n winkel en huis op die mooi Suid-Vrystaatse dorpie gekoop. Hy is besig om met ‘n voorskoot aan wors te braai op die sypaadjie voor die winkel. Sy luidprekers van die Coffee Shop is na buite gedraai en Katie Melua se stem verskaf die agtergrondmusiek.

Mense wat inkopies kom doen het, groet eers en staan stil om ‘n geselsie aan te koop. Dit is vir ons opvallend hoeveel mense hy reeds ken en die gemaklike wyse waarop hy met oud en jonk, swart en wit gesels. Hy lyk ontspanne. Ek neem ‘n foto van hom onder die winkel se uithangbord. Hy lag gelukkig vir die kamera en fotograaf.

 Sesde Flits:

Dis ‘n maand voor my broer se nege-en-veertigste verjaarsdag. Ons staan by die toonbank van die kliniek waar hy versorg word. Terwyl ons navraag doen om te hoor of dit geleë is om hom te besoek, kom hy saam met sy versorger die lang gang afgestap en herken my: “Hallo Boet!” weerklink sy blye groet deur die gang.

Ons stap saam met hom na die kuier-area. Hy stap stadig en hou my hand styf vas.

“Ons het net sommer so vroegtydige Kersfeesgeskenk vir jou gebring en vier sommer reeds jou verjaarsdag al is dit ‘n maand voor die tyd.”

Hy kyk na my met sy sagte bruin oë. “Baie dankie Boetstes” sê hy.

Ek knik net want woorde is onbeholpe werktuie.

“Jy is ‘n inspirasie vir my, Boetstes”, is al wat ek kan sê.

En weer, soos nege-en-veertig  jaar gelede lyk dit asof hy oogknip.

Brothers for life

 Ewald-Fo

 

Om Hoop te koop

September 3rd, 2012

 

                                   

 

Lente roep mens soms tot aksie. Veral na so uitmergelende winter wat met sy intense wintersheid jou lyf gebombardeer het en jou kop en kreatiwiteit gevries het.

Kort voor die lente ry ek na ‘n winkel wat allerlei hulpmiddels verkoop vir die wat uiting aan ‘n kreatiewe impuls wil gee – plakboeke, mosaiek, kraalwerk – noem maar op en daar is iets te vind. Sommer met die instap val my oog op die hoop woorde wat op die rak aan die linkerkant lê. Allerlei woorde is netjies uit  hout gesaag en lê en wag vir die ywerige handwerker om dit te verf of te versier. Ek tel die woorde op: LIEFDE, PASSIE, GELOOF, VREUGDE, GEDULD, VREDE, VRIENDELIKHEID. Al die positiewe woorde, meeste van hulle is te vind in Gal 5:22 se lysie van die vrug van die Gees. Ek kyk agterop na die prys: meeste is gemerk R70 of R80, selfs R90. Ek sien ‘n kleiner woord in ‘n mooi vloeiende lettertipe. HOOP. Die hoop is reeds mooi geverf in ‘n kraakvars wit. Ek draai die woord om en kyk na die prys: R60. Dié hoop is beslis ‘n bargain! Moontlik omdat dit bietjie kleiner as die ander woorde is. Dalk is dit ou voorraad. Miskien verkoop die HOOP nie so goed soos die VREUGDE, VREDE EN LIEFDE  nie.  Tog het ek op hierdie dag  juis ‘n behoefte aan dié woord. Ek loop met die HOOP dadelik na die betaalpunt toe, voordat iemand HOOP voor my koop.

By die huis gekom, besluit ek dat HOOP dadelik  ‘n hangplek moet kry. Iewers waar dit prominent kan wees en ons kan herinner dat Hoop daar is.

In die slaapkamer kry ek presies die regte plek. Reg bokant die bed. Dié ereposisie word sedert ons huwelik deur ‘n engel met ‘n kruis beklee – ‘n mooi trougeskenk van broer Ewald. Ek sien dat die hoop presies op die Hilti-hakkie pas wat die engeltjie soos ‘n Bungi-springer bo ons bed posisioneer. Dié hakkie pas presies tussen die twee o’s van hoop. Die engel en die HOOP word deur die hakkie tot ‘n nuwe verbintenis saamgevoeg. HOOP is nou die Van Stadensbrug vanwaar die Engel die Sprong uitgevoer het. Engel hang nou gesuspendeer tussen HOOP en die Bedstyl!

Toe my reisgenoot die middag tuis kom, vra ek haar om te kyk wattter nuwe toevoeging sy in ons kamer opmerk. Sy kyk orals – op die bed, die kas, die bankie, maar sien niks nuuts raak nie. Dis eers toe ek sê dat sy boontoe moet kyk, dat sy die hoop raaksien. Sy is baie opgewonde oor die toevoeging en merk op dat dit presies reg daar lyk.

Ek dink weer na oor die onontbeerlikheid van hoop. Hoop is hierdie vreemde kwaliteit wat aan mense in bykans onmoontlike situasies ‘n wil tot aanhou, uithou en oorlewing gee. In Elizabeth Kübler-Ross se outobiografie, The wheel of life, vertel sy van haar besoek aan die poolse konsentrasiekamp, kort na die vredesluiting na afloop van die tweede wêreldoorlog. Oral was daar tekens van die hartseer en die menseslagting wat daar plaasgevind het. Daar het selfs nog treintrokke gestaan vol klerasie en persoonlike besittings van diegene wat in die gaskamers omgekom het. ‘n Prentjie van wanhoop en verguising van drome. Sy het ook in die barakke waar die gevangenes gehuisves is, rondgeloop en haar probeer inbeeld wat in die mense wat daar gebly het se gemoed en gedagtes moes omgegaan het. Sy het egter telkens opgemerk dat daar tussen die graffiti op die mure ‘n prentjie van’n skoenlapper met gespreide vlerke geteken is. Die besef het by haar posgevat – te midde van die hooplose bestaan in die kamp het die skoenlapper vir die gevangenes ‘n simbool van bevryding geword. Selfs binne die mure van die gaskamers het sy die simbool van ‘n skoenlapper gevind – vir diegene wat besig was om te sterf, was dit die simbool van ‘n bevryding uit die doodskokon.

Die simbool van die skoenlapper het so ‘n indruk op Elizabeth Kübler-Ross gemaak, dat sy dit as logo en  bandontwerp vir haar boeke gebruik.

Hoop gee ‘n nuwe uitsig, selfs in die benouendste situasies. Daarom kon Anne Frank (self ‘n slagoffer van die konsentrasiekamp)  in haar dagboek skryf:

“It’s really a wonder that I haven’t dropped all my ideals, because they seem so absurd and impossible to carry out. Yet I keep them, because in spite of everything, I still believe that people are really good at heart.”
 
Hoop gee vlerke, nes die skoenlapper uiting gegee het aan die konsentasiekampe se versugtinge:
 
“Hope is the thing with feathers
That perches in the soul
And sings the tune without the words
And never stops at all.”  (Emily Dickenson)
 
Daarom kon ek vanjaar vir my reisgenoot ‘n ge-mosaiekte “pandora”-kissie as geskenk gee met haar verjaarsdag. ‘n Hoop-kaartjie binne-in. Hoop was immers die een ding wat oorgebly het nadat Pandora uit nuuskierigheid die kissie oopgemaak het en al die euwels en slegte dinge laat ontsnap het. Hoop het met ‘n fluisterstemmetjie uit die kissie geroep: Ek is nog hier, laat my ook toe om uit te kom!
 
Op die hoopkaartjie in die kissie kon ek die wens van Paulus vir sy geloofsgenote ook as wens vir haar gee:
 
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!  (Rom 15:13)
 
Ware hoop is is weliswaar nie te koop nie, maar dit is wel as geskenk beskikbaar vir hulle wat in geloof bereid is om dit te ontvang van die Bron van Hoop.
 
Die prys is immers reeds betaal. En die Hoopbewys is die klip wat weggerol is voor die grafkokon.
 
Die vlinder het sy vlerke gesprei…
 
do you believe in heaven
could it be a lie
what becomes of restless souls
do they really die?
Transitory spirits move
from minute to millennium
and virtue fights
the force of evil on and on
’till kingdom come
While the world spins on its axis
and the moon sleeps in the sky
the sun warms a cocoon
Jesus was a butterfly
Life and death come and go
a fluttering of wings somewhere in the darkest night
one more angel sings
Transitory spirits raise their voices in a Requiem and virtue fights
the force of evel on and on ’till kingdom come
While the world spins on its axis and the moon sleeps in the sky,
the sun warms a cocoon,
Jesus was a butterfly
 maybe Jesus was a butterfly

(Herman van Veen – Butterfly)