Om te fiets

Katie Meluha se mooi liedjie:”Nine Million Bicycles”  vertel van die fietsoorvloed in Bejing:
“Nine Million Bicycles”

There are nine million bicycles in Beijing
That’s a fact,
It’s a thing we can’t deny
Like the fact that I will love you till I die.

Ek sou ook aan my fiets wou sê (soos sy aan haar geliefde)  “I will love you till I die.” Want ‘n fiets is meer as net ‘n stuk metaal met rubberwiele – dit word ‘n vriend, vertroueling, ‘n bondgenoot.

Die oorhoofse tema van die blog-inskrywings is “om oop-oog te reis.”  My getrouste reismiddel as kind was my fiets. Dit was my poort na vryheid – die groot lekkerte om nie meer so afhanklik te wees van pa en ma om my by plekke te besorg nie – om skool toe, sport toe, maats toe te ry op my vetroude fiets, was ‘n reuse sprong.

Op my tiende verjaarsdag kry ek na ‘n lang wag my heel eerste eie fiets – ‘n splinternuwe droomfiets –  ‘n no 26 swart Ralleigh sport. Ek is opgewonde saam met my pa om hom te gaan uitsoek by Schiffrens in Klerksdorp se hoofstraat.  Ek bewe van opwinding toe ek hom uitkies en pa betaal.My eie wiele. Dis my verjaarsdag geskenk maar ek kry reeds so voorsmakie deur op hom vir ‘n kort entjie te mag ry. Die volgende middag kom kuier een van my maats, Deon Viljoen vir my op sy BSA Sport. Ek kan nie wag om later saam met hom terug te ry na sy huis toe nie. Ek wil so  graag my Ralleigh toets en sommer vir Deon wys dat die Raleigh die BSA se baas is.

Toe ons met een van die kleiner strate afdraai, is ek so kortkop voor, maar hou nie rekening met die feit dat dit ‘n grondstraatjie is nie. Eensklaps is daar so wal sand in die pad.Die fiets se voorwiel begin manhaftig in die sand inploeg en gee toe die stryd gewonne. Die wiel draai  summier dwars en ek trek loshande oor die handvatsels en maak hard met die  grond kennis. My ego en my lyf is gekneus, maar ek is meer bekommerd oor my splinternuwe fiets waarvan die handvatsels nou dwarsgedraai is en die wit modderskerm gebuig is. My splinternuwe fiets is ineens nie meer so nuut nie. Ek knyp die voorwiel tussen my bene vas en draai  die handvatsels weer reg. Sover moontlik probeer ek  om die modderskerm weer reg te buig. Ek draai bekaf terug  en ry hinkepink terug huis toe. So leer ek ook die nerf-af deel van fietsry ken.

‘n Lang verhouding met my Ralleigh het begin. Herman Van Veen vang iets van hierdie saamgroei-verhouding tussen ‘n persoon (hier ‘n meisie) en sy of haar fiets so mooi vas in sy liedjie “Fiets”

Fiets

Hé kleine meid op je kinderfiets,
De zon draait steeds met je mee
Hé kleine meid op je kinderfiets,
De zomer glijdt langs je heen
Met je haar in de wind en de zon op je wangen,
Rijd je me zomaar voorbij, fiets

Hé lieve meid op je kleine fiets,
Als een witte stip in het groen
Slingert je blinkende kinderfiets,
Zich dwars door het zomerseizoen
En je rijdt maar door en je fiets wordt steeds kleiner,
Plotseling ben je weer weg, fiets

Toe ons Vrystaat toe trek in my standerd vyf-jaar het die rol wat my fiets in my lewe gespeel het, nog belangriker geword. Dit was my ryperd en  later (in standerd nege) ook my vryperd.

As standersessie ry ek  elke dag skool toe met my fiets, maar die lekkerste bly die terugry huistoe smiddags. Dan is dit grootliks afdraand en ek kies ‘n kortpad deur die veld want daar is sulke lekker springhobbeltjies wat ‘n toets is vir my ryvernuf.  My fiets word nou in my gedagtes ‘n vurige blinkswart perd wat galop. My (yster)perd kry ook ‘n naam wat pas by die talle ou Kaapse swaardvegterverhale wat ek in die tyd lees: ” Monsieur!” Saam durf ek en Monsieur baie uitdagings aan. Die handvatsels word ook aangepas om die “drop handles look” te kry met heldergeel handvatselgrepe weerskante. Ek is in my noppies!

Op ‘n yskoue winteroggend ry ek en my suster saam skool toe.  Ons ry langs mekaar. Ek op my Ralleigh en sy op haar groen BSA. Ek druk my hande in my sakke as pantser teen die koue. Die volgende oomblik draai my voorwiel skuins en ek ry in haar vas. My hande sit vas in my sakke en ek kan nie keer nie. Ons albei val op die yskoue teerpad. Dit word ‘n laaang, doodstil rit skool toe!

Na drie jaar verhuis ons  terug Transvaal toe en Monsieur bly my troue bondgenoot. Nou word dit die belangrike voertuig om my Sondagmiddae by my kuierplek te kry. Dis ‘n rit van ongeveer vyf kilometer en opdraand tot daar, maar my hart sing saam met die speke. Oppad terug (gelukkig dan afdraand!) sing ek die liedjies wat ons saamgeluister het kliphard terwyl ek ry.

Dit word tyd vir universiteit. My getroue fiets gaan saam PUK toe. Daar ry ek en kamermaat Etienne met ons fietse padkafee toe om ‘n Hamburger en melkskommel te koop. Heerlik! My fiets word ook ingespan vir die ver klasse wat ek moet draf.

Helaas, toe dit tyd word om Maties toe te gaan, word fiets tuis gelaat, want nou het ek mos ‘n getroue Volksie wat my bring waar ek wil wees.

Soms ry ek nog bietjie fiets gedurende vakansietye by die huis, maar hy staan meestal in die pakkamer, totdat die tuinjong op ‘n dag met smekende oë ‘n skamele bedrag aanbied vir die ryding. Ek verkoop Monsieur en voel asof ek iets kosbaars verloor het.

Jare later koop weer vir my ‘n fiets toe ek in Welkom bly en ry soms daarmee, maar besef  spoedig dat ek dit nie genoeg gebruik nie en skenk dit vir ‘n sendeling.

Tydens ons wittebroodsreis stop ek en my reisgenoot die dag op die plekkie genaamd Tonteldoos by die fiets op die foto. Dit laat ons nostalgies verlang na ons fietse. Ek wonder weer waar my getroue fiets is en hoe dit deesdae lyk?

Plotseling ben je weer weg, fiets…

Leave a Reply