Panis Angelicus

‘n Lied uit my Hoërskooldae, agtervolg my deesdae. Nie een van die treffers van my  vroeg-Hoërskooldae soos Then I kissed her (The Beach Boys), Simon Says (1910 Fruitgum Co),  Sweet Pea (Tommy Roe) of Baby Come back (The Equals) nie. Nee my agtervolglied is baie gewyd en stemmig. Die lied was een van die gunstelingliede wat die Dogterskoor van ons Hoêrskool altyd gesing het. Panis Angelicus.

 Wanneer die verhooggordyn  oopgeskuif het vir die konsert of vir die Eistedfodd en die koorlede staan daar in hul netjiese skoolbaadjies, knielengte rompies gesykous en getieke-hak, dan kon jy maar seker wees dat “Panis Angelicus” deel van hulle repertoire sou wees Destyds was dit vir my ‘n somber lied. Dalk omdat ek nie die Latynse woorde verstaan het nie, of dalk omdat ek  die begeleidster/afrigtertannie se swart rok onthou en die ernstige uitdrukking op haar gesig waarmee sy elke frase beklemtoon het. P-a-n-i-s A-n-g-e-l-i-c-u-s.

 Tog dink ek deesdae anders oor die lied. Kyk ek met die wyser insig van groeiende jare weer na die lied wat so by die koor ingedril is. Verstaan ek iets van die betekenis van die lied. Luister ek anders daarna.

 Verlede jaar woon ek en my Reisgenoot ‘n musiekuitvoering by op ‘n Sondagmiddag. Fanie Smit van “alle  volke loof die Here”-faam bied dit aan saam met ‘n aantal soliste, kore en musikante.

 Aanvanklik is ek nie in die regte stemming vir die uitvoering nie. Dis kort voor drie op ‘n Sondagmiddag na ‘n heerlike ete en ‘n rustige sonslapie. Boonop protesteer my lyf en sukkel ek om te beweeg. Dit sal soveel makliker wees om maar net om te draai en verder te slaap. Tog is daar ‘n diep behoefte na musiek. Die terapeutiese krag van suiwer musiek. Dus woon ons die uitvoering by. Dit word ‘n onvergeetlike middag.

 Die voorganger lei die middag in met ‘n aanhaling  wat die terapeutiese waarde van musiek beklemtoon:

 “…want musiek lei mens langs ‘n pad waar spraak jou nie kan volg nie. Dit is die hoë vesting of die diepverborge skuilplek waar jy onopgemerk van jou wonde kan genees.” (Hildegard Knef – Das Urteil)

  Dit word ‘n gevulde middag. Kore, solo’s, orrel-trompet en klaviermusiek. Fragmente van liede steek in my gedagtes vas soos die  “echoes of mercy” uit ‘n Engelse Hymn.

 Maar dan sing ‘n sopraan die bekende “Panis Angelicus”. Ek luister na die bekende klanke wat vanmiddag vreemd en nuut klink. Vir die eerste keer voel dit asof ek die lied verstaan en die betekenis daarvan my eie kan maak.

 Toe ons tuis kom, soek ek die betekenis van die woorde op:

Latin text An English translation
Panis angelicus

fit panis hominum;

Dat panis coelicus

figuris terminum:

O res mirabilis!

Manducat Dominum.

Pauper, servus et humilis.

Te trina Deitas

unaque poscimus:

Sic nos tu visita,

sicut te colimus;

Per tuas semitas

duc nos quo tendimus,

Ad lucem quam inhabitas.

Amen.

The angelic bread

becomes the bread of men;

The heavenly bread

ends all prefigurations:

What wonder!

consumes the Lord

a poor and humble servant.

Triune God,

We beg of You,

that you visit us,

as we worship You.

By your ways,

lead us who seek

the light in which You dwell.

Amen.

 

Vanmiddag het ek voorwaar Engelbrood geëet –het dié brood se helende krag my versterk soos vir Elia onder sy Besembos.

 Elke keer as ek sedertdien my hand uitseek na die stukkie nagmaalsbrood in die bord, dink ek weer aan die lied:

Engelbrood word mense brood. ‘n Broodnodige ondervinding vir ‘n honger mens.

One Response to “Panis Angelicus”

  1. Sonja Francis says:

    Ek het dit weer en weer kon lees. Veral die vertaling van die lied. Dit gryp my amper so aan soos “Jesus bron van al my vreugde”

Leave a Reply