Kerslig, vers en sterreprag

Soms moet ‘n mens net ver wegkom van alles wat woelig, oorweldigend, irriterend en dreinerend is. “Far from the madding crowd” aldus Thomas Hardy.

Ons ontvlug toe vir ‘n week. My Reisgenoot en ek vat die pad Suidwaarts. Eers die N1 verby Bloemfontein en Edenburg. Ons swenk weg by Trompsburg op die R717. Dadelik voel ons die vryheid. Dis weliswaar ‘n smaller paadjie, maar baie stil en heel rybaar. Ons kyk na die verkleurende rantjies, die wisselende veld, die skape en selfs enkele wildsbokke. Die aantal windpompe staan soos verwelkomende uitroeptekens op die landskap. Dis onmiskenbaar karoo, al is ons nog duskant die Oranjerivier.

Met Coenie de Villiers se Kringe om die maan in die CD speler, sing ons lustig  saam en sien ons die lirieke voor ons oë afspeel:

Dis ‘n wêreld wat nog rou is
wat ‘n mens nog in kan glo
Die paaie hier loop reguit
en die mense wat hier woon
ken die hitte van die somer
weet hoe reën jou kan beloon

Al ry jy dalk net hier verby
daar’s iets wat in jou agterbly
En maak dat jy vir altyd hier kan bly

Ja die kring om die maan
word nog more se wind
as jy jou hart verloor
in die Karoo sal jy hom vind;
want waar jy ookal gaan
dra jy dié wêreld met jou saam
ja, die wind oor die Karoo
was die kring om die maan

Daar is min om hier te sien
maar daar is veel om te onthou
daar’s die breedte van die vlakte
daar’s die randjiesveld se blou
Waar ‘n arend stadig wentel
bo sy onbekende prooi
kry ‘n vaalbos skielik kleur
en word die berge vir jou mooi…

Toe ons byna op die dorpie se drumpel is, speel ons ons ou speletjie – wie sien die kerktoring eerste? My Reisgenoot het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel en dié keer roep sy nog voor ons by die groepie bome verby is”Daar’s hy!” Asof op bestelling verskyn eers die hele dakkie, toe die wit toring en dan die hele kerkgebou. Op ‘n wit muurtjie verwelkom die letters ons:

PHILIPPOLIS

Ons ry eers deur die dorpie om vinnig te sien wat verander het sedert ons vorige besoek. Toe ons regs in die dwarsstraat by die winkel opdraai roep ons gelyk: “Die Spookhuis!”  Die bouvallige huisie op die hoek van Tobie Mullerstraat is reeds vyf-en-dertig jaar onbewoon. Verval het mettertyd ingetree, die afgeskilferde (eens) wit mure en geroeste rooi dak veg dapper om iets van die vroeëre sjarme van die huisie oor te dra. Tog vandag is dit anders! Die huisie is liefdevol gerestoureer en verwers is besig om die buitemure  in room en wit te verander. Die rame en en deure is herstel. ‘n Reuse verandering. Ons lag ingenome oor die transformasie.

 Toe ons voor die  plaashek aan ons huisie se agterkant stop, sien ons dat ons wegvlughuisie swaar gekry het in die twee maande sedert ons laaste besoek. Die tuintjie is verwaarloos en van die bome en plante se nuwe groei is yl a.g.v. ‘n gebrek aan water. Ons ry na binne en maak weer die plaashek toe. Ons is tuis. Asof om dit te bevestig slaan die kerkklok vyf afgemete slae.

Toe ons die kombuisdeur oopstoot en deur die huisie stap voel ons dit dadelik die vergewensgesinde, verwelkomende hartlikheid van die huisie wat soos ‘n donskombers om ons vou. Ons Asemhaalhuis. Trooshuis. Heelwordhuis. Dis Saterdag. ‘n Week se huis- en tuinterapie lê voor.

Sondagoggend is ons voor die derde gelui in die mooie ou kerkgebou. Ons ken heelwat van die mense wat vergader vir die diens. Die gewyde orrelmusiek  vul die gebou. ‘n Innige vrede neem van ons besit.

Die boodskap van die Dominee uit Joh 14 tref die kol: “As julle my liefhet, sal julle My opdragte uitvoer.”

Na die diens staan ons buite die kerk en gesels. Ons word uitgenooi na ‘n Uys Krige-aand op Waterkloof, die nedersettinkie (tans nie meer bewoon) buite Philippolis. In die gerestoureerde kerkie gaan die voorlesings en woordreis wees. Daarna is dit visbraai in die gerestoureerde poskantoor/handelshuis. Ons stem gretig in.

Dit word ‘n week van tuinbedrywighede – ek snoei en my Reisgenoot ruim op. Ek gooi nat en sy maak die takke en blare bymekaar. Tot sewe-en-twintig swart sakkke teen die agterhek opgestapel  lê. Ook die stukkende staaldeur van die ou stal word afgehaal.

Uiteindelik kry ons ook ‘n tuinhulp wat hand bysit en ons ry die vuilgoed en swart sakke ashoop toe. Die keerwalle om die bome is netjies en vertel van ‘n sorgsame hand. Die plante en bome drink die water in. Ons tel – twaalf soorte vrugtebome groei in die klein erfie, o.a. Amandels,perskes, lemoene, pekanneute, turksvye en appelkose. Kanaansvrugte ook – druiwe, granate en vye. Ons is geseënd met soveel oorvloed.

Donderdagaand breek aan. Dis effe bewolk, tog toe ons die vyf kilometer na Waterkloof aandurf, trek dit oop. Van ver sien ons die handelshuis en die wit kerkie. Dit word ‘n heerlike kuieraand. Die vure, waarop die vis gebraai gaan gaan word, vlam reeds op. Kabeljou, onbevrore en vars uit die Kaap is op die spyskaart!  Dis tyd vir die voorlesings om te begin. Ons stap almal oor na die kerkie. Dis nagdonker – net die sterre is gestrooi oor die hemelruim. ‘n Aand van verwondering. Die verwondering groei toe ons die eenvoudige kerkie binnestap. Die enigste versiering is ‘n kunstige, handgemaakte houtkruis.  Kerse dien as beligting. Die aand word met gebed geopen. Die gasvrou verduidelik die rede vir die aand. Dit is honderd jaar sedert Uys Krige se geboorte op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof naby Swellendam. Daarom word vanaand ‘n woordreis deur sy lewe onderneem, aangevul met voorlesings uit sy gedigte en ook ‘n kort uittreksel uit “Die ryk weduwee”.

Dit word ‘n aand gevul met kerslig, vers en woordmusiek. ‘n Innige aand. Die dertigstuks mense in die kerkie luister waarderend en aandagtig. Bevestig hulle instemming met applous. Toe die laaste woord gelees is, is almal huiwerig om op te staan en so die magiese stemming te verbreek. Tog syfer die gaste later stadig uit, nog diep onder die indruk van die woorde en die krag van woordskepping. Hulle stap met fluistergesprekke na die eetplek onder die koepel van die sterbesaaide hemel.

Die ete is ‘n feesmaal. Kabeljou het nog nooit presies so lekker gesmaak nie. Varsgebakte brood, botter en korrelkonfyt en slaai vul die hoofgereg aan. Wyn wat die ete komplimenteer. Interessante tafelgenote se gesprekstemas strek wyd.

Vir nagereg is daar lemoensoetjies en moerkoffie, geskink uit die blou enemelkan.

Vir oulaas word daar gesels en dankie gesê. Almal is dit eens dat dit ‘n feesaand was wat net daar, onder die seënende koepel van Philippolis se naghemel en uitspansel kon gebeur.

Coenie was sowaar reg:

As jy jou hart verloor in die karoo

sal jy hom vind…

Leave a Reply