Vreugde!

Ons is by Oktober se halfpadmerk – volgens C Louis Leipoldt die mooiste mooiste maand soos hy dit besing in sy gedig “Oktobermaand”
Dit is die maand Oktober,
                       die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
                       so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
                       die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
                       die asvaal ou Karoo.

Dit is ‘n tyd van die jaar dat mens sou verwag om meer vreugde op mense se gesigte waar te neem – ‘n strawwe winter is immers pas agter die rug en die natuur verras met nuwe kleure en geure. Tog is dit soms die tyd dat mens juis bewus word van jou eie gebrek aan vreugde en lewensblydskap. Daarom het hierdie groot plakkaat wat in Menlyn winkelsentrum opgeplak was my so getref: “Joy!”

In ‘n Peanuts-strokiesprent  vra Lucy: “ Waarom dink jy is jy op aarde geplaas, Charlie Brown?”

Charlie  antwoord: “Om ander gelukkig te maak.”

Daarop sê Lucy: “Ek dink nie ek maak iemand gelukkig nie… Natuurlik maak niemand my ook besonder gelukkig nie…”

En dan, in die laaste prentjie, skreeu Lucy kliphard: “Iemand doen nie sy werk nie!!”

Dikwels doen ons die Lucy-ding: ons soek die skuld vir dit wat ons ongelukkig maak in omstandighede en ander mense maar nie in onsself nie. Dis een van die grootste lewenslesse wat mens op die oop-oog reis leer: Om nie jou vreugde afhanklik te maak van ander en van wisselende omstandighede nie, maar om ‘n diep innerlike bron van vreugde te hê wat onlosmaaklik gekoppel is aan die Bron. (Fil 4:4 Verbly jou in die Here, ek herhaal, verbly jou!”)

Die afgelope week was ons oogetuies via CNN en die nuus van die dramatiese redding van die die drie-en-dertig vasgekeerde myners in die San Jose-myn  in Chili.

Wat mens opgeval het was die suiwer vreugde op die gesigte van die gereddenes, die familie, die reddingspan, selfs die Eerste Minister. Daar was nie vrae, verwyte en beskuldigings nie. net egte onvervalste vreugde!

Dit was asof die nege-en-sestig dae in hulle afsonderingskelder hulle weer duideliker laat sien het wat werklik belangrik is – die mense wat jou lewe verryk en jou as mens versterk: vrou, kinders, ouers, broers, susters, ander familie en vriende. Voor die werklikheid van die Groot Skeiding raak soveel dinge onbelangrik en word die belangrike dinge wat soms vergeet word, weer in hul regmatige posisie herstel. Word God se Teenwoordigheid en beskikking weer onmisbaar.

In daardie eerste omhelsing nadat die mynwerker uit die Feniks 2 kapsule geklim het lê al die blydskap, verlange en versugtinge van sewe weke opgesluit.

Dalk is dit juis goed dat ons soms afstand inneem – bietjie van buite kyk na dit wat ons so vanselfsprekend aanvaar – geliefdes, gesondheid en die gawe van die lewe. Want as daar die gevaar bestaan dat dit van jou weggeneem kan word, juis dan besef jy hoe kosbaar dit is.

Dit sal interessant wees om te hoor wat die bevryde mynwerkers vorentoe sê oor die keerpunt in hulle lewens, maar ‘n mens kan nie maar net met jou lewe aangaan asof niks gebeur het nie, na so ingrypende gebeurtenis nie. Ons een Professor op Universiteit het ons altyd herinner: “Menere ‘n mens is nie ‘n stuk polonie nie! Jy het die vermoë om te leer uit wat met jou gebeur en ‘n beter mens te word.”

As  kind het ek soms saam met my ma geluister geluister na  een van haar gunstelingliedjies: “The Bluebird of Happiness” gesing deur Jan Peerce. Die liedjie het altyd ‘n heimwee by haar ontketen en het ‘n diep indruk op my nagelaat:

  Bluebird of happiness


The beggar man and his mighty king are only
diff’rent in name,
For they are treated just the same by fate.
Today a smile and tomorrow tears,
We’re never sure what’s in store,
So learn your lesson before too late, so

 Be like I, hold your head up high,
Till you find a bluebird of happiness.
You will find greater peace of mind
Knowing there’s a bluebird of happiness.
And when he sings to you,
Though you’re deep in blue,
You will see a ray of light creep through,
And so remember this, life is no abyss,
Somewhere there’s a bluebird of happiness.

Die soektog na geluk en blydskap word ook mooi uitgebeeld in die film “The Pursuit of Happyness” (2006). Die film is gebaseer is op die ware verhaal van Chris Gardner.  In die film word die rol  van Chris vertolk deur Will Smith. Hy gebruik die gesin se spaargeld om te belê in masjiene wat gebruik word in beenskandering. Hy verloor die spaargeld want hy kry nie die masjiene verkoop nie. In die proses verlaat sy  vrou hom en moet hy die versorging van Christopher,sy kleuterseun, waarneem.  Hy verloor ook hulle blyplek en hulle is aangewese op plekke wat oornagverblyf aan straatmense verskaf. Een aand is hy en sy seun se enigste keuse om in ‘n stasietoilet te oornag. Hy maak die verblyf draaglik deur aan sy seun ‘n verhaal te vertel. So leer hulle om in die klein dingetjies vreugde te vind. Selfs die verkeerde spelling, Happyness op ‘n winkelvenster (i,p.v Happiness)gee aanleiding tot ‘n belangrike gesprek tussen pa en seun en ontleen aan die fliek sy titel. Uiteindelik kry die pa wel ‘n werk by makelaars en kan hy weer sorg vir hom en sy seun, maar nou het hulle die werklike waarde waarde van  dinge geleer raaksien. Dis uiteindelik nie geld wat geluk koop nie, maar kosbare verhoudings wat geluk moontlik maak.

Dit sou die drie-en-dertig mynwerkers heelhartig beaam. Die ontwykende “bluebird of happiness” is veel nader aan ons as wat ons besef.

Leave a Reply