Om te loop met hoop

Sekere sleuteloomblikke in ‘n mens se lewe gebeur sonder dat jy die presiese oomblik kan onthou. Ek wens soms ek kan onthou toe ek my eerste tree gegee het – daardie dapper oomblik toe ek die ondersteunende hand gelos het en op wankele beentjies een voet voor die ander gesit het. Van kleinsus is daar ‘n ou 8mm filmpie wat die oomblik vaslê. Sy was skaars ‘n jaar  oud is en het in die Dieretuin in Johanneburg haar eerste wankele treë na selfstandigheid(selflopigheid?)  gegee met ‘n hoenderboudjie wat sy pas aan gesmul het in haar hand as balanseerstaaf.

Wat wel  op die 8 mm filmpies vasgevang is, is my pogings op die atletiekveld. Sommige van die oorwinnings is vasgelê met die kamera wat teen die einde heen en weer ruk soos die fotograaf (gewoonlik pa of ma) entoesiasties die eindpoging meemaak. Ook van die neerlae is geboekstaaf. Soms is dit ‘n vreemde gevoel om as baie ouer ekself (en ‘n baie minder mobiele ekself) weer daardie laaste oomblikke te herleef – die verbete vorentoe beur om eerste die lint te breek. Iets van die herinnering lê diep gesetel en voel nog steeds bekend. Dit bring ‘n vreemde heimwee mee as ek na die ou filmpies kyk. Voorwaar Those were the days.

In 1985 besluit ek op die ingewing van die oomblik dat ek lus is om deel te neem aan die jaarlikse padwedloop tussen Odendaalsrus en Welkom oor ‘n afstand van vyftien kilometer. Ek is nie draffiks nie, speel wel gereeld muurbal en besluit om die wedloop op muurbalfiksheid aan te durf. Net om seker te maak dat ek nie na ‘n kilo of wat gaan tou opgooi nie, besluit ek om die Saterdag voor die wedloop ‘n proeflopie te maak en van Welkom na Riebeeckstad en terug te draf (nagenoeg 20 kilos). Ek voltooi die poging sleepvoetend maar is so uitgeput en lyfseer, dat ek die volgende Saterdag met moeite die wedloop voltooi. My reddng is ‘n langbeen laerskool dogtertjie wat verby my hardloop toe ons oor die laaste brug voor die eindstreep draf en roep: “Komaan oom!” Met reserwekrag wat ek iewers vandaan optower, haal ek die eindstreep en kry my medalje omdat ek darem in die toegelate tyd klaargemaak het.

Behalwe vir nog twee desperate pogings bykans tien jaar gelede toe ek aan twee 10km wedlope deelgeneem het en darem klaargemaak het (en ‘n medalje gekry het vir die grootse pogings!) is dit omtrent die somtotaal van my wedloopgeskiedenis.

Saterdag die 12e Maart het ek die voorreg om weer ‘n deelnemer te wees. Die vereiste is ‘n minimum afstand van 400meter. Die tyd waarin dit afgelê word,  is van geen belang nie. Al vereiste is dat jy moet opdaag en die “Survivor” rondte saam met medelopers aflê. Die geleentheid is Kansa se jaarlikse “Relay for life”. Dit is ‘n viering van die lewe en betrek diegene wat die stryd teen Kanker aangedurf het en deur die genade gesond genoeg is om te kan deelneem. Daar is oud en jonk, swart, wit en gekleurde survivors.  Kinders van ‘n jaar of twee oud met die tekens van die strawwe behandeling op hulle gesiggies. Bejaardes met ‘n deurwinterde kyk in die oë. Elkeen kry ‘n wit band met die woord “Survivor” daarop en ‘n goudkleurige medalje aan ‘n pers lint. Die vreemde van die wedloop is dat jy jou medalje kry nog voor die wedloop begin. Want jy het immers reeds getoon dat jy met Genade van Bo en die baie liefde en ondersteuning van jou naby-mense sovér kon volhard.

‘n Paar  liede word vooraf gesing, ‘n gebed word gedoen en dan is die oomblik daar : Die aftelling: vyf-vier-drie-twee-EEN. Dan begin die vreemde optog om die veld beweeg. Anders as die titel van een van van George Weideman se jeugverhale is hierdie nie die Optog van die Aftjoppers nie maar die Wedloop van die Wenners. Dit is mense wat die waarheid van Fil 4:13 hul eie gemaak het en steeds maak: “Ek is tot allles in staat deur Christus wat my krag gee.”  Ja dit is mense wat ook die teenstrydiheid van ons kleipotbestaan ken soos Paulus dit beskryf in 2 Kor 4:

In alles word ons verdruk,maar ons is nie teneergedruk nie;

ons is oor raad verleë,maar nie radeloos nie;

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie

 Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,

sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

Dit voel byna surrealisties om deel van hierdie vreemde optog te wees. My Reisgenoot stap saam met my en ons luister na die uitbundige lied: Stand up for the Champions  wat oor die luidsprekers weerklink. ‘n Vreemde versameling mense met een ding in gemeen – iewers het hulle geleer om met die werklikheid van hul eie verganklikheid gekonfronteer te word. Die reaksie op hierdie konfrontasie – ‘n Vurige keuse vir die lewe en vir ‘n lewe vol kwaliteit waar beuselagtighede nie meer ‘n plek het nie. Dit gaan nou oor die dinge wat werklik van waarde is. juis daarom kan ‘n mens hoor hoe iemand in die groep dikwels onbevange lag. Dit is immers wat hoop doen – dit laat jou die lag temidde van die seer.  Bevrydend, want die dood se doppie is geklink. Vir eens en altyd. Deur Hom wat eers sy lewe moes aflê om die groot Survivor te word. Hy  loop voor.

Toe ons die einde van die baanrondte nader, dink ek aan die mooi verhaal wat hom afgespeel het tydens die Olipimpiese Spele van  1992 wat in Barcelona plaasgevind het:

 Dit het vir een van die onvergeetlikste oomblikke in  die geskiedenis van die Spele gesorg.  Brittanje se Derek Redmond het sy lewe lank ’n droom gekoester – om die goue medalje in die 400 meter te wen.  Die droom was binne sy bereik toe hy nader getree het vir die halfeindrondte.

Hy het soos ’n droom weggespring en was besig om die wedloop van sy lewe te hardloop.  Hy kon die wenpaal sien toe hy die finale draai neem.  Skielik het hy die allerverskriklikste pyn in sy been gevoel.  Hy het op die baan neergeval met ’n geskeurde dyspier.

Terwyl die noodhulpspan op hom afstorm het, het hy weer op sy voete gekom. “Dit was uit pure instink, want ek wou die wedloop klaarmaak”  het Redmond later verduidelik.  Op een been het hy aan gesukkel eindstreep toe.

Uit die pawiljoen het ’n groot man met ’n T-hemp aangehardloop gekom en in die proses ’n sekuriteitswag uit die pad gestoot.  Dit was Jim Redmond – Derek se pa!  “Jy hoef dit nie te doen nie, Derek”  het hy by sy seun gepleit.  “Ek wil klaarmaak Pa,”  het Derek geantwoord.  En sy pa se reaksie was:  “Dan sal ons dit saam doen.”

En so is pa en seun saam oor die eindstreep.  Derek het die dag nie die goue medalje gekry waaroor hy so gedroom het nie, maar hy weggeloop met die wete dat hy vir sy familie saak maak.

Dit is wat dit die loop met hoop moontlik maak – daardie saamloop met iemand wat die las help dra. Altyd ook die wete Iemand dra my waar ek self nie meer kan loop nie.

                        

2 Responses to “Om te loop met hoop”

  1. ALWA says:

    Wim die SURVIVOR! Vandag, 57 jaar gelede gebore – God het geweet wat Sy plan met jou lewe is,was en sal wees – DIS VIR JOU GENOEG OM TE WEET – “ek IS tot ALLES , ja ALLES instaat deur CHRISTUS wat my KRAG gee” . Wat ‘n grootse en bevredegende BELOFTE!

  2. Rene says:

    Ons juig ook saam met almal vir nog n jaar gespaar!! Ons is nog steeds vol hoop en gebede dat Survivor sal WINNER word.Voorspoed vir die volgende jaar!!!!Dankie vir Reisgenoot wat jou reis mee maak asook ons Groot Reisgenoot se genade! Gelukkige Verjaarsdag!!!!!!!

Leave a Reply