Herfsbriewe

Daar is iets in die lug.

Daar’s sigbare tekens in die natuur.

My hart se sonnewyser dui op een seisoen. Maartmaand. Vroegherfs.

Dit voel vir my ek is op ‘n intense herfsdag gebore. Miskien het ‘n sterk bries deur die reuse ou boom langs die kraamsaal gestoot en ‘n handvol bont blare deur die lug gedwarrel. Dalk was dit, naas die dokter se benoude gesig, die eerste prentjie wat in my ontvanklike breintjie vasgelê is. ‘n Strooisel songeel blare.

 Want ek kry mos Maartsindroom. Dit begin met my verjaarsdag in die middel van Maart.  As die eerste blare hul geel spatsels kry, dan dink ek mos aan al die blaarmense aan my boom. Ek verlang na die wat reeds deur die briesie van hul takkie losgelig en nou in die klam grond ‘n lêplekkie gevind het.

Maar ek verlang sommer ook na al die blare wat steeds met oorgawe aan die boom dartel (so ala Nikos Kazantakis wat mos die jubelende dans van die blare beskryf). Eintlik beskryf hy ons as die larwes (grubs) wat rondkruip op die blare en oorweldig is deur die omvang van die boom en die afgrond. So sê die een karakter (Boss) aan Zorba die volgende in die roman Zorba the Greek:

 “We are little grubs, Zorba, minute grubs on the small leaf of a tremendous tree”: Some men — the more intrepid ones — reach the edge of the leaf. From there we stretch out, gazing into chaos. We tremble. We guess what a frightening abyss lies beneath us. In the distance we can hear the noise of the other leaves of the tremendous tree, we feel the sap rising from the root of our leaf and our hearts swell. Bent thus over the awe-inspiring abyss, with all our bodies and all our souls, we tremble with terror. From that moment begins. . . the great danger, Zorba. Some grow dizzy and delirious, others are afraid; they try to find an answer to strengthen their hearts, and they say: ‘God’! Others again, from the edge of the leaf, look over the precipice calmly and bravely and say: ‘I like it.’!

Van Kazantzakis kom ook die volgende aanhaling:

I said to the almond tree, “Friend, speak to me of God,” and the almond tree blossomed.

 Nou ja, Maart is my blare-blommaand. Dan voel ek die eerste prikkels van die naderende herfs en sien sy verspieders in die boomtoppe sit geklee in hul geel monderings. Dan begin ek (ala Lucas Maree) my kiekies (en die openinge tussenin) bekyk.

 Herfstyd is staptyd, want dan is die lug helder en gevul met ‘n intense kwaliteit.

Smiddae gaan stap ek met die twee honde. Terwyl hulle vrolik al die graspos lees, kyk ek na die herfspos in die bome. Prof Willie Jonker (reeds saliger)  het altyd in die  Dogmatiekklas gesê: “Menere kyk na die herfsblare – dit is briewe van die dood om ons te herinner aan ons eie verganklikheid”. Eendag in die derdejaarsklas het hy met ‘n effense moedeloosheid na ons gekyk. “Menere julle sal binnekort mense in hulle diepe rousmart moet vertroos en bystaan, maar ken julle die pyn van lyding en die skerp seer wat afskeid meebring?”

As tuiswerkopdrag vra hy ons toe om die middag twee bundels te gaan koop: “Passieblomme van Totius” (wat ek darem oppervlakkig van Afrikaans-Nederlands I geken het) asook die bundel “Sonder Jou” van Hester Heese wat so pas verskyn het en wat sy na die dood van haar man, Dr Kallie Heese geskryf het. Ewe getrou is ek en twee vriende die middag na T. Wever Boekhandel in Andringastraat en het  ons die boeke aangeskaf. En gelees. En iets begin verstaan van die onsêbare seer van afskeid. Ons verneem toe dat Hester Heese net om die draai van die Kweekskool bly (in Van Ryneveldstraat). Een helder herfsmiddag is ons toe na haar huis toe sodat sy die boeke vir ons kan teken. Ons neem sommer ‘n bos wit rose saam en maak ons opwagtig by die voordeur van haar historiese huis. Sy is baie verras om die drie onbekende studente op haar drumpel te sien, maar nooi ons toe in vir tee. Dit word ‘n heerlike gesels-en kuiermiddag waar  sy in haar wysheid iets aan ons afgee – ‘n lewensdankbaarheid, selfs ook ten spyte van verlies en seer…

Daarom wil my  herfskyk nie ‘n morbiede lyksang wees nie. Ek raak dankbaar oor die krag van die seisoen. Want die seisoen praat! Vertel van soveel ryk belewenisse. Herinner ook aan die vlugtige tyd. En dat die lewe juis daarom kosbaar is. NOU.

 Daarom is herfstyd my vriende-uitreik en -verlangtyd. Ek wil wéét van die blaarbure om my. Hoe hul dans verloop.

 Herfstyd is ook my inhaaltyd met my herfsmusiek. Die adagio-klanke van ou bekende musiekstukke – Mozart se Klarinet konsert. Rodrigo se Concierto de Aranjuez. Beethoven se Pathetique. Pachelbel se Canon. Albonini se Adagio, Vivaldi se herfsgedeelte uit die Vier Seisoene, Allegri se Miserere. Te veel om te noem. Maar ook my herfsmusiek uit my jeugjare: Francoise Hardy se melankoliese “The Rose”, “All over the world” en “Autumn Rendezvous”, die Moody Blues se “Forever Autumn”. Joan Baez se “Forever Young” en Plaisir D’Amour hoort ook hier. So ook Mc Arthur Park (Richard Harris), Cat Stevens se Lady D’Arbanville  en natuurlik die Bee Gees se First of May. Met die luister van die Francoise Hardy liedjie kon ek iets van die pyn van afskeid ervaar wat Prof Willie by ons wou tuisbring:

The Rose (Francoise Hardy)

A lifetime comes and goes
And as my friend the rose said only yesterday
“This morning I was born
And baptised in the dawn
I flowered in the dew
And life was fresh and new
The sun shone through the cold
And through the day I grew
By night-time I was old”

“At least there’s never been
No, you have never seen
A rose more bright and gay”

A lifetime comes and goes
And as my friend the rose said only yesterday
“The good lord smiled on me
So why then should it be
I feel I’m falling now
Oh yes, I’m falling now
My heart no-one can save
My head begins to bow
My feet are in the grave”

The rose God smiled upon
Tomorrow will be gone
Forever gone away

A lifetime comes and goes
And so my friend the rose was dead at break of day…

Op die oog af ‘n ‘n baie hartseer liedjie maar tog ook die natuurlike gang van bruisende lewe na ouderdom en uiteindelik die dood.

Met my ma se skielike dood aan ‘n hartaanval in die herfs van 1980 het die woorde van die liedjie my nogal bygebly terwyl ek die lang rit van Komga af Glencoe toe alleen aangedurf het vir haar begrafnis.

Uieindelik is herfs stropingstyd waar al ons oortollige bagasie (soos die blare van die boom) wegval. In die herfs kry ons kans om “deur ‘n spieël in ‘n raaisel” te kyk en te sien dat dit wat ons dood noem net die wegbereider is vir nuwe lewe en groei. Immers hoe sal dit lyk as die lentebloeisels bot en die boom is nog oorlaai van dor wintersblare?

Daarom bly Vroegherfs van NP van Wyk Louw een van my gunsteling gedigte:

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.


 

One Response to “Herfsbriewe”

  1. Rene says:

    Herfstyd is afgeetyd-Drie ou oomies(almal kennisse)is die afgelope 3dae oorlede. Maar ook weggooityd -alles wat pla,terughou of krap. Ek is mal oor die herfskleure ;dis of alles duideliker is.

Leave a Reply