Archive for the ‘Uncategorized’ Category

Hark die Engele nader! (kersfees op Philippolis)

Thursday, December 15th, 2011

Op Philippolis het ek leer hark. Doodgewone alledaagse hark met ‘n langsteelhark. In die agterplaas van ons huisie met sy gruisgrond tussen die druiweprieel en die stal. Maar hark is nie maar net die bymekaarhark van blare of klippies of grond nie. Hark is soveel méér. Dis gedagte-ordening. Dis droomsekwensies en grondskilderye.

 Op Philippolis het ek eers my Ouma Alwine se harkpassie begin verstaan, haar verbete vee-sessies. Want hark en vee is nie net ‘n skoonmaakding nie, dis ordeskeppende rituele – die uitvee van die oue en ongewenste –die inhark van die nuwe…..

 Vroegmore op Oukersdag staan ek en hark  met ‘n engelrefrein in my kop: Hark now hear the angels sing, glory to the newborn king, So  al harkende met die “Hark” van die engelelied  as temamusiek , begin  my gedagtes op ‘n tweespoorpad loop. Een spoor loop terug, die ontdekkingspad van die  reis tot hier –  die ander vorentoe, die vooruitsig van ‘n eerste Kersfees saam met ou en nuwe vriende in hierdie dorpie wat soveel seën vir my, vir ons gebring het….

 Vir jare was Philippolis net die naam van ‘n dorpie iewers in die Suid-Wes Vrystaat. Op ‘n dag lees ek van Anna Neethling-Pohl wat terugkeer na Philippolis want dis die plek “om sterre te pluk’. In my agterkop liasseer ek die woorde, want so ‘n plek moet mos verken word. Jare gaan verby. Op die langnaweek van Vrouedag 2004 besluit ons om die “sterre-dorpie” te verken.

 ‘n Onverklaarbare iets gebeur toe ons die eerste keer Philippolis binnery. Ons is moeg van die gejaagde leefstyl. Ervaar ook die middeljare as plato-tyd. Soms selfs soos Klaagliedere se gruisklippie-in-die-mond-tyd. Die verwoede tempo van elke dag doof die lewensmusiek uit. Dit voel byna asof die engeltjies so bietjie op AWOL is. Her-oriëntering is nodig. Ons het  ‘n behoefte aan die salwing van ‘n rustige plekkie. Ongejaag en Leef-vriendelik.. Toe ons om die laaste draai vanaf Trompsburg se kant die dorpie nader ervaar ons so gevoel van bekendheid, van tuiskom Ons eerste aanblik van die dorpie is die kerktoring met sy besondere swart spitsdakkie. Ons  gastehuis is teenaan die kerk. Vir die duur van die naweek word die kerktoring die baken, die uurlikse klokslag ons sonwyser.

 Ons ontdek ‘n dorpie wat ‘n geskiedenis, ‘n storie met hom saamdra. En ons nooi om deel van sy  verhaal te word. Ons leer nuwe mense ken. ‘n Hartlikheid wat in ons resoneer. Ons leer stap waar ons wil wees. Af met Voortrekkerstraat. “n Ry dennebome langs die straat en een akkerboom as uitroepteken. Verby Indraf, Kokkewiet en Ons Dien, die twee kafees en die een algemene handelaar. Verby die Emily Hobhouse gedenktuin. ‘n Heerlike ontdekkingstog van karaktervolle historiese huisies. Ons raak verlief op die dorp en sy outentieke karakter. Ons leer mense ken.  Jim Reeves se Liedjie van jare her “A stranger’s just a friend you do not know” kon hier geskryf wees. Ons ervaar die opwinding van ‘n besigtigingstoer van  Philippolis op  Café se perdekarretjie, die Saterdagmiddag. Besluit: die rit is die naaste wat ons aan ‘n Suid-Afrikaanse Jingle Bells slee-rit kan kom! 

 Sondagoggend woon ons die erediens in die pragtige ou historiese kerk by,  Die gebou het die aanslae van die  Anglo-Boere oorlog, sowel as die twee wêreldoorloë oorleef . Die spitsboog vensters skep ‘n gewyde atmosfeer. Die inspirasie van die Woord en orrelmusiek skep ‘n  diep vrede in ons.

Na die diens staan die mense buite die kerk en gesels. Ons herken al ‘n paar gesigte en vriendelike glimlagte.

 Later verken ons die Labirint  wat deel vorm van die Laurens van der Post  gedenktuin. Steenspirale waarop mens kan loop, vertel van ‘n geestelike reis. Die loop daarvan is ‘n ontdekkingstog na binne waartydens jy al die negatiewe dinge en oortollige bagasie aflê. In die kern van die labirint sien jy as’t ware jou lewenspatroon. Ontdek jy jou kern-self, dit wat ten diepste saak maak. Dan is jy gereed om die terugspiraal te loop en simbolies die goeie lewensbagasie op te tel. Die spirale van die labirint bevestig dit wat ons reeds ervaar.-‘n rusplek waar jy die binnereis met insig en ‘n rustige eerlikheid kan aandurf.

 Maandagoggend voor sonsopkoms, klim ons teen die koppie in die middel van die dorpie uit. Twee kanonne staan waaksaam en tuur oor die slapende dorpie. Ons sit en wag die son in. Toe die strale teen die kerktoring en kanonlope  blink, lag ons uitbundig oor die kontras van kanon en kerktoring wat so in mekaar se skadu staan.

 Ons neem swaar afskeid van die dorpie met sy karaktervolle geboue, eiesoortige sjarme en vriendelike mense. Na Planeet Philippolis (soos ons die ervaring doop) sal ons gewis terugkeer.

 ‘n Jaar later hang ek ‘n glasengeltjie in die oop raam wat uitkyk op die kerk. Lynette se geskenk aan my.  Dis lente. Nuwe lewe bot oral. Hierdie keer gaan ek alleen. Dis tyd vir kopskrop. Retraite. Tyd om die wintersheid van ou bagasie af te skud. Om ongeskryfde woorde neer te pen. Ek gaan tuis in die Laurens van Der Post Skrywershuis.

 Toe ek die Sondagaand skuins voor middernag in die bed klim, is daar die welbehaaglike gevoel – ek is weer op  die “sterre-pluk-plek”. Ek luister na die twaalf afgemete klokslae en  voel soos ‘n eietydse Marco Polo.My tweede besoek aan die hartsplek word ‘n ontdekkingstog, geografies en spiritueel,  ‘n verkennende omlyning van my binnestem.

 In die drie dae wat volg groei die besef: hierdie plekkie se bekoring lê diep. Daar is ‘n byna magiese kwaliteit aan die omgewing wat moeilik in woorde vasgevang word. Saans verwonder ek my aan die wydsheid van die uitspansel. Die stilte. Dink weer aan die aanhaling: “ Silence is God’s first language, all the others are bad translations.”

 Soggens vroeg is ek op die solder van die skryfhuis voor die rekenaar om my eerste indrukke van die dag neer te pen. Soos eerste voetspore op ‘n skoon strand. Ek kry kans om die Woord rustig in te neem. Te dink. Gedagtes neer te skryf.  Die uurlikse kerkklok beaam die proses. Ek ervaar die oop stilte waarin mens so bewus word van God.

 Later  in die dag is dit verkenningstyd. Gesels ek, vra ek uit. Leer ek meer van die dorpie en sy inwoners ken. Ek ontmoet Richard Proctor-Sims, ‘n uitgewer wat onlangs hierheen verhuis het. Hy bly in Oom Japie se huis en bedryf sy spesialis boekwinkel  en ‘n restaurant vandaar. Hy vertel dat hy die land deurreis het op soek na ‘n plek om in af te tree, ‘n aantal moontlike plekke op sy kortlys geplaas het, maar  sy hart in Philippolis verloor het.

In Tobie Mullerstraat ontdek ek ‘n  klein,  historiese huisie met ‘n Te Koop-bordjie. Dit het groen luike en voordeur, in  tipiese Karoostyl gebou met ‘n gestroopte eenvoud. Die naambord links van die voordeur lui: Hartjiehortjie Huisie. In elk van die ses groen luike is ‘n hartjie uitgesny.  Die res van die oggend, terwyl ek besig is om  my eie indruk van die magiese landskap in woord en beeld te probeer vaslê, sien ek telkens in my gedagtes ‘n hartshuisie wat wag om betrek te word.

 aataand stap ek weer verby die huisie. Die sekerheid groei, hier wag daar ‘n nuwe hoofstuk. Veral toe ek ontdek dat daar agter die huis  ‘n lang erf  met ‘n bakoond en ‘n stal is.  Terwyl ek vertoef in  die eenvoudige vertrek met sy lang hout voerbak en klippiesvloer, voel dit vir my ineens of ek midde in die kersverhaal staan. Ek kry so ligte rilling van opgewondenheid. Besluit dat ek en Lynette ‘n aanbod op die huisie moet maak. Wat ons toe  die volgende  week  wel doen.

Advent 2005. Ons  kuier in Philippolis en ontvang  die goeie nuus dat die huisie nou amptelik ons s’n is. Ons hoor dat die huisie uit 1861 dateer en dat die oorspronklike transportakte deur Adam Kok III onderteken is. By die greinhouttafel sê ons dankie vir die hartshuis met sy plankvloer-voorhuis, slaapkamers, badkamer en kombuisie met ‘n rietjiesdak (brakdak), vuurherd en koolstoof. In die slaapkamer met die mooi muurpapier maak ons ‘n fyn engeltjie staan. ‘n  Versierde Koniferboompie  by die venster in die voorhuis .

 Vroeg op Oukersdag word die werf skoongehark. Die harkpatrone word landelike skilderye met Van Gogh se spiralende lug, golwende koringvelde wat tuiskom op Vrystaatse bodem. So al harkende neurie die engelekoor hulle kersagenda..

 Die werklikheid oortref self ons beplanning. Onder die sterre braai ons karoo-skaaptjops. Die bykosse is reeds gereed. Die greinhouttafel word uitgedra en op die voorstoepie teenaan die straat geplaas. Dit word feestelik versier.

Die lui van die koperklok is die aanduiding dat die fees begin! Twee krulkopdogtertjies hardloop na die stal waar verligte glasengeltjies  op die rand van die voerkrip hulle verwelkom. Die ou verhaal van die Jesuskind klink selfs vir ons volwassenes nuut hier in die gestroopte omgewing waar diere oor baie jare ‘n skuiling gevind het. Dit word ineens waarlik Christusfees. Ek verstaan weer die eenvoud van die Blye Boodskap. Koningskind wat kripkind word. Terwille van ons. Ek sien die opgewondenheid in die twee dogtertjies  se oë. Weet dat hierdie oomblik hulle meer sal bybly as die geskenke wat wag  onder die boompie in die voorhuis.

Laataand sit ons op die stoep en sien die uitspansel. Sterre ontelbaar. Helder. Naby. Ek steek my hand asof om een te pluk. Want op Kersfees het die hemel na aan ons gekom. Immanuel. God met ons.

Iewers vermoed ek ‘n engelekoor –Vrede op aarde. Ook op planeet Philippolis.

 

Op Vlerke van die Phoenix

Saturday, December 10th, 2011

Die Apollo teater, Victoria-Wes, het ‘n wonderlike storie. Die outentieke filmteater wat vir meer as twintig jaar in sy toegeseëlde  sarkofaag gerus het, met ‘n Foschini winkel wat in sy voorportaal bedryf is, totdat dit in die negentigs herontdek is en weer opgeknap is tot sy vroeëre glorie. Die verhaal van die Apollo laat my verlang na die bioskoop-teaters uit my kinderjare – Leba in Klerksdorp en die Alpha in Welkom. Maar veral ook die Phoenix met sy mitiese naam – die Cinema Paradiso van my jeug.

 Die Phoenix teater op my  jeugdorp het nie gewalifiseer vir die term Art Deco nie. Dit was te modern, Te sestigs. ‘n Bruin siersteengebou met glaspanele. Naby die bank en die biblioteek in ons myndorpie teen die rivier. Dit was nie ‘n buitengewoon groot teater nie. Tog het dit vir my  verskriklik groot gevoel, so asof  ek in die buitenste ruim instap – ‘n Regtige Space Odyssey-ervaring.

Buite het die naam groot gepryk: PHOENIX. Die naam het wonderlike ontdekkingsreise in die binneruim van die teater voorspel. Talle nuwe droomreise sou daar begin. Helde wat hulle lewe op die spel plaas vir heldinne.  Diep fliekspore wat ‘n blywende indruk laat. Want ‘n  teater–onthou van ‘n fliek is anders as ‘n inry-onthou. Met ‘n inry onthou jy meer die geselligheid  rondom die kyk van die fliek as die trefkrag van die fliek. Selfs rillers het ‘n sekere afstand tussen jou en die skerm geskep (alhoewel jy doodbang was vir iemand wat dalk teen jou motorruit klop en grynslag!)

 Met ‘n fliek wat in die teater gekyk is, is dit  mos heel anders Dit het ‘n onmiddellikheid, ‘n impak. Jy is dààr. Daarom verg dit ook ‘n behoorlike aanloop. Die aantrek en regmaak, uitsien en  die afwagting. Die foyer. Die koop van die kaartjie. Natuurlik, moet nie die verversings vergeet nie, Coke en springmielies vir gewone Matinee’s . Vir die spesiale aandfliek:- sjokolade. As pa rojaal was die aand: ‘n boksie Nutties. As jy ‘n meisie rêrig wou beindruk : Black Magic.

Die fliekervaring uit my tienerjare wat my in stadige aksie bybly, is  ‘n film premiere in ons eie dorpie

 Dit was die era van die Afrikaanse film – Hoor my Lied het mense na sakdoekies/sneesdoekies laat gryp. Ons het lustig saamgesing met die tragiese verlamde heldinnetjie van die A en die B en die grote C. Die Afrikaanse film, die A van my ABC van fliekervarings.

Maar toe kom Die Geleentheid. ‘n Afrikaanse film se premiere word in ons dorpie gehou in 1968. Die film is (retrospektief gesien) een van die liggewigte in die Afrikaanse filmbedryf. Tog het dit ‘n immergroen sangeres van Afrikaanse musiek opgelewer. Wie het toe kon dink dat Dopper Erasmus se “Timothy” vir  Carike Keuzenkamp deure na ‘n sangloopbaan sou open?

Maar dit was altyd maar vir my  ‘n minder belangrike rede waarom “Die Professor en die Prikkelpop” so ‘n indruk op my gemaak het. Die hoofoorsaak, wat aan my slapelose nagte en visioene van skoonheid besorg het, was die een “prikkelpop” (In my oë lasterlik om ‘n engel met so woord te beskryf!) Vir my was sy ‘n eteriese wese wat aan my vaal dertienjarige bestaan nuwe kleur kom gee het.

 Haar naam (in neonligte natuurlik): Tani de Lange.

 Ek onthou nie veel van die Jamie Uys fliek nie. Wel dat ek ‘n wrewelrige haat jeens ene Serena Price (vertolk deur Bernadette da Silva) gekoester het omdat sy, die donker heks van onheil, gekonkel het om die ander deelnemers uit te skakel, veral dan vir Sue Pearson (vertolk deur Tani de Lange) – Wie kon tog dink om so boos op te tree teen die onskuldige blondekop meisiekind met die bokkiebruin  oë wat “in die moeilikheid” beland het  (‘n begrip wat waarvan die volle betekenis op dertien  nog nie vir my so mooi duidelik was nie.) Maar ek was vinnig aan die leer!

 Tani de Lange. My droomprinses wat so reg uit die silwerdoek gestap het in my dertienjarige leefwêreld in. Kry ek sowaar weer ‘n rilling hier waar ek voor my eie klein skermpie sit en die onthou uittik.

Ons familie was voltallig daar die aand: Pa, Ma en ons vier kinders. Die foyer het die aand getintel van opwinding. Al die dorpie se belangrike persone was daar, burgemeester inkluis. 

 Daar was ‘n spesiale afwagting die aand in die voorportaal. ‘n Rooi tapyt is uitgerol van die gemerkte parkeerplek tot reg voor die glasdeure van die teater. ‘n Rerige rooi tapyt. Die groot oomblik het aangebreek: ‘n Lang wit  spogmotor het  stilgehou. Die chauffeur het uitgeklim en die linkerkantste agterste deur oopgemaak.  ‘n Visioen in Wit het daar uitgeswewe. ‘n Engel. Op daardie oomblik het alles om die engelvrou vervaag en was sy presies in die fokus van my sig – die res was uit fokus, net sy en elke  detail van haar is ingegraveer op my brein- ‘n reuse ligsensitiewe vel fotopapier wat die indrukke verewig het.

 Haar hare: ‘n Stralende goue kroon op haar kop met twee goue lokke wat weerskante van haar kop spiraal.

Haar vel:  albastewit en vlekloos (vra my wat die Clearasil juis kunstig aangewend het voor die uittog die aand)

Haar neusie, fyn en pikant. Die mond, onskuldig, vriendelik en vanuit my verliefde oogpunt uiters soenbaar! Die rare kombinasie van vonkelbruin oë saam met die blonde hare.

Haar uitrusting het die vroue aan die praat gehad. n Silwerwit rok wat kuitlengte gehang het en onder die rok het die twee parmantige wit frillletjiespype van ‘n langbroek uitgesteek. Ek het ‘n vernietigende blik gewerp na die tannie met die Crimplene rok en stringe krale wat hardop gewonder het of sy dalk ‘n volksvreemde  geloof aanhang . Ek wou my hand uitsteek om aan die waas van drome te raak maar het dit maar weer ewe verleë in my blou hipster se sak gesteek.Ek kon net staar. Later sou ‘n liedjie van Peter Sarstedt my aan die oomblik herinner: Where do you go to my lovely….

 Van die fliek onthou ek net my gevoel van skreiende onreg toe sy so onbarmhartig behandel is in die kompetisie, veral  toe die oorsaak  van haar “Moeilikheid” bekend geword het. En die oomblik toe een van die beoordelaars in ‘n oomblik van meevoering by aanskoue van die prikkelpopparade sy potlood in twee gebreek het. Ek sou deur ‘n hele blik Steadler potlode kon draf en hulle tot die fynste vuurmaakhoutjies vermorsel met my nuutgevonde krag.

 Kort-kort in die loop van die fliek het my oë na die plek links voor gedwaal waar sy in die teater gesit het. Het ek  jaloers gewonder wie langs haar sit.

 Toe die eindtitels rol het ek pleitend na my pa gedraai. Pa kan ons nie maar die tweede vertoning ook bywoon nie?  Ek sal my pa ewig dankbaar bly dat hy gaan navraag doen het. Selfs al moes ons teleurgesteld verneem dat al die kaartjies uitverkoop was. Ek was bereid om enige plek in die paadjie my tuis te maak, watwou ‘n kaartjie.

 Die wonderlikste bonus egter: Na die vertoning het my droomheldin in die foyer gestaan  en kon ek weer in stadige aksie na haar kyk en elke stukkie detail indrink. Ek moes ‘n geheuskyfie neem want ek het nie my “Traveller” kamera byderhand gehad nie.

 O ek wou nie die  heerlikheid van die Phoenix se portaal prysgee nie. Hier voor my eie oë het ‘n droom waar geword. Uiteindelik onafwendbaar moes ons huis toe want die tweede vertoning het begin. Sonder my.

 Die aand het ek kwalik geslaap. Planne beraam. Die volgende dag gesoek en gevra totdat ek Mimosa ateljees se adres in die hande gekry het. My bewonderaarsbrief aan Tani gerig. En gevra vir ‘n getekende foto. Asseblief. Miskien het sy die noodkreet van ‘n tiener tussen die reëls van my briefie gehoor. Twee weke later was daar ‘n koevert in die pos vir my. ‘n Getikte briefie waarin ek bedank word vir my belangstelling. Maar wat my hart tot stilstand gebring het, was die swart en wit foto wat uit die brief geval het. My godin met die goue lokke, haar oë hemelwaarts geslaan. En regs onder in die hoekie, geskryf met swart koki-pen: Baie liefde, Tani de Lange. My beker van geluk het oorstroom. Die foto is dadelik netjies geraam en het op my lessenaar gepryk. My inspirasie deur menige tienerkrisis. Tussen die foto en die rugkarton ‘n menigte geheime bêrebriefies versteek, selfs ‘n geheime kode in Tani-taal!

 Onlangs woon ek ‘n begrafnis by in die myndorpie van my jeug. Na die begrafnis ry ek  na die middedorp. Kies onwillekeurig  koers na die Phoenix teater, plek van Drome. Toe ek stilhou waar die spogmotor tydens die premiere jare gelede gestaan het, sien ek dat die teater nou ‘n Charismatiese kerk is.

 Ek klim uit en herleef die rooitapyt-aand. En dink wrang daaraan dat Tani nou al sekerlik Ouma Tani vir haar kleinkinders is. En voel byna soos die ontnugterde Toto karakter in die film Cinema Paradiso wat weer na jare terugkeer na sy tuisdorp net om te ontdek die filmteater gaan gesloop word…

 Maar soos Toto sien ek in die as van die inmekaargeplofde gebou die mitiese herrysenis van my droom. Brokstukkies van honderde flieks wat deur die jare hul storiepad deur my kop gebaan het. ‘n Blik vol fliekuitknipsels .‘n Helde/heldingalery teen die muur wat later afgehaal is toe die muur geverf is.   Weet ek : verbeeldingsvlugte word nie deur verfwerk of  sloping  vernietig  nie. Die krag van onthou, die krag van drome sal weer en weer herleef. Vlieg Phoenix, Vlieg!

 

 

Die Vlieënde kraai

Tuesday, November 29th, 2011

 

Dalk is dit die tyd van die jaar.

Dalk is dit die droë uitgelewerde somersheid.

Dalk is dit sommer net my binne-mengelmoes van ongesêde gedagtes wat my kop blokkeer. Die somtotaal van ‘n klomp gebeurlikhede. En die nie-weet hoe om alles te hanteer nie.

Ek beleef ‘n vasgevalde toegeslane tyd. ‘n Impasse wat ek tans nie kan (beter gestel, nie wil) oorkom nie.

 Ek kan ‘n lys van “Klaagsange” opnoem wat ek met vers en kapittel kan sing:

“Uit dieptes gans verlore van redding ver vandaan..”

“Ruwe storme breek in woede, alles om my heen is nag…” 

Life is just not fair

Ek blaai bietjie terug deur my rekenaardagboek en sien ‘n inskrywing  kort na ons verhuising na die meenthuis wat iets van hierdie gevoel verwoord.:

“Dit voel vir my asof die skaaltjie van belading eensydig ‘gelaai word aan die een kant: Lyf-onlekkerte, gemoedsdonkerte, afstandelikheid teenoor dinge en mense, ‘n tipe uitsigloosheid tans…Ek vermy kontak met mense en enige skryfwerk. Ek het ‘n behoorlike BLOK. Kreatiewe konstipasie. En sommer rêrige konstipasie ook. Alle uitgange, letterlik en figuurlik is geblok, Ek sukkel om te kommunikeer . My epos werk steeds nie.En my hemelpos ook nie.

 Tog het ek so behoefte aan ‘n genadige ontmoeting. Soos Elia onder-sy Besembos-in die-woestyn. Ek skryf aan ‘n skrywersvriendin  (met gebruikmaking van ‘n geleende 3G kaart) Op die oomblik is my kokon te klein en toegespin… ek dink ek leef nou in die nasleep van ‘n klomp dinge wat ek maar moes saamdra…dit lyk my ek is bietjie in ‘n stadium waarin ek so dolende wil rondploeter in gevoelens van magteloosheid en sekerlik ‘n skeut selfbejammering…

 Sy antwoord : “ Onthou net jy is nie deur ‘n gewone trek nie, dit was eintlik jare lange stresgolwe wat jou met brute krag by jou nuwe adres uitgespoel het – onthou maar net dat Elia na die hoogtepunt van Karmel onder die besembos gaan inkruip het. En Luther na die die intense hoogdruk rondom sy stellinge, in ‘n vriend se kasteel in ‘n woud gaan wegskuil het. Praat nie van diere wat  in hulle gate inkruip om hulle wonde gesond te lek nie.

My liewe vriend, jy mag bloei en bloei en bloei binnetoe,,,”

Dankie tog vir die bevrydende daarwees van mense naby en om jou, van ‘n reisgenoot en vriende wat verstaan jy wil net so bietjie “wees” en glad nie “perform” nie.

Want dit is juis vriende wat verstaan wat jou uiteindelik weer die krag gee om wel maar weer die een voet voor die ander te sit en te waag om weer die lewe te betree. Vriende-terapie en ‘n genadekruik vol water wat ‘n engel kom neersit…

In my eerste gemeente het ek ook so fase deurgegaan. Pas klaar gestudeer (en darem die realiteitsterapie van die dienspligjaar agter die rug) is ek vol drome en ideale oor gemeentewees en menslike verhoudings. In ‘n ontnugterende ervaring loop ek my bloedneus teen die rigiditeit van menslike denke – ou vetes wat nuut uitblom, vooropgesette idees wat weier om te wyk voor die eise van die Woord en sommmer net menslike onverdraagsaamheid. En ook ‘n stuk plein ongeskiktheid. Ek voel na ‘n mislukking. Dit voel asof ek ‘n alien is wat ‘n vreemde taal praat. Ek is ‘n naiewe profeet wat nie die realiteite van oorlewing ken nie. Ook nog nie die vasberadenheid van die die menslike natuur om sy gebaande weë te hou, begryp nie.

In hierdie tyd van ontgogeling trek ek myself terug en besluit om te doen wat van my verwag word, my formele pligte na te kom, maar nie iets meer nie. Veral om nie van myself te gee nie, wat ek lek my wonde…

Tog terwyl ek hierdie “oorleef”strategie formuleer, weet ek dat ek nie onbepaald so op ‘n minimum gee-basis kan leef nie. Want dit is tog juis in ons interaksie met ander dat ons weer nuut na  onssself en die wêreld kan kyk. Die hele appél van dissipelskap gaan immer om jou kruis op te neem en te volg, ongeag of die pad gelyk of  klipperig is..

Vir ‘n tyd duur my askese, luister ek saans musiek as terapie na nog ‘n onlekker dag.

Ek gaan soek troos by Oom Dennis en Tannie Johanna in De Villiers straat 7 – ‘n Mooi moderne en sonnige huis met ‘n baie mooi tuin.

 Hy is ‘n entoesiastiese persoon wat graag help en dien. Hy het ook al die teleurstellig beleef van misverstaan te word as jy met goeie bedoelings iets aanpak.

En die troos begin sommer al buite in die tuin. Oom Dennis wys my die bedding langs die huis waar die mooiste kleure blomme pryk _ diepblou, pers en ligter skakerings van pienk. Oom Dennis se trots: ” Kyk bietjie ds Wim hoe mooi is my Delphiniums en Cinnerarias!”

 Met die stap en kyk begin die laste al effe ligter word. Die blomme is die beloning van sy voortgesette omgee en bemoeienis met sy tuin. Ons maak ook ‘n draai by die duiwehok waar Oom Dennis sy geveerde kinders by name ken.

 Uiteindelik is ons binne. Tyd vir koffie en geselsterapie!

 Oom Dennis se raad: “Ds Wim mens moet aanhou probeer. Mens kan nie  maar ophou en terugtrek nie as jy ‘n teleurstelling beleef het nie:

 Onthou – dis die vlieënde kraai wat die voorwerpe oppik!”

 ” Ja Oom Dennis” stem ek byna onwillig toe, “dit is waar”

“Nouja dan moet jy weer die stryd aandurf met dit wat jy uit hierdie rondte geleer het. Vlieg, Ds Wim, Vlieg!”

Sy woorde bly my by toe ek huis toe ry. Laataand hoor ek weer sy aanmoediging: “Onthou ds Wim, dis die vlieënde kraai wat die dinge oppik!”

Twee jaar gelede het ek die voorreg gehad om sy roudiens waar te neem. Hy is ‘n een-en-negentigjarige wat hierdie filosofie enduit geleef het. A.g.v. diabetes is albei sy bene geamputeer maar nie sy lewensblymoedigheid nie. Soggens het hy getrou sy rystoel in sy stiltetydhoekie parkeer en dan sy vliegkrag vir die dag van Bo  ontvang. Dan het hy met ‘n glimlag sy draai deur sy tuintjie gemaak. Lewensbly. Entoesiasties.

Ja, Oom Dennis, jou woorde bly waar. Soms kan mens maar vir ‘n rukkie die wonde lek.  So bietjie hiberneer. Maar daar kom weer ‘n dag vir vlieg. En nuwe waarhede oppik.

Die kraai moet vlieg.

 

‘n Speellys vir die Lewe

Saturday, November 12th, 2011

 

 So klompie jare gelede was daar ‘n advertensie van ‘n Musiekwinkel met dié slagspreuk:

“ Every life has a theme song – what is yours?”

 Dit kan nogal ‘n interessante vraag wees, afhangende van jou lewensfase en –ingesteldheid op daardie stadium.

 Ek onthou hoe ek kleintyd dol was oor die liedjie Personality van Lloyd Price. Veral die koortjie gedeelte  het ek lustig saamgesing:

`cause you got personality

Walk, personality
Talk, Personality
Smile, Personality
Charm, personality
Love, personality
And of Cause you’ve got
A great big heart

Ek dink nie ek het mooi geweet presies wat die “Personality” was nie, maar dit het vir my geklink soos iets wat ek graag sou wou hê!

Sedert die Personality-fase, was daar al verskeie ander “temaliede” in my lewe. So onthou ek  die Billy Joel liedjie My Life wat tydens my grensdiens my temalied was. Net soos kleintyd met Personality het ek die versie lustig gesing as my verset teen die weermag en die grens-opset:

I don’t need you to worry for me cause I’m allright
I don’t want you to tell me it’s time to come home
I don’t care what you say anymore this is my life
Go ahead with your own life leave me alone

Tydens my eerstejaar op Stellenbosch was Eyelevel ‘n groot treffer, veral dan die Afrikaanse weergawe daarvan: Lied van die Boland.

So het die liede en my lewe soms mekaar aangevul en soms was die een ironiese kommentaar op die ander. In die jaar van my ma se heengaan  was Joy se Paradise Road die groot treffer  Net so was Irene Cara se treffer What a feeling! uit die film Flashdance ‘n treffer terwyl my pa in 1984 terminaal siek was in Little Company of Mary.

In die middeljaar van my tydperk in Komga toe ek self maar oorbewus was van die negatiewe en die kompleksiteit van die lewe, het Crocodile Harris se stem telkens oor die eter geklink: Please give me the Good News. Waarop ek Amen laat hoor het.

Tydens ‘n traumatiese Grensdienskamp op Okankolo in 1987, het ek behoefte aan ‘n temalied om die ou jaar mee af te sluit en ‘n nuwe te begin. Ek klim op oujaarsaand in die “Aapkas”  – die hoë uitkyktoring waaruit vyandelike bewegings waargeneem kan word. Dit is ‘n  stil, sterbesaaide aand. Ek is my so bewus van my nietigheid en ‘n uitgelewerde gevoel hier in ‘n gevegsomgewing. Maar ook van ‘n stil wete: Iemand hou sy hand oor ons.

Toe dit naastenby twaalfuur is en die oorgang van 1987 na 1988 gebeur, luister ek op my Walkman ‘n Amy Grant bandjie wat ek aangeskaf het net voor die kamp. Die titel van die album is: Age to Age en die snit: El Shaddai:

El Shaddai, El Shaddai
El-elyon na Adonai
Age to age you’re still the same
By the power of the name
El Shaddai, El Shaddai
Erkamka na Adonai
I will praise and lift you high
El Shaddai

Through your love and through the ram
You saved the son of Abraham
Through the power of your hand
You turned the sea into dry land
To the outcast on her knees
You were the God who really sees
And by your might
You set your children free

El Shaddai, El Shaddai
El-Elyon na Adonai
Age to age you’re still the same…

“n Vreemde rustigheid kom vestig hom hom in my binneste. Ek is in die sigveld van El Shaddai (God Almagtig) wat die see oopgemaak het vir sy volk en Isak-op-die-altaar se lewe gered het. Die hemel voel  ineens naby. Ek is in die Teenwoordigheid van die Almagtige. Ek sien kans vir die jaar.

Sedertdien het ek dikwels ‘n temalied  gekies op nuwejaar as versterking vir die jaar. 

Ek is altyd ingestel om musiek raak te luister: synde dit nou tydens ‘n kuier by vriende, in ‘n film, in die Supermark of bloot net die liedjies wat speel terwyl ek ry.

Miskien daarom dat ek ‘n fobie ontwikkel het vir Inkopiesentrums tydens die Kersgety, want as ek ad nauseam Jingle Bells moet aanhoor, wil ek vlug. Dieselfde geld vir The twelve days of Christmas, Rudolph the red nose reindeer en die Boney M  se holruggeryde  kersmusiek.

Die ergste is as ek dink dat ek veilig kan sit in die kerk tydens Adventtyd en sinvolle kersmusiek sal hoor en iemand by die klankkas is in ‘n hêppie-hêppie krismis bui en speel al die kommersiële liedjies.

 Dit sou interessant wees as mens ‘n speellys kon saamstel van musiek wat iets van jou lewensverhaal vertel

Tien dae gelede sit ek in die Chemo-lokaal in Ernest Oppenheimer hospitaal. Die drie-weeklikse ritueel bly maar minder lekker, maar op ‘n vreemde manier is dit ‘n baie postiewe ervaring want daar heers nie ‘n negatiewe, morbiede atmosfeer nie. Inteendeel, daar is soms ‘n ligtheid en ‘n blydskap wat die prentjie van  mense wat ‘n swaar pad met pyn geloop het, weerspreek. So sal mense wenke uitruil wat die newe-effekte van chemo kan hokslaan of vertel waar kan jy vir jou pruik laat highlights insit.

 Terwyl ek sopas die eerste sakkie chemo binne-aars ontvang, luister ek na die musiek wat op die agtergrond speel. Dit is ‘n handelsender en die liedjie is I had the time of my life uit die film Dirty Dancing. Ek glimlag effe wrang – dit sou sowaar nie nie my temalied wees vir ‘n Chemolokaal nie. Ek onthou dat ek ‘n klompie maande gelede vir my chemobehandeling in Bloemfontein was. Die lokaal was baie verbruikersvriendelik met sagte bruin leerstoele, mooi skilderye, ‘ n koffiemasjien en ‘n uitsig na buite. Tog is die plaaslike radiostasie ook die musiekverskaffer en kon ek nie help om te glimlag toe ek hoor wat speel nie: Queen se Who wants to live forever? is die agtergrondmusiek vir die chemo.

 Tydens die sessie tien dae gelede by ons plaaslike hospitaal maak ek die volgende inskrywing op Facebook via my Blackberry.

Die liedjies wat speel hier in die lokaal waar chemo toegedien word, is ironies – ‘n vorige keer speel Queen se Who wants to live forever? Vandag – I had the time of my life!  Nouja – what next?

 Hierop kry ek heelwat kommentaar: ‘n Vriendin uit die Kaap (wat self die werklikheid van chemo deurgemaak het) laat weet: Dalk: It’s my party and I can cry if I want  to?

 Verskeie  voorstelle en aanbevelings volg : I’m a Believer, Die Briels en Bridge over Troubled waters asook I want to break free. Waarop ek antwoord dat dit net assblief nie Needles and Pins moet wees nie! Die liedjie het sowaar in die teater gespeel toe die narkotiseur naderkom om my ‘n epiduraal toe te dien. Sy sê toe so ewe: Daar speel hulle nou juis jou liedjie!

 Nee, in die chemolokaal is die liedjie glad nie van pas nie, net soos I fall  to pieces verbode was in die vertrek waar ek pottebakkersklasse geneem het!

 Nee, ek sien eerder kansvir die dramatiese Cry to Me van die Staccattos as iets oor naalde en spelde!

Tog is daar ook in die terugvoer wat ek kry, ‘n paar voorstelle vir inspirerende liedjies wat ‘n goeie alternatief vir die tong-in-die-kies liede kan wees.

 Iemand stel I Believe voor. ‘n Ander: All is well van Robin Marks.

 Ek begin dink: watter liedjies sou hoort op so speellys? Daar is ‘n magdom van inspirerende liedjies met ‘n sterk geestelike boodskap wat sou gepas wees. Baie van die gunstelingliedjies van my pa wat ek in die vorige blog genoem het, sou ook hier kon werk. Selfs my kleintyd se kinderkransliedjie met sy refrein: Skyn dan skyn, jy in jou klein hoekie en ek in myn, sou kon werk. Want hier moet jy skyn ten spyte van…

 Tog is daar ‘n liedjie wat ek sou insluit op so speellys. Dit is die mooie instrumentale snit van Elton John: A song for Guy.

Ek ken nie die agtergrond van die lied nie, maar weet net dat teen die einde van die mooi snit wat hoofsaaklik uit klaviermusiek bestaan, is daar ‘n stem op die agtergrond wat met intervalle fluister: Life..Life…Life.

 Dit is hierdie lewensfluistering wat my bemoedig, meer nog as die polsende sang wat dikwels herhalend uitgekreet word in sommige snitte.

 As ek dus weer daar in die leerstoel sit, sal ek maar my eie kopmusiek maak. Deel daarvan sal hierdie dringende herinnering wees: Life…life…life.

 En die besef dat hierdie lewe weliswaar vol teenstrydighede is, maar steeds verrassend wonderlik bly.

‘n Gerfdraer-Pa

Thursday, November 3rd, 2011

 

November is vaartversnellingmaand. Spoed-na-die-einde-van-die-jaar-maand. Pa-se-maand.

 Pa se verjaarsdag op 5 November het altyd die feesgety op ‘n manier ingelui, veral vroeër jare toe Guy Fawkes vieringe nog gereeld op die dag gevier is met ‘n salvo vuurwerke. Ek onthou spesifiek die een verjaarsdagviering (ek dink dit was in 1967) toe ons Pa se verjaardag in Virginia gevier het. Ons het kombuis- en eetkamerstoele uitgedra om die vier tuinstoele aan te vul.

Daar was familie die aand saam met ons. Ouma Bets (Pa se Ma) het ook daar gekuier. Die stoele het almal in ‘n kring onder die groot Elmboom gestaan. Die gesprek was op dreef en die gelag het vrolik opgeklink. Ouma Bets het op een van die kombuisstoele gesit wat so “S”: vorm gehad het – dus nie vier soliede pote nie maar  ‘n  gechroomde S-buig het die stoel gevorm met ‘n geel “pannelite” rugkant en sitplek. Iewers het ons onthou dat Guy Fawkes mos op die dag gevier moet word (dit was die jare voor die verbod op die skiet van klappers en vuurwerke in woonbuurte gegeld het). My pa  het ‘n paar vuurpyle afgevuur en ons het verwonderd gekyk na die ligstreep wat in duisende sterretjies ontplof. Maar die pret moes nader tuis kom. Ek en ‘n paar handlangers het van die klein rooi klappertjies geneem wat so styf teenmekaar gebind is en dan so reeks ontploffinkies maak as dit aan die brand gesteek word. Ons het een van die “slangetjies” geneem en  versigtig nadergesluip terwyl die grootmense heerlik aan die gesels was in hulle stoelekring. Die lont is  versigtig aan die brand gesteek en toe ewe onder ouma Bets se stoel gegooi! Toe die eerste ontploffing begin het ouma met ‘n kragwoord opgevlie, maar die stoel het half vorentoe getiep en ouma het gestruikel-val tot in die middel van die kring. Ons het nie soveel reaksie verwag nie, want terwyl die rits klappertjies nog al springend ouma as’t ware volg,  het en meer mense opgevlieg  en gegil.Ek kon my Pa se dreigende houding sien toe hy naderkom, maar tog ook met  ‘n sweempie van ‘n glimlag oor die herrie wat ons ons veroorsaak het. Ek wou maar net sorg vir ‘n “jollie” verjaarsdag vir my Pa , maar die pak slae was ook maar jollie seer!

Ons het baie name vir jou gehad, Pa Bokkie.

 Kleintyd het ons jou Deddie of Dedda genoem (n.a.v daddy wat ons verafrikaans het).  Later het ons besef ons moet meer korrek Afrikaans wees en het jou , Pa of soms Pappie genoem. Met ‘n Deddie wat soms onvermydelik deurglip. Later  toe ons ouer geword het was dit  net versigtig-korrek:Pa.

 Tog het jou Dedda-eienskappe gebly : die humor waarmee jy die tranerigheid in ‘n onwillige en later oorgegewe glimlag kon verander. Die liedjies waarmee jy ons kon vermaak en soms treiter. Jou kleintyd verhale – hoe jy as opgeskote knaap ‘n likkewaan geskiet het en vir jou ‘n horlosiebandjie uit sy vel gemaak het. Jou kenmerkende breiklank  in die stem wat so reg uit jou mond geklink het, veral as jy Sondae lustig Ou Ryperd gesing het met die lekker breiklank op die “R”.

Pa het my altyd Boesman genoem, so vreemde troetelnaam wat net so baie spesiaal uit Pa se mond geklink het. Saam met die sê van die naam was daar so vertedering in Pa  se gesig, dan sou ek enigeiets doen om die bynaam in stand te hou.

My kleintyd onthou van Pa is die trots waarmee ek hom dophou het as ons gaan  kyk as Pa vir Strathvaal rugby gespeel het in die ligblou trui met die geel dwarsstreep. As pa die bal suiwer tussen die pale deurgeskop het en die mense op die pawiljoentjie klap hande en die motors wat in ‘n halfmaan om die veld geparkeer was, blaas lustig op hulle toeters was ek so trots op die sportiewe pa van my. Eers toe ek al heelwat groter was, het ek gehoor dat Pa ‘n vlugvoetige  atleet was en later as agterlynspeler vir Transvaal se 0/19 rugbyspan uitgedraf het. Die bynaam Bokkie het hy juis a.g.v. van sy ratsheid en spoed verwerf. Later jare toe hy die rugby moes los en hom toegelê het op rolbal, was ek net so trots wanneer hy as “Skip” die wenbal rol en die spanlede drom opgewonde om die “lê”. Hy het so netjies gelyk as hy sy spierwit rolbalklere op ‘n Saterdag aantrek om rolbal te aan speel. Die twee netjiese leersakke in sy hande en die hoed op die kop. Dit lyk my dis ‘n Fourie ding die – die netjiese aantrek wat so kenmerkend van Oupa Joe en al Pa se broers was. Ek het nou nog Oupa Joe se Collar Box, waarin sy gestyfde krae en mansjetknope gebêre is. Wat my die egter die meeste bybly van my Pa  is sy beginselvastheid. Alhoewel hy sy sport so intens geniet het, het hy nooit ‘n afgod daarvan gemaak nie. Na Saterdag se rolbal het hy sy rolbalsakke weggepak en nooit op Sondae gespeel nie, al het die klublede soveel druk op hom toegepas. Sondae was immers die groot kompetisie dag, maar Pa het nooit geswig voor die druk nie. Sondae het Pa sy manelpak aangetrek en sy plek in die kerkraadsbanke ingeneem,  eers as diaken en later as ouderling. Dit was met ‘n gevoel van afwagting dat ek Sondae die konsistoriedeur dopgehou het as die Dominee eerste uitstap met sy waardige toga met die fluweellappies en die swaaiende tossels en dan volg die ouderlinge, met my swartkop-pa tussen hulle. Ek onthou hoe verleë Pa die dag was met Ewald se doop toe die dominee die doopouers se name uitlees en Pa so ewe met manel en al uit die ouderlingsbank moes opstaan om voor die preekstoel te staan vir die doop. ‘n Ouderling wat nog die pa van ‘n kleinding kan wees het nie heeltemal reg gevoel vir hom nie. Tog het hy ewe fier en trots langs Ma gestaan en so Ewald ten doop gebring. ‘n Voorreg wat ek gehad het, was toe ek tydens my derde kweekskooljaar moes aflos in Glencoe-Oos gemeente en ek saam met my Pa deur die konsistoriedeur kon stap, ek oppad kansel toe en hy na  die Ouderlingsbank.

Tog is een van die Pa-rituele wat ek die beste onthou sy musiek-rituele. Pa het altyd ‘n paar firm favourites gehad en  ons moes gereeld daarna luister as dit Pa se musiektyd was. Kleintyd onthou ek Pa se liefde vir elektroniese orrelmusiek. Ons het saam met Pa na talle Ken Griffen plate geluister vol immergroen treffers, veral Cruising down the River (on a Sunday afternoon). Later van tyd het dit plek gemaak vir Dan Hill se elektroniese verwerkings van populêre melodieë. Saterdagaande net voor ons begin braai (in Shapirostraat) moes ek eers Dan Hill se Hits Electronic op die draaitafel plaas en dit hard genoeg speel dat Pa dit buite by die vuur kon hoor! 

Pa het ook vir ‘n groot musiekhoogtepunt in my lewe gesorg, deur die Pioneer Hoëtrou-stel waarvoor ek so lank gesmeek het aan te koop terwyl ek in my matriekjaar op die Skoolverlaterskamp was. Die aand toe ek by die huis in Van Ryneveldstraat aankom, het Pa my buite die verdonkerde sitkamer ingewag en na ons gegroet het, het hy gesê: “Stap na binne” Ineens het die mooiste klanke vanuit die donker sitkamer opgeklink: Die ril-lekker klank van Neil Diamond  se “I am I said” In die hoek by die kaggel het die sagte liggies van die versterker gebrand.Die suiwer klanke wat uit die twee luidsprekers gekom het wat in die hoeke gemonteer was, het my trillend van opgewondenheid gelaat. Pa het tog gehoor gegee aan al my gesmeek om ‘n goeie sisteem aan te skaf!

Tog is my eintlike onthou van Pa se intense musiekluister die Sondag-ritueel. Pa sou direk na kerk eers sy gemaklike klere aantrek en dan in sy gunsteling stoel plaasneem. Terwyl  hy dan so agteroor sit, het hy na sy gunsteling Sondagprogram geluister: From the Bell Tower op Springbok Radio.Die aanbieder was Simon Swindell en dit het stiptelik 12nm begin met die gepaste gelui van klokke.  Vir  Pa  was dit die saligheid – om so rustig te sit en luister, soms met toe oë en soms net met so veraf kyk in sy bruin oë. Dan het sy gunsteling sangers een vir een aan die beurt gekom: Tennessee Ernie Ford, George Beverley Shea en as David Whitfield se “Angelus” gespeel het, het hy altyd vir Ma Winnie nadergeroep aangesien dit een van haar gunstelinge was. So het Pa se gunsteling liedjies week vir week aan die beurt gekom: Beautiful Isle of somehere, What a friend we have in Jesus, Nearer my God to thee, Whispering Hope en Bringing in the Sheaves. Soms het Pa saamgesing en soms met sy kenmerkende fluit  saam gefluit. Soms sou hy na die program nog lustig voortsing: Bringing in the sheaves, bringing in the sheaves. Ek het nooit werklik die volle liedjie se woorde geluister nie, maar toe ek vandag na die woorde kyk het ek besef dat die woorde (wat op Ps 126 gebaseer is) tog baie van Pa sê:

Sowing in the morning, sowing seeds of kindness,

Sowing in the noontide and the dewy eve;

Waiting for the harvest, and the time of reaping,

We shall come rejoicing, bringing in the sheaves.

Dit vertel iets van Pa se onvermoeide ywer om vir sy gesin te sorg -deur jare se harde werk en vasbyt, deur moeliker tye toe geld skaars was en ‘n gesin met vier kinders onderhou moes word, het Pa begin om saans te studeer.   Rapid Results Kollege se  pienk en groen diktate het Pa se studiemateriaal geword saans na ete en huisgodsdiens. Die studie het vir hom bevordering meegebring: van “assistant Timekeeper” kon hy vorder tot ‘Chief Timekeeper” by Hartebeest Goudmyn in Stilfontein. ‘n Gerwedraer veral ook in die gemeentes waar Pa op die Kerkraad gedien het: jare lank as diaken en later as ouderling. Op Glencoe ook later jare as raadslid op die stadsraad – hy het homself graag diensbaar gestel en so die “gerwe” stil-stil versamel. My gerfdraer-pa wat alles op sy stil en beskeie manier gedoen het. Maar altyd met die tikkie humor.

Maar nog op die tema van musiek: Hy kon ons soms terg deur ons gunsteling sangers se name so aspris verkeerd uit te spreek: So het Vicky Leandros bv. in sy mond Viehacky Landddros geword en gebly.

 Daar is ook die prentjie van Pa (en Oom Thys) voor die opwasbak met die berg van Sondagskottelgoed. En die lustige duet. Pa se “ Ou Ryperd”  en Oom Thys wat  Please release me  insit. Die hele repertoire – Stormy weather en Beautiful Isle of Somewhere ingesluit. Maar dan ook : Bring vir die Harlekyn nog wyn.

 En soms op Sondagmiddae word dit ‘n kwartet met Ma en Tannie Tina wat inval. Liede soos  Let the rest of the world go by  en Perfect day.  Ook Lily Marlene en Beautiful Isle of Somewhere.

 Dan onhou ek ook Pa se  verhaal wat hy aan ons kinders vertel het as slaaptydstorie – die  verhaal van die seuntjie en sy hond Snippie – hoe die seuntjie-hulle moes verhuis en nie vir Snippie kon saamneem nie aangesien hulle in ‘n woonstel sou gaan bly. Hulle moes Snippie by vriende gaan afgee..  Die seuntjie  in die storie het dapper sy trane probeer terugsluk, maar ons wat aan Pa se lippe gehang het se trane het vrylik gevloei tydens die klimaktiese opbou tot die skeiding en die wegry sonder Snippie. Op een of ander wonderbaarlik wyse het Snippie egter weer by sy baas uitgekom – of hy agter in die vervoerwa gespring het of net sy pad uitgesnuffel het, kan ek nie meer onthou nie, maar wel dat die hereniging so dramaties was dat die  seuntjie se Pa dadelik besluit het dat die woonstellewe nie vir hulle bedoel is nie en dadelik ‘n huis vir hulle as gesin (Snippie inkluis) gesoek het en spoedig het hulle weer hulle eie huis in die nuwe stad gehad waar hulle lank en gelukkig gebly het. Na die verhaal kon ons genoeglik omdraai en aan die slaap raak met die wete dat  Pa, soos die man in die verhaal, sal sorg dat alles goed vir ons uitwerk.

 

Iets wat ek altyd van pa Bokkie sal onthou is sy liefde vir die see.  Pa en Ma het hulle wittebrood in 1950 in Amanzimtoti in die Inyoni Rocks Hotel deurgebring. Dié is mettertyd gesloop en is vervang deur die Inyoni Rocks Cabanas, maar ons het jaar na jaar teruggekeer na Amanzimtoti: Afsaal, Ingleside, Happy Days, Ezulweni en later Albatros, Dromedaris en Strandburg. Pa se vroegoggend-ritueel by die see was altyd om rotse toe se stap. Daar kon hy vir ure die hengelaars dophou sonder om self vis te vang. Die brekende branders teen die rotse was ook musiek in sy ore. Dit was sy asemhaalplek, sy dinkplek, sy praat-met-God-plek. Sy groot begeerte was om eendag by die see af te tree sodat hy elke dag rotse toe kon stap. Dit is hom nie gegun nie.

Oormore, 5 November sou jy 81 geword het, Pa.  Ek bly wonder hoe jy sou gelyk het en as tagtigjarige opgetree het. Beslis nie ‘n tipiese ou omie van tagtig nie. Want jy het steeds iets van ‘n opgewonde immerjonkheid met jou saamgedra. Ja, ouer en waardiger, maar nie oud-van-gees en lewensmoeg nie. Ek het jou eenkeer gesien waar jy oud en afgerem gelyk het. Dit was kort na Ma se dood. Jy het op die kant van die dubbelbed gesit en daar was ‘n diep droefheid in jou en ‘n  vraende kyk in jou oë, so as of jy op nege-en-veertig nie die kompleksiteit van lewe en dood kon omvat nie. Jou skouers het geruk en ek het jou die eenkeer in my lewe onbeheersd sien huil.

In  Maart 1983 is ‘n kwaadaardige melanoom by Pa gediagnoseer – op 31 Maart 1984 is hy oorlede in Vereeniging Hospitaal. Ek kon by hom sit in daardie langste van lang nagte. Vir oulaas vir hom uit Romeine 8 lees en ‘n gebed doen. Sy slaapklere omruil. Sy kop streel. Vir ‘n oomblik het ek buite in die gang gaan staan om tot verhaal te kom. Toe ek terugkeer, was hy weg. Sy klere, toiletware en horlosie is die volgende dag in ‘n bruin papiersak aan ons oorhandig.

Die teksvers by sy begrafnis was die Teksvers 2 Tim 4;7:

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.

Die laaste gerf  is ingebring, het ek die dag besef terwyl ek na die massa kosmosblomme gekyk het wat in ‘n kopervaas voor in die kerk gestaan het. Buite was dit herfs, pa was vir my nog in die somer van sy lewe en ons het die winterkoue van wees wees, ervaar.

Die trane die rol oor jou Bokkie, die trane die rol oor jou Bokkie. daar waar die son en die maan ondergaan, Bokka jy moet huis toe gaan….

 

‘n Nuwe begin

Monday, October 24th, 2011

                        

Daar is iets skrikwekkend wonderlik aan ‘n nuwe begin.

 Wonderlik. Dis my eerste skooldag in Saamtrek Laerskool, Klerksdorp. My nuwe grys skoolhemp en skoolbroek ruik nog winkelnuut. So ook my blinkgepoetste swart skoene en bruin bokstassie. Uiterlik is ek ‘n splinternuwe vyfjarige wat die grootskool vol bravade aandurf.Nuwe gesigte, nuwe maats, nuwe wêreld.

 Skrikwekkend. Binnekant bewe ek oor al die vreemde dinge, veral die groot groen sirene wat op die dak van die gebou is, reg bo die ingang van die “Hoof” se kantoor. Ek sien al in my gedagtes so swewende kwaai kop wat orals rondbeweeg en heeltyd loer of jy nie dalk iets verkeerd doen en jou dan kantoor toe neem nie! Gelukkige land ek in die simpatieke Juffrou Ackerman se klas en die grootskool word ‘n avontuur vol ontdekkings en ‘n versigtige vermyding van die “Hoof”.

 Op die vooraand van ons trek na die meenthuis, sit ek in my studeerkamer met sy vreemd-leë rakkke en skryf die volgende:

 “Ons het netnou net teruggekom van die nuwe blyplek en is nou opgewonde. Die nuwe vloer is in, die mat is gelê in die kamer, ‘n gunsteling skildery hang reeds as deposito vir die res wat moet volg en ons raak sommer opgewonde!

 Ja, ons is diep moeg van die afgelope weke se pakkery en die laaste paar dae se voorlopige karweiery van goed. Ek was al bly/ kwaad/ ge-irriteerd/ gelate/uitgelate/onseker/ opgewonde/ neerslagtig/ laissez-faire/doodmoeg en baie energiek.

 Tog voel dit vreemd om in (my ou)  studeerkamer met sy leë boekrakke te sit  (selfs die oranje engel is gepak!) – agter my rug ‘n stapel kartonne en net die geraamte van die oorvol vertrek wat toekyk. Dink onwillekeurig aan baie gesprekke wat hier gevoer is en baie preke wat hier beslag gekry het. Selfs enkele stories wat hier gebore is.

 Ek voel byna soos daardie gedig wat vertel van die Dominee wat op ‘n Maandagoggend by die kerk instap waar skoonmakers afkondiging blaadjies/opgefrommelde tissues ens. uit die kerk vee en dit dan vir die Dominee voel af sy preek net so saam met die vullis uitgevee word…

 Jackson Browne sing so treffende liedjie op sy plaat/CD “Running on empty” (het die plaat juis tydens my grenskamp in 1988 leer ken) Die snit se naam is “The load out” Dit vertel van die sanger wat na die vertoning die aand toe al die toehoorders reeds weg is, alleen op die verhoog sit en op sy klavier speel terwyl die Crew besig is om die instrumente te laai vir die reis na die volgende optrede. Dan bly hy hardnekkig speel, totdat dit onvermydelik tyd is om ook die klavier op te pak. Die liedjie  gaan dan  oor in die die bekende “Stay”. (Oh won’t you stay just a little bit longer…)

Dis tyd om my rekenaar te pak…..”

 Kort  na ons intrek in ons nuwe blyplek blyk my “trekmoegheid”  duidelik uit my geskrif van daardie dag:

“Op die Richterskaal van menslike trauma, moet trek kort op sterfte, egskeiding en gevreesde siekte se hakke lê, want dit sny tot in jou kern. Jou hele lewe word uitgestal – eers op die grasperk vir al die nuuskierige verbygangers om te beoordeel en dan weer op die sypaadjie van die nuwe huis vir die nuuskierige bure om te takseer. Uiteindelik word dit genadeloos oopgevlek met die uitpak. Ek sidder weer as ek dink aan al die kommentaar wat die vrouediens se vrywillige korps  lewer terwyl hulle in die goeie (?) ou dae solank al die nuwe dominee se goedjies uitgepak en bestudeer het. Sommer dan en daar ook ‘n waarde-oordeel vel oor die smaak, finansiele toestand, netheid, ens van die arme niksvermoedende dominee.

 In my magtelose frustrasie na die trek, toe al die bokse opgestapel staan en ‘n aantal los goetertjies oral rondstaan en die gewillige helpers steeds indra en aandra uit die “ou” huis wat soos die spreekwoordelike weduwee se kruik weier om leeg getap te word, het ek hierdie woorde in duidelike skrif neergepen:

 Trek.

Frustrasie

Konfrontasie

Doodgaan…

 Die verbyparadeer van jou lewe

In stadige mars

Uitmergelend tydsaam

 

Soos outydse stilraampies in ‘n fliek wat die toneel tot op die droesem uitmergel.

 Uitgelewer.

Blootgelê

‘n kaal huis

Besittings wat allemansgoed word

Straatparade

‘n intieme veiling van binnegoed

‘n oopvlek van klein memento’s en groot veilingstukke.

‘n uitgerekte martelsessie met ‘n  sadistiese kykweer funksie

 Hoekom?hoekom?hoekom soveel goed?

Soveel boeke?

Soveel breekgoed?

Soveel kaggelkakkies?

Soveel klere?

Soveel linne?

Soveel gereedskap?

Soveel papiere?

Soveel foto’s?

Soveel musiek?

Soveel goeters?

 Here, Vader, hoekom laat mens toe dat jy in ‘n poel van gesuspendeerde goeters vasgesuig word totdat dit jou gans en al oorspoel – toeslik, insuig, bedek, begrawe.

 Here  ek is so moeg van goeters.

Goeters wat weggepak,

                    Afgestof,

                    Versorg  moet word.

 Ek wil – eenvoud

               Stilte

               Gestrooptheid

               Minimalisme

 Ek dink weer aan ‘n voorgeskrewe verhaal in ons Matriekjaar – “Wat gebeurde er met Sersant Massuro?” Sersant Massuro het  op ‘n dag net swaarder begin word – so swaar uiteindelik dat ht deur die vloer van sy huis val. Die gewig van herinnering en skuld wat hy sy lewe lank saamgedra het, het hom ingehaal. Maar ek voel soos ie eietydse Sersant M wat te veel goed bymekaargemaak het.

 Sersant Massuro val dwarsdeur die vloer van sy Duplex. Toe hy die grondvlak tref val hy deur die fondament en deur die aardkors, tuimelend tot in die diepste diepte.

 Sê gister ewe spottende” “Ons het ‘n pakhuis vol goed.” Maar hierdie goed kom teen ‘n baie duur prys – dit maak mens swaar. Swaarder nog as Sersant Massuro.

Dooie gewig.

Soos ‘n lewensgrootte loodsinker wat sak,sak, sak.

 Ek wil berge uitklim, maar Koppie Alleen is nie hoog genoeg nie!

Ek wil Kilimandjaro leen vir ‘n dag – dat ek my kan moegloop met iewers ‘n belofte van ‘n sneeupiek einde.

 Trek lyk my werk soos  ‘n bi-polêre versteuring – baie uiterstes en die laagtepunte is baie laag. Tog begin die nuwe wat sigbaar word nou die afwagting laat groei. Een ding weet ek – ek wil baie minder Goeters hê, want goeters maak mens loodswaar. Die ballade van die Groot Begeer en die Groot koop neem volledig weerwraak as mens trek. Die eens brandende/koorsige koopvuur/begeerte het verander in vale assies en hordes kartonne!

 Ek verlang omtrent na my grensdiens in 1979, toe ek gewapen net met ‘n groot bliktrommel en army-sak (ja daardie veelberugte een!)  Grens toe vertrek het vir drie maande. En baie goed daar oorleef het met die boeke en musieke ens wat ek wel in die trommel kon inpas.

 Gelukkig kon ek ‘n paar maande na die trek skryf:

 Nouja, dis vier maande later en die rekenaar is weer uitgepak en aan’t werk in ‘n nuwe studeerkamer – die keer op die boonste vloer! Ons het sowaar die trekkery, met al sy aanhangsels oorleef. Ons is gevestig. Familie en vriende het al kom kuier en gesien hoe ons bekende dinge nou ‘n nuwe staanplek gekry het. Die skrikwekkende is agter die rug. Nou ervaar ons iets van die wonder van ‘n nuwe voordeur, blyplek, omgewing, bure. ‘n Nuwe roete na steeds bekende winkels, bakens toe.

‘n  Nuwe tuintjie (baie kleiner maar tog lekker interessant en baie hanteerbaar!). Selfs die honde is rustiger in hul nuwe kleiner werf.

 Ek lees in Openbaring 3:7,8 van die belofte wat aan die gemeente van Filadelfia gegee word:

 So sê die Heilige, die Ware God,Hy wat die sleutel van Dawid het,

wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie,

en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

8Ek weet alles wat julle doen.

Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit

 en niemand kan dit weer toesluit nie.

 ‘n Deur is ‘n opwindendende ding. Veral as jy nog voor ‘n ongeopende deur staan en wonder hoe dit anderkant lyk: Die Griekse woord Thura kan letterlik ‘n deur wees, maar ook ‘n hek, portaal of ingang na iets nuuts.

 Terwyl ek dan vanoggend voor my rekenaar sit in my nuwe omgewing is daar ‘n opgewondenheid oor deure wat op die regte tyd moes sluit agter my en nuwe deure wat op geoliede skarnier oopswaai.

 Te midde van die skrikwekkende deel van verhuis en minder maak, is daar die wonderlike wete: Hy wat die nuwe deur en nuwe fase oopsluit is die Getroue, die Sleuteldraer. Die Een wat nie net sy belofte oor nuutheid gee nie, maar dit ook elke dag  waarmaak.

 ‘n Nuwe begin. ‘n Oop deur. Ek sien die sonstrale buite in die tuin op die Abelia se blare blink. En op die vlerke van ‘n nuuskierige bosduif wat op my vensterbank kom sit.

 Ek is tuis.

Carpe Diem!

Monday, October 10th, 2011

 

                     

Kleintyd was my lekkerste speelplek tussen die vrugtebome in ons agtertuin – daar het ek my plase uitgelê, huise gebou en ‘n hele dorpie ontwikkel. Vroeg Vrydagmiddag net na skool het die hele beplanning en bouwerk begin, sodat ek Saterdag met my Dinky karretjies op die paaienetwerk kon ry en in voor die swierige pasgeboude opstal kon parkeer. Soms was ek net lekker op dreef, dan het dit skielik donkerder geword – ‘n groot wolk het voor die son ingeskuif en die middag het skielik grys geword. Ek het altyd vir myself gesê: Iemand het die ligte in die hemel afgeskakel. Dan het ek so heimwee ervaar oor die kosbare speeltyd wat nou korter was, want soms het daar onweer gevolg. Die dag was dan net te kort. Ek kon hom nie behoorlik benut nie.

Die woorde” Carpe Diem”, vrylik vertaal “Seize the Day”, of “Gryp die Dag” het my nog altyd aangespreek. Veral na die fliek “Dead poet’s Society” het dit ‘n nuwe impak gekry. In die toneel waar die jong leerlinge in die tradisieryke skool se voorportaal staan en kyk na die foto’s van vorige leerders, fluister die onderwyser, John Keating (vertolk deur Robin Williams)saggies agter hulle terwyl hy by elkeen verbystap wat na die foto’s staar   “Carpe diem. Seize the day, boys. Make your lives extraordinary.”  (Vgl my Blog “Vandag” Junie 2010).

 Twee naweke gelede het ons as Matriekklas van 1971 ook so gestaan en kyk na foto’s van oud-onderwysers en vorige en volgende klasse. Al verskil:  Dit was veertig jaar later en elkeen se lewe het reeds vertel of daar ‘n Carpe Diem instelling was of nie. Skielik het ek gewens ek kon weer as sewentienjarige die hoofgebou se trappe klim, maar met ‘n baie meer besliste “Gryp die Dag” houding as veertig jaar gelede. Want hoe mens ookal probeer, soveel geleenthede glip verby.

 Die afgelope week het my reisgenoot en ek die voorreg gehad om heerlik by die see aan Natal se Noordkus te kuier. Vroeg soggens kon ons die gordyne oopskuif en sien hoe die horison begin verkleur, todat die son soos ‘n reusagtige rooi bal oor die seemassa begin troon. Die woorde van Psalm 19:5,6 het dan by my opgekom:

Vir die son het Hy daarin ’n tent gemaak; en dié is soos ’n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ’n held om die pad te loop.

Sulke tye kon ons net in stilte en verwondering kyk na die grootse toneel wat hom voor ons afspeel – geen mensbeplanning of tegnologie wat die wonder teweegbring nie, net ‘n stille aanskouing van die almag van God. ‘n Nuwe dag. Nuwe moontlikhede. Nuwe deure wat oopgaan. Carpe Diem. Juis daarom moes ek die foto van my reisgenoot neem wat met oop arms die dag, die son, die see en al die Seëninge uit die Vaderhand verwelkom.

Carpe Diem. Die woorde is oorspronklik afkomstig uit ‘n gedig van Horatius. ‘n Greep uit die gedig klink so:

   
 carpe diem, quam minimum credula postero. Seize the day, trusting as little as possible in the future.

Nou ja, dit klink soos wyse woorde wat die geneigdheid wat mens inherent het om belangrike dinge uit te stel, wil aanspreek. Die “trusting as little as possible in the future” dink ek is eintlik ‘n waarskuwing: “More is aan niemand beloof nie.”  

Ons tref dieselfde gedagte tog ook aan in Jak 4:13 e.v.

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

 Carolyn Adams het so paar jaar gelede ‘n treffende lied gesing met die titel: “Seize the Day”. Die koorgedeelte van die lied beklemtoon die Carpe Diem waarheid:

Seize the day Seize whatever you can
Cause life slips away just like hourglass sand
Seize the day pray for grace from God’s hand
That nothin’ will stand in your way Seize the day

Tydens ons kuiertjie by die see het ons twee goeie flieks gesien wat  ons tot nadenke gestem het. In die ware verhaal “The First Grader’  word ‘n 84-jarige ou man se droom uiteindelik bewaarheid om op die rype ouderdom te leer lees en skryf, selfs al moet hy saam met ‘n ‘n uitbundige groep graadeentjies in die klas sit en onderrig ontvang. Sy Carpe Diem houding op die ouderdom inspireer baie ander.

Vrydag het ons die  kuiertjie by die see afgesluit  met die fliek “One Day”. Die film handel oor twee van die pasgegradueerde studente aan Edinburgh Universiteit: Dexter en Emma. Hulle paaie kruis op die 15e Julie 1988 (St. Swithins dag) Hulle hou kontak en die film vertel hoe elkeen se lewenspad die volgende twintig jaar verloop. Meestal kontak hulle mekaar op die dag, maar soms word net gewys hoe elkeen se lewe op die spesifieke dag verloop.

Emma word ‘n kelnerin by ‘n derderangse Meksikaanse restaurant in Kentish Town, terwyl Dexter opgang maak as suksesvolle televisie-aanbieder. Geleidelik begin Emma haar drome realiseer – sy begin onderwys gee en publiseer haar boek waaraan sy so lank geskryf het. Daarteenoor begin Dexter se loopbaan die kreeftegang gaan – hy word ‘n derderangse videospeletjie resensent en word uiteindelik afgedank. Hoewel hulle baie goeie vriende is en daar selfs ‘n vonk van aantrekkingskrag tussen die twee is, raak hulle albei betrokke by ander verhoudings wat ook uiteindelik versuur. Getrou hou hulle kontak op die 15e Julie elke jaar, totdat hulle paaie weer in 2001 in Parys, Frankryk kruis. Die groot vraag bly egter, gaan hulle wel die geleentheid aangryp om  te sien dat hulle vir mekaar bedoel is, veral aangesien Emma nou ‘n verhouding het met die Franse musikant, Jean-Pierre?

Toe die eindtitels op die skerm verskyn, het my reisgenoot en ek na mekaar gekyk met die onuitgesproke vraag: Hoekom laat mens toe dat soveel kosbare tyd verbyglip?

Tog was daar by ons opnuut ‘n dankbaarheid oor die dag in 2006 toe ons ons herfsverbintenis teenoor mekaar afgelê het en op die oop-oog reis vertrek het. Op hierdie reis het ons so baie van mekaar, die lewe en God se genade geleer.

Op ons wittebroodsreis het ek die boek van Niall Willams saamgeneem en gelees: “As it is in heaven” Die beginparagraaf van dié boek lui ” There are only three great puzzles in the world, the puzzle of love, the puzzle of death and, between each of these and part of both of them, the puzzle of God…”

Daarom is die Carpe Diem foto ook ons dankbare viering van die gawe van die lewe, die liefde en God se genade. Dié geskenk adem iets van die Ewigheid.

Daarom kan ons soos die ou man in die film: “The Milagro Beanfield war” elke dag begroet met die woorde: “Thank you God for letting me live another day!”

Ou Spore, Nuwe Spore

Tuesday, September 27th, 2011

In my tweede jaar op die PUK het die karnavalkoors almal beetgepak. Selfs die waardige Totius het daaronder gely, of ten minste sy standbeeld. Die oggend toe ek verby die standbeeld van die eerbiedwaardige dominee, digter-skrywer ry, moes  ek stop en eers kyk. In die nag het ‘n ‘n paar ondernemende studente ‘n blik geel verf geneem en ‘n ry netjiese voetspore geverf wat van die standbeeld loop na die winkel op die hoek. Die Drankwinkel. Die ry geel voetspore wat van die Drankwinkel na die monument teruggeloop het, was oneweredig en het met ‘n wye kronkelpad geloop, behoorlik vier rye spore. Ek kon nie help om te lag vir dié oorspronklike stukkie studentepret nie.

Die afgelope naweek tydens ons veertigjarige Matriekreünie het ek weer gewonder oor die voetspore wat mens nalaat. Eers het ek die Vrydagaand gewens ek het ‘n reuse flikkerbord wat wys hoe die onderskeie stippeltjies van die persone oppad na die reünie in Klerksdorp al hoe nader aan die skool kom.

Saterdagoggend het ons die reünie afgeskop deur ‘n boom op die skoolterrein te plant. Hannies en Leentjie het die boom simbolies namens die matrieks 1971 geplant. Tydens die besigtigingstoer van die skool en koshuise het ek gewens ek kon sien hoe elkeen van ons se voetspore van veertig jaar gelede kruis en dwars oor die skoolterrein lê. Daardie nabystaan voetspore as jy en jou skoolkys iewers op die skoolgrond staan en gesels tydens pouses. Daardie trae voetspore as jy stap na die klas van die onnie wie se huiswerk jy nie gedoen het nie. Daardie opgewonde voetstappe na die skoolhek toe aan die einde van ‘n kwartaal.

Oral oor die skoolgronde lê ons voetspore van veertig jaar gelede versprei. Dit was deel van die lekker van die naweek – die onthou van insidente uit daardie jare. Die seuns wat in die koshuis gebly het, vertel van hulle kattekwaad en onthou-oomblikke. Hoe die onderskeie broers wat mekaar opvolg in die koshuis, verwante name kry: Caltex, BP, Boron. Patrys, Fisant en Tarentaal. Tog vreemd hoe al die voetspore tot stilstand kom in die ou skoolsaal (nou ‘n gimastieksaal) en sê: Hier het ons die Matriekeksamen geskryf. Geswoeg en gesweet met die Meetkunde, Biologie  en Skeinat vraestelle. Tog is die saal ook die plek waar ons kort tevore ons Matriekafskeid gevier het.

Voetspore getrap met dienlike skoolskoene. Voetspore wat  op 3 Desember 1971 na die laaste vraestel grootliks uiteengespat het.

Juis daarom die vreemde ervaring om met nuwe (volwasse) skoene nou op die bekende grond te trap. Om die  verslete trap in die hoofgebou  na Struis (Mnr. Esterhuizen) se hoekklaskamer met sy magdom herinneringe te klim.  Hier waar Struis met sy  groep matrieks deur die “Sterwende Aarde’ as voorgeskrewe boeke geworstel het. Ook die Moderne Nederlandse kortverhale behandel het soos:”Wat gebeurde met Sersant Massuro?” en “De zoon van Fokje Wallinga”.

Tog is dit ook hier waar baie petaljes afgespeel het. Cornel wat “gedare” was om duimspykers op Struis se stoel te sit en Struis wat juis die dag nie gaan sit op die stoel nie en sy voet op die stoel sit terwyl hy oor die kuns van gedigte praat en en so terloops opmerk dat ‘n gedig een waarheid wil oordra, nes “die skerp punt van die duimspykers op my stoel” en nog in die selfde asem”Cornel kom vat hierdie duimspykers weg!”

                         

Daar is ‘n magdom stories oor Struis. Ook hoe hy die meisies wat sag gepraat het as hulle antwoord na die fonteintjie onder in die middel van die Vierkant gestuur het vanwaar hulle dan sy vrae moes antwoord. Of die dag toe hy die onkunde met ‘n riel in sy klas vertrap het. Soveel stories wat met groot geesdrif vertel word. Tog die deurlopende opmerking: “Hy het my ‘n liefde vir die Afrikaanse taal gegee” en “Hy het ‘n passie vir die taal gehad en dit aan ons oorgedra.”

 

 Van Struis se klaskamer (wat nou dien as kantoor van die Adjunk-hoof), is ons weer met die trappe af na die Andries Terblanche Mesisieskoshuis waar daar verder gekuier is. Daar is gesels, gesels, gesels. Gelag. Gesels. Gekuier. Kort-kort het ‘n opgewonde gil opgeklink as ‘n nuwe aankomeling by die deur aangekom het. Die gesels wou nie opdroog nie, ook nie na die heerlike spitbraai o.l.v. Andries en Santie nie. Niemand wou iets misloop nie.

Later die aand het Gerald ons op ‘n nostalgiese reis geneem met fotos uit 1971 en vroeër. Kort-kort is gevra – wie is die of daai nou weer. Of opmerkings soos “Ag moeder maar jy was darem maar klein!”

Aan die einde van die skoolfotos’s het ons na die nuwe foto’s  gekyk wat die dag geneem is deur Cornel en andere. Skielik het die ou en nuwe spore inmekaargeloop.

Ons het ook nuwe spore op die skoolterrein getrap. Ons het ook spore in mekaar se lewens getrap – goeie hartspore van omgee en belangstelling.

Sondagoggend het ons afgesluit met ‘n erediens en saam bely dat ons ten diepste die pad tot hier kon loop a.g.v. die  Getroue en Genadige Vader wat saam met ons die pad geloop het – Thomas het ons liturgies begelei en Jan-Pine het ons herinner dat hoe ons God sien ook ons verhouding met hom bepaal.

Uiteindelik was dit groettyd. Onwillig is afskeid geneem.  Laaste goeie wense en adresse uitgeruil. Toe het die groep elk weer die pad aangedurf na hul eie blyplek.

Voetspore wat weer uiteenloop soos veertig jaar gelede. En tog ook nie. Want daar is ‘n band gesmee. ‘n Wete – ons het help vorm aan mekaar se lewens. Vorentoe sal ons as die klas van ’71 steeds nuwe spore trap. Die naweek het ons treë versterk…

 Chris de Burgh se liedjie Footsteps eggo die waarheid:

And from that moment,
I dreamed I could fly,
And from that mountain I reached for the sky;

Through tears and good times, I found my way;
Those years are calling me again;

Then I hear footsteps echoing along the winding road,
I can hear voices singing all the songs I have known,
And I see faces,
All the ones I’ve loved along the way,
People and places,
They’re here again, they’re here again…

Voices……
Voices……
Faces…
Places……

                              

‘n Swaeltjiejaar

Wednesday, September 14th, 2011

 

                     

“Die wonderlikste ding het gebeur!”  Tannie Susan se helder blou oë blink van opgewondenheid “My swaeltjies het gister teruggekom!” Sy vertel verder: ” Gister sit ek op die stoep en kyk na die lenteblomme in die tuin. Skielik is daar ‘n beweging – die volgende oomblik swiep my swaeltjie by my verby en gaan presies by die tonneltjie van sy moddernes in. So asof hy glad nie vir ‘n paar maande weg was nie. Hoe die kleine voëltjie met so piepklein breintjie die ingewikkelde navigasie oor die see tot in sy huisie van laasjaar uitvoer, gaan my verstand te bowe. Dit bly vir my ‘n wonderwerk!”

Ons het pas nagmaal gevier in die ou historiese kerkgebou in Philippolis en is nog so bewus van die genadebrood en wyn wat daar uitgedeel is. “Die swaeltjie se terugkeer bly vir my net so groot genade en wonderwerk soos dit waarvan ons vanoggend in die diens gehoor het – ‘n sorgsame Vader wat weet wat ons nodig het. Die swaeltjies se terugkompreek praat met my”, sê sy terwyl haar oë ‘n effense traanblinkigheid vertoon.

Tannie Susan is reg – die eenvoud van ‘n swaeltjie se terugkeer na sy nessie is ‘n hele preek op sy eie.  Die swaeltjie word meermale i die Bybel tog by name genoem:

“Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op ’n vaste tyd terug….” (Jer 8:7) en ook in Ps 84:4:”Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!  Hoekom sal so eenvoudige voëltjie dan nie met ons kan praat oor God se tydberekening en voorsiening nie?

Die oggend van 12 November 2007 sit ons in die tuin voor die Louis Pasteur hospitaal in Bloemfontein. Dit is boet Ewald se eerste dag buite na sy ernstige ongeluk ses weke vantevore. Ons het hom in ‘n rolstoelstoel na buite gestoot sodat hy iets van die weldadigheid van die somerson op sy vel kan voel. Hy kyk om hom rond, baie bewus van die voëlgeluide wat die oggend vul.

“Ons moet vir die Son-charger vra waar al die swaeltjies vanjaar uitbroei, want dis ‘n swaeltjiejaar,” sê hy terwyl hy fronsend in die son sit en sy oë half toeknyp teen die oordaad van lig wat skyn. Sy hare is grys gestippel. Deur die kort hare is daar letsels op sy kopvel sigbaar. Tog herinner hy ons aan die genade van ‘n swaeltjiejaar.

‘n Swaeltjiejaar is ‘n genadejaar. ‘n Bewus-wees-van-oorvloed-jaar.

Soms stuur die Vader selfs ‘n swaeltjiekoor om ons daaraan te herinner: In my joernaal sien ek die volgende inskrywing by die datum 17 Desember 2009:

‘n Swaeltjiekoor dag

 “ Vanoggend lees ons die gedeelte uit ons dagstukkie  boek: –IL de Villiers haal Ps 78 aan:

Maar Hy bly genadig. Hy vergewe sonde. Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie. (Ps 78:38,39)

Izak vertel nav van die gedeelte van ‘n God wat genadig bly. Hy lig dit toe met die vertelling oor die toe hy(Izak) in Geneve voor die muur van die Hervorming gaan staan het, te midde van die kwaai sneeuval wat die stad getref het. Terwyl hy so voor die reuse standbeelde staan van Calvyn, Farrel, Beza en Zwingli staan, gaan daar baie gedagtes deur sy kop. Almal mense wat help vorm het aan dit wat ons as gereformeerdes glo, maar tog ook feilbare mense – wind wat verbywaai en nie terugkom nie.

 Dit word ‘n vreemde dag op Philippolis, maar tog lekker. Ons bly besig met allerlei takies in en om die huis. Ons koop verf by Kooperasie. Ek skuur af en Lynette verf. Die kombuiskaste en -deur word getakel – die vuil roomkleur word ‘n helder wit. Laatmiddag gaan stap ons deur die dorp. Kyk na veranderinge/verbeteringe en insinkings. Stap ook by Antie Emily restaurant verby en loer na binne. Die tafeltjies is mooi gedek en daar’s blomme in ‘n bak. Die “pub” deel van die uithangbord is afgekrap. Ons ontmoet een van die huidige vennote wat die plek huur. Sy vertel van hulle werk en planne.

 Enersyds is dit goed om te sien dat daar weer lewe in die eetplek is en andersyds beklemtoon dit weer Ewald se afwesigheid. Ons stap terug huis toe en ek voel so diep melankolie oor my toesak. Voel so holkol verlange na Ewald. Ek mis hom en sy entoesiasme vir die winkel, die bakkery, die Coffee Shop en die dorp. Dit voel leeg en futloos sonder hom. Kom tuis en sit bietjie op die stoep terwyl Lynette die kaste en deur nog ‘n verflaag gee. Sien hoe blou die lug is en die mooi wolkpatrone. Merk ook op hoe die swaeltjies en ander voëltjies hulle tuismaak op die verskillende telefoondrade. Daar is vier drade en in my kop vorm die drade ‘n notebalk. Die sit van die voeltjies op die verskillende “notebalk”-drade vorm ‘n eie wysie, wat ek my kan verbeel ek hoor. ‘n Bemoedigende swaeltjiekoor.

 Ek dink weer aan Ewald se opmerking die dag by Pasteur-hospitaal: “Dis vanjaar ‘n swaeltjiejaar,” het hy duidelik verklaar.

Ineens is daar ‘n vreemde kalmte in my binneste. Die Swaeltjievader sorg steeds, vir Ewald, vir ons, vir die dorp en vir sy skepping.

Kort na die groot gebeurtenis van die eeuwending (Oktober 2000)  beleef ek so tyd van oorlewing. Ek is steeds enkellopend, nou ook alleen in die gemeente nadat my kollega met wie ek sestien jaar saamgewerk het sy demissie ontvang het die jaar tevore. Ek voel maar broos en uitgelewer.

Vrydagoggend 20 Oktober 2000 sien ek ‘n beriggie in die koerant oor ‘n kunsuitstalling in Freshford museum in Bloemfontein die naweek. Daar is ‘n foto van die kunstenares Hannetjie de Clercq wat haar skilderye daar uitstal. Op die foto in die koerant kniel sy by ‘n esel met ‘n skildery van ‘n gemaskerde vrou wat stap voor ‘n oker muur verby met ‘n kerktoring en swaeltjies sigbaar agter die muur. Die vrou is kaalvoet en loop met ‘n stingel fyn rooi blommetjies in haar hand. Die skildery maak ‘n diep indruk op my en ek besluit om die naweek, terwyl ek in Bloemfontein kuier, ‘n draai by die uitstalling te maak. Die Vrydag bly ek te besig in die stad en vergeet om daar uit te kom. Satermiddag net na ete onthou ek weer daarvan, maar dink dat dit te laat is. Ek bel die museum en hoor dat die uitstalling oor ‘n halfuur sluit. Ek haas my soontoe. Toe ek instap, sien ek dadelik die skildery wat in die koerant vertoon is. Dit het ‘n rooi plakkertjie op. Ek is half teleurgesteld en loop deur die res van die uitstalling. Dit is mooi, maar nie een van die skilderye tref my soos die een op die onderste vloer nie. Toe ek weer afstap met die trap, staan Hannetjie voor die skildery. Sy het sopas die rooi plakkertjie afgehaal. Ek groet en vra haar of die skildery verkoop is. “Nee”, antwoord sy, “die mense het sopas laat weet dat hulle dit nie meer sal neem nie.” Ek voel die stuwing van opgewondenheid in my binneste. “Vertel my meer van die skildery”, vra ek haar.

“Ek was vroeër vanjaar in Portugal en het die dag by ‘n straatkafeetjie gesit toe die prentjie hom voor my afspeel. ‘n Vrou het voor my verbygestap met so huppel in haar stap. Toe het ek die konsep vir die skildery gekry. Daardie huppel”‘ en Hannetjie boots dit na waar sy voor die skildery staan” het vir my soos joie-de-vivre gelyk en ek wou dit vaslê.” 

Ek weet duidelik: die skildery moet ek hê, want dit vertel ‘n storie – ‘n storie wat ook my lewensstorie raak. Want ek kort daardie huppel. Ons onderhandel oor die afbetaling en ek word die trotse eienaar van die “joie-de-vivre-skildery. Hannetjie teken haar naam agterop en skryf die datum: 21 Oktober 2000.

Eers laataand by die huis toe ek die skildery onthul teen my eetkamermuur, sien ek dat naas die drie swaeltjies wat in die lug vlieg, daar ook drie swaeltjies op die muur geverf is waar de vrou verbystap. ‘n Swaeltjiesomer-skildery.

Ek voel ineens ‘n ligtheid oor die Vader se sorg. Hy weet wat ons nodig het, selfs nog voor ons vra. Ook presies wanneer ons dit nodig het.

Die vrou met haar bossie blomme weet dit. Beaam dit. Elke oggend as ek wakkerword en na die skildery teen ons kamermuur kyk, weet ek dit ook. Veral ook as ek kyk na my reisgenoot-vrou wat langs my lê.

 

Hoop blom rooi

Thursday, September 8th, 2011

                             

Lente is onmiskenbaar hier. Blomtyd het aangebreek! Na so strawwe en uitmergelende winter vol trietsweer en misrabele (ver)koues, is die nuwe seisoen ‘n welkome vriend. En die kleur, die kleur. Die witstinkhout straatbome is lewegroen, die boslelies se triomfantelike oranje en geel blomme staan soos uitroeptekens in die skadukolle in die tuin, die jasmyn se pienkwit massa blomme tuimel uitbundig oor die muur en dra ‘n onmiskenbare lenteboodskap in voorkoms en reuk. Die seisoen van nuwe lewe blom welig.  ‘n  Potplant-malva wat ek onlangs by die kwekery gekoop het, blom bloedrooi.

Gedurende my studentejare op Stellenbosch, het ek akuut bewus geword van die lentekrag. Al was die gras en plante groen gedurende die reënnat winters, kon ‘n wintersdag ekstra grou lyk as die aanhoudende reëndruppels daglank teen die ruite afgeloop het.Die kaal eikestamme en takke het ‘n prentjie van gestrooptheid geskep te midde van die groen gras om hulle stamme en die kabbelende Eersterivier. Daarom die lekker ritueel op die 31e Augustus elke jaar. Dan het studente oral op die walle van die Eersterivier kappertjies gepluk en ook wederregtelik hul blommemandjies uit tuine se lente-opbrengs aangvul. Op lentedag was daar ‘n houer blomme in die voorportaal van die koshuis en soms ook persoonlike lenteboodskappe met ‘n blommetjie aangeheg, gerig aan die koshuisbewoners.

Miskien was dit waarom die afdruk van Picasso se skildery in Edrich se winkel in Van Ryneveldstraat my oog gevang het. Die oorspronklike skildery is getiteld: “Mother and child on the beach” en is tydens sy “Blou-periode” geskilder. Ek moes dit eenvoudig hê. Weens my knap begroting kon ek dit egter nie laat raam nie en het dit dus maar laat blok. Toe ek ‘n paar dae later die meesterstuk trots in my koshuiskamer onthul, het ek geweet dat die simboliese skildery my sou bemoedig in my “blou”dae. dae wanner die reën onophoudelik neerstuif en die koshuiskamervenster ‘n vae, grys Simonsberg omraam. Die spatsel rooi van die blom wat die moeder byna biddend in haar hande hou, was so uitroepteken van hoop.

Gedurende die drie jaar wat die afdruk in my koshuiskamer gehang het, het ek dikwels na die spatsel rooi gekyk en geweet – selfs al is die eksamen op sy taaiste en die teleurstelling van ‘n gebroke verhouding op sy seerste, is daar nogtans iewers die hoop wat nie beskaam nie. Die blom het my blues help besweer

So het die afdruk ook saamgetrek deur die jare – soms ‘n plekkie gekry teen ‘n muur en soms was dit iewers weggepak. Toe die lente vanjaar voelbaar word, het ek die afdruk gaan soek waar dit weggepak was. Dit was weer tyd om rooi-inspirasie te kry. Nou hang dit hier bo my werkplek – Na vyf-en-dertig jaar weer in ‘n ereposisie.

Die enkele rooi blom het my die afgelope week weer aan die ware verhaal van Janusz Korczak laat dink. So paar jaar gelede het vriend Leon my die merkwaardige verhaal vertel en ek dink dit pas by die lente.

Janusz Korczak was ‘n mediese dokter wat kinders se welsyn swaar op sy hart gedra het. Hy het in 1911 ‘n weeshuis, genaamd “Dom Sierot” in Warskou, Pole bestuur. Hy het groot waarde geheg aan die rol van kinders in ‘n samelewing en het verskeie boeke geskryf oor die onderwerp, o.a. “How you shall love a child” waarin hy sy siening oor onderwys uitspel.

Gedurende die besetting van Warskou deur die Nazi’s in 1939 is Korczak gedwing om sy weeshuis te skuif na die Joodse Ghetto. Daar het Korczak saam met die kinders gebly onder haglike omstandighede. Hy het noukeurig dagboek gehou van die tydperk –  die dagboek het wonderbaarlik behou gebly.

Te midde van hierdie moeilike omstandighede, het hy die kinders geleer om moed te hou en te bly hoop deur hulle te leer om rooi malva’s oral te plant en uit te deel. Meer as tweehonderd potjies met malvas is uitgedeel aan mense rondom hulle.  Dit was vir hulle ‘n teken van hoop te midde van die wanhoop wat hulle daagliks om hulle gesien het. Tog het Korczak ook geweet dat hy die kinders moes voorberei om die werklikheid van lyding en dood te kan tegemoetgaan met moed en geloof. Hy het hulle ‘n toneelstuk laat opvoer. Dit het gehandel oor Amal, ‘n sterwende Hindu seuntjie. Deur die stuk wou hy hulle leer dat selfs jong kinders soms die dood in die gesig moet staar.

Woensdag, 5 Augustus 1942 is die weeshuis in die Ghetto ontruim. Net voordat die soldate hulle weggeneem het uit die Ghetto, het Korczak ‘n laaste inskrywing in sy dagboek gemaak. Toe het hy die tweehonderd kinders aangesê om hulle beste klere aan te trek en saam met hulle het hy gestap, ‘n kind aan elke hand en sy kop fier orent en sy oê gevestig op ‘n stippel in die verte. Saam met die tweehonderd kinders het Korczak  gesterf in die gaskamers van Treblinka, maar die hoop waaraan hulle tot die einde vasgeklem het, leef voort.

Vandag is al die geboue van daardie konsentrasiekamp afgebreek. Daar is slegs groen gras en bome en kring klippe met name. Op een van die klippe is uitgekerf: Janusz Korczak and Children”.

Later is Korczak se dagboek opgespoor agter ‘n steenmuur in die blyplek in die Ghetto. In een van die laaste inskrywings wonder hy of sy dagboek dalk iewers vorentoe vir iemand iets sal beteken, dalk vyftig jaar of so later.  Hy som egter die sin van sy lewe op in die woorde: “I exist not to be loved an admired, but to love and to act”.

Dit is dan ook die boodskap wat die rooi malva hierdie lente dra. En terwyl ek hierdie woorde tik, kyk die moeder in die Picasso-afdruk goedkeurend toe met haar hoopblom in die hand. Ek vermoed ‘n glimlag.

 

 Ns – die afgelope week is die 10,000 kerf verbygesteek vir besoeke aan die Blog. Baie dankie aan elkeen wat hier kom kuier. Dit bly ‘n voorreg dat ander dit wat jou na aan die hart lê, kan deel