Archive for July, 2010

Die Pienk Impala

Tuesday, July 27th, 2010

 Die dag toe my Oom Piet met sy gevleuelde ‘58 Plymouth Savoy by ons erf in Stilfontein inry, het alles begin. As  vyfjarige knaap het ek die motor onbeskaamd bekyk, bewonder, bestreel. Veral die twee prominente roomkleur vlerke wat uit die motor verrys het. Haaivinne, het die mense dit spottenderwys genoem. Vir my was dit soos die stertvin van ‘n lieflike dolfyn wat sagweg deur die water klief.

 Oom Piet het ons vir ‘n rit geneem. Die motor het sag gewieg en op die luukse sitplek het ek gewens vir ‘n motor met vlerke. Behoorlike vlerke wat onbeskaamd hulle vlerkwees wys. Anders as Oom Piet het ons maar beskeie rygoed tot op daardie stadium gehad – ‘n Tweedehandse groen 1934 seildak Morissie was Pa en Ma se eerste motor. Volgens hulle vertelling het hulle  fietse as deposito gedien vir die motortjie. Daarna was dit ‘n swart Vauxhall Velox(die eerste motor wat ek as kind geken het), Net een keer het Pa afgewyk van die veilige kleure toe hy in 1959 die twotone vuilpienk Vauxhall Victor met die roomkleur dak gekoop het. Nadat die motor oorverhit het tydens ons epiese langverlof Kaap toe, het Pa maar weer die veilige roete gevolg en die betroubare  liggroen Volksie gekoop.En by versigtige (vervelige?) vinlose motors gebly.

 Die verlange na ‘n vlerkmotor het egter gebly.

 As sesjarige graadtwee’tjie neem ek deel aan die atletiekbyeenkoms van die Laerskool, Saamtrek, Klerksdorp. Die vorige jaar het ek omkyk-omkyk gehardloop en kort voor die wenpaal gestruikel. Vanjaar, besluit ek om soos die Dominee so mooi in  die kerk gepreek het, die oog op die wenpaal te hou. Dit werk sowaar en ek wen die sestig treë vir seuns onder sewe. In ‘n rekordtyd. Pa is so opgewonde dat die bruin Kodak “movie”kamera heen en weer swaai. Toe ons weke later die  8mm ontwikkelde filmpie van die wedloop  kry, sien ons skaars die einde – ‘n klompie atlete bewe op die skerm.Die oomblik toe  ek die wenlint breek, onthou Pa darem  sy rol as kameraman en vang die wenmoment vas.

 Opgewonde oor die oorwinning, neem Pa my kort na die wedloop dorp toe. By Czanks, die gesogte  Fotografie- en stokperdjiewinkel in die hoofstraat onthul hy die doel van ons besoek. Ek kan twee modelmotortjies uitsoek as beloning vir die  prestasie.

 Ek voel skoon oorweldig. Die luukse van ‘n keuse te hê uit al die splinternuwe karretjies in die vertoonkas! Ek maak net weer seker – ja dis definitief  nie twee klein Matchbox modelle wat ek kan kies nie, maar ‘n behoorlike speelmotor – ‘n  Dinky of ‘n Corgi.

 Ek maak ten volle gebruik van  die gewigtige oomblik. My blik dwaal oor die rye en rye motortjies in die glaskas. Een van die motors wat bo-op sy boksie staan, vang my oog, vanweë sy uitsonderlike kleur én vanweë sy vlerke – ‘n helderpienk Chevrolet Impala met twee vlerke wat uitdy na die kante. Vir ‘n oomblik dink ek dat die motor dieselfde kleur is as Ma se wyerandhoed wat sy met kleinsus se doop gedra het. Shocking pink  was die beskrywing van Ma se hoed en handskoene wat sy saam met die pikswart nousluitende knielengte rok gedra het. Vir my was die skokmooi pienk hoed egter so kleurvol soos die laatmiddagwolke as die son kleinkoppie oor die Wes-Transvaalse rantjies trek.

 Maar nou, die Impala. Ek vra om hom van nader te beskou. Hy voel so tuis in my hand. Ek draai hom bewonderend in die rondte. Binnekant is  heldergeel bekleedsel  en ‘n grys stuurwiel aan die linkerkant. Maar die beste van alles is die stertkant. Die twee vinne wat so statig uitrys na die kante toe, nes Ma se beskuit wat die toemaakdoek laat lig na ‘n deeglik kniesessie. Onder die vlerke pryk twee lang rooi ligte, soos twee traandruppels. My keuse is gemaak. Die tweede motortjie word amper terloops gekies – ‘n blou Corsair met ‘n kattebak wat kan oopmaak. Ek kyk met dankbare oë na Pa. ‘n Groot geskenk voorwaar.

 Laatmiddag speel ek met die motortjies. Die Impala kry voorkeur.Net hy mag op die rooi teels van die flowerbox ry. Asof dit die presidensiële motor in ‘n konvooi is. My bewondering vir die motortjie styg met rasse skrede met die ontdekking dat as ek liggies op die linkerkant van die motor se dak druk, dit na links draai, druk ek regs, dan beweeg die saggeveerde motortjie na regs. In my gedagtes ry ek weer voor in Oom Piet se Plymouth Savoy. Maar nou is dit my eie vlerkmotor.

 Smiddae na skool kan ek nie wag om met my pienk Impala onder die vrugtebome te ry nie. Die paadjies is sorgvuldig geskraap met ‘n tamatiekisplankie. As dit koud of reënerig is, dien die sitkamermat met sy blokke en ingeweefde paadjies as die perfekte landskap vir my spogmotor.

 Vyf jaar later verhuis ons na Virginia in die Vrystaat. My speelgoedmotortjies word sorgvuldig in hul bruin tas weggepak. By ons nuwe huis bly hulle ingepak want as tiener is daar daar nuwe belangstellings.

 Toe ons drie jaar later terugtrek Klerksdorp toe, raak die tas met motortjies onverklaarbaar weg.Teen die tyd is ek in standerd agt en word die verlies nie so intens ervaar nie nie – die lewe is mos ‘n avontuur vol nuwe uitdagings. Ek is mos nou groot.

 Jare later bevind ek my weer in die Vrystaat. Iets van die kleintyd hunkering noop my om modelmotortjies te begin versamel. Ek koop mooi motortjies wat my vertoonkas volstaan en ver laat terugdink, maar nie een voel regtig “eie”  nie. Ek mis my vlerkmotor – my pienk Impala.

 Jare gaan verby – dis byna vyftig jaar na die opstel van die rekord en Pa en Ma het lankal verhuis na hul hemelse woning…

 “ Kom jy kyk? Ek bring my ’48 Dodge wat ek klaar gerestoureer het na die Motorskou in die Goudveld?” oom Piet se stem klink baie opgewonde toe hy my vroegoggend bel.

  Op ‘n helder Augustus oggend stap ek die skouterrein binne. ‘n Nostalgiese sestiger liedjie weerklink oor die terrein – Herman’s Hermits se “My sentimental friend”. Kort daarna ook Peter Sarstedt se “Where do you go to my Lovely?” Dit plaas my in die regte stemming.

 Vandag gaan spesiaal wees.

  Ek stap deur die eerste paar rye pragtig gerestoureerde motors opsoek na Oom Piet en sy Dodge. Loop ook verby ‘n stalletjie met tweedehandse modelmotortjies. Ek moet net gaan kyk. Toe ek binnestap, val die jare weg. Ek is weer die sesjarige voor die vertoonkas. Ja, sowaar, daar staan hy – gereed om opgetel te word – die pienk Impala

 Ek kan die koop nie gou genoeg beklink nie. Ek vind Oom Piet by sy pragtige donkergroen Dodge. En haal trots my eie vlerkmotor uit. Dit voel asof ek vandag ‘n rekord gebreek het. Vir geduldig wag.

Woestyn-ontdekkingstog

Saturday, July 24th, 2010

Soms wens mens jy kon op die eerste skeppingsdag langs die Skepper staan  en iets van die wordingsproses beleef. Tog lyk dit vir my asof die Vader iets van die wonder van die skepping en die lewensgeheim op die onwaarskynlikste plek weggebere het. In die Woestyn

Op een-en-vyftig  maak ek vir die eerste keer eerstehands kennis met die woestyn.

Die wesentlike woestyn. Die wonderlike woestyn.

En skielik resoneer al die woestynbeelde uit my kindertyd in my kop:

Hagar met die huilende Ismael-kind uitgelewer in die woestyn. Moses se braambos-ontmoeting in die woestyn. Die volk se veertigjarige woestyntrek. Elia onder die besembos uitgelewer aan die woestyn. Jesus se veertig dae van versoeking in die woestyn.

Terwyl ons deur die skynbare niks van die Gipsvlakte in die Namib reis, weet ek dat die woestyn gereis , geleef, deurgaan moet word.

In hierdie gestroopte landskap vind ek ‘n klankbord vir versugtinge, ‘n palet vir inbrandprentjies, ‘n wydsheid wat nooi en ‘n oerhart wat lewe klop. Soveel so dat ek op die sandgrond wil gaan lê en die ritme deur my voel.

Eintlik vorm duin sewe buite Walvisbaai die poort na my woestynervaring. Na baie skilderprentjies in Swakop ry ons na Walvisbaai en ontmoet die woestynlandskap oppad soontoe: die wisselspel van die onvaspenbare duine. Uiteindelik die berugte duin sewe. Dit word ‘n pelgrimstog teen die duin op, ‘n bedevaartstog, ‘n vasbytervaring: Dit begin stap-stap, verander in hande-viervoet en word later ‘n Survivor reis. Vyftien vorentoe, later tien, selfs vyf, maar later wisselende  kruipslae na die ontwykende kruin. Die duin word metafoor vir al die ontwykende drome en die onvermybare struikelblokke. En die bereiking van die kruin ‘n ononderhandelbare mòèt. Die einde is in sig van my eie Everest en Uhuru-piek. ‘n Bereikpunt met ‘n vergesig as verrassing. Die afkyk na die oase-palms, die verderkyk na die glooiings van die woestyn, Die seekyk na Walvis se kant. Die opkyk na die hemele wat nader voel. Dis tyd vir ‘n vlerkfoto!

Die uitbundigheid van die duinafhardloop vergoed vir die kruipslag oppad na die kruin.

Die woestyn is ‘n lewensplek!

Dit weet ek terwyl ons deur die maanlandskap van die gipsvlakte reis, die ligeen sien reageer op water, die wegskarrel toktokkie sien, die lewende klippe voel pols, die sandlandskap sien in sy verskillende monderings.

Die woestyn  is ten diepste skeppingsplek en herskeppingsplek:

Eers die landskap van die niks

Dan die ontdekking van lewe – ligeen wat reageer op ‘n druppel

Dan die oerlandskap waar die welwitschia oorleef

Dan die klippe in die klipwoestyn wat uitroep: Kyk na ons uniekheid

Die graspolle

‘n Boom

Wild wat skugter verskyn

Dan!  Die oorvloed.

In die woestyn leer mens anders kyk. Verby die skynbare niks. Tot jy met X-straal oë die lewenskrag en energie van die woestyn sien. Sy primitiewe wil tot leef. En dit jou aanpraat.

 In die woestyn leer jy anders hòòr. Hoor jy die klank van suiwerende stilte. Jy dink aan Leonard Cohen se gedig:

You tell me that silence
is nearer to peace than poems
but if for my gift
I brought you silence
(for I know silence)
you would say
“This is not silence
this is another poem”
and you would hand it back to me.

Juis vanweë die stilte hoor jy dit wat andersinds uitgedoof word.

Hoor jy die roepstem van die tyd.

Hoor jy die lewenshartklop.

En jou eie.

Die woestyn is die regte omgewing vir verwondering.

In die woestyn kan ek anders voel . Want die woestyn brand braambos in my bors. (vgl Rosa Smit se gedig – Braambos)

 In  die woestyn soek jy die nuwe woorde vir ‘n ou waarheid. Soek jy dit wat jou nog altyd ontwyk het en dalk in jou  binneste versteek was.

Die woestyn stuur jou op ‘n soekgeselskap na die dinge wat soos ‘n hersenskim jou ontwyk. Hiervan vertel Koos Kombuis  se liedjie: Atlantis in jou lyf

Op ’n reis deur die woestyn
verdwyn ons trane in die sand
Op ’n gravelpad na die see
soek ek die unicorn se strand.

Ek grawe kaalhand in die grond
op soek na woorde en witblits
Maar Vader Tyd se uurglas sak
soos ’n deurkosyn in Lüderitz.

En verder:

Ek weet jy is hier iewers
in die klei van Afrikaans
Maar ek ken nog nie jou naam nie
jy sing waar die flaminke dans

jy’s die vloek wat my laat skryf
die Saharas in jou oë
en Atlantis in jou lyf.

Kyk jy terugskouend na jou woestynfoto’s , begin jy tog geleidelik musiek hoor. Jy vermoed die meesleurende klanke van Mike Batt se klankbaanmusiek vir Caravans. Dan selfs duideliker klink die woorde van Barbara Dickson se Caravan Song:

Caravans
Oh, my soul is on the run
Overland
I am flying
Caravans
Moving out into the sun
Oh, I don’t know where I’m going
But I’m going

Caravans, oh  the run
Die woestyn is die diepste spieël waarin jy uiteindelik self moet kyk. Jou eie korreltjie-bestaan raaksien. Jou kwesbaarheid. En jou  kern. Want juis in die landskap van die niks word die ware jy oop en vry. Daarom sou ek in die woestyn kaal wou staan. Net ek in my primitiefste ekheid en die wete dat ek onlosmaaklik deel van die hierdie aarde is. Stofmens. Maar juis so raakbaar naby aan die hemel. Veral as snags as die ster-karos oop oor die woestyn gesprei word. Dan sou ek die sterre wou sluk terwyl ek boontoe praat/sing.

plasse sterre
sterremere seë van sterre
by Nossob
staan jy oopmond
verstom
vir die verstommende sterre
so naby dat jy net maar jou hand kan lig
jou oop mond oop kan hou om strome
storms sterre te sluk  (Marié  Blomerus – Plasse Sterre)

In die woestyn weet jy oerseker dat geloof is om die onsienlike te sien, selfs (juis) in die plek waar daar niks is om te sien nie, maar tog sò baie.

“In die land van skynbare niks

leer U my nuut kyk

 sien ek selfs die nietigste

toktokkie as bode

van die Groot Kaptein…”

In die woestyn is jy  in die werksplek van die Timmerman.

In die binnekamer van die Godsverlatene.

 Word  stamelende stofmens weer jubelende  lofmens.

Lyftestament

Monday, July 19th, 2010

‘n Woestynheilige het vir etlike jare as askeet in die woestyn geleef. Hy het sy gedagtes wat deur die stilte en sy samesyn met God gevorm is, op perkamente opgeteken. Met die hulp van ink wat hy uit ‘n spesiale plant vervaardig het en ‘n primitiewe pen het hy op perkamentrolle die boodskappe van sy stilwees voor God neergeskryf en aan verbygaande karavane oorhandig

 Hy het egter begin agterkom dat sy kragte besig was om af te neem en het op ‘n dag besef dat die  einde van sy lewe naby is. Toe het hy ineens die intense begeerte gehad om sy testament op te teken, maar tot sy ontsteltenis het hy ontdek dat hy geen enkele perkamentrol oorgehad het om dit op te skryf nie. Uiteindelik het hy besluit om met die ink wat hy wel nog by hom gehad het sy testament op sy lyf te skryf. Hy het sy eenvoudige linnekleed afgestroop. Met slegs sy lendedoek aan sy lyf het hy hom op die woestynsand tuisgemaak om sy testament op sy verweerde lyf te skryf. Terwyl hy egter die pen naderbring om die eerste woord te skryf, het hy ineens gehuiwer en weer na sy eie liggaam gekyk –

* sy verweerde voete wat baie ver geloop het onder moeilike omstandighede om die blye boodskap aan afgeleë groepe mense te bring;

* sy knieë wat die tekens getoon het van jare se kniel in gebed;

*sy bolyf wat letsels gedra het van die martelhoue wat hy terwille van sy geloof   moes verduur;

*sy vereelte hande wat gewoond was om te dien, wonde te verbind  en die boodskap van liefde neer te skryf oor baie jare

 Ineens het hy die pen en ink neergesit met die helder besef wat by hom posgevat het: Ek hoef nie ‘n testament op my liggaam te skryf nie, my liggaam is my testament, dit dra die letsels en tekens van my lewe, my werk, my diens. Toe het hy uitgestrek in die woestynsand gaan lê en sy hande sywaarts uitgestrek sodat sy liggaam in die vorm van ‘n kruis gelê het. Hy het sy oë toegemaak en God in ‘n dankgebed geloof vir die voorreg om soveel jare te kon leef en in instrument in die hande van die Allerhoogste te wees

 ‘n Verbygaande karavaan het hom ‘n paar dae later so aangetref – ‘n  stil figuur wat in kruisvorm gelë het met die sand wat hom begin toewaai het – maar op sy gesig ‘n hemelvrede.

(Verhaal verwerk en aangepas nav “Testament” In “Kommerkrale” -Hennie Aucamp)

 Die afgelope twee weke in Bloemfontein het ek my eerste ervaring van bestraling gehad. Die onbekende ervaring het soos ‘n berg voor my gelê. Wat presies behels dit? Wat gebeur tydens bestraling? Wat ervaar en voel mens? Watter newe-effekte is daar? In die wagkamer van Onkoterapie het ek gesit en na die mense om my gekyk – meeste gesigte en liggaamshoudings het iets vertel van die pad wat hulle geloop het, veral ook die nalatenskap van chemo (mussies om die haarlose koppe te bedek) en soms ook ‘n bleekheid en ‘n moegheid wat vertel van ‘n dapper en verbete stryd teen die aliens in hul lywe. Tog, as mens begin gesels, is daar ‘n sprankel in die oê en ‘n vasberadenheid in hul stem.  Sommige is ingestoot in die bestralingskamer op hospitaalbeddens, maar steeds het hulle ‘n vriendelike groet gehad vir diegene in die wagkamer.

Toe uiteindelik ook my oomblik van waarheid – eers die vooraf vastelling en afbakening van die twee areas wat bestraal moet word. Daar word groen sterretjies op my lyf gemaak met ‘n merkpen en dan ook vier tatoëerkolletjies wat die bestralingsplekke afbaken. Die bestraling self volg dan – die gaan lê en op die bed en die blootlê van die gemerkte areas. Dan besef ek ook dat my lyf my testament geword het wat vertel van die pad, veral die afgelope sewe jaar se vreemde reis met die ongewenste plakkers wat hul in my lyf kom vestig het. Terwyl die bestraling dan vir ‘n klompie minute duur, is dit behoorlik asof iets van die waarheid by mens instraal: Net genade hou jou as gebroke en beleërde mens heel. Ineens onthou ek die woorde wat in boogvorm geskryf staan bokant die ingang van die Kweekskool op Stellenbosch: Sol Justitiae Illustra Nos (Son van Geregtigheid bestraal ons)

Op ‘n vreemde manier word die woorde deur ‘n bestralingsapparaat nuut by my ingebrand.

In Neil Diamond se aangrypende liedjie Morningside besing hy die handewerk van ‘n Pa wat ‘n handgemaakte tafel vir sy kinders nalaat:

Morningside
The old man died
 
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
For my children

And the legs were shaped with his hands
And the top made of oaken wood
And the children sat around this table
Touched with their laughter
Ah, and that was good

Morningside
The old man died
 And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
For my children
The words he carved became his epitath
For my children

Op die meegaande foto is die hande die testament van ‘n lewe wat geleef is. By my Oom se begrafnis het ek my Tagtigjarige Tannie se hande afgeneem waar dit die jonger hande van ‘n buurseun omsluit wat haar wou troos. Tog is dit vir my veelmeer die troos van haar hande met hul lewensverhaal wat troos oordra aan die jonger geslag. ‘n lewenstestament – kyk hierdie hande het geleer om te ontvang en af te gee. Hierdie hande het gebid en gewerk. Nou rus dit in die wete: Iemand hou my in Sy hande. Altyd.

My hande is my lewenstestament. Neem die troos daarvan met jou saam.

Brose Kleipotte

Sunday, July 4th, 2010

Kleintyd in die kinderkrans leer ons  liedjies soos : Laat ons skyn vir Jesus, Red wat verlore gaan, Jesus roep my vir ‘n sonstraal. Tog is dit die liedjie van die pottebakker en die klei wat in my kop prentjies maak. Ek weet nog niks van pottebakkerswiele en soorte klei nie, maar verstaan iets van die man wat iets uit die klei skep:

Doen slegs U wil Heer, U wil met my -U pottebakker, met my die klei –

Vorm my en maak my, net soos U wil – Op U bly wag ek, nederig en stil.

Klei -‘n wonderlik vormbare medium om gedagteprentjies gestalte te gee.

My eerste herinnering van klei is my  onbeholpe gewoel met modder om kleikoekies en -diertjies te maak in die agtertuin van ons huis. Die diep bevrediging om met modderbesmeerde hande jou modderskepping uit te stal, lê die grondslag vir my lewenslange belangstelling in kleikreatiwiteit.

My eerste defnitiewe  onthou van speelklei, is my eerste dag in Graad 1. Juffrou Ackerman  herrangskik die raserige groep en laat ons  seuntjie-dogtertjie langs mekaar sit in die dubbelbanke. Dit het nogal ‘n effek, want wat sê mens vir ‘n vreemde meisie wat ook grootoog na jou staar? Juffrou deel aan elkeen ‘n stukkie klei uit, met die opdrag dat ons iets vir haar moet maak. Ek begin my stukkie klei  in slangetjies uitrol.  Hestertjie (sy het darem haar naam vir my gesê!) begin ingedagte wolletjies op haar trui afpluk en vorm dit tot bolletjies tussen haar duim en voorvinger. “Kyk”sê sy  terwyl sy trots haar hand uithou “hier is ‘n klompie eiertjies.” Ek vorm  ‘n kleimandjie met die kleislangetjies en rond dit af  ‘n gevlegte handvatsel. Die woleiertjies word versigtig in die mandjie geplaas. Ons is baie trots op ons spanpoging. Die ys is gebreek.

Die wonder van klei is die absolute plooibaarheid daarvan. Om ‘n stuk klei in die hand te neem, dit te brei en te vorm, is om onbeperkte moontlikhede in jou hand te hou. Die bol klei kan enigiets word; ‘n vis, ‘n duif, ‘n leeu, ‘n blompot, ‘n mensfiguur!

Eers as volwassene neem ek Pottebakkersklasse en ontdek die terapie van klei. Die oomblik as jy die  koel kleirol in jou hande neem, dit begin brei en op die pottebakkerswiel vorm, is magies. Dis ‘n  wonderlike sensasie om die klei op die wiel te sentreer want dan voel jy  klei lewe. Onder jou hande  word die vormlose iets nuuts.  Soms die teleurstelling as dit onder jou hande knak as jy dit te haastig  optrek. Dan verstaan mens die gedeelte waar Jeremia oor die pottebakker se skouer loer en sien hoe die voorwerp begin vorm aanneem en dan, ineens, klaaglik misluk!  Tog die wonder- Jeremia sien dat die pottebakker geduld met die klei het, hy gooi dit nie woedend eenkant in die hoek omdat dit misluk het nie, maar brei dit weer en vorm dit dan tot iets bruikbaars. (Jer 18) So ‘n groot lewensles – die Skepper wat geduldig met ons besig is en ons mislukkings hervorm tot nuwe moontlikhede.

Die 1996 film Phenomenon vertel die verhaal van George Malley (vertolk deur John Travolta), ‘n doodgewone werktuigkundige wat op sy 37e verjaarsdag saam met sy vriende kuier en dan as hy uitstap, deur ‘n lig uit die hemelruim oorweldig word. Hy is tydelik bewusteloos, maar wanneer hy wakker word, beskik hy oor buitengewone vermoëns. Hy is voorwaar soos ‘n stuk klei met oneindige moontlikhede – hy kan dinge oombliklik snap,  leer tale moeiteloos aan en is in staat om wiskundige probleme op te los. Sommige mense wil sy vermoë misbruik en van hom ‘n pion in hulle spel maak. Dan ontmoet hy vir Lace (Kyra Sedgwick), ‘n kreatiewe vrou wat meubels uit afvalstukke hout maak,  Sy is sinies oor die liefde, maar geleidelik ontdek hulle dat hulle weer  mekaar nuut kan laat kyk na onvoorwaardelike liefde. ‘n Liedjie op die klankbaan van die film is “Piece of clay” (deur Marvin Gaye) Dit  handel juis oor die feit dat mense soms ander soos klei wil vorm met selfsugtige motiewe, maar beklemtoon dan dat ons eerder mekaar se broosheid as kleimense moet respekteer:

Father stop criticizing your son
Mother please leave your daughters alone
Don’t you see that’s what wrong
With the world with world today
Everybody wants somebody
To be their own piece of clay

We should all love each other
Love and take one another
We should love each other
Love and not hate, oh

Everybody wants somebody
To be their own piece of clay…

Gedurende April  2005 kuier ek by my broer op Paternoster nadat ons die KKNK bygewoon het. Ons gesels oor die lewe wat soveel moontlikhede inhou en dat mens deur kreatiwiteit uiting kan gee aan die unieke prentjie wat jy in jou binneste ronddra. Hy inspireer my om iets te skilder en ons praat oor die wonder van die lewe met al sy fasette: goed en sleg.

Ons besoek ‘n pottebakkersateljee en verkyk ons aan die uniekheid van elke pot. Ek neem ‘n foto van ‘n groep potte wat ge-raku is en elk sy eie patroon vertoon a.g.v. van die vuur waarin die potte gebak is. So is die  lewe, sê ons – elke mens se verhaal is uniek al verg dit die hitte van vuur en toetsing om dit na vore te bring.

Vandag eers besef ek hoe waar daardie woorde was. In sy en my verhaal het die toetsing gekom, maar deur die genade is ons betyds uit die raku-vuur gelig.

Brose kleipotte, maar tog behoue.

“Ons wat hierdie skat in het, is maar kleipotte wat maklik breek, die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” (2Kor4:7)