Archive for September, 2010

Die Aflos-kaartjie

Thursday, September 23rd, 2010

 23 September is ‘n belangrike datum in ons familie – a.g.v twee goeie gebeurtenisse op die datum en ook een hartseer rede. Ek skryf graag vandag oor die goeie.Op 23 September 1950 tree ‘n negentienjarige jongman in die huwelik met sy geliefde, ‘n ses-en twintigjarige jongmeisie. Maar ek wil die verhaal bietjie vroeër gaan haal. By ‘n kaartjie wat gestuur is in 1915. Vyf-en-negentig jaar gelede.

My oupa en ouma Jacobus  en Alwine (Winnie) Van Niekerk  is getroud op 29 Februarie 1916. Skrikkeldag, midde in die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Tyd van onsekerheid en uitsigloosheid. Hulle was albei vyf-en-twintig.

Twee maande voor die troue stuur hy aan haar ‘n kerskaartjie waarin hy sy liefde aan haar verklaar. Te midde van die grysvaalheid van die oorlog stuur hy aan haar hierdie besondere kaartjie wat vertel van geloof, hoop en liefde. Veral die liefde. ‘n Romantiese kaartjie wat selfs aan ‘n braille leser genot sal verskaf, want dit is gedruk in reliëfwerk.

Voorop is ‘n baie simboliese prentjie: Twee hande van geliefdes wat mekaar in ‘n reddingsboei ontmoet onder ‘n anker van blou vergeet-my-nietjies en die woorde met die silwer-sprinkeling op: With Fond Love. My stil, beskeie Oupa se visuele liefdesverklaring.

Binne-in is daar ‘n “Wishing you a Happy Christmas” gedrukte wens met ‘n gedrukte rypmie by. Dan, in sy eie handskrif  staan geskryf:

From Jacobus

To Winnie – with fondest Love

Christmas 1915

Oupa en Ouma Van Niekerk se huwelik duur drie-en veertig jaar totdat Oupa op nege-en-sestigjarige ouderdom dood is. Uit hulle huwelik word vyf kinders gebore, waarvan vier volwassenheid bereik. My ma, Alwine, (Winnie) is die vierde van die vyf kinders. Sy trou op 23 September 1950 in Ontdekkers, Johannesburg met Willem (Bokkie) Fourie wat saam met haar in die Rand Leases mynkantore gewerk het.

Jarelank word Oupa Jacobus se  kosbare kaartjie in die ou Hollandse Familiebybel gebere. As kind blaai ek soms deur die Bybel en kyk na die koerantuitknipsels, foto’tjies en selfs ’n pers Moedersdagstrikkie wat getrou in die Bybel bewaar word. Maar veral kyk ek na die Fondest Love kaartjie. Na Oupa en ouma se dood bly die Bybel in ons gesin se besit. My Pa en Ma is op ‘n paar maande na dertig jaar getroud toe sy onverwags aan ‘n hartaanval sterf in 1980 en my Pa vier jaar daarna.

Negentig jaar na die kaartjie se eerste gebruik, word dit weer ingespan. 

23 September 2005 (wat my ouers se vyf-en-vyftigste huweliksherdenking sou wees) vertrek my Reisgenoot en ek na Philippolis. Ons gaan besigtig ‘n historiese huisie wat in die mark is. Eintlik is dit net ‘n voorwendsel om haar op Philippolis te kry vir die Groot Vraag. Want die vraag moet in die oopheid van die Karoo gevra word.

Oupa Jacobus se kaartjie wat al die jare in die familiebybel bewaar gebly het, word ingespan vir die spesiale geleentheid.Op die oop blaadjie na sy liefdesverklaring aan Ouma Winnie, skryf ek my briefie aan my Reisgenoot, Lynette.

Na ‘n heerlike romantiese ete te Bokpost (‘n gasteplaas in die Philippolis distrik) gaan kyk ons hoe helder die karoo sterre skyn. Ons voer ‘n lang gesprek oor die pad wat ons saamgeloop het tot hier en ek  oorhandig ek die kaartjie saam met die ring aan haar. Ek weet nie of dit die priemende blik van Oupa en Ouma was  wat vanuit ‘n foto in die kaartjie na haar gestaar het en of die blinkblou van die saffier in die ring die oorredingswerk gedoen het nie, maar sy antwoord  JA.

 Die kaartjie word ‘n kosbare deel van ons Memorabilia. Met die verhuising na ons troue,  raak dit onverklaarbaar weg. En bly net weg. Ons soek oral, dink aan alle moontlike plekke waar dit dalk kan wees. Maar tevergeefs. Oupa Jacobus se kaartjie (en ons s’n ook!) het eenvoudig net verdwyn.

Twee jaar gaan verby. Een Maandagoggend kom my Reisgenoot met ‘n jubeling by die studeerkamer in. Sy het die lêer in die hand met Oupa Jacobus se kaartjie en ‘n organza lappie waarin die verloofring toegebind was. Uit vrees dat dit dalk sou verlore gaan het sy dit twee jaar gelede in die lêer  gebêre en  vergeet waar sy dit gebêre het.  Die oggend het sy ‘n dringendheid gehad om in die kas in die spaarkamer te gaan kyk en die lêer daar gesien. Ons vier die herontdekking van Oupa Jacobus se  kaartjie. Dis immers ook mos nou ons kaartjie. ‘n Afloskaartjie van meer as negentig jaar. Wat vertel van liefde wat altyd verrassend nuut bly.

Nou wag die kaartjie, om wie weet dalk eendag, nogeens ‘n volgende liefdesverhaal te vertel?

Cinema Paradiso

Wednesday, September 15th, 2010

 

Die ligte verdof. ‘n Breë straal lig skyn uit die betonleeu se bek tot op die silwerdoek. Swart-en-wit beelde vorm op die doek. Die seuntjie staar verwonderd beurtelings na die ligstraal uit die brullende leeu se bek en die skerm. ‘n Wonderwêreld ontvou voor sy oë.

Ek wou nog altyd graag ‘n film gemaak het. Juis daarom my bewondering teenoor hulle wat dit regkry om m.b.v ‘n kamera ‘n verhaal te vertel wat jou aan die hart gryp en deel van jou lewensverwysingsraamwerk word.

Die toneeltjie uit Cinema Paradiso kon net sowel my ervaring van films gewees het.  Die aangrypende film met Giuseppe Tornatore as regisseur,  vertel die verhaal van die seuntjie, Toto, se fassinasie met die films wat in hulle teatertjie in ‘n klein Siciliaanse dorpie vertoon word. Toto se pa het nie teruggekeer na afloop an die oorlog nie en word as vermis beskou. Daarom word Toto se  besoeke aan die bioskoop sy ontvlugting van die werklikheid en ‘n kennismaking met ‘n nuwe (wonder)wêreld. Selfs al moet hy die broodgeld wat hy  by sy ma kry om mee winkel toe te gaan, daarvoor gebruik. Die projektor-operateur, Alfredo, word sy getroue bondgenoot.

Die aangrypende Klankbaanmusiek deur Ennio Morricone, dra by om van hierdie film ‘n nostalgiese reis te maak waarmee  meeste “Baby Boomers” sou kon identifiseer. Die jare van onskuld en ontdekking. Veral ook bring dit ‘n verlangepyn na dit wat  onherhaalbaar verby is – die bioskoop (genaamd die Alpha, Phoenix, Apollo, Roxy, Leba of iets dergeliks). Die rooi sitplekke en die fluweelrooi gordyne wat geheimsinnig voor elke vertoning oopswaai. Die “Ushers” wat pouse (en soms in die vertoning) rondloop met skinkborde wat met sulke bande om hulle nekke gedra word. Dan skyn hulle met ‘n flitsie ewe aanloklik oor die lekkergoed op die skinkbord en vind altyd gewillige kopers.

Eintlik dink ek is daar nog self meer nostalgie verbind aan die inry wat in die sestigerjare sy hoogtepunt bereik het. Dit was die algemeen aanvaarbare vorm van gesinsvermaak oor naweke. Die hele aanloop het die uitstappie so lekker gemaak. Jy kon jou  nagklere aantrek (mits jy klein genoeg was). Daar is ‘n kosmandjie gepak  en dan het die groot uittog begin. Ons keuse was gewoonlik tussen die Meiringspark  of die Lanza. Fase twee van die opwinding was die lang wag voor die hekke van die inry wat nog nie oop was nie. Dan het hordes motors opgedam en het die angs gegroei of ons die afsnypunt sal haal. Veral wanneer ‘n  Afrikaanse film vertoon is,  moes jy ten minste ‘n uur voor die tyd daar wees, anders was teleurstelling jou voorland as jy weggewys word.

Ai – die opwinding as jy wel ingelaat word en die soektog na ‘n geskikte staanplek begin. Dan, die vorentoe-en-agtertoe en heen-en-weer die motor manuvreer totdat almal naastenby die skerm kan sien. Net om dan dalk te ontdek dat die luidsprekertjie wat by die venster ingehaak word, nie werk nie. Ek onthou ‘n geleentheid toe ek my sus en niggie inry toe  geneem het, pas nadat ek my eerste motor gekry het. Ons het ‘n staanplek gevind en toe begin die groot heen-en weer sodat almal kon sien. Die film het net begin en my niggie wat agter gesit het, het aanhou kla dat sy nie kan sien nie. Dan maar weer ongeduldig die motor herrangskik. Toe ons uiteindelik vra hoe dit dan moontlik is dat sy nie kan sien nie, sê sy daar is woorde op die skerm wat maak dat sy die prentjies nie mooi kan sien nie. Ai tog!

Soms onthou ek eerder die gevoel wat ek buite die motor ervaar het as ons op warm somersaande op ‘n reisdeken voor die motor kon sit. So onthou ek hoe tydens die film “Mary Poppins” se uitgerekte animasiegedeelte,  eerder na die sterrehemel gekyk het as na die film.

Wanneer my streng Duitse Ouma Alwine saamgegaan het inry toe, het ons weliswaar nog lekkerder padkos gehad maar ook ‘n selfaangestelde sensor. Sodra Ouma enigsins gevoel het het dat die toneel op die skerm darem te intens was en nie vir kinderoë bedoel is nie, het sy ewe nonchalant haar pakkie Smarties oopgemaak en die inhoud “per ongeluk” op die vloer laat  val en ons kinders dan aangesê om die Smarties te soek!

Na die film, was die groot saak om te onthou om die luidsprekertjie terug te plaas voordat jy ry, anders het die geamputeerde luidspreker saamgery! As kind was die bonus dat jy kon maak of jy aan die slaap geraak het met die terugrit na die fliek en dan bed toe gedra is deur pa. Dit was die afronding van ‘n heerlike aand.

Die talle films het tog ‘n belangrike neerslag in my lewe gevorm. Grepe uit films het hulle later weer voor my geestesoog afgespeel. Belangrike lewenswaarhede is via flieks ontdek. So is my vermoede oor die feite van die lewe  bevestig nadat ek die film: “Debbie”gesien het. Het ‘n film soos Sound of Music die draaiboek geword vir ons “middagvervolgverhaal” wat ons smiddae in die tuin laat afspeel het. Met klankbaan musiek uit ons geradbraakte onthou van die woorde van die klankbaan. Gelukkig is liede soos  “Do-Re Me” en “My favourite things” darem redelik volledig gesing. 

Grepe lewe wat homself op die silwerdoek uitspeel, het ons drome en ideale bepaal.

Na  die film “Romeo en Juliet” het die beeldskone Olivia Hussey se plakkaat my muur versier. Sy het Julie Andrews onttroon.Om self maar net weer op haar beurt onttroon te word deur Tani de Lange van ” Professor en Prikkelpop”-faam. Haar geraamde en getekende foto het prominent op my lessenaar gepryk.  Die held van die Spaghetti westerns, Clint Eastwood, het met sy skrefiestaar vir Paul Newman van die muur laat verdwyn. Clint was my model van onverstoorbaarheid. Koelkop en berekenend in enige situasie.

Een naweek is ons op ‘n gesinsuitstappie na Johannesburg. My pa verras ons – ons gaan fliek in die Cinerama met sy geboë skerm wat jou laat voel jy is deel van die gebeure op die skerm. Ons sien “The Taming of the Shrew” met Elizabeth Taylor en Richard Burton. Dit voel of ons midde in hulle woord- en vuisgevegte staan.

‘n Paar weke gelede gaan kyk ek my eerste 3-D film: “Toy Story 3” Ek sit die brilletjie huiwerig op toe die fliek begin. En snak omtrent na my asem oor die onmiddellikheid van die beeld. Dis hier by my en ek is in die storie!

Met ons huweliksonthaal noem ek my begeerte om regisseur van ‘n draaiboek te wees – in beheer van elke skoot en verhaallyn. Besef egter dat daar ‘n Groot Regisseur is wat die storielyne wonderlik tot ‘n geheel saamvoeg.

Aan die einde van Cinema Paradiso woon Toto as volwasse man en suksesvolle regisseur die begrafnis van sy getroue vriend Alfredo by. Alfredo het hom bekendgestel aan al die geheimenisse van die projektorkamer. So het Alfredo die projektor geswaai sodat die ligstraal deur die venster geskyn het en die beeld op ‘n oorkantste muur in die buiteplein geval het. So is die rolprent aan die hele dorpie vertoon. In die projektorkamer het hy ook gesien hoe Alfredo stukkies wit papier invoeg in die filmrol as die priester die film sensor. Die priester het ‘nvoorskou van die film gehad en het in die voorste ry gesit. Wanneer daar ‘n soentoneel was of die paartjie net te amoreus na sy sin begin raak het, het hy die klokkie gelui en Alfredo moes die toneel dan uitsny uit die film. Hy het nie my ouma se taktiek met die Smarties geken nie!

Wanneer Toto na die begrafnis die blik oopmaak wat Alfredo aan hom nagelaat het,  is dit vol stukkies filmknipsels wat  gesensor was deur die priester en nou deur Alfredo tot ‘n aaneenlopende film saamgevoeg. So ontdek Toto al die verlore brokkies van sy lewe.

Soms laat ‘n film jou as’t ware in die spieël kyk. Sien jy brokkies lewenswaarhede wat saam ‘n groot eenheid vorm. Weet jy dat wanneer die eindtitels van jou lewe eendag op die groot skerm van die Heelal verskyn, daar soveel medespelers in die verhaal van jou lewe verskyn. Besef jy ook dat doodgewone gebeurtenisse eintlik jou lewe help vorm het.

Dan  weet jy dat die verhaal wat die Regisseur verfilm het, uniek is. En dat die dele wat jy graag sou wou “uitklokkie” met die rooi van kruisbloed gekleur is en nou nuut vertoon.

Amanda Strydom vertel van die groot Regisseur en die lewensdrama  in haar liedjie “My Kamer”

Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan

Ons ken die komplot van die drama
Elke eeu word daar flink repeteer
Net die rolverdeling en dekor verander
Maar waar is die groot regisseur, waar is die groot regisseur

Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan…

  

Die Oop-oog Reis

Saturday, September 11th, 2010

“Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit. U is met al my paaie goed bekend.” Ps 139:3

Die woorde pryk voorin ‘n geskenkboek wat ek ontvang het in 1982 toe ek ‘n belangrike besluit moes neem oor ‘n nuwe werkkring. Ek het die reis aangedurf. Sedertdien het dié teksvers al in verskillende omstandighede weer die deurslag gegee as ek  keuses moes uitoefen.

 “Reis is anders as net ry. Reis is langer, dieper en eindig meer as dikwels nooit nie. Selfs al kom jy terug, reis dele van jou heeldag. Mens kan in jou kop reis, of sommer net reis wanneer jy die son iewers deur die wolke sien breek. Die alledaagse rompslomp van lewe hoef nie in jou pad te staan nie.” Erens het ek die waar woorde oor reis raakgelees en ongelukkig nie die bron aangeteken nie.

 Reis is die opwindende avontuur waarvoor jy soms ‘n reistas nodig het, maar meestal net jou sintuie.

 Met die aanbreek van die lente is daar reiskriewelings oral in my lyf! Dalk is dit die rede dat ek tans twee reisverhale gelyktydig lees. Ek  het begin met “Die Honger Reisiger” van Marié Heese en my verdiep in haar  reisvertellings wat elk afgesluit word met ‘n resep of twee. Terwyl ek nog met die boek besig is, ontdek ek André Pretorius se interessante en stimulerende reissketse: “Iets ver en nuut.” Hy vertel van sy eerste grootogige reis toe hy as sewentienjarige die Olimpiese Vlam met sy eie oë sien brand het op die Montijuic-heuwel, Barcelona. Sedertdien reis hy steeds onophoudelik.

Hy som dit as volg op: “ Die drang na nuwe insig, ‘n vars perspekief, ‘n groter bekendheid met iets of iemand wat my aandag aangryp, die belofte van ‘n openbaring waarmee ek voorheen onbekend was – dit neem my altyd weer na lughawens, stasies, hawens.”

 Die opwindende van reis is steeds dan jy ook met nuwe oë kyk na jou eie mense, herkoms. Pretorius skryf so daaroor:

“ Soms lê die grootste ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms sien jy op die reis niks duideliker as jou eie plek, die mense wat jy agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor besienswaardighede.”

 My eie reiservarings as kind was maar beperk tot die kuiers by familie en vriende. Tog was  my eerste groot reiservaring ons uittog van Stilfontein na die Kaap tydens ‘n langverlof van ses weke  in 1959. Dit was ‘n epiese tog wat ons aangedurf het met die “two-tone” Vauxhall Victor wat my pa kort voor die reis gekoop het. Iewers in die haai Karoovlaktes het die motor oorverhit en moes ons met die water-seilsak wat aan die voorste buffer van die motor gehang het, gaan water skep uit ‘n boer se plaasdam. Daarmee het  ons weer die verkoeler gevul  nadat die motor afgekoel het. Maar dis ‘n verhaal  wat vorentoe nog vertel moet word.

 My reiskatalisator was my eerste kamera, want deur sy  lens het nuwe vistas ontvou.

 My Traveller Double Reflex kamera. Met sy profetiese naam.

 Virginia, Vrystaat. Desember 1966. Ek word die trotse eienaar van die kamera tydens die jaarlikse Kersboom op die sportgronde van die myn se “Recreation Club”.

 Die Groot Opgewondenheid. Ons stap die sportgronde vol afwagting  binne. Pa, Ma, Ousus, kleinsus, kleinboet en ek. Ek is twaalf jaar oud. Op die terrein heers daar ‘n vrolike atmosfeer. Elke kind ontvang ‘n boekie met afskeurkoepons. Pienkes, bloues, geles, groenes en  wittes. Vir elke koepon kan jy iets kry in ruil. Die heel belangrikste blou geskenkkoepon (vir seuns) en die pienke(vir dogters). Op die spesiale koepon is daar  ‘n getekende Kersvader-prentjie.

 Elke jaar is die ritueel dieselfde. So teen Juliemaand bring die verteenwoordiger ‘n verskeidenheid van geskenke waaruit die ouers kan kies.(Dit word vir ons kinders verswyg). Die bepaalde geskenk word dan teenoor die betrokke kind se naam geskryf. Tydens die Kersfunksie ontvang elke kind (via kersvader) dan die geskenk wat deur sy/haar ouers reeds maande tevore uitgesoek is. Die verwondering is dan  groot dat kersvader so presies weet wat elkeen se hartsbegeerte is.

 Dit is dan ook die groot hoogtepunt van die Kersboom die middag – die aankoms van kersvader. Want eers daarna mag die geskenk koepon ingehandig word.

 Kersvader arriveer in 1966 nie met ‘n slee nie, maar wel met ‘n trekker en versierde sleepwa.  Hy sit op ‘n Kersvader-troon en wuif goedig vir die opgewonde skare kinders wat om die sleepwa rondmaal. Uit sy skouersak gooi hy lekkers aan wie ookal gelukkig genoeg is om dit raak te vang.

 Na die indrukwekkende aankoms kan ek nie wag om die die kosbare koepon in te handig nie. In ruil daarvoor word ‘n kleinerige toegedraaide geskenk aan my oorhandig. Ek skeur die kerspapier met onbetaamlike oorhaastigheid af. Ek kyk na die die prent op die kant van die kartondoos en trek my asem in: ‘n Kamera! Daar staan dit geskrywe: TRAVELLER  DOUBLE REFLEX CAMERA.

Ek  haal die kamera versigtig uit My hart klop opgewonde. My eie kamera! Met ‘n 120 film ingesluit. Hoe het Kersvader dan so goed geweet dat ek ‘n eie kamera begeer? Pa het ‘n Pentax SP500 wat hy gebruik. Soms, net soms mag ek die die kamera vashou en selfs by wyse van uitsondering ‘n foto neem. Dis so duur kamera, dat dit eintlik net Pa is wat dit mag hanteer. Maar vandag! Ek hou my eie kamera vas.Die dag word ‘n mallemeule van opgewondenheid en die koepons word een na die ander afgeskeur, ‘n Gele vir ‘n roomys, ‘n witte vir ‘n koeldrank, ‘n groene vir ‘n rit op die speeltreintjie.

 Maar die wonderlikste bly steeds die koepon wat aan my die kamera besorg het. Nou is ek ‘n egte regte fotograaf!

 My eerste rolletjie 120 film neem ek vinnig klaar. Ongelukkig vergeet ek soms dat die kamera nie self na die volgende raampie aandraai nie en neem dus soms twee foto’s  in een raampie. Dit het interessante spesiale effekte tot gevolg. Ek neem bv. ‘n foto van my suster waar sy gehurkend poseer by die dieretuin. Net daarna neem ek ‘n pou af wat pronkend sy vere sprei. Maar albei in dieselfde raampie. Die resultaat: My suster in die omraming van ‘n dramatiese veretooisel!

 ‘n Paar maande later vertrek ek as dertienjarige standerd sessie op ‘n skooltoer per trein na die destydse Rhodesië. Daar sou my Traveller sy eerste vuurdoop hê toe ek poog om die asemrowende Victoria-waterval se koeëlronde reënboog op film te probeer vasvang.  

 My eerste proesel van ‘n buitelandse reis en ‘n kamera om dit vas te lê! My kamera was my oop-oog reisvennoot.

 Sedertdien is my kameras my getroue bondgenote om reise, ervarings en mense op film (en deesdae digitaal) vas te lê. Ek (en deesdae met Reisgenoot aan my sy) “travel” steeds voort. En poog steeds om dit oop-oog en boekstawend te doen.

Koos du Plessis se liedjie “Swerwers” som die misterie van reis miskien die beste op:

 jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een wat sonder afskeid ry
of sy wat eensaam agter bly?
of wie?

wie sou die ware swerwer wees
die een wat reis, die een wat lees
die enk’ling op sy slentergang
of elkeen wat na iets verlang
of wie?

wie sou die ware swerwer wees:
die een te voet, die een in gees
die een wat deur die ver land stryk
of hy wat deur die rookmis kyk?
of wie?

jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een met tas en reisbiljet
of elkeen wat nog drome het?
of wie?

 

Kleikrag

Saturday, September 4th, 2010

Toe ek die verhaal van Alice Nongebeza en haar kleipotte lees het ek dadelik aan die die kranige Turkse pottebakker Galip Korukcu gedink. Hoewel hulle op verskillende kontinente woon en elk sy unieke kleiprodukte maak, is daar by albei ‘n passie vir klei. Om dit te omvorm tot iets moois en dikwels ook iets baie bruikbaars.

So rukkie terug het ek oor die broosheid van kleipotte geskryf n.a.v die beskrywing in 2Kor4 van die die mens as kleipot wat maar maklik breek. Tog word daar in dieselfde vers ook melding gemaak van krag – die binnekrag wat nie van ons af kom nie, maar van ons Skepper. Dis juis hierdie krag wat ook in klei lê – Skeppingskrag.

Goeie Vrydag 2008. Ons is bevoorreg om ‘n demonstrasie van kleikuns te aanskou. Ons sit in die pottebakkersgrot waar Galip (wat lyk soos ‘n Turkse Einstein) sy meesterstukke skep. Sy werkswinkel en uitstalruimte is geleë in die hart van een van die heuwels naby Avanos. Die dorpie Avanos is bekend vir sy erdeware van die hoogste kwaliteit. Die reputasie strek al sedert 3000vC. Die dorpie is geleë in die sklideragtige Kappadosië streek in Turkye. Naby die pottebakkergrot is die Goreme-vallei waar die wonderlikse grotkerkies aangetref wat pragtig versier is met eeue-oue handgeskilderde ikone.

Vanoggend voel Galip se pottebakkkersgrot egter soos een van hierdie kerkies, want ons het pas as toergroep saam nagmaal genuttig. Die Pottebakkerswiel is tydelik omskep tot ‘n preekstoel en dit voel eintlik so reg. Die nagmaal word gevier met tuisgemaakte Turkse brood en plaaslike (suur) wyn. Elke nagmaalsganger ontvang sy/haar wyn in ‘n kelkie wat spesiaal vooraf deur Galip vir die toerlede gemaak is. Dit word ‘n unieke nagmaalsgeleentheid wat elkeen diep raak.

Na die bediening van die sakrament en die slotgebed, word die die doek en die plank van die pottebakkerswiel afgehaal en kan die meesterpottebakker Galip sy plek inneem. Wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat hy sy kleikuns skep op ‘n eenvoudige pottebakkerswiel wat per voet gedraai word. Met sy primitiewe skopwiel skep Galip vertoonstukke wat oor die wêreld heen pryk. Sy terracotta klei kry hy uit die nabygeleë Kizilirmak rivier (ook bekend as die Rooi rivier).

Vanoggend is ons die toeskouers wat verwonderd kyk hoe so stuk rivierklei onder die hande van die meester gevorm word tot ‘n kruik. Moeiteloos, maar met toegespitste aandag werk hy. Wanneer die eindproduk van die wiel afgehaal word, is dit moeilik om te glo dat ‘n vormlose stuk klei so gou onder die hande van ‘n vaardige meester ‘n nuttige voorwerp kan word, met mooi, vloeiende lyne. Later stap ons deur sy uitstalruimte en verwonder ons aan die fyn pottebakkerskuns.

Ek blaai verlede week deur die nuutste uitgawe van Country Life en ek haak vas by die artikel oor Alice Nongebeza en haar kleipotte. Hierdie Pondo-vrou woon in ‘n gehuggie naby Port St John’s. Haar verhaal is een van verlies. In die vyftigerjare het albei haar seuns op tragiese wyse gesterf en kort daarna het haar man haar verlaat. Verder nog het daar  ‘n reeks slegte dinge met haar gebeur. Uiteindelik het sy bedags net uitsigloos in haar hut gesit, te hartseer en moedeloos om eers na buite te gaan. In ‘n droom een nag het sy gehoor hoe haar pa aan haar sê dat sy nou genoeg gehuil het – dit was nou tyd om uit haar hut te gaan en iets te doen. Kort daarna het sy gedroom hoe haar ouma vir haar wink en beduie om haar te volg. In die droom het haar ouma haar gelei tot by ‘n weggesteekte lopie in die vallei waar sy haar ‘n ryk neerslag van klei aan Alice gewys het. Sy het haar opdrag gegee om die volgende dag terug te keer na die spesifieke plek en van die klei uit te grawe. Die volgende dag het Alice inderdaad op die spoor van haar droom geloop en die kleigroef ontdek presies waar haar ouma dit in die droom aangedui het. Sy het van die klei uitgeskep en dit die volle 5km na haar blyplek geda. Daar het sy die klei gebrei en stadig begin om ‘n pot te vorm.

Vandag is Alice twee-en-tagtig jaar oud. Sy skep steeds daagliks klei by dieselfde lopie en dra dit terug na haar hut, waar sy dit deeglik brei en elke pot met sorg vorm. Nadat dit gevorm is en droog geword het, maak sy pot se oppervlakte glad met ‘n rivierklip. ‘n Week later word die pot in ‘n vuurtjie langs haar hut gebak. Voordat die vuur doodgaan, word die pot met ‘n lang stok uit die vuur gehaal en koel dit af. Die volgende dag word die pot skoongemaak en gesmeer met ‘n politoer en dan in die son gelaat sodat die was van die politoer diep in die pot kan intrek en dit kan seël. Haar potte word dan opgekoop deur ‘n winkel, Krafty Kamelion, wat dit  in Port St John’s van die hand sit.

‘n Eenvoudige bol klei het ‘n proses aan die gang gesit. Nie net voorsien dit vir Alice van ‘n inkomste nie, maar het dit haar heelgemaak. Sy gee lewe aan die klei en die klei gee lewe aan haar. So eenvoudig, maar tog so waar.

Inderdaad – Galip én Alice sal beaam, in Turks en in Xhosa, die krag van klei kan nooit onderskat word nie!

Die lente wil elkeen roep tot die kleinste vorm van kreatiwiteit. En tot Lewe.

Ns Ek hoor graag van jou met watter vorm van kreatiwiteit jy die winterse doodsheid besweer het!

Die Wakkerboom

Wednesday, September 1st, 2010

Die eerste winter na die paradyspaar uit die Tuin van Eden verban is, was koud en genadeloos. Hulle het nie iets soos koue en dorheid geken nie. Skielik was hierdie mooi aarde waarvan hulle die opsigters was, stroef en onvriendelik. Die mooi groen gras het verwelk, baie bome het hulle blare verloor en die wêreld was eensklaps ‘n vaal en troostelose plek.

Hulle het intens verlang na die skoonheid en die gerief van die idilliese blyplek wat hulle deur hul eie toedoen, moes verlaat. Die vrou het so gewens dat iets haar net weer aan die prag van hul Tuin kon herinner.

Op ‘n dag het die Skepper die mensepaar in hulle nuwe blyplek ontmoet. Die man het moeg van sy werk op die landery gekom waar hy die grond omgedolwe het om dit voor te berei vir graan wat hy binnekort sou plant. Sweet het van sy voorkop afgedrup en sy hare was vol bruin stof. Die vrou het stram orentgekom waar sy besig was om die stof wat in hulle eenvoudige huisie op alles neergesif het, te probeer wegvee.

Die Skepper het met deernis na die mensepaar gekyk.
“Julle het deur julle daad van ongehoorsaamheid gekies om julle los te maak van my wil en plan vir julle. In julle nuwe leefwêreld sal julle die werklikheid van droogtes, koue, pyn en lyding ervaar. Soos Ek egter aan julle die belofte gegee het van Een wat sal kom om die slang se kop te vermorsel, gee ek ook aan julle ‘n teken dat ek die wêreld altyd na die gestrooptheid en koue van die winter weer nuut en mooi sal maak. Ek plant vandag hier vir julle ‘n Wakkerboom om julle te herinner aan die belofte van die nuwe seisoen.”

Toe die mensepaar by hulle agterdeur uitstap, staan hulle verstom. ”n Pragtige boom met takke wat wyd en hoog sprei, staan daar – getooi met die mooiste drag spierwit bloesels. Hulle eie Wakkerboom! Jaarliks het hulle die boom stip dopgehou vir die eerste bloeisel en dan wanneer dié sy verskyning maak, het hulle ‘n danklied gesing vir Skepper wat sy belofte hou.

In my laaste jaar op Laerskool, verhuis ons in die hartjie van die winter na die Vrystaatse Goudvelde. Ons voel vreemd in ‘n dorp waar ons niemand ken nie en alles maar vaal en troosteloos lyk. Dis die middel van Julie. Selfs die huis lyk bleekvaal. Dis ‘n skrale troos dat ons twee strate van die rivier af woon want die rivier het hoë sandwalle wat deur erosie uitgekalwe is en  dus moeilik bereik kan word. Ons durf die  vreemde skool aan en kom smiddags stil-stil tuis. Al wat groen is, is die nuwe skoolklere wat ons nou dra.

Amper ongemerk begin die verandering in die natuur. Een oggend roep my ma ons opgewonde na buite. Sy staan op die stoep en beduie met ‘n glimlag na bo. Toe ons opkyk, sien ons die wonder: die vaalgrys takke van die reuse ou boom teen die stoep het ‘n tooisel heldergroen blaartjies. Dit voel asof hulle byna oornag oopgegaan het. Miskien was ons net te besig om die klein swellende botsels te sien, maar op hierdie lente-oggend staan die boom in sy liggroen lentedrag. Sommer vinnig word die res van die tuin en die dorp groen en vertoon helder lenteblomme in tuine en parke. Langs die rivier bot die bome en is daar oral vinkneste. Die omgewing word eensklaps vir ons mooi. Ons voel sommer tuis. Ons eie Wakkerboom herinner ons jaarliks aan die koms van die lente.

Kort na Jeremia se roeping as profeet, is hy  moedeloos oor al die opdragte wat hy ontvang het. Boonop is sy verweer: Maar ek is jonk. Hoe sal ek tog al die boodskappe aan ‘n wederstrewige volk kan oordra? Hulle sal my afkraak en spot. Tog laat die Here vir Jeremia iets sien wat hom kan versterk.

” Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien ’n amandeltak.
Toe sê die HERE vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring” (Jer 1:11,12)

Die naam van die Amandelboom hou verband met die Hebreeuse woord vir “wakker”. Juis omdat die die Amandelboom van die eerste bome is wat in die lente sy bloeisels vertoon, is dit dus gepas dat hy die Wakkerboom genoem word.

‘n Paar jaar gelede kry ek met my verjaarsdag ‘n Amandelboompie as geskenk. Omdat ek weet dat ek nie onbepaald in die huis gaan aanbly nie, plant ek die boompie in ‘n groot pot. Een oggend sit ek op die stoep en en teedrink. Die winter het skaars begin om sy wyk te neem. Skielik val my oog op die boompie. Sowaar! Die eerste bloeisels sit aan die takkie. Ek gryp dadelik my kamera om dit vas te lê. My eie wakkerboompie.

In die 1990 film “Awakenings” word die verhaal vertel van ‘n neuroloog (vertolk deur Robin Williams) wat die effek van die middel L-Dopa ontdek. Wanneer hy dit toedien aan pasiente wat lank ‘n ‘n tipe koma was,  ontwaak hulle uit hierdie jarelange toestand van komatose. Dit voel soos ‘n nuwe lewe en  bring ‘n opgewondenheid onder almal. Ongelukkig duur die euforie nie lank nie, want die effek van die middel is nie blywend nie. Geleidelik sak die pasiënte weer een vir een terug in hulle vorige toestand.

Elke lente se Wakkerboom word weer later ‘n winterboom. Die bloeisels en blare verdwyn en die takke staan maar weer kaal. Tog is elke lente ‘n herinnering aan die belofte van ‘n “wakker” Skepper wat ook sy belofte om alles nuut te maak, gestand sal doen.

Elke lente bring ons nader aan die Paradysseisoen.

Vier daarom vandag die lente!