Archive for October, 2010

Drome

Saturday, October 23rd, 2010


Drome kan goeie vriende wees aldus Vicky Leandros se “Dreams are good friends”, maar soms kan drome vae skimme bly wat jou werklikheid moet versag maar nooit self werklikheid word nie.

 Onlangs vra ‘n kollega tydens ‘n diens -wat sou jy sê is die kosbaarste plek in ons stad? Verskillende mense antwoord verskillend hierop, maar dan verras hy deur te sê: Dis die begraafplaas, want dink net daaraan hoeveel kosbare drome lê nie hier begrawe nie.

Dis nogal ‘n skokkende besef – soveel mense leef met drome maar die drome bly onvervuld – dus maar net ‘n droom, ‘n hersenskim.

Die HAT omskryf drome as: Voorstellings wat op wense en verbeelding berus; lugkastele.

Daar is sekere liedjies wat ‘n hartseer verhaal vertel : So onthou ek ‘n 78 plaat wat ek as kind hier in die laat vyftigerjare geluister het – die plaat is eintlik gekoop vir die hartseer liedjie op die A-kant, maar ons as kinders het gedink die liedjie op die keersy was die treffer, want ons wou dit oor en oor luister. Ons het dit sommer ons “potte-en-panne” liedjie genoem want ons het soms potte en panne ingespan om die orkes te begelei! Maar as ons veronderstel was om buite te speel het my ma die plaat omgedraai en aandagtig geluister na die eintlike rede waarom hulle die plaat gekoop het – ‘n liedjie getiteld: “The ship that never sailed” Dit het die hartseer verhaal vertel van ‘n man wie se liefde vir sy beminde vir hom was soos ‘n boot wat hy liefdevol gebou het, maar voor die skip te water gelaat is het sy hom verlaat en die droomskip het nooit geseil nie.

I built a dreamboat to sail the sea
With you by my side when it sailed
Your eyes were the lights
That would guide my way
A love light that never failed

Your arms I fashioned in sails of white
Your kisses to keep breezes warm
And then I pictured your heart of gold
As an anchor in storm

(Sail away, sail away
Don’t wait until the dawn
Sail away, sail away)

It’s too late, too late
And you are gone
Now here on the shore
As I stand alone and watch
The moon that has paled

I’m left with nothing to call my own
But the ship that never sailed
(The ship that never sailed)

David Carroll And His Orchestra

Tydens verlede jaar se uitdunne van Brittain’s Got Talent, stap deelnemer no 1432 op die verhoog: ‘n sewe-en-veertigjarige muisvaal huisvroutjie met haar onversorgde grys hare, outydse kerkrok, donker sykouse en wit hoëhakskoene en ontlok ‘n gelag onder die toeskouers en selfs ‘n meerderwaardige: wat-soek-sy-op-die-verhoog kyk van die siniese beoordelaars. Sy is Susan Boyle en op ‘n vraag van die beoordelaars – wat is jou droom, antwoord sy pront: To sing like Elaine Paige. Dit ontlok ‘n meewarige gegiggel van die gehoorlede en opgetrekte wenkbroue van die beoordelaarspaneel.

Die oomblik toe die musiek begin speel en sy die eerste note van “I Dreamed a dream” (uit Les Misrables) sing, verskyn ‘n uitdrukking van ongeloof en verbasing op die gehoor en beoordelaars se gesigte. Sy sing dit so mooi en met gevoel, dat dit klink of die liedjie vir haar geskryf is. Uiteindelik verwerf sy die tweede plek in die landswye kompetisie en begin haar internasionale sangloopbaan op die vooraand van haar vyftigste verjaarsdag. Die lied wat sy gesing het is heel gepas:

I dreamed a dream in time gone by
When hope was high and life worth living
I dreamed that love would never die
I dreamed that God would be forgiving

Then I was young and unafraid
And dreams were made and used and wasted
There was no ransom to be paid
No song unsung, no wine untasted

Uiteindelik vertel die liedjie ook van die hartseer van ‘n droom wat gesterf het:

But the tigers come at night
With their voices soft as thunder
As they turn your hope apart
As they turn your dreams to shame

And still I dream he’d come to me
That we would live the years together
But there are dreams that cannot be
And there are storms we cannot weather

I had a dream my life would be
So different from the hell I’m living
So different now from what it seemed
Now life has killed the dream I dreamed

Dit bly seker een van die grootste tragedies in die lewe. Nie dat mense sterf nie, maar dat hulle drome sterf. En so ook hulle gees.
In die treffende liedjie van Cat Stevens, Father and Son, gee ‘n pa raad aan sy seun oor die lewe en drome:

It’s now time to make a change,
Just relax, take it easy.
You’re still young, that’s your fault,
There’s so much you have to know.
Find a girl, settle down,
If you want you can marry.
Look at me, I am old, but I’m happy.

I was once like you are now, and I know that it’s not easy,
To be calm when you’ve found something going on.
But take your time, think a lot,
Why, think of everything you’ve got.
For you will still be here tomorrow, but your dreams may not.

Dit bly die hartseer waarheid. Jy mag dalk bly leef, maar jou drome kan tot niet gaan.

Toe ek veertien jaar oud was het ek ‘n wenslysie met veertig items opgestel. In die lysie  was my drome vir die toekoms saamgevat. Van die drome het (en sal) ek nooit behaal nie, bv. om die 800m in onder 2min te hardloop. Tog was daar baie drome wat ek gedink het net drome sou bly, wat tog bewaarheid is, bv. om oorsee te reis, veral op ‘n sneeupiek in Switserland te staan. Dit kon ek genadiglik doen. Ook drome soos: Om die Bybel van voor tot agter deur te lees het ek nog as veertienjarige verwesentlik. Sommige drome het my egter bly ontwyk: Om ‘n kortverhaal te skryf en te publiseer, om ‘n nuwe taal aan te leer,’n kruik van klei te maak en self te versier, foto’s te neem in in ‘n galery uit te stal, om my eie huis te besit en die groot droom: om eendag gelukkig getroud te wees.

Die drome het ek gedink sou net drome bly. Ses jaar gelede ontdek die wenslysie wat ek in 1968 opgestel het. En steeds kon ek baie wense nie met ‘n regmerkie afmerk nie. Ja ek was vyftig jaar oud en in ‘n beroep waar ek ‘n verskil in mense se lewens kon maak. Ek het al heelwat gereis en interessante plekke gesien. Tog was daar sekere belangrike mylpale wat ek nie bereik het nie. Ek was steeds ongetroud, ongepubliseer en het ‘n behoefte gehad aan ‘n kreatiwiteit. En boonop was ek siek, reeds ‘n jaar met kanker gedagnoseer. My wenslysie sou nou my “bucket list” moes word!

Vroeër vanjaar kyk ek weer na my lysie. Besef ineens dat soveel van die ongemerkte items nou ‘n merkie het. Ja, ek kan nog steeds nie die 800m in onder 2 minute hardloop nie. (Dalk loop in 20min!) en ek kan steeds nie Frans praat nie. Tog is ek op soveel ander maniere geseën. Ek het vir my reisgenoot ‘n kleikruik gemaak met ‘n Hebreeuse teks daarop. Met die opening van die galery op Philippolis kon ek van my foto’s uitstal. Ek kon ook artikels en kortverhale skryf. Gaan Backpack vir ‘n maand in Europa, tweekeer ‘n toer na Turkye meemaak. Op Paulus se voetspore loop. Op ‘n Griekse eiland in winkeltjies snuffel, Veral is ek dankbaar vir die helder herfsdag in Clarens toe ek en my Reisgenoot lewensmaats geword het. Die groot regmerkie kon ek afmerk.

Einde September vanjaar kuier my Reisgenoot en ek vir ‘n week in ons Hartjiehortjie Huisie op Philippolis. Terwyl ek daar by die greinhout tafel sit en Pekanneute uitdop wat ek sopas van ons eie boom in ons eie tuin gepluk het, besef ek net hoe geseënd ons is. En hoeveel merkies op my lysie die afgelope ses jaar bygekom het. Ervaar ek “welgeluksaligheid”. En voltooiingsvreugde. Besef ek net weer die waarheid van Psalm 1 vs 1-3 (OV)wat ek ook as veertienjarige ontdek het:

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose nie…maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. 

Drome (wense) kan waar word. Die Droomgewer sorg daarvoor.

Vreugde!

Monday, October 18th, 2010

Ons is by Oktober se halfpadmerk – volgens C Louis Leipoldt die mooiste mooiste maand soos hy dit besing in sy gedig “Oktobermaand”
Dit is die maand Oktober,
                       die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
                       so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
                       die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
                       die asvaal ou Karoo.

Dit is ‘n tyd van die jaar dat mens sou verwag om meer vreugde op mense se gesigte waar te neem – ‘n strawwe winter is immers pas agter die rug en die natuur verras met nuwe kleure en geure. Tog is dit soms die tyd dat mens juis bewus word van jou eie gebrek aan vreugde en lewensblydskap. Daarom het hierdie groot plakkaat wat in Menlyn winkelsentrum opgeplak was my so getref: “Joy!”

In ‘n Peanuts-strokiesprent  vra Lucy: “ Waarom dink jy is jy op aarde geplaas, Charlie Brown?”

Charlie  antwoord: “Om ander gelukkig te maak.”

Daarop sê Lucy: “Ek dink nie ek maak iemand gelukkig nie… Natuurlik maak niemand my ook besonder gelukkig nie…”

En dan, in die laaste prentjie, skreeu Lucy kliphard: “Iemand doen nie sy werk nie!!”

Dikwels doen ons die Lucy-ding: ons soek die skuld vir dit wat ons ongelukkig maak in omstandighede en ander mense maar nie in onsself nie. Dis een van die grootste lewenslesse wat mens op die oop-oog reis leer: Om nie jou vreugde afhanklik te maak van ander en van wisselende omstandighede nie, maar om ‘n diep innerlike bron van vreugde te hê wat onlosmaaklik gekoppel is aan die Bron. (Fil 4:4 Verbly jou in die Here, ek herhaal, verbly jou!”)

Die afgelope week was ons oogetuies via CNN en die nuus van die dramatiese redding van die die drie-en-dertig vasgekeerde myners in die San Jose-myn  in Chili.

Wat mens opgeval het was die suiwer vreugde op die gesigte van die gereddenes, die familie, die reddingspan, selfs die Eerste Minister. Daar was nie vrae, verwyte en beskuldigings nie. net egte onvervalste vreugde!

Dit was asof die nege-en-sestig dae in hulle afsonderingskelder hulle weer duideliker laat sien het wat werklik belangrik is – die mense wat jou lewe verryk en jou as mens versterk: vrou, kinders, ouers, broers, susters, ander familie en vriende. Voor die werklikheid van die Groot Skeiding raak soveel dinge onbelangrik en word die belangrike dinge wat soms vergeet word, weer in hul regmatige posisie herstel. Word God se Teenwoordigheid en beskikking weer onmisbaar.

In daardie eerste omhelsing nadat die mynwerker uit die Feniks 2 kapsule geklim het lê al die blydskap, verlange en versugtinge van sewe weke opgesluit.

Dalk is dit juis goed dat ons soms afstand inneem – bietjie van buite kyk na dit wat ons so vanselfsprekend aanvaar – geliefdes, gesondheid en die gawe van die lewe. Want as daar die gevaar bestaan dat dit van jou weggeneem kan word, juis dan besef jy hoe kosbaar dit is.

Dit sal interessant wees om te hoor wat die bevryde mynwerkers vorentoe sê oor die keerpunt in hulle lewens, maar ‘n mens kan nie maar net met jou lewe aangaan asof niks gebeur het nie, na so ingrypende gebeurtenis nie. Ons een Professor op Universiteit het ons altyd herinner: “Menere ‘n mens is nie ‘n stuk polonie nie! Jy het die vermoë om te leer uit wat met jou gebeur en ‘n beter mens te word.”

As  kind het ek soms saam met my ma geluister geluister na  een van haar gunstelingliedjies: “The Bluebird of Happiness” gesing deur Jan Peerce. Die liedjie het altyd ‘n heimwee by haar ontketen en het ‘n diep indruk op my nagelaat:

  Bluebird of happiness


The beggar man and his mighty king are only
diff’rent in name,
For they are treated just the same by fate.
Today a smile and tomorrow tears,
We’re never sure what’s in store,
So learn your lesson before too late, so

 Be like I, hold your head up high,
Till you find a bluebird of happiness.
You will find greater peace of mind
Knowing there’s a bluebird of happiness.
And when he sings to you,
Though you’re deep in blue,
You will see a ray of light creep through,
And so remember this, life is no abyss,
Somewhere there’s a bluebird of happiness.

Die soektog na geluk en blydskap word ook mooi uitgebeeld in die film “The Pursuit of Happyness” (2006). Die film is gebaseer is op die ware verhaal van Chris Gardner.  In die film word die rol  van Chris vertolk deur Will Smith. Hy gebruik die gesin se spaargeld om te belê in masjiene wat gebruik word in beenskandering. Hy verloor die spaargeld want hy kry nie die masjiene verkoop nie. In die proses verlaat sy  vrou hom en moet hy die versorging van Christopher,sy kleuterseun, waarneem.  Hy verloor ook hulle blyplek en hulle is aangewese op plekke wat oornagverblyf aan straatmense verskaf. Een aand is hy en sy seun se enigste keuse om in ‘n stasietoilet te oornag. Hy maak die verblyf draaglik deur aan sy seun ‘n verhaal te vertel. So leer hulle om in die klein dingetjies vreugde te vind. Selfs die verkeerde spelling, Happyness op ‘n winkelvenster (i,p.v Happiness)gee aanleiding tot ‘n belangrike gesprek tussen pa en seun en ontleen aan die fliek sy titel. Uiteindelik kry die pa wel ‘n werk by makelaars en kan hy weer sorg vir hom en sy seun, maar nou het hulle die werklike waarde waarde van  dinge geleer raaksien. Dis uiteindelik nie geld wat geluk koop nie, maar kosbare verhoudings wat geluk moontlik maak.

Dit sou die drie-en-dertig mynwerkers heelhartig beaam. Die ontwykende “bluebird of happiness” is veel nader aan ons as wat ons besef.

Die krag van onthou

Monday, October 11th, 2010

Memories, light the corners of my mind
Misty watercolor memories of the way we were.
Scattered pictures of the smiles we left behind
smiles we give to one another
for the way we were.

Die vers uit Barbra Streisand se liedjie “The way we were”  vertel van onthou wat soos ‘n waterverfskildery die verhaal van mens se lewe vertel.

Om te kan onthou is ‘n rykdom wat mens eers waardeer as jy begin vergeet. Of besef dat die brein soms vanweë verkeie redes (soos beroerte, beserings) sy vermoë om te onthou, kan verloor.

Johan Cilliers vertel die verhaal van die Reisiger sonder bagasie (geskryf deur die dramaturg Anouilh) in een van sy boeke:

” ’n Jong soldaat word tydens ’n oorlog deur ’n koeël in die kop getref en verloor sy geheue geheel en al. Hy kan nie sy naam onthou nie, weet nie wie sy ouers of waar sy tuisdorp is nie—hy word ’n geskiedenislose, identiteitslose man. Ná die oorlog word ’n poging aangewend om sy naasbestaandes deur middel van die radio en die pers op te spoor. ’n Hele aantal families doen navraag en daar word reëlings getref dat die jong man van familie tot familie sou reis, in die hoop dat daar ’n herkenning en herinnering sou plaasvind. Só reis die jong man sonder verlede, sonder die bagasie van gister, toe voort—net om keer op keer teleurgestel verder te moet reis. Tot op ’n dag dat hy by ’n huis instap en die gesin uit een mond uitroep: Dis mos ons seun! Ons broer! Dié herkenning is egter nie wedersyds nie. Hy staar hulle met onbegrip aan, staan soos ’n vreemdeling tussen vreemdes … 

Die familie konfronteer hom toe met pynlike ervarings uit sy jeugjare in ’n poging om hom tot herinnering te skok. Hulle neem hom na ’n gevaarlike wenteltrap waar hy as jong seun in ’n woedebui ’n maat afgestamp en dié sy nek en ledemate gebreek het. Hy skud sy kop: “Ek kan nie onthou nie … ” Die diensmeisie neem hom eenkant en vra met trane in haar oë of hy dan die leed wat hy haar aangedoen het, heeltemal vergeet het? Hy skud sy kop: “ Ek kan nie onthou nie … ” Só gaan dit aan, sonder sukses.

Toe onthou iemand die geboortevlek aan sy liggaam, iets waarvan tog net sy familie sou weet. Die oomblik toe hy in die spieël die geboortevlek sien, keer sy geheue plotseling terug. Toe onthou hy: Ek was geen engel nie. Sy verlede, met al die sonde en skuld daarvan, doem só grotesk voor hom op dat dit dreig om hom te oorweldig. Toe besluit hy om toneel te speel, om die feit dat hy sy geheue herwin het, te verswyg. Teen die wense van sy familie in, sit hy die volgende dag sy reis voort …

Die volgende familie by wie hy aanklop, benodig om die een of ander rede ’n manlike erfgenaam. Hy kom met hulle ooreen: hy sou hom voordoen as hulle seun, en hulle sou hulle voordoen as sy ouers. Dit het hy gedoen nie ter wille van die erfenis nie, maar om tog net ’n nuwe begin te maak, tog net ’n skoon blaadjie om te slaan, tog net sy skuldbelade geskiedenis by sy ware familie agter te laat—soos ’n vergete tas op ’n verlate perron.”

Soms is onthou te pynlik en dan word dit uitgeblok. Amnesia word die brein se veiligheidsmaatreel. Maar hoe sleg is dit om heeltemal verledeloos te wees, al klink dit soms so aanloklik.

Elkeen van ons het séér onthou-oomblikke wat ons liewer wil vergeet – die jeugdige onbesonnenheid, die pynlike gebroke hart na ‘n mislukte eerste liefde, daardie onbedagsame opmerking waarmee jy iemand as’t ware met ‘n dolk in die hart gesteek het, daardie versuimde dankie…. en tog as mens moes kies om jou brein soos ‘n lei te kon skoonvee dat jy ‘n tabula rasa begin kan maak, sou jy? Wat dan van al die goeie onthou?

Daardie kosbare kleintyd herinnering aan die koestering van ‘n oupa/ouma of pa/ma? Wat van daardie eerste vreugde van iets wat ‘n groot indruk op jou gemaak het? Musiek, smake, ‘n gevoel van blydskap oor die lewe? Wat van jou eerste ervaring van verliefdheid/liefde?

In die 2004 film “The eternal sunshine of the spotless mind” word juis hierdie vrae gevra. Die verhaal handel oor oor die teruggetrokke Joel Barish (Jim Carrey) en die spontane Clementine Kruczynski (Kate Winslet) wat op ‘n trein ontmoet.

Wat nie een van hulle besef nie is dat hulle mekaar reeds ontmoet het en in ‘n vaste verhouding was, twee jaar gelede. Na ‘n hewige uitval het Clementine die New Yorkse firma: “Lacuna, Bpk” gekry om om al haar herinneringe oor hulle verhouding uit te wis. (Lacuna beteken gaping of ontbrekende deel).  Toe Joel met ‘n skok ontdek dat sy al hulle herinneringe uit haar brein laat wis het, ondergaan hy dieselfde prosedure. Die vraag is egter of hulle nou weer voor kan begin en die keer ‘n suksesvolle verhouding (en nuwe herinneringe) opbou?

Die titel van die film kom uit ‘n gedig van Alexander Pope en is geneem uit die woorde wat Eloisa aan Abelard rig:

How happy is the blameless vestal’s lot!
The world forgetting, by the world forgot.
Eternal sunshine of the spotless mind!
Each pray’r accepted, and each wish resign’d;
Labour and rest, that equal periods keep…

Die afgelope paar weke is gevul met soveel goeie onthou-oomblikke dat ek net weer besef hoe arm mens sal wees sonder jou geheuefilmpie…

In September woon my Reisgenoot en ek die huwelik  van my oudste suster se jongste dogter by. Ek moet die bevestiging waarneem. Dit word gehou op die mooi huwelik- en onthaalplek: Memoire. Die naam noop mens  om te besef dat hier nuwe, onthoubare herinneringe geskep word. Nie verniet staan daar onder die pleknaam, Memoire die woorde: “where every moment is a memory”, geskryf nie. Hier kan goeie nuwe verhale en herinneringe geskep word.

Die diens vind plaas in ‘n skldermooi kerkie tussen ‘n woud van bome. Reg rondom die kerkie is vensters wat die natuur binnenooi. Dis paradysmooi. Toe die bruid aan die hand van haar Ma die paadjie afstap met vioolbegeleiding voel die prentjie byna volmaak. Die paartjie soen mekaar met die ontmoetslag en kom staan voor die kansel met ‘n intense bewussyn van die plegtige oomblik.

Dit word die begin van ‘n reis – die “ek en ek” wat nou die “Ons-reis aanpak – die verste (maar wonderlikste reis) van een mens na ‘n ander.

Toe die seën oor die paartjie uitgespreek word, en hulle met die mooi lied “I’ll walk with God” toegesing word, is daar net so diep bewussyn van die Teenwoordigheid van die Almagtige wat ook hulle sal begelei op hierdie nuwe reispad. Hy sal hulle help om die foto-album van mooi onthou’s te versamel en ook Hy sal sorg dat die donker van toets-oomblikke nie allesoorheersend sal wees nie.

Reis mooi op hierdie pad, Marcel en Alda en onthou dat julle altyd onthou word, veral deur Hom wat gesê het:

Die Here is die almagtige God, die Here sal onthou. (Hos 12:6)

 
 
 

 

Kerslig, vers en sterreprag

Monday, October 4th, 2010

Soms moet ‘n mens net ver wegkom van alles wat woelig, oorweldigend, irriterend en dreinerend is. “Far from the madding crowd” aldus Thomas Hardy.

Ons ontvlug toe vir ‘n week. My Reisgenoot en ek vat die pad Suidwaarts. Eers die N1 verby Bloemfontein en Edenburg. Ons swenk weg by Trompsburg op die R717. Dadelik voel ons die vryheid. Dis weliswaar ‘n smaller paadjie, maar baie stil en heel rybaar. Ons kyk na die verkleurende rantjies, die wisselende veld, die skape en selfs enkele wildsbokke. Die aantal windpompe staan soos verwelkomende uitroeptekens op die landskap. Dis onmiskenbaar karoo, al is ons nog duskant die Oranjerivier.

Met Coenie de Villiers se Kringe om die maan in die CD speler, sing ons lustig  saam en sien ons die lirieke voor ons oë afspeel:

Dis ‘n wêreld wat nog rou is
wat ‘n mens nog in kan glo
Die paaie hier loop reguit
en die mense wat hier woon
ken die hitte van die somer
weet hoe reën jou kan beloon

Al ry jy dalk net hier verby
daar’s iets wat in jou agterbly
En maak dat jy vir altyd hier kan bly

Ja die kring om die maan
word nog more se wind
as jy jou hart verloor
in die Karoo sal jy hom vind;
want waar jy ookal gaan
dra jy dié wêreld met jou saam
ja, die wind oor die Karoo
was die kring om die maan

Daar is min om hier te sien
maar daar is veel om te onthou
daar’s die breedte van die vlakte
daar’s die randjiesveld se blou
Waar ‘n arend stadig wentel
bo sy onbekende prooi
kry ‘n vaalbos skielik kleur
en word die berge vir jou mooi…

Toe ons byna op die dorpie se drumpel is, speel ons ons ou speletjie – wie sien die kerktoring eerste? My Reisgenoot het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel en dié keer roep sy nog voor ons by die groepie bome verby is”Daar’s hy!” Asof op bestelling verskyn eers die hele dakkie, toe die wit toring en dan die hele kerkgebou. Op ‘n wit muurtjie verwelkom die letters ons:

PHILIPPOLIS

Ons ry eers deur die dorpie om vinnig te sien wat verander het sedert ons vorige besoek. Toe ons regs in die dwarsstraat by die winkel opdraai roep ons gelyk: “Die Spookhuis!”  Die bouvallige huisie op die hoek van Tobie Mullerstraat is reeds vyf-en-dertig jaar onbewoon. Verval het mettertyd ingetree, die afgeskilferde (eens) wit mure en geroeste rooi dak veg dapper om iets van die vroeëre sjarme van die huisie oor te dra. Tog vandag is dit anders! Die huisie is liefdevol gerestoureer en verwers is besig om die buitemure  in room en wit te verander. Die rame en en deure is herstel. ‘n Reuse verandering. Ons lag ingenome oor die transformasie.

 Toe ons voor die  plaashek aan ons huisie se agterkant stop, sien ons dat ons wegvlughuisie swaar gekry het in die twee maande sedert ons laaste besoek. Die tuintjie is verwaarloos en van die bome en plante se nuwe groei is yl a.g.v. ‘n gebrek aan water. Ons ry na binne en maak weer die plaashek toe. Ons is tuis. Asof om dit te bevestig slaan die kerkklok vyf afgemete slae.

Toe ons die kombuisdeur oopstoot en deur die huisie stap voel ons dit dadelik die vergewensgesinde, verwelkomende hartlikheid van die huisie wat soos ‘n donskombers om ons vou. Ons Asemhaalhuis. Trooshuis. Heelwordhuis. Dis Saterdag. ‘n Week se huis- en tuinterapie lê voor.

Sondagoggend is ons voor die derde gelui in die mooie ou kerkgebou. Ons ken heelwat van die mense wat vergader vir die diens. Die gewyde orrelmusiek  vul die gebou. ‘n Innige vrede neem van ons besit.

Die boodskap van die Dominee uit Joh 14 tref die kol: “As julle my liefhet, sal julle My opdragte uitvoer.”

Na die diens staan ons buite die kerk en gesels. Ons word uitgenooi na ‘n Uys Krige-aand op Waterkloof, die nedersettinkie (tans nie meer bewoon) buite Philippolis. In die gerestoureerde kerkie gaan die voorlesings en woordreis wees. Daarna is dit visbraai in die gerestoureerde poskantoor/handelshuis. Ons stem gretig in.

Dit word ‘n week van tuinbedrywighede – ek snoei en my Reisgenoot ruim op. Ek gooi nat en sy maak die takke en blare bymekaar. Tot sewe-en-twintig swart sakkke teen die agterhek opgestapel  lê. Ook die stukkende staaldeur van die ou stal word afgehaal.

Uiteindelik kry ons ook ‘n tuinhulp wat hand bysit en ons ry die vuilgoed en swart sakke ashoop toe. Die keerwalle om die bome is netjies en vertel van ‘n sorgsame hand. Die plante en bome drink die water in. Ons tel – twaalf soorte vrugtebome groei in die klein erfie, o.a. Amandels,perskes, lemoene, pekanneute, turksvye en appelkose. Kanaansvrugte ook – druiwe, granate en vye. Ons is geseënd met soveel oorvloed.

Donderdagaand breek aan. Dis effe bewolk, tog toe ons die vyf kilometer na Waterkloof aandurf, trek dit oop. Van ver sien ons die handelshuis en die wit kerkie. Dit word ‘n heerlike kuieraand. Die vure, waarop die vis gebraai gaan gaan word, vlam reeds op. Kabeljou, onbevrore en vars uit die Kaap is op die spyskaart!  Dis tyd vir die voorlesings om te begin. Ons stap almal oor na die kerkie. Dis nagdonker – net die sterre is gestrooi oor die hemelruim. ‘n Aand van verwondering. Die verwondering groei toe ons die eenvoudige kerkie binnestap. Die enigste versiering is ‘n kunstige, handgemaakte houtkruis.  Kerse dien as beligting. Die aand word met gebed geopen. Die gasvrou verduidelik die rede vir die aand. Dit is honderd jaar sedert Uys Krige se geboorte op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof naby Swellendam. Daarom word vanaand ‘n woordreis deur sy lewe onderneem, aangevul met voorlesings uit sy gedigte en ook ‘n kort uittreksel uit “Die ryk weduwee”.

Dit word ‘n aand gevul met kerslig, vers en woordmusiek. ‘n Innige aand. Die dertigstuks mense in die kerkie luister waarderend en aandagtig. Bevestig hulle instemming met applous. Toe die laaste woord gelees is, is almal huiwerig om op te staan en so die magiese stemming te verbreek. Tog syfer die gaste later stadig uit, nog diep onder die indruk van die woorde en die krag van woordskepping. Hulle stap met fluistergesprekke na die eetplek onder die koepel van die sterbesaaide hemel.

Die ete is ‘n feesmaal. Kabeljou het nog nooit presies so lekker gesmaak nie. Varsgebakte brood, botter en korrelkonfyt en slaai vul die hoofgereg aan. Wyn wat die ete komplimenteer. Interessante tafelgenote se gesprekstemas strek wyd.

Vir nagereg is daar lemoensoetjies en moerkoffie, geskink uit die blou enemelkan.

Vir oulaas word daar gesels en dankie gesê. Almal is dit eens dat dit ‘n feesaand was wat net daar, onder die seënende koepel van Philippolis se naghemel en uitspansel kon gebeur.

Coenie was sowaar reg:

As jy jou hart verloor in die karoo

sal jy hom vind…