Archive for September, 2011

Ou Spore, Nuwe Spore

Tuesday, September 27th, 2011

In my tweede jaar op die PUK het die karnavalkoors almal beetgepak. Selfs die waardige Totius het daaronder gely, of ten minste sy standbeeld. Die oggend toe ek verby die standbeeld van die eerbiedwaardige dominee, digter-skrywer ry, moes  ek stop en eers kyk. In die nag het ‘n ‘n paar ondernemende studente ‘n blik geel verf geneem en ‘n ry netjiese voetspore geverf wat van die standbeeld loop na die winkel op die hoek. Die Drankwinkel. Die ry geel voetspore wat van die Drankwinkel na die monument teruggeloop het, was oneweredig en het met ‘n wye kronkelpad geloop, behoorlik vier rye spore. Ek kon nie help om te lag vir dié oorspronklike stukkie studentepret nie.

Die afgelope naweek tydens ons veertigjarige Matriekreünie het ek weer gewonder oor die voetspore wat mens nalaat. Eers het ek die Vrydagaand gewens ek het ‘n reuse flikkerbord wat wys hoe die onderskeie stippeltjies van die persone oppad na die reünie in Klerksdorp al hoe nader aan die skool kom.

Saterdagoggend het ons die reünie afgeskop deur ‘n boom op die skoolterrein te plant. Hannies en Leentjie het die boom simbolies namens die matrieks 1971 geplant. Tydens die besigtigingstoer van die skool en koshuise het ek gewens ek kon sien hoe elkeen van ons se voetspore van veertig jaar gelede kruis en dwars oor die skoolterrein lê. Daardie nabystaan voetspore as jy en jou skoolkys iewers op die skoolgrond staan en gesels tydens pouses. Daardie trae voetspore as jy stap na die klas van die onnie wie se huiswerk jy nie gedoen het nie. Daardie opgewonde voetstappe na die skoolhek toe aan die einde van ‘n kwartaal.

Oral oor die skoolgronde lê ons voetspore van veertig jaar gelede versprei. Dit was deel van die lekker van die naweek – die onthou van insidente uit daardie jare. Die seuns wat in die koshuis gebly het, vertel van hulle kattekwaad en onthou-oomblikke. Hoe die onderskeie broers wat mekaar opvolg in die koshuis, verwante name kry: Caltex, BP, Boron. Patrys, Fisant en Tarentaal. Tog vreemd hoe al die voetspore tot stilstand kom in die ou skoolsaal (nou ‘n gimastieksaal) en sê: Hier het ons die Matriekeksamen geskryf. Geswoeg en gesweet met die Meetkunde, Biologie  en Skeinat vraestelle. Tog is die saal ook die plek waar ons kort tevore ons Matriekafskeid gevier het.

Voetspore getrap met dienlike skoolskoene. Voetspore wat  op 3 Desember 1971 na die laaste vraestel grootliks uiteengespat het.

Juis daarom die vreemde ervaring om met nuwe (volwasse) skoene nou op die bekende grond te trap. Om die  verslete trap in die hoofgebou  na Struis (Mnr. Esterhuizen) se hoekklaskamer met sy magdom herinneringe te klim.  Hier waar Struis met sy  groep matrieks deur die “Sterwende Aarde’ as voorgeskrewe boeke geworstel het. Ook die Moderne Nederlandse kortverhale behandel het soos:”Wat gebeurde met Sersant Massuro?” en “De zoon van Fokje Wallinga”.

Tog is dit ook hier waar baie petaljes afgespeel het. Cornel wat “gedare” was om duimspykers op Struis se stoel te sit en Struis wat juis die dag nie gaan sit op die stoel nie en sy voet op die stoel sit terwyl hy oor die kuns van gedigte praat en en so terloops opmerk dat ‘n gedig een waarheid wil oordra, nes “die skerp punt van die duimspykers op my stoel” en nog in die selfde asem”Cornel kom vat hierdie duimspykers weg!”

                         

Daar is ‘n magdom stories oor Struis. Ook hoe hy die meisies wat sag gepraat het as hulle antwoord na die fonteintjie onder in die middel van die Vierkant gestuur het vanwaar hulle dan sy vrae moes antwoord. Of die dag toe hy die onkunde met ‘n riel in sy klas vertrap het. Soveel stories wat met groot geesdrif vertel word. Tog die deurlopende opmerking: “Hy het my ‘n liefde vir die Afrikaanse taal gegee” en “Hy het ‘n passie vir die taal gehad en dit aan ons oorgedra.”

 

 Van Struis se klaskamer (wat nou dien as kantoor van die Adjunk-hoof), is ons weer met die trappe af na die Andries Terblanche Mesisieskoshuis waar daar verder gekuier is. Daar is gesels, gesels, gesels. Gelag. Gesels. Gekuier. Kort-kort het ‘n opgewonde gil opgeklink as ‘n nuwe aankomeling by die deur aangekom het. Die gesels wou nie opdroog nie, ook nie na die heerlike spitbraai o.l.v. Andries en Santie nie. Niemand wou iets misloop nie.

Later die aand het Gerald ons op ‘n nostalgiese reis geneem met fotos uit 1971 en vroeër. Kort-kort is gevra – wie is die of daai nou weer. Of opmerkings soos “Ag moeder maar jy was darem maar klein!”

Aan die einde van die skoolfotos’s het ons na die nuwe foto’s  gekyk wat die dag geneem is deur Cornel en andere. Skielik het die ou en nuwe spore inmekaargeloop.

Ons het ook nuwe spore op die skoolterrein getrap. Ons het ook spore in mekaar se lewens getrap – goeie hartspore van omgee en belangstelling.

Sondagoggend het ons afgesluit met ‘n erediens en saam bely dat ons ten diepste die pad tot hier kon loop a.g.v. die  Getroue en Genadige Vader wat saam met ons die pad geloop het – Thomas het ons liturgies begelei en Jan-Pine het ons herinner dat hoe ons God sien ook ons verhouding met hom bepaal.

Uiteindelik was dit groettyd. Onwillig is afskeid geneem.  Laaste goeie wense en adresse uitgeruil. Toe het die groep elk weer die pad aangedurf na hul eie blyplek.

Voetspore wat weer uiteenloop soos veertig jaar gelede. En tog ook nie. Want daar is ‘n band gesmee. ‘n Wete – ons het help vorm aan mekaar se lewens. Vorentoe sal ons as die klas van ’71 steeds nuwe spore trap. Die naweek het ons treë versterk…

 Chris de Burgh se liedjie Footsteps eggo die waarheid:

And from that moment,
I dreamed I could fly,
And from that mountain I reached for the sky;

Through tears and good times, I found my way;
Those years are calling me again;

Then I hear footsteps echoing along the winding road,
I can hear voices singing all the songs I have known,
And I see faces,
All the ones I’ve loved along the way,
People and places,
They’re here again, they’re here again…

Voices……
Voices……
Faces…
Places……

                              

‘n Swaeltjiejaar

Wednesday, September 14th, 2011

 

                     

“Die wonderlikste ding het gebeur!”  Tannie Susan se helder blou oë blink van opgewondenheid “My swaeltjies het gister teruggekom!” Sy vertel verder: ” Gister sit ek op die stoep en kyk na die lenteblomme in die tuin. Skielik is daar ‘n beweging – die volgende oomblik swiep my swaeltjie by my verby en gaan presies by die tonneltjie van sy moddernes in. So asof hy glad nie vir ‘n paar maande weg was nie. Hoe die kleine voëltjie met so piepklein breintjie die ingewikkelde navigasie oor die see tot in sy huisie van laasjaar uitvoer, gaan my verstand te bowe. Dit bly vir my ‘n wonderwerk!”

Ons het pas nagmaal gevier in die ou historiese kerkgebou in Philippolis en is nog so bewus van die genadebrood en wyn wat daar uitgedeel is. “Die swaeltjie se terugkeer bly vir my net so groot genade en wonderwerk soos dit waarvan ons vanoggend in die diens gehoor het – ‘n sorgsame Vader wat weet wat ons nodig het. Die swaeltjies se terugkompreek praat met my”, sê sy terwyl haar oë ‘n effense traanblinkigheid vertoon.

Tannie Susan is reg – die eenvoud van ‘n swaeltjie se terugkeer na sy nessie is ‘n hele preek op sy eie.  Die swaeltjie word meermale i die Bybel tog by name genoem:

“Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op ’n vaste tyd terug….” (Jer 8:7) en ook in Ps 84:4:”Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!  Hoekom sal so eenvoudige voëltjie dan nie met ons kan praat oor God se tydberekening en voorsiening nie?

Die oggend van 12 November 2007 sit ons in die tuin voor die Louis Pasteur hospitaal in Bloemfontein. Dit is boet Ewald se eerste dag buite na sy ernstige ongeluk ses weke vantevore. Ons het hom in ‘n rolstoelstoel na buite gestoot sodat hy iets van die weldadigheid van die somerson op sy vel kan voel. Hy kyk om hom rond, baie bewus van die voëlgeluide wat die oggend vul.

“Ons moet vir die Son-charger vra waar al die swaeltjies vanjaar uitbroei, want dis ‘n swaeltjiejaar,” sê hy terwyl hy fronsend in die son sit en sy oë half toeknyp teen die oordaad van lig wat skyn. Sy hare is grys gestippel. Deur die kort hare is daar letsels op sy kopvel sigbaar. Tog herinner hy ons aan die genade van ‘n swaeltjiejaar.

‘n Swaeltjiejaar is ‘n genadejaar. ‘n Bewus-wees-van-oorvloed-jaar.

Soms stuur die Vader selfs ‘n swaeltjiekoor om ons daaraan te herinner: In my joernaal sien ek die volgende inskrywing by die datum 17 Desember 2009:

‘n Swaeltjiekoor dag

 “ Vanoggend lees ons die gedeelte uit ons dagstukkie  boek: –IL de Villiers haal Ps 78 aan:

Maar Hy bly genadig. Hy vergewe sonde. Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie. (Ps 78:38,39)

Izak vertel nav van die gedeelte van ‘n God wat genadig bly. Hy lig dit toe met die vertelling oor die toe hy(Izak) in Geneve voor die muur van die Hervorming gaan staan het, te midde van die kwaai sneeuval wat die stad getref het. Terwyl hy so voor die reuse standbeelde staan van Calvyn, Farrel, Beza en Zwingli staan, gaan daar baie gedagtes deur sy kop. Almal mense wat help vorm het aan dit wat ons as gereformeerdes glo, maar tog ook feilbare mense – wind wat verbywaai en nie terugkom nie.

 Dit word ‘n vreemde dag op Philippolis, maar tog lekker. Ons bly besig met allerlei takies in en om die huis. Ons koop verf by Kooperasie. Ek skuur af en Lynette verf. Die kombuiskaste en -deur word getakel – die vuil roomkleur word ‘n helder wit. Laatmiddag gaan stap ons deur die dorp. Kyk na veranderinge/verbeteringe en insinkings. Stap ook by Antie Emily restaurant verby en loer na binne. Die tafeltjies is mooi gedek en daar’s blomme in ‘n bak. Die “pub” deel van die uithangbord is afgekrap. Ons ontmoet een van die huidige vennote wat die plek huur. Sy vertel van hulle werk en planne.

 Enersyds is dit goed om te sien dat daar weer lewe in die eetplek is en andersyds beklemtoon dit weer Ewald se afwesigheid. Ons stap terug huis toe en ek voel so diep melankolie oor my toesak. Voel so holkol verlange na Ewald. Ek mis hom en sy entoesiasme vir die winkel, die bakkery, die Coffee Shop en die dorp. Dit voel leeg en futloos sonder hom. Kom tuis en sit bietjie op die stoep terwyl Lynette die kaste en deur nog ‘n verflaag gee. Sien hoe blou die lug is en die mooi wolkpatrone. Merk ook op hoe die swaeltjies en ander voëltjies hulle tuismaak op die verskillende telefoondrade. Daar is vier drade en in my kop vorm die drade ‘n notebalk. Die sit van die voeltjies op die verskillende “notebalk”-drade vorm ‘n eie wysie, wat ek my kan verbeel ek hoor. ‘n Bemoedigende swaeltjiekoor.

 Ek dink weer aan Ewald se opmerking die dag by Pasteur-hospitaal: “Dis vanjaar ‘n swaeltjiejaar,” het hy duidelik verklaar.

Ineens is daar ‘n vreemde kalmte in my binneste. Die Swaeltjievader sorg steeds, vir Ewald, vir ons, vir die dorp en vir sy skepping.

Kort na die groot gebeurtenis van die eeuwending (Oktober 2000)  beleef ek so tyd van oorlewing. Ek is steeds enkellopend, nou ook alleen in die gemeente nadat my kollega met wie ek sestien jaar saamgewerk het sy demissie ontvang het die jaar tevore. Ek voel maar broos en uitgelewer.

Vrydagoggend 20 Oktober 2000 sien ek ‘n beriggie in die koerant oor ‘n kunsuitstalling in Freshford museum in Bloemfontein die naweek. Daar is ‘n foto van die kunstenares Hannetjie de Clercq wat haar skilderye daar uitstal. Op die foto in die koerant kniel sy by ‘n esel met ‘n skildery van ‘n gemaskerde vrou wat stap voor ‘n oker muur verby met ‘n kerktoring en swaeltjies sigbaar agter die muur. Die vrou is kaalvoet en loop met ‘n stingel fyn rooi blommetjies in haar hand. Die skildery maak ‘n diep indruk op my en ek besluit om die naweek, terwyl ek in Bloemfontein kuier, ‘n draai by die uitstalling te maak. Die Vrydag bly ek te besig in die stad en vergeet om daar uit te kom. Satermiddag net na ete onthou ek weer daarvan, maar dink dat dit te laat is. Ek bel die museum en hoor dat die uitstalling oor ‘n halfuur sluit. Ek haas my soontoe. Toe ek instap, sien ek dadelik die skildery wat in die koerant vertoon is. Dit het ‘n rooi plakkertjie op. Ek is half teleurgesteld en loop deur die res van die uitstalling. Dit is mooi, maar nie een van die skilderye tref my soos die een op die onderste vloer nie. Toe ek weer afstap met die trap, staan Hannetjie voor die skildery. Sy het sopas die rooi plakkertjie afgehaal. Ek groet en vra haar of die skildery verkoop is. “Nee”, antwoord sy, “die mense het sopas laat weet dat hulle dit nie meer sal neem nie.” Ek voel die stuwing van opgewondenheid in my binneste. “Vertel my meer van die skildery”, vra ek haar.

“Ek was vroeër vanjaar in Portugal en het die dag by ‘n straatkafeetjie gesit toe die prentjie hom voor my afspeel. ‘n Vrou het voor my verbygestap met so huppel in haar stap. Toe het ek die konsep vir die skildery gekry. Daardie huppel”‘ en Hannetjie boots dit na waar sy voor die skildery staan” het vir my soos joie-de-vivre gelyk en ek wou dit vaslê.” 

Ek weet duidelik: die skildery moet ek hê, want dit vertel ‘n storie – ‘n storie wat ook my lewensstorie raak. Want ek kort daardie huppel. Ons onderhandel oor die afbetaling en ek word die trotse eienaar van die “joie-de-vivre-skildery. Hannetjie teken haar naam agterop en skryf die datum: 21 Oktober 2000.

Eers laataand by die huis toe ek die skildery onthul teen my eetkamermuur, sien ek dat naas die drie swaeltjies wat in die lug vlieg, daar ook drie swaeltjies op die muur geverf is waar de vrou verbystap. ‘n Swaeltjiesomer-skildery.

Ek voel ineens ‘n ligtheid oor die Vader se sorg. Hy weet wat ons nodig het, selfs nog voor ons vra. Ook presies wanneer ons dit nodig het.

Die vrou met haar bossie blomme weet dit. Beaam dit. Elke oggend as ek wakkerword en na die skildery teen ons kamermuur kyk, weet ek dit ook. Veral ook as ek kyk na my reisgenoot-vrou wat langs my lê.

 

Hoop blom rooi

Thursday, September 8th, 2011

                             

Lente is onmiskenbaar hier. Blomtyd het aangebreek! Na so strawwe en uitmergelende winter vol trietsweer en misrabele (ver)koues, is die nuwe seisoen ‘n welkome vriend. En die kleur, die kleur. Die witstinkhout straatbome is lewegroen, die boslelies se triomfantelike oranje en geel blomme staan soos uitroeptekens in die skadukolle in die tuin, die jasmyn se pienkwit massa blomme tuimel uitbundig oor die muur en dra ‘n onmiskenbare lenteboodskap in voorkoms en reuk. Die seisoen van nuwe lewe blom welig.  ‘n  Potplant-malva wat ek onlangs by die kwekery gekoop het, blom bloedrooi.

Gedurende my studentejare op Stellenbosch, het ek akuut bewus geword van die lentekrag. Al was die gras en plante groen gedurende die reënnat winters, kon ‘n wintersdag ekstra grou lyk as die aanhoudende reëndruppels daglank teen die ruite afgeloop het.Die kaal eikestamme en takke het ‘n prentjie van gestrooptheid geskep te midde van die groen gras om hulle stamme en die kabbelende Eersterivier. Daarom die lekker ritueel op die 31e Augustus elke jaar. Dan het studente oral op die walle van die Eersterivier kappertjies gepluk en ook wederregtelik hul blommemandjies uit tuine se lente-opbrengs aangvul. Op lentedag was daar ‘n houer blomme in die voorportaal van die koshuis en soms ook persoonlike lenteboodskappe met ‘n blommetjie aangeheg, gerig aan die koshuisbewoners.

Miskien was dit waarom die afdruk van Picasso se skildery in Edrich se winkel in Van Ryneveldstraat my oog gevang het. Die oorspronklike skildery is getiteld: “Mother and child on the beach” en is tydens sy “Blou-periode” geskilder. Ek moes dit eenvoudig hê. Weens my knap begroting kon ek dit egter nie laat raam nie en het dit dus maar laat blok. Toe ek ‘n paar dae later die meesterstuk trots in my koshuiskamer onthul, het ek geweet dat die simboliese skildery my sou bemoedig in my “blou”dae. dae wanner die reën onophoudelik neerstuif en die koshuiskamervenster ‘n vae, grys Simonsberg omraam. Die spatsel rooi van die blom wat die moeder byna biddend in haar hande hou, was so uitroepteken van hoop.

Gedurende die drie jaar wat die afdruk in my koshuiskamer gehang het, het ek dikwels na die spatsel rooi gekyk en geweet – selfs al is die eksamen op sy taaiste en die teleurstelling van ‘n gebroke verhouding op sy seerste, is daar nogtans iewers die hoop wat nie beskaam nie. Die blom het my blues help besweer

So het die afdruk ook saamgetrek deur die jare – soms ‘n plekkie gekry teen ‘n muur en soms was dit iewers weggepak. Toe die lente vanjaar voelbaar word, het ek die afdruk gaan soek waar dit weggepak was. Dit was weer tyd om rooi-inspirasie te kry. Nou hang dit hier bo my werkplek – Na vyf-en-dertig jaar weer in ‘n ereposisie.

Die enkele rooi blom het my die afgelope week weer aan die ware verhaal van Janusz Korczak laat dink. So paar jaar gelede het vriend Leon my die merkwaardige verhaal vertel en ek dink dit pas by die lente.

Janusz Korczak was ‘n mediese dokter wat kinders se welsyn swaar op sy hart gedra het. Hy het in 1911 ‘n weeshuis, genaamd “Dom Sierot” in Warskou, Pole bestuur. Hy het groot waarde geheg aan die rol van kinders in ‘n samelewing en het verskeie boeke geskryf oor die onderwerp, o.a. “How you shall love a child” waarin hy sy siening oor onderwys uitspel.

Gedurende die besetting van Warskou deur die Nazi’s in 1939 is Korczak gedwing om sy weeshuis te skuif na die Joodse Ghetto. Daar het Korczak saam met die kinders gebly onder haglike omstandighede. Hy het noukeurig dagboek gehou van die tydperk –  die dagboek het wonderbaarlik behou gebly.

Te midde van hierdie moeilike omstandighede, het hy die kinders geleer om moed te hou en te bly hoop deur hulle te leer om rooi malva’s oral te plant en uit te deel. Meer as tweehonderd potjies met malvas is uitgedeel aan mense rondom hulle.  Dit was vir hulle ‘n teken van hoop te midde van die wanhoop wat hulle daagliks om hulle gesien het. Tog het Korczak ook geweet dat hy die kinders moes voorberei om die werklikheid van lyding en dood te kan tegemoetgaan met moed en geloof. Hy het hulle ‘n toneelstuk laat opvoer. Dit het gehandel oor Amal, ‘n sterwende Hindu seuntjie. Deur die stuk wou hy hulle leer dat selfs jong kinders soms die dood in die gesig moet staar.

Woensdag, 5 Augustus 1942 is die weeshuis in die Ghetto ontruim. Net voordat die soldate hulle weggeneem het uit die Ghetto, het Korczak ‘n laaste inskrywing in sy dagboek gemaak. Toe het hy die tweehonderd kinders aangesê om hulle beste klere aan te trek en saam met hulle het hy gestap, ‘n kind aan elke hand en sy kop fier orent en sy oê gevestig op ‘n stippel in die verte. Saam met die tweehonderd kinders het Korczak  gesterf in die gaskamers van Treblinka, maar die hoop waaraan hulle tot die einde vasgeklem het, leef voort.

Vandag is al die geboue van daardie konsentrasiekamp afgebreek. Daar is slegs groen gras en bome en kring klippe met name. Op een van die klippe is uitgekerf: Janusz Korczak and Children”.

Later is Korczak se dagboek opgespoor agter ‘n steenmuur in die blyplek in die Ghetto. In een van die laaste inskrywings wonder hy of sy dagboek dalk iewers vorentoe vir iemand iets sal beteken, dalk vyftig jaar of so later.  Hy som egter die sin van sy lewe op in die woorde: “I exist not to be loved an admired, but to love and to act”.

Dit is dan ook die boodskap wat die rooi malva hierdie lente dra. En terwyl ek hierdie woorde tik, kyk die moeder in die Picasso-afdruk goedkeurend toe met haar hoopblom in die hand. Ek vermoed ‘n glimlag.

 

 Ns – die afgelope week is die 10,000 kerf verbygesteek vir besoeke aan die Blog. Baie dankie aan elkeen wat hier kom kuier. Dit bly ‘n voorreg dat ander dit wat jou na aan die hart lê, kan deel