Sondag na Sondag het ek as dertienjarige in die bank gesit en (oorbewus van my onheiligheid) die letterboog bo die kansel gelees: Heilig, Heilig, Heilig is die Here. Dan het Heilig vir my soos ‘n swaar, onbereikbare woord gevoel. Heilig was net gereserveer vir God en engele. En die woord het my telkens skuldig laat voel. Onvolmaak. Feilbaar.
Na meer as veertig jaar sit ek weer onlangs, tydens ‘n doopgeleentheid in die kerk van my jeug. Die Heilig-boog is steeds teen die muur bo die kansel. Die kansel lyk minder onantasbaar en ver. Miskien het die feit dat die liturgiese ruimte se vloer gelig is, iets daarmee te doen, want die kansel troon nie meer so hoog bo die res van die gemeente nie. Selfs die woorde lyk nie meer veroordelend nie. Ek sien vir die eerste keer die “lig” gedeelte van die woord “Heilig”. En besef dat na veertig jaar my perspektief van die woord en die kerk tog verander het. Van die swaar,onverbiddelike, onbereikbare, na die meer toeganklike, vertroostende, versekerende.
Vreemd om te dink dat swaar en lig soos twee trek-osse langsmekaar ingespan kan word en één woord se betekenis duidelik deur die drif trek…
Dat lig én swaar elk deel vorm van die woord Heilig.
Teenstrydighede help mens om ‘n konsep beter te verstaan. In die gewilde liedjie van die “The passengers”, Let her go, word juis oor hierdie teenstrydighede gesing:
Well you only need the light when it’s burning low
Only miss the sun when it starts to snow
Only know you love her when you let her go
Only know you’ve been high when you’re feeling low
Only hate the road when you’re missin’ home
Only know you love her when you let her go
And you let her go…
‘n Mens moet soms by swaar begin soek om lig te verstaan.
In matriek is een van ons voorgeskrewe Nederlandse kortverhale: Wat gebeurde er met sargeant Massuro, ‘n verhaal is gekryf deur Harry Mulisch.Na al die jare bly die kerngegewens van die verhaal my steeds by (maars ek moes weer gaan oplees om die fyner detail te onthou):
‘n Mede-offisier skryf ‘n brief aan die Ministerie van Oorlog aangaande die vreemde gebeure rondom sersant Massuro tydens hulle tydperk in Nieu Guinea. Op ‘n gegewe oomblik kan sersant Massuro nie meer sy ledemate beweeg nie. Hulle besluit om hom na ‘n naburige dorp te stuur waar hy versorg kan word. Hy word egter al swaarder. Uiteindelik word hy so swaar dat hy deur die huis se vloer val. Wanneer hy sterf, ontdek hulle dat sy binneste kliphard geword het net soos graniet, vandaar die toename in gewig. Die gewig van herinnering en skuld wat hy sy lewe lank saamgedra het, het hom ingehaal. Hy het “swaar” geword vanweë onverwerkte skuld en binne-wroeging.
In Milan Kundera se roman, The unbearable lightness of being word juis oor die die “swaarheid” en die “ligtheid” van menswees besin.
Die filosofie wat in die boek na vore kom wys daarop dat die ligtheid van menswees betstaan uit die feit elke persoon slegs een lewe het om te leef en dat dinge wat in ‘n mens se lewe gebeur eenmalig is en nie herhaal word nie.
Daarteenoor is die dinge wat wel herhalend in die lewe gebeur en die besluite wat ons in ons lewens neem is dit wat die lewe sy “swaartekrag” gee.
Ek gaan grawe weer in my Hebreeuse en Griekse woordeboeke en sien dat die woorde vir heilig qadosh (Hebreeus) en hagios (Griekse) is. Die woorde hou verband met vlekkeloosheid en toegewy wees.
‘n Woord wat egter met heilig verband hou, is die woord glorie – kabod (Hebreeus) en doxa (Grieks). Die Hebreeuse woord beteken oorpronklik “gewig” en “swaar”.
Miskien daarom dat ek die heiligheid en glorie van God as iets “swaar” ervaar het.
Tog is die prentjie wat in Openbaring 4 en 5 geskets word van die heiligheid van God op die hemeltroon, een van oorweldigende lig en heerlikheid. Daar is ‘n innige vreugde teenwoordig.
In my tienergemoed het ek ‘n donker prentjie van ‘n bestraffende God gesien wat net wag om sondaars tereg te wys en met die wet te kasty.
Tog, wie God in Christus as Vader leer ken, weet dat hierdie straf juis sy volste uitvoeing op Golgota bereik het en dat toe die tempelvoorhang geskeur het, daar ‘n pad van lig en vryheid deur Christus se kruisdood geopen is. Heilig word dus “lig” gemaak deur die prys wat reeds betaal is. Ek hoef nie meer probeer heilig word of wees nie, ek is dit deur my verbondenheid met Christus.
Toe ek dus onlangs tydens ‘n doopgeleentheid in die kerk van my jeug sit en weer na die Heilig, Heilig, Heilig is die Here kyk, is dit met die wete dat die klein seuntjie wat vandag in die naam van die die Drie-enige God gedoop word, iets van die ligtheid van die lewe kan ervaar. Ja, die swaar sal daar wees, maar die besef – ek is spesiaal – die Almagtige het sy hand op my gelê, gee ‘n lewensblydskap en ligtheid. Mooi reis jongman!