Die dag toe my Oom Piet met sy gevleuelde ‘58 Plymouth Savoy by ons erf in Stilfontein inry, het alles begin. As vyfjarige knaap het ek die motor onbeskaamd bekyk, bewonder, bestreel. Veral die twee prominente roomkleur vlerke wat uit die motor verrys het. Haaivinne, het die mense dit spottenderwys genoem. Vir my was dit soos die stertvin van ‘n lieflike dolfyn wat sagweg deur die water klief.
Oom Piet het ons vir ‘n rit geneem. Die motor het sag gewieg en op die luukse sitplek het ek gewens vir ‘n motor met vlerke. Behoorlike vlerke wat onbeskaamd hulle vlerkwees wys. Anders as Oom Piet het ons maar beskeie rygoed tot op daardie stadium gehad – ‘n Tweedehandse groen 1934 seildak Morissie was Pa en Ma se eerste motor. Volgens hulle vertelling het hulle fietse as deposito gedien vir die motortjie. Daarna was dit ‘n swart Vauxhall Velox(die eerste motor wat ek as kind geken het), Net een keer het Pa afgewyk van die veilige kleure toe hy in 1959 die twotone vuilpienk Vauxhall Victor met die roomkleur dak gekoop het. Nadat die motor oorverhit het tydens ons epiese langverlof Kaap toe, het Pa maar weer die veilige roete gevolg en die betroubare liggroen Volksie gekoop.En by versigtige (vervelige?) vinlose motors gebly.
Die verlange na ‘n vlerkmotor het egter gebly.
As sesjarige graadtwee’tjie neem ek deel aan die atletiekbyeenkoms van die Laerskool, Saamtrek, Klerksdorp. Die vorige jaar het ek omkyk-omkyk gehardloop en kort voor die wenpaal gestruikel. Vanjaar, besluit ek om soos die Dominee so mooi in die kerk gepreek het, die oog op die wenpaal te hou. Dit werk sowaar en ek wen die sestig treë vir seuns onder sewe. In ‘n rekordtyd. Pa is so opgewonde dat die bruin Kodak “movie”kamera heen en weer swaai. Toe ons weke later die 8mm ontwikkelde filmpie van die wedloop kry, sien ons skaars die einde – ‘n klompie atlete bewe op die skerm.Die oomblik toe ek die wenlint breek, onthou Pa darem sy rol as kameraman en vang die wenmoment vas.
Opgewonde oor die oorwinning, neem Pa my kort na die wedloop dorp toe. By Czanks, die gesogte Fotografie- en stokperdjiewinkel in die hoofstraat onthul hy die doel van ons besoek. Ek kan twee modelmotortjies uitsoek as beloning vir die prestasie.
Ek voel skoon oorweldig. Die luukse van ‘n keuse te hê uit al die splinternuwe karretjies in die vertoonkas! Ek maak net weer seker – ja dis definitief nie twee klein Matchbox modelle wat ek kan kies nie, maar ‘n behoorlike speelmotor – ‘n Dinky of ‘n Corgi.
Ek maak ten volle gebruik van die gewigtige oomblik. My blik dwaal oor die rye en rye motortjies in die glaskas. Een van die motors wat bo-op sy boksie staan, vang my oog, vanweë sy uitsonderlike kleur én vanweë sy vlerke – ‘n helderpienk Chevrolet Impala met twee vlerke wat uitdy na die kante. Vir ‘n oomblik dink ek dat die motor dieselfde kleur is as Ma se wyerandhoed wat sy met kleinsus se doop gedra het. Shocking pink was die beskrywing van Ma se hoed en handskoene wat sy saam met die pikswart nousluitende knielengte rok gedra het. Vir my was die skokmooi pienk hoed egter so kleurvol soos die laatmiddagwolke as die son kleinkoppie oor die Wes-Transvaalse rantjies trek.
Maar nou, die Impala. Ek vra om hom van nader te beskou. Hy voel so tuis in my hand. Ek draai hom bewonderend in die rondte. Binnekant is heldergeel bekleedsel en ‘n grys stuurwiel aan die linkerkant. Maar die beste van alles is die stertkant. Die twee vinne wat so statig uitrys na die kante toe, nes Ma se beskuit wat die toemaakdoek laat lig na ‘n deeglik kniesessie. Onder die vlerke pryk twee lang rooi ligte, soos twee traandruppels. My keuse is gemaak. Die tweede motortjie word amper terloops gekies – ‘n blou Corsair met ‘n kattebak wat kan oopmaak. Ek kyk met dankbare oë na Pa. ‘n Groot geskenk voorwaar.
Laatmiddag speel ek met die motortjies. Die Impala kry voorkeur.Net hy mag op die rooi teels van die flowerbox ry. Asof dit die presidensiële motor in ‘n konvooi is. My bewondering vir die motortjie styg met rasse skrede met die ontdekking dat as ek liggies op die linkerkant van die motor se dak druk, dit na links draai, druk ek regs, dan beweeg die saggeveerde motortjie na regs. In my gedagtes ry ek weer voor in Oom Piet se Plymouth Savoy. Maar nou is dit my eie vlerkmotor.
Smiddae na skool kan ek nie wag om met my pienk Impala onder die vrugtebome te ry nie. Die paadjies is sorgvuldig geskraap met ‘n tamatiekisplankie. As dit koud of reënerig is, dien die sitkamermat met sy blokke en ingeweefde paadjies as die perfekte landskap vir my spogmotor.
Vyf jaar later verhuis ons na Virginia in die Vrystaat. My speelgoedmotortjies word sorgvuldig in hul bruin tas weggepak. By ons nuwe huis bly hulle ingepak want as tiener is daar daar nuwe belangstellings.
Toe ons drie jaar later terugtrek Klerksdorp toe, raak die tas met motortjies onverklaarbaar weg.Teen die tyd is ek in standerd agt en word die verlies nie so intens ervaar nie nie – die lewe is mos ‘n avontuur vol nuwe uitdagings. Ek is mos nou groot.
Jare later bevind ek my weer in die Vrystaat. Iets van die kleintyd hunkering noop my om modelmotortjies te begin versamel. Ek koop mooi motortjies wat my vertoonkas volstaan en ver laat terugdink, maar nie een voel regtig “eie” nie. Ek mis my vlerkmotor – my pienk Impala.
Jare gaan verby – dis byna vyftig jaar na die opstel van die rekord en Pa en Ma het lankal verhuis na hul hemelse woning…
“ Kom jy kyk? Ek bring my ’48 Dodge wat ek klaar gerestoureer het na die Motorskou in die Goudveld?” oom Piet se stem klink baie opgewonde toe hy my vroegoggend bel.
Op ‘n helder Augustus oggend stap ek die skouterrein binne. ‘n Nostalgiese sestiger liedjie weerklink oor die terrein – Herman’s Hermits se “My sentimental friend”. Kort daarna ook Peter Sarstedt se “Where do you go to my Lovely?” Dit plaas my in die regte stemming.
Vandag gaan spesiaal wees.
Ek stap deur die eerste paar rye pragtig gerestoureerde motors opsoek na Oom Piet en sy Dodge. Loop ook verby ‘n stalletjie met tweedehandse modelmotortjies. Ek moet net gaan kyk. Toe ek binnestap, val die jare weg. Ek is weer die sesjarige voor die vertoonkas. Ja, sowaar, daar staan hy – gereed om opgetel te word – die pienk Impala
Ek kan die koop nie gou genoeg beklink nie. Ek vind Oom Piet by sy pragtige donkergroen Dodge. En haal trots my eie vlerkmotor uit. Dit voel asof ek vandag ‘n rekord gebreek het. Vir geduldig wag.
Hoe heerlik om weer die ” karretjie en paperdoll” fase saammet jou te beleef – met baie goeie gevolge! Ek ry vandat ek bevoorreg is om ‘n eie salaris te verdien en eie motor te kon koop VW fabrikate – eers ‘n groen “fastback” , toe blou beatle
(2e hands) en later na ‘n beroepsverandering en ‘n “beter” salaris – ‘N NUWE POLO – dit klink en voel so REG! Ek het sederdien ‘n blou , silwer en wit (huidige) Polo besit – ek is naby aftree – nie seker of ek met die witte wil aftree – dalk tog ‘n meer WHOW kleur vir die final countdown?
Ja, die peink Impala het my ver laat terugdink aan al die Sondagmiddae toe ons ons eie stories moes opmaak terwyl die grootmense slaap. En ek het nog steeds nie ‘n “regte”vlerkmotor gekry nie. Sal maar aanhou droom…