Hande is wonderlike instrumente – ons gebruik dit om te gee, te werk, te skep, te heel, te groet, te koester en te bid.
Hande is ook selfsugtige instrumente – ons kan daarmee gryp, verniel, afbreek, wond, doodmaak.
Billy Graham het gesê: “God has given us two hands, one to receive with and the other to give with.”
Gewers en Grypers – ‘n mens sou die mensdom in twee groot kategorieë kon verdeel.
In haar boek” Die Gewers” Skryf MER:
“Die niet geef’ dat hy heef’
is niet waard dat hy leef”
Sy sien ook die groot tweedeling in die mensdom – diegene wat met oorgawe gee en die wat selfsugtig gryp dit wat hulle wil hê
Gewers help dat jy kan sê: My beker loop oor! Grypers dreineer jou en laat jou droeër voel as ‘n uitgesuigde lemoen.
Die afgelope ruk het ek net so bewus geraak van die twee kategorieë van mense.
Ek kuier onlangs by ‘n agt-en-tagtigjarige mentor-vriend. Hy is iemand wat die lewe voluit leef en elke dag nog iets nuuts byleer. Hy gee soveel terug aan die wêreld en die mense om hom. Hy is ‘n Gewer, want hy leef uit die genade van die Groot Gewer. Verlede jaar het hy begin om mosaiek te doen en nou vul dit soveel van sy tussen-in tydjies. Want ledige uurtjies het hy nie. Hy wil nog ‘n groot projek met die mosiek aanpak en praat entoesiasties daaroor. Hy is geesdriftig oor elke teëltjie was sy regte plekkie vind. Oor kleure en teksture. Hy gee graag van sy handewerk weg aan ander. Terwyl ek by hom kuier sien ek die entoesiasme waarmee hy elke projek aanpak. Ek neem ‘n foto as herinnering.
Die afgelope week het ons ook te doen gekry met die grypende selfsugtige hande. Verlede Dinsdag kry ons ‘n slegtenuus-oproep van ons Philippolis buurman. – hulle het by ons huis op Philippolis ingebreek en ‘n klomp goed weggedra. In die proses het hulle ook die karaktervolle agterdeur (‘n bo-en – onderdeur met ‘n venstertjie) met ‘n koevoet oopgebreek en die deur erg beskadig. Dadelik ervaar ek ‘n diepe wrewel teeenoor die anonieme “hulle” wat met grypende, vernielsugtige hande ons lewe binnegedring het en met hulle gierige hande deur ons besittings gesif het om goed te kry wat aan “hulle” behoeftes voldoen. Breekhande, gryphande wat gewelddadig mens se lewe binnedring en hulle vuil vingermerke nalaat. Dit bring ‘n wrang smaak in die mond mee en laat ineens ‘n wolk oor ons hang. Ons besef dit kon erger gewees het en dat niemand beseer is in die proses nie, maar dit neem nie die gevoel van onbehae weg nie.
Grypende hande hoef nie noodwendig jou beursie, selfoon of besittings te gryp nie. Grypende hande neem ook soms selfsugtig jou tyd, lewe in beslag.
Ek blaai onlangs deur ‘n kunsboek wat heelwat van die werke van Rodin uitbeeld.
Auguste Rodin is gebore op 14 November 1840. Sy droom van kleintyd af was om te skep. Nadat hy ‘n ‘n studiekursus voltooi het wat hom sy passie vir beeldhouwerk laat ontdek het, doen hy aansoek om student te word aan die Ecole des Beaux-Arts in Parys. Sy aansoek word egter drie keer afgekeur omdat hy nie volgens die styl van daardie tyd werk nie en dus nie konformeer nie. Dit word die begin van sy jarelange stryd om erkenning. Eers op sestigjarige ouderdom kry hy erkenning van die kunskringe in Parys met sy uitstalling van honderd-en-vyftig beeldhouwerke vir die internasionale uitstalling van 1900.
Rodin was baie lief om hande d.m.v sy beeldhouwerk uit te beeld en het dikwels die hande geisoleer van die beeld om die kragtige seggingskrag van die hande daarmee uit te beeld.
Is sy kunswerk “Grypende Hand” (1885) – detail uit “Die Poorte van die Hel” is die desperate grypende hand toonbeeld van iemand wat probeer om self iets te gryp maar ontdek dat hy niks het om aan vas te gryp nie.
Dit is vir my die simbool van vernietigende en selfsugtige hande: Grypers.
Daarteenoor vorm hy ‘n aangrypende bronsbeeld in 1908. Hy noem die beeld “Die Katedraal” en laat blyk dat tydens sy besoeke aan kerke en katedrale die vorm en die struktuur van die geboue hom geinspireer het om ook dit in sy beeldhouwerk toe te pas. So vorm die twee hande die effek van die spits van ‘n katedraal en wys dit op die wonderlike vermoë wat die mens het om dromer, bouer, spirituele mense en skepper te wees.
Dié hande beeld vir my die skeppende en dienende vermoë van die mens uit: Gewer.
Ek en my Reisgenoot is toe die afgelope naweek Philippolis toe om die skade te gaan ondersoek wat die Grypers gelaat het. Veral was ek hartseer oor die vernielde agterdeur en die gevoel van betreding wat my beetgepak het toe ons deur die huisie stap. Die leegheid van ‘n sitkamer sonder mooi kleurvolle kelim beklemtoon die verlies.
Tog is daar die positiewe: Die drie skelms is Vrydag aangekeer en klaarblyklik is al die gesteelde goedere teruggekry (hulle het ook by twee ander huise in dieselfde week ingebreek). Ons het selfs ‘n glimps gekry van ons kelim waar dit geberg word in die polisie se stoor en wat ons hopelik binnekort kan opeis, sodra die saak afgehandel is.
Nog meer positief egter was die helpende hande – die getroue tuinman, Dawid wat sy hulp kom aanbied om die agterdeur weer te herstel, skarniere reg te buig en kort-kort terwyl hy skroef in die deur nog vaster draai en oor ‘n vernielde stuk hout stryk, mompel.: “Dis ‘n boggerasie die meneer, maar gelukkig is die boggertjies gevang. Ek sien die are op sy hande wat prominent uitswel terwyl hy die skroef nog ‘n laaste verbete draai gee. So ook ‘n borswering teen geweld en vernieting bou. Op sy stil ,beskeie manier is hy ‘n Gewer.
Uiteindelik is die grootste inspirasie die Hand van Hom wat ons kunstig gevorm het en ons verseker: Niemand sal julle uit my hand ruk nie (Joh 10:28)
Met so bewussyn, van die hand van die Almagtige wat ons lewe rig, kan ons ook ons hande uitsteek en begin bou.
Nehemia het dit gedoen toe die mure van Jerusalem platgelê het. Hy het die leiers aangespoor om hulle hande uit te steek en te begin met herstelwerk.
So begin sy verslag aan die leiers:
En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my.. (Neh 2:18)
Uiteindelik is elkeen van ons se lewe (en hande) bewys van die Skepperhand wat ons lewe rig, of deur ons weggestoot word.