Lewensfles

Vier-en twintig  jaar  gelede koop ek ‘n antieke klavier by ‘n musiekwinkel. Die handelaar vertel van die bejaarde egpaar wat die klavier vir etlike jare besit het, maar nou weens verswakte gesondheid na ‘n aftree-oord verhuis het. Hierdie klavier was juis een van die besittings waarvan hulle moeilik afstand gedoen het, maar hulle het nie ‘n keuse gehad nie. Ek bekyk die mooi ou klavier en sien dat dit bykans ‘n eeu oud moet wees, want daar is tekens waar die kandelare was. Toe ek die deksel oopklap, pryk die vervaardiger se naam daar: CJ Quandt, Berlin. Ook die Suid-Afrikaanse verskaffer het sy naam  in die staanhoutjie vir musiekstukke gegraveer: J van H Haarburger, Sole Agent, Bloemfontein.

‘n Week of wat later pryk die mooi klavier in die sitkamer van my blyplek. Die klavierstemmer (‘n blinde man) streel met sy hande oor die klavierkas en merk op dat dit baie oud moet wees. Toe hy die boonste paneel afhaal om te begin met die stem van die klavier sien ek die inskripsies op die raam van die klavier. Daar is slegs die voorletters E. C. en dan verder datums: 1916, 1917, 1918, 1919, 1920 en dan 1923 en 1924 wat met potlood neergeskryf is. Ek vertel die stemmer daarvan en hy sê dat dit waarskynlik die datums is waarop die klavier jaarliks gestem is en later het die gapings begin kom.  Toe hy die klavier klaar gestem het, skryf ek die datum September 1986 langs die laaste datum van 1924. Ook in 1990 en 2000  toe die klavier weer gestem word, voeg ek dit by.

Tydens die jaar van aankoop (1986) gaan ek met verlof. In ‘n antieke winkeltjie in Graaff-Reinet loop ek twee klavierkandelare raak wat perfek pas op die gaatjies wat gelaat is met die afhaal van die oorspronklike kandelare. Die klavier lyk  nou outentiek. Ek ondersoek die klavier en kyk weer na die datums op die binne-raam. Ek haal ook die onderste houtpaneel by die pedale af en ondersoek die binnekant. In die regterhoek aan die binnekant is daar ‘n ou vrugtefles. Ongelukkig is dit leeg. Toe ek die stemmer by ‘n volgende keer daarna vra, reken hy dat dit dalk was om gif in te plaas vir rotte wat dit dalk binne-in die klavier sou waag. ‘n Ander persoon vertel dat dit dalk met water gevul was om te keer dat dat die hout nie te droog word nie. Iewers in my kop sien ek ‘n ander prentjie:

Die jongmeisie vir wie die klavier gekoop is, het net oë vir die jongman wat weekliks vir haar musiekles kom gee op die plaas. Sy stort haar liefde vir die jongman uit in die skryf van liefdesbriefies wat sy nooit aan hom gee nie. Die briefies word sorgvuldig in die fles gebêre –  buite bereik van speurende oë. Jare later, nadat sy en haar jeugliefde getroud is, verskuif sy die briewe na ‘n toffieblik met die prentjie van ‘n jongmeisie daarop. Nou gebruik sy die fles as geheime spaarbussie om die geld wat sy weekliks inkry vir die verkoop van hoendereiers daar te spaar om later noodsaaklikhede aan te koop. Die klavier word haar getroue bondgenoot vir die speel van haar hartsliedere en as wegsteekplek vir haar hartsgoed. Soms skryf sy ‘n wens op ‘n flentertjie papier neer en plaas dit in die fles. Dit bly steeds haar spaarbussie vir neseiertjies.

 In my gedagtes sien ek hoe sy as tagtigjarige vir oulaas voor die klavier gaan sit en speel, die dag voor die musiekinstrument verkoop word. Haar vingers is geplooi en haar hande  vertoon ouderdomsvlekke. Die tekens van Artritis is ook sigbaar in die effe kromgetrekte vingers. Tog speel sy vir oulaas ‘n liedjie van lank gelede en streel liefderik oor die klawers. Dan, wanneer sy die rooi viltlappie troostend oor die note plaas en die klap toemaak, sê sy saggies dankie vir die klavier wat so lang pad saam met haar gekom het. Hy het twee wêreldoorloë saam met haar oorleef en deur haar onsekere jongmeisiejare was hy haar anker. Vir oulaas maak sy dan ook die paneel by die pedale oop en maak die vrugtefles leeg. Die opgespaarde geldjies, saam met die verkoopprys van die klavier, sal genoeg wees om te help betaal vir haar kleindogter se musieklesse en dalk selfs as dit rente loop, kan dit bydra tot haar studiegeld later. Sy lees haar wenspapiertjies en sê dankie vir soveel daarvan wat waargeword het.

Maandagaand kyk ek na die film wat die ware verhaal vertel van ‘n Katolieke Poolse vrou vrou wat tydens die tweede wêreldoorlog ‘n reuse verskil gemaak het in die lewens van ongeveer 2,500 Joodse kinders. Die film is ” The Courageous Heart of Irena Sendler”. Anna Paquin vertolk die naamrol. Dit vertel hoe sy as Maatskaplike Werker aangegryp is deur die lot van die Joodse kinders in die ghetto in Warskou. Sy  begin om kinders uit die ghetto te smokkel, soms selfs in ‘n gereedskapkas. Sy skryf getrou  die naam neer van elke kind wat sy so van ‘n gewisse konsentrasiekampdood gered het en plaas dan die name in ‘n glasfles. Die fles (en later meer as een fles) begrawe sy onder ‘n appelboom in die tuin. Sy is egter aangekeer deur die Nazi’s en het intense marteling ondergaan.  Irena het dit oorleef en is vir die duur van die oorlog weggesteek deur vriende. Die Joodse kinders wat uitgesmokkel is, is in die sorg van Poolse gesinne of in ‘n Katolieke klooster geplaas. Na die oorlog is die flesse met name opgegrawe en het sy probeer om die kinders weer met hul Joodse familie te versoen, maar meeste van die ouers en familie het omgekom in konsentrasiekampe. Baie van die oorlewende kinders het later weer met haar kontak gemaak om dankie te sê.

In 1999 het ‘n onderwyser in Kansas sy leerlinge uitgedaag om ‘n projek te begin wat ‘n verskil in ander mense se lewens sou maak. Hulle motto moes wees: “He who changes one person, changes the world entire” Vier leerlinge het op ‘n beriggie oor Irena Sendler afgekom en begin om hulle projek oor haar te doen. Hulle skryf ‘n toneelstuk oor haar lewe en begin dit opvoer. Die stuk se naam is: “Life in a Jar” Dit is handel oor Irena se lewe en die kinders wat deur haar gered is en wie se name in ‘n fles bewaar is. Die projek het baie aandag getrek en het meegbring dat Irena opgespoor is en selfs in 2007 genomineer is vir die Nobel Vredesprys.

Op 12 Mei 2008 sterf Irena op agt-en negentigjarige ouderdom. ‘n Merkwaardige vrou met ‘n merkwaardige verhaal. En ‘n fles wat ‘n verskil gemaak het tussen lewe en dood.

Soms wens mens jy kon ook kosbare dinge bewaar in ‘n fles. Soos die eienares van die klavier en Irena Sendler gedoen het.

Jim Croce se liedjie: Time in a Bottle herinner ons hieraan:

Time in Bottle – Jim Croce

 If I could save time in a bottle
The first thing that I’d like to do
Is to save every day
Till Eternity passes away
Just to spend them with you

If I could make days last forever
If words could make wishes come true
I’d save every day like a treasure and then
Again, I would spend them with you

But there never seems to be enough time
To do the things you want to do
Once you find them
I’ve looked around enough to know
That you’re the one I want to go
Through time with

If I had a box just for wishes
And dreams that had never come true
The box would be empty
Except for the memory
Of how they were answered by you

But there never seems to be enough time
To do the things you want to do
Once you find them
I’ve looked around enough to know
That you’re the one I want to go
Through time with

Naskrif: Die stuk oor die klavier het toe ‘n speurtog tot gevolg om die presiese ouderdom van die klavier vas te stel. Ek kon ‘n webwerf in Toronto, Kanada opspoor wat die presiese ouderdom van die klavier kan bepaal mits die volledige inligting oor die klavier deurgegee word. So ontdek ek toe met behulp van vriende in Kanada wat die inligting deurgestuur het, dat die CJ Quandt “upright” klavier in 1904 in Berlyn vervaardig is. Dit verdien ‘n viering!

One Response to “Lewensfles”

  1. ALWA says:

    Die Carl Eck klavier wat ek sedert 1980 het, was my ma, Winnie s’n wat sy op haar tiende verjaardag gekry het in 1934!(76 jaar gelede!). Baie hande het deur die jare op die klavier note gespeel, getokkel en ook meesterlik gespeel (op gehoor of met hulp van bladmusiek).
    Tans leer ek my kleindogter speel, MAAR ek is deeglik bewus van die “musiek” generasie gaping en ouma se “op gehoor speel” liedjies soos ROSES ARE RED; WORDS ;YELLOW BIRD is onbekend / onbemind by haar…….Ons ken albei DO, RE ,ME…..! Die klanke nogsteeds so helder…suiwer… soos toe ek in die 1960+ jare by MISSIES CANTOR in Klerksdorp Fur Elize en Remembrance leer speel het….na baie trane en houe op hande …het ek dit “bemeester” en elke keer op versoek van my ouers moes speel as ons kuiermense gekry het. As ek nou speel, kla die inwoners in die woonstel onder my – ek “raas en verstoor die rustigheid” – ” I MAKE EXCESIVE NOISE” ?!

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.