The long and winding road
That leads to your door
Will never disappear
I’ve seen that road before
It always leads me here
Lead me to you door
Die Lennon/Mc Cartney liedjie vul my altyd met ‘n sekere nostalgie, want dit vertel van ‘n kronkelpad wat lei tot by die bestemming waar die persoon graag wil wees. Daar is baie kronkels op die pad en ook baie teëspoed en tog, tog maak die wete van die eindpunt die reis die moeite werd.
Daar is iets opwindend aan ‘n pad, want dit lei na ‘n iewers, ‘n bestemming. Soms is ‘n pad vir ons maar net ‘n middel tot ‘n doel. ‘n Sekere afstand wat afgelê moet word. Amper ‘n noodwendigheid wat net afgehandel moet word en die reis word maar net die manier om van punt A tot by punt B te kom. Dan word die pad ‘n frustrasie. Ek dink almal onthou hoe oneindig lank die pad see toe gevoel het toe jy klein was. Ek dink my Pa het dit besef en wou die “Hoever is dit nog see toe?” vraag tot die minimum beperk, daarom het hy ons drie-uur die oggend wakkergemaak en kon ons onsself op die agterste sitplek tuismaak en inrig sodat as ons vieruur gery het, die eerste stuk van die reis tot by Harrismith in rustige slapende toestand kon geskied. Ontbyt was gewoonlik iewers by ‘n stilhouplek in die Drakensberg. ‘n Enkele keer of wat terwyl die sneeu rondom ons lê. Dit het die pad aansienlik anders en interessante gemaak. Tog, iewers naby Mooirivier het die onafwendbare vraag opgeklink: “Pa, hoever nog see toe?
Tog lyk dit my is die ontdekking wat elke mens moet maak, dat die reis deel is van die vakansie en daarom moet dit geniet word. Self ook halt geroep word, as jy onverwags ‘n mooi plekkie langs die pad teëkom.
Robert Frost se gedig vertel van die opwinding van die onontdekte pad:
Two roads diverged in a yellow wood,
And sorry I could not travel both
And be one traveller, long I stood
And looked down one as far as I could
To where it bent in the undergrowth;
Then took the other, as just as fair,
And having perhaps the better claim,
Because it was grassy and wanted wear;
Though as for that the passing there
Had worn them really about the same,
And both that morning equally lay
In leaves no step had trodden black.
Oh, I kept the first for another day!
Yet knowing how way leads on to way,
I doubted if I should ever come back.
I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I–
I took the one less traveled by,
And that has made all the difference
And having perhaps the better claim,
Because it was grassy and wanted wear;
Though as for that the passing there
Had worn them really about the same,
In leaves no step had trodden black.
Oh, I kept the first for another day!
Yet knowing how way leads on to way,
I doubted if I should ever come back.
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I–
I took the one less traveled by,
And that has made all the difference
Met ons epiese langverlof in 1959 het ons die pad Kaap toe aangedurf vanaf Stilfontein. (in my Blog “die Oop-Oog Reis” het ek reeds iets hiervan vertel) My Pa het kort tevore sy swart Vauxhall Velox ingeruil op die splinternuwe Vauxhall Victor. Die nuwe motor was volgens die heersende mode ‘n “two-tone” met “whitewall” bande. Eintlik was die vuilpienk motor met die roomdak vir Pa ‘n groot sprong want die eerste motortjie was ‘n groen Morissie met ‘n seildak en daarna het die swart Vauxhall gevolg.
Al wat ek as vyfjarige van die epiese rit Kaap toe onthou is dat die Kaap baaaaie ver was. Ook dat ons by die Karoo Hotel oornag het, iewers tussen Beaufort Wes en Laingsburg. ‘n Verdere herinnering was ook dié van doeke wat buite die vensters van ons Vauxhall en my Oom-hulle se Austin gewapper het. In elk van die motors was ‘n nuwe baba van ‘n klompie maande oud. By elke stilhouplek moes daar dan doeke gewas word en in die vensters vasgedraai word om soos wappperende vredesvlae droog te word tydens die rit tot by die volgende dorp. Gelukkig was ons nog te klein om skaam te kry daarvoor, maar ek reken dit was dalk algemene gebruik in daardie tyd aangesien Huggies nog nie op die rakke was nie (en indien dit wel daar sou wees in elk geval afgemaak sou word as geldmors, want goeie flennie-en handdoekstofdoeke moes net gewas word vir hergebruik en goeie ekonomie).
Iewers in die Moordenaarskaroo het die nuwe two-tone Vauxhall egter geprotesteer deur te oorverhit. Ons moes drasties halt roep en met die seil watersak (wat aan die buffer gehang het vir koue water tydens die rit) gaan water haal in ‘n sinkdam by ‘n windpomp. Dit het my vertroue in die nuwe spogmotor ‘n fatale knou gegee. Boonop het die temperatuurmetertjie wat ewe deftig op die neus van die motor gemonteer was, iewers op hierdie Kaapse rit verloor. Die nuwe motor het sy feilbaarheid gewys.
Later jare sou ek talle kere as student op Stellenbosch weer en weer die pad aandurf met my Gunston Volla’tjie en nogal dink aan daardie eerste reis in 1959. Ek het dikwels nadat ek die laaste vraestel geskryf het die dag, gepak en dan teen middernag in die pad geval en in die pikdonker oor die Du Toitskloofpas gery. Met sonsopkoms was ek gewoonlik op Laingsburg. Dan het die Moordenaarskaroo nog voorgelê. Op Beaufort Wes het ek geweet dat ‘n derde van die rit agter die rug was en dat daar nog net 1000 kilo’s oor was tot in Glencoe, Natal. Wanneer ek oor Van Reenenspas in Drakensberg gery het, het ek gewoonlik musiek begin luister op die bandspeler wat my kon “inkatrol” huis toe. ‘n Gunsteling in die tyd was John Denver se “(take me home) Country Roads”.
Almost heaven, west virginia
Blue ridge mountains, shenandoah river
Life is old there, older than the trees
Younger than the mountains, blowing like a breeze
Country roads, take me home
To the place, I be-long
West virginia, mountain momma
Take me home, country roads
Met die koortjie gedeelte het ek lustig saamgesing en die woordjie be-long ekstra hard en uitgerek gesing.
Ook die versie:
I hear her voice, in the mornin’ hours she calls to me
The radio reminds me of my home far a-way
And drivin’ down the road I get a feeling’
That I should have been home yesterday, yesterday
het ek lustig saamgesing.
Jare later ry ek en my Reisgenoot weer oor die Drakensbergpas. Ons is op ons wittebroodsreis en ek wil vir haar my weermagkamp, (5SAI) op Ladismith wys asook die huis in Glencoe waar my ouers gewoon het toe ek op universiteit was. Ek vertel haar van my lang ritte huistoe tydens universiteitsvakansies. Selfs ook van die enigste keer dat ek in ‘n tronksel geslaap het toe die Volla se brandstof (tydens die jare van die beperkings) opgeraak het by Paul Roux. Ek en ‘n klasmaat moes mooi vra om slaapplek in die selle van die klein polisiestasie te kry!
Ek en my reisgenoot stop by die klein gedenkkkerkie in Van Reenenspas. Die “little church” ( Llandaff Oratory) is gebou ter herinnering aan Matthew Maynhard se seun wat gesterf het terwyl hy probeer het om sy makkers te red tydens ‘n mynongeluk in 1925. Ons vertoef in die kerkie en sê dankie vir al die paaie waarop ons tot dusver gereis het. Ook vir veilige bewaring op al die roetes wat ons al moes ry. En veral sê ons dankie vir die nuwe pad wat ons twee dae vantevore saam betree het op ons Huweliksreis. Ons besef ons is reisgenote in die skadu en teenwoordigheid van die Ware Reisgenoot.
Ons het al voor ons huwelik dikwels reise onderneem, maar nou lê die opwinding van ons nuwe pad voor. En ons weet – die pad moet met verwondering en dankbaarheid gereis word. Oop-oog.
Die einde van een jaar se paaie amper verby -vinnig kom die volgende een- Gelukkig in ons lewens is die Groot Padkaart altyd daar waar ons moet wees!! Dankie vir al die gedeelde reise!!!!!!!
Dit was vir my ‘n lekker reis om in die skrywes terug te reis en weer op ou, byna vergete, spore te loop. Tog ook te besef dat nuwe paaie altyd ooplê en wag om gereis te word. Ook te wonder watter reise in die nuwe jaar voorlê. Dankie tog vir medereisigers en die Groot Padkaart anders was ek op moedverloor se vlakte uitgekamp!