Die Blou Engel

Engele.

Aankondigers. Boodskappers. Tydingdraers. Gewoonlik verkondigers van Goeie Nuus.

Gisteraand met ons gemeente se Kerssangdiens moes ek die woorde van die engel aan die die herders lees:

“Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” (Luk 2;10-12)

Terwyl ek dit lees en sien hoe Engel Martin (byna soos John Travolta net die engelvlerke in “Michael”) op die kansel verskyn en eers aan Maria ‘n goeie boodskap oordra en toe aan die herders, wonder ek weer oor engele. Hulle is vreemde eteriese wesens, nie soos Engel Martin wat soos  sy vrou, Alta,  dit uitdruk “nou erg sweet onder die wit tafeldoek wat as kleed moet dien nie!”

Miskien verleen die benaming “Blou Engel” nog ‘n meer misterieuse dimensie aan ‘n reeds onsigbare/onpeilbare wese.

Ek het nog nooit ‘n engel van aangesig tot aangesig gesien nie. Soms al oor hulle gedroom en hulle as fantasiemaatjies gehad (Vgl die blog” Om met ‘n Engel te reis”). Ek het al oor hulle gepraat en oor hulle geskryf. Tog bly ‘n engel ‘n ontwykende wese.

Aan die einde van die vorige eeu (dit klink so vreemd om dit te sê, maar twaalf jaar gelede was dit die einde van die 1900’s) besluit ‘n paar van ons om ‘n boek te skryf. Dit sal in die vorm van ‘n aanlasstorie wees waar elkeen ‘n beurt kry om ‘n hoofstuk te skryf en dan roteer die verhaal  totdat dit klaar vertel is. Ek begin die verhaal op 21 Oktober 1997 skryf en noem dit: “Die Blou Engel”. So ontwikkel die verhaal saam met my drie medeskrywers. Elkeen hou die boek vir ‘n week en skryf dan sy/haar hoofstuk wat weer die volgende week met die ander gedeel word. Ons probeer weekliks die blou tema inwerk bv. deur te ontmoet vir ‘n blou melkskommel of by Blues iets te eet. So groei die storie van Engela en haar blou engel (en die Engel Gabriël wat as beskermheer optree) tot ‘n boek. Elke medeskrywer verras met kinkels in die kabel wat ingeskryf word om die verhaal sy magies-realistiese karakter te gee. Uiteindelik word die slothooftuk geskryf – 25 Maart 1998. Dit voel half hartseer om van die Blou Engel afskeid  te neem. Elkeen van ons kry ‘n getikte, gebinde manuskrip van die verhaal en ‘n blou glasengel as aandenking.

Gedurende 1999 is ek en twee vriende op ‘n Rugsaktoer deur Europa. Tydens ons bootvaart op die gragte van Amsterdam sien ons ‘n uitbeelding van ‘n Engel en onderaan: De Blauwe Engel. Dit is ‘n bekende restaurant in die World Trade Centre in Amsterdam.

 ‘n Paar maande na my broer se ongeluk kuier my Reisgenoot en ek op Philippolis.Ek is nog dwalend. Uiteindelik besluit ek om iets te probeer skilder. ‘n Engel. ‘n Blou engel met ‘n donkerblou rok teen ‘n blou agtergrond.Ek maak so en begin skilder. Toe ek by die engel se gesig kom, bid-wens ek so ek kan deernis in haar gesig skilder. Maar sy lyk hard en ‘n bietjie vreesaanjaend. Haar oë is onsimpatiek. Ek sit toe maar ‘n goue ster op haar voorkop om meer genadig te lyk maar sy lyk nog soos ‘n halloween-engel. Toe ek klaar is, bere ek die doek weg agter die deur. Ek wil haar nie sien nie en sy troos glad nie. Inteendeel. Dis 2007.

 ‘n Paar maande gelede kuier ons weer op Philippolis. Die vlytige bruin vrou  help met die skoonmaak  van die Hartjiehortjiehuisie nadat modderwater van ‘n wolkbreuk deur ons huisie gespoel het.  Haar  naam is Angelina.  Sy maak alles silwerskoon en laat ‘n netjiese huis agter. Alles ruik sommer weer nuut en skoon. Toe sy weg is, sien ek sy het die engel- skildery agter die deur uitgehaal waar ek dit weggesteek het en dit in die spaarkamer opgehang. Die onlekker engel. Ek kyk weer aandagtig na die verfstuk en sien wat my pla – die gesig, die woeste lang hare en veral die feit dat die engel nie arms en hande het nie, net twee verpotte vlerke  (behoorlik soos ‘n sywurm-mot wat nou-net uit die kokon gekruip het, maar nie kan vlieg nie). Boonop is sy oorgewig en te BLOU.

 Ek bring haar saam Welkom toe. Op Menseregte (of dan Regtemensedag) daag Lynette my uit om iets te skilder. Ek wend ‘n poging aan en begin dit geniet. Begin selfs met ‘n tweede poging. Toe het ek moed om die blou engel te takel. Ek gee haar gesig ‘n makeover, die keer sonder gelaatstrekke, oë, neus, mond. Verf ook die ster op haar voorkop toe. Verander haar haarstyl. En gee haar arms! Maak haar ook slanker en verander haar rokkleur. Kortom ‘n totale makeover wat Hannon Botma potblou van jaloesie sal maak!  Tog kort iets – haar hande lyk onhandig. Ek verf ‘n paar blommetjies wat sy kan vashou. Skielik lyk en voel sy anders. Kan sy selfs troos.

Die Blou Engel het tuisgekom. Dalk sou sy ook in hierdie Adventtyd saam met die Veldengele wou sê: “Moenie bang wees nie want ek bring vir julle ‘n Vreugdetyding: Die Kripkind is ook jou Kruisdraer. Deur sy wonde kom daar heling.

Mag  Advent 2010 die vrees met Liefde verdryf.

Leave a Reply