Adventtyd is die tyd van die ligte. Verligte kersbome, versierde winkelvensters. Huise wat soos sprokieskastele van lig lyk.
Maar wat as dit juis jou tyd van worsteling en donker is?
Kan dit so donker raak dat jy op ‘n plek is waar niemand jou kan sien nie – selfs nie God nie?
Soms voel dit so.
Elie Wiesel, ‘n Jood wat die slegte doodskampe van die die tweede wereldoorlog oorleef het , het ‘n boekie geskryf met die titel “Night”
“Never shall I forget that night, the first night in camp, that turned my life into one long night seven times sealed.
Never shall I forget that smoke.
Never shall I forget the small faces of the children whose bodies I saw transformed into smoke under a silent sky.
Never shall I forget those flames that consumed my faith forever.
Never shall I forget the nocturnal silence that deprived me for all eternity of the desire to live.
Never shall I forget those moments that murdered my God and my soul and turned my dreams to ashes.
Never shall I forget those things, even were I condemned to live as long as God himself.
Never.”
Nag ‘n slegte tyd vir worstelaars – Niemandsland ‘n slegte plek vir lewensreisigers. Vir Elie Wiesel het die kamp gevoel soos ‘n ewigdurende nag in Niemandsland. Sonder iemand, sonder God.
Die slegste plek waar mens jou kan bevind is Niemandsland – want daar is jy nog vis nog vlees.
In die weermag het ons soms aan die begin van ‘n Operasie die Niemandsland beleef – die Kaplyn – daardie tussen-in strook skoongekapte aarde wat die buffer tussen twee vyandige land uitmaak.Ons het sommer meestal van die “Jati” gepraat.
Niemandsland.
Hier voel jy sommer naamloos en adresloos. Jy voel soos ‘n tolbos wat rondrol tussen twee doringdrade, sonder anker en sonder behoortplek.
Een aand aan die begin van ‘n ‘n geheime operasie in Angola, het ons die Kaplyn oorgesteek en in die Niemandsland betree. Hier en daar was daar darem ‘n boom wat die aanslag van die oopkap oorleef het. Daardie aand het ek onder die boom in niemandsland aan die slaap geraak met die besef – as vyandelike troepe vanaand ons hier betrap sal niemand dalk ooit weet wat van ons geword het nie, want vir my het die niemandsland soos die Bermuda driehoek gevoel wat mense insluk en nooit weer na vore laat kom nie.Net geweet hier moet mens nie vertoef nie. Vir die duur van jou reis en verblyf in die Jati is jy Naamloos, identiteitloos.
Tog is dit juis hier waar jy jou behoefte om te behoort beleef.
Om ‘n burger van Niemandsland te wees is om nie sekerhede te hê waaraan jy kan vashou nie. Om nie die woorde van Jesaja 43:1-3 jou eie te kan maak wat sê
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder
Niemandsland is die alleenste alleen. Dis hier waar mens roep en jou eie stem hoor eggo, eggo, eggo….
Eintlik – terwyl jy in jou eie Niemandsland vasgevang, besef jy hoe ondenkbaar Christus se worsteling in die Getsemane-Niemandsland moes wees. Soveel so dat in sy worsteling om aan die wil van sy Vader te voldoen, sy sweetdruppel bloeddruppels geword het…
Dit was die werklike Niemandsland – Christus se disppels wat hom alleen laat in sy worsteling en aan die slaap raak. Hy wat wat vra: As hierdie beker by my verby kan gaan. Nogtans nie my wil nie maar u wil. Niemandsland – tog was die Vader daar.
Die gevaar met kersfees en lydenstyd is dat ons dit kan romantiseer en dit ‘n mooi (rooi)baadjie aantrek en so die werklikheid afwater. So kan ‘n mens dan sing van ‘n dierbare krippie en kruis, terwyl die kruis self nooit dierbaar kan wees nie, maar net die resultaat van dit wat aan die kruis verkry is, oneindig kosbaar is. ‘n Mens kry selfs bekende skilderye waar die lydende Christus met ‘n stralekrans om die kop geteken word.
‘n Mens kan jou dus indink dat die bekende Duitse skilder Albrecht Dürer (1471-1528) het met sy skildery Christus as die man van smarte nogal ‘n redelike opskudding veroorsaak, nie alleen in die kunskringe van destyds nie, maar veral ook in die godsdienstige kringe en die denke oor die lyding van Christus. Hier was ‘n kunstenaar wat sowaar gewaag het om Christus vir die eerste keer sonder die gebruiklike stralekrans uit te beeld. In die plek van die stralekrans was daar eerder die vlymskerp doringkroon en die gesig van Jesus spreek van lyding. ‘n Uitbeelding van Een wat nie skoonheid of prag gehad het nie dat ons na Hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van Hom sou hou nie; eerder Iemand vir wie die mense die gesig wegdraai (Vgl Jes 53:1-3)
Die neiging om ‘n stralekrans bokant Christus se kop te wil sit, is maar in ons bloed. Waarom? Waarskynlik omdat ons nie van die werklikheid van die Gekruisigde hou nie, juis omdat Hy as Gekruisigde die dieptes van ons ellende tot op die been kom blootlê.
Dalk moet ons juis in Advent en Kerstyd die klassieke Lydensverse lees van Jes 53:3-5
Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Die woordjie Chalal (deurboor) wil ons genees van al ons oppervlakkige Jesus-met-die-stralekrans-prentjies.
Ons dink net aan die kruis as ‘n “gladde” plat las wat Jesus moes dra, maar die eintlike las wat Hy moes dra was die skerpte van die sonde as opstand teen God, die hartsprik van ongehoorsaamheid en opstandigheid. Eintlik kan mens amper die kruis sien as ‘n tipe Spykerkruis (soos die spykerbeddens waarop martelaars soms lê), want deur die dra van die kruis het die skerpte van elke mens se sonde ‘n insnyding in Jesus gemaak.
Tog kan Chalal ook beteken – die insny-oomblik wanneer musiek begin – daardie oomblik wanneer die klank van musiek as’t ware jou oordromme prik en jy bewus word van die geluid – die eerste roersel van musiek.
Toe ons skuld Hom deurboor op Golgota, het die musiek wat in ons dood gegaan het a.g.v. ons skuld, weer begin leef…..opgeklink, sag, gedemp, maar dit was DAAR!
Die lyding van Jesus wil ‘n verskil maak – van die kern van my menswees af en verder uitkring. Soos gedempte musiek al wyer hoorbaar word as dit harder begin speel. Dit raak my hele lewe – al my pyn en al my seer – ook die seer wat reeds baie ver en bykans vergete agter my lê. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jes 53:5) Selfs vir die pyn wat baie diep lê en wat ek nog met geen mens kon deel nie.
Jesus het immers nie gekom om te sterf vir mense met stralekransies nie maar vir mense met pyn in hulle harte en soms ook hul oë. Daarom is Hy gestroop van alles om ons diepste seer te kon dra en genees.
Sodat jy en ek kan ontdek: Daar is Iemand in my Niemandsland.