Ouma Adolf. Ouma Winnie. Ouma Vannie-kerk. Ouma Besem.
My Ouma aan moederskant het baie name en byname gehad. Tog het ek haar maar net altyd Ouma Vannie-kerk genoem en so die respek wat ek vir haar gehad het uitgedruk. Op ‘n vreemde manier het ek haar met die kerk en met streng, toegewyde godsdiens assisieer. Dat haar getroude van Van Niekerk was, was eintlik maar ‘n bysaak want vir my was sy Ouma-vannie-kerk.
Die ouma van my met die Duitse bloed in haar are het gesag afgedwing. Haar Duitse herkoms het geblyk uit die feit dat haar Dachshund se naam Adolf was. Tot vandag weet ek nie of sy die Fuhrer uit respek of disrespek vernoem het nie – ek vermoed dis laasgenoemde. As my niggie en nefie saam met ons by Ouma Vannie-kerk-hulle gekuier het, het hulle altyd van Ouma Adolf gepraat om haar te onderskei van hulle ander ouma op Uniondale – Ouma Katte. So hulle het gesorg dat die een ouma na haar hond vernoem is en die ander na haar katte.
Die eintlike rede hoekom ek vandag oor Ouma Vannie-kerk skryf is omdat vandag, die 7e Desember haar verjaarsdag is. Sy is gebore as Alwine Bertha Wilhelmine Kobus op 7 Desember 1890 in die Oos Kaap, vermoedelik Dordrecht se wêreld. Sy sou dus vandag 120 jaar oud gewees het.
Vandag wens ek dat ek haar beter kon leer ken en meer van haar kon weet. Al wat ek vandag van haar het, is haar en oupa se troufoto, haar stoel met die armleunings, haar verjaarsdagboekie en haar Duitse Bybel. En heelwat herinneringe.
Een van die herinnneringe wat my bybly is haar gesteldheid op netheid. Sy het haar lang bruingrys hare altyd in ‘n netjiese bolla gekam. Dit was my nooit beskore om haar te sien as haar lang hare uitgekam is in die aand voor sy gaan slaap nie. Die vooreg het my ousus te beurt geval as sy soms by Ouma gaan kuier het en dan met die silwer haarborsel Ouma se hare saans moes uitkam. Die feit het ek eers onlangs gehoor, want Ouma was vir my net die streng, meestal ontoeganklike persoon wat geen huisgodsdiens oor die radio oorgeslaan het nie (veral na Oupa se dood) en wat die tafelgebed gereeld in Duits gedoen het:
Komm Herr Jesu und sei unser Gast
und segne was du uns bescheret hast
Dit het Ouma se “vreemdheid” telkens bevestig. Sy het Duits gebid, Afrikaans gepraat en Engels geskrywe.
Maar terug by Ouma se netheid. Toe sy na Oupa se dood in die vroeë sestigs naby ons in ‘n woonstel kom bly het, was dit haar gewoonte om vieruur smiddags oor te stap na ons huis, net betyds om saam met my ouers wat dan van die werk af gekom het, koffie op die kantstoep te drink.
Maar voordat sy haar in die huis begewe het, het sy eers die besem geneem en die tuinpaadjie reg rondom die huis verwoed gevee. Dit was ‘n belangrike ritueel. met die veeslag het sy nie net skoongemaak nie, maar sommer ook haar gedagtes georden. Vandaar die latere bynaam Ouma Besem. (Dit was darem nie ‘n verwysing na ‘n heks nie!).
Eers jare later toe ek tydens ‘n kersvakansie op Philippolis die blare op die paadjie wegvee en later die gruisgrond in patrone hark, het ek iets begin verstaan van Ouma Alwine se ordende ritueel, want met die vee- en harkproses het ek ook sommer my kop skoongevee en gedagtes bymekaargehark.
Onlangs toe ek met my Tannie gesels oor my Ouma het ek meer begin verstaan van Ouma se streng terughoudendheid. Haar Oupa en ouma Schwartz het as immigrante vroeg in die 19e eeu van Duitsland na Suid-Afrika per boot gekom. Toe Tafelberg reeds sigbaar was, het haar Oupa op die boot gesterf en het haar ouma aangedring dat hy nie ter see begrawe sou word nie, maar wel op land wanneer die skip in die Kaap sou vasmeer. So het haar ouma in ‘n vreemde land aangekom as weduwee met vyf jong kinders wat versorg moes word.
Ook Ouma Alwine het dit nie maklik gehad nie. As sewejarige dogtertjie is haar ma oorlede tydens die geboorte van ‘n jonger sussie. Sy is by familie geplaas en moes harde werk in en om die huis verrig reeds op daardie vroeë ouderdom. Sy moes ook dikwels op die lande werk. Straf is geredelik uitgedeel as werk nie na behore gedoen is nie. Die lewe was hard, plek vir sentimentaliteit was daar nie. Iewers as jongmeisie het sy die hartseer van onbeantwoorde liefde ervaar, want sy het het in haar oorgeërfde Duiste Bybel so aantekening gemaak oor die vergeefse liefde (en dit later onsuksesvol probeer uitvee).
Op Skrikkeldag in 1916 trou sy en Oupa Van Niekerk. Die troufoto vertel van ‘n eenvoudige rok, sonder hooftooisel of sluier. Hulle huwelik het drie-en-veertig jaar geduur tot my Oupa se dood in 1959. Sy verhuis in die vroeë sestigerjare na Klerksdorp met die oorblyfsels van die bekende meubels uit die huis in Ontdekkers wat vir ons as kinders soveel bekoring ingehou het. Soms kuier ons by my ouma in haar woonstel, sit by haar bekende eettafel en eet haar heerlike ertesop. Hoor hoe sy die tafelgebed steeds in Duits doen. Leer om doodstil te wees as ouma huisgodsdiens oor die radio luister. Sy skryf getrou in haar Psalm- en Gesangboekie die tekste en datums neer van oordekings by die bepaalde lied wat tydens die oordenking gesing is. Haar gunstelinglied het baie datums en tekste by:
Ruwe storms breek in woede, alles om my heen is nag
Tog hou God my in sy hoede, Hy hou oor my heil die wag.
Sy het so skielik gegaan. Op 25 Julie 1965. Sy het in die sitkamer van die woonstel gestaan met haar bekende kerkklere en -hoed, Bybel en Gesangeboek in die hand. My Oom sou haar die oggend kerk toe neem. Sy het met die trap op geroep na hom” I’m ready if you’re ready” . Toe kry sy ‘n massiewe beroerte en val net daar neer. Vir my bly dit steeds gepas dat Ouma-vannie-kerk in haar kerkklere, Bybel in die hand, haar laaste asem uitgeblaas het.
Vandag wens ek dat ek met haar kon sit en gesels. Vir haar kon uitvra oor haar familie, kinderjare en lewe. Vir haar ook vertel van die saadjies wat sy in my ontvanklike kindergemoed gesaai het. Die pad dalk help baan het vir my uiteindelike keuse van beroep. Dalk sou sy tog trots gewees het op die feit. En nog ‘n inskrywing in haar Duitse Bybel gedoen het. Wie weet?