Die ashoop is ‘n vreemde plek. Hartseerplek.Waag dit maar ‘n slag op die ashoop (wat mens in die meeste stede nie meer kan doen sonder om jou lewe in gevaar te stel nie). Tog as jy wel ‘n slag ‘n “veilige” ashoop verken, sien jy die treurige verhaal van weggooigoeters.
Die lied van Doris Brasch en Dawie Couzyn wat ons kleintyd so lustig saamgesing het,vertel immers die verhaal van die lappop wat daar verlate was en toe deur haar mede-“afvalliges” tot ashoop-koningin gekroon is:
Iemand het ‘n lappop op ‘n ashoop weggegooi
Sy was gedaan en stukkend verbleik en nie meer mooi nie
op die ashoop hoor sy stemme praat
en die verwelkom haar
Maar o, ellende, toe sy kyk, wat sien die lappop daar
net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen,
‘n grammofoonplaat en ‘n kous sonder maat,
net ‘n leë bottel bier en verlepte angelier,
‘n gelapte binneband en ‘n ou koerant
Ag hoe droewig voel die lappop toe sy alleen daar lê
want sy weet dat niemand ooit vir haar, vir lappop weer wil hê nie
‘n traan loop oor haar lappop wang want dit begin te reen
en daar lê sy sy ou lappoppie op die ashoop so alleen
Ag nee wat sê die lappop, ek soek ‘n ander oord
Wat sal die wêreld van my dink wat soort jy weet, soek soort
Ag wil almal wil vir lappop troos en soebat sy moet bly
hulle sê dis die mooiste ashoop die wat ‘n mens nog ooit kan kry
Al die goeters op die ashoop hou gou vergadering
en besluit om lappop te bekroon as die ashoop koningin
van toe af bly die lappoppie so trots tevrede daar
en al haar onderdane bedien getrou vir haar
Ai, die koorgedeelte “net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen” het ons met ekstra oorgawe gesing en die “net ‘n ” so uitgerek want dit was so lekker om die ashooplysie te sing.
Nouja, die stukkende skoen (en dalk ook vrot pampoen) sal jy beslis nog daar kry. Die gebreekte Grammofoonplaat waarskynlik nie meer nie, maar (veral na die feesgety) die oormaat leë bottels (en blikkies) bier.
Die afgelope naweek nooi vriende op Philippolis my en my reisgenoot om te kom “inkopies” doen saam met hulle. “Waar gaan ons heen vir die inkopie-sessie?” wil ons weet. “Ons is oppad na Ashgate” antwoord hulle. ” Daar is baie winskopies. Eintlik is alles gratis, mits jy bereid is om deur die voorraad te sif.” So vertrek ons Saterdagmiddag om 4nm. agterop ‘n bakkie na die asgate, oftewel vullishoop buite Philippolis.
Aanvanklik is ons versigtig en byna vies om deur soveel rommel te stap opsoek na herwinbare voorwerpe. Want anders as die liedjie is daar ook ‘n ontbindende skaapkarkas of twee en allerlei vreemde (nie-vlieënde) voorwerpe. Tog, na ‘n eerste vonds, begin die “inkopietog” nogal opwindend raak. Ons tel etlike enemelbekers, borde, bakkies op. Ons vind ook ‘n paar fietswiele, geroeste sinkbadjies, trommels en selfs twee skaflike melkkanne. Ook twee geroeste houtsae, potdeksels en ‘n ou broodblik. Verder is daar heelwat potskerwe, geroeste draad en selfs verskeie binneveermatrasse sonder die stopsel en die materiaal! Die laat ons maar rustig lê. Ook die yskas wat eenkant weggegooi lê, laat ons met rus. Aan die einde van ons uur en ‘n half se “inkopies” het ons ‘n skaflike vrag. Ons neem dit triomfantelik terug. Elke item sal nou goed gewas en geskrop word en dan onder die kunstige hand van ons vriendin getransformeer word tot ‘n gebruiks- of geskenkartikel.
Die nuutgemaakte produkte bied sy dan te koop aan in die winkeltjie in die Jobhuis. Die huis het ‘n baie interessante verhaal wat ek nog vorentoe oor sal skryf. Kortliks kan net genoem word dat die Jobhuis vroeër as die Spookhuis bekendgestaan het omdat dit vir vyf-en-dertig jaar lank onbewoon was en in ‘n uiters vervalle toestand was. Onder die sorgsame hand van drie vriendinne en hul helpers is die huis oor ‘n tydperk van ‘n jaar liefdevol gerestoureer en in ‘n baie mooi galery en kantoor omskep.
Die galery huisves vyf-en-twintig skilderye wat deur ons vriendin Rina geskilder is en wat die worsteling en groei van Job uitbeeld. Dit is dus gepas dat goedere wat van die ashoop af kom hier in herstelde gedaante verkoop word.
Immers, wie op die ashoop ‘n draai gemaak het, bevind hulle in goeie geselskap want dit is waar Job ‘n tydlank sy worstelgesprek met God gevoer het. Ons lees daarvan in Job 2:8 ev.
Job het op ’n ashoop gaan sit en hy het ’n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”
Iets vreemds gebeur op die ashoop. Enersyds is mens bewus van die beperkte duur van alles. Iewers, eendag, eindig so baie vroeëre gebruiksartikels op die ashoop. Die hartseer is ook dat mense soms letterlik maar so dikwels ook figuurlik op die ashoop beland. Hulle drome is verpletter, hulle is geknak deur traumatiese gebeure, hulle begin wanhoop. Wanhoop word dikwels ‘n voorportaal van die ashoop. Alles lyk uitsigloos en die lewe voel soos ‘n groot Cul-De-Sac.
Juis daarom is dit soms goed om weer ‘n rukkie by Job op die ashoop te sit en te luister na sy kreet tot God. Eers dan kan ‘n ware “oop gesprek” met God begin. Daar, gestroop van alle pretensie, kan die ware verootmoediging en sielsreis begin.
Vir die Lappop was daar ‘n gelukkige einde, maar sy het ongelukkig op die ashoop gebly. Die vreugde van die Evangelie is die besef dat Iemand nie die ashoopmense vergeet het nie. Hy maak hulle heel en gee hulle weer ‘n nuwe waarde. Sodat hulle van die ashoop bevry word en teruggestuur word na hulle omgewing as nuttige gebruiksartikels.
Dit is die avontuur van die ashoop.