Plukkers

Daar is iets geweldig bevredigends daaraan om vrugte uit jou eie tuin te pluk. Dit is ‘n rykdom wat soos die bekende frase in die Mastercard advertensie lui “priceless” is.

Kleintyd was die groot avontuur altyd die pluk van vrugte uit ‘n ander se boord. Hierdie vrugtestelery was die toppunt van kattekwaad in my grootwordtyd. Veral as dit nog uit die Dominee se boord kon wees! ‘n Gesteelde vrug proe mos net soeter en beter het ons geglo.

Selfs as studente (nogal Tokkelokke!) ry ons een  reënerige Sondagmiddag van Stellenbosch na Franschoek. Op reënerige Sondagmiddae is dit die gunsteling uitstappie – om vieruur by die “Swiss farm Excelsior” te wees as die varsgebakte botterbroodjies met room bedien word saam met ‘n heerlike koffie. Die hotel wat in Switserse styl gebou is met die mooi houtspitsdak is ‘n gunsteling kuierplek met ‘n asemrowende uitsig op die berge (soms met ‘n effense sneeu op hul pieke). Bokant die ingang pryk die bekende Duitse groet: Gruss Gott, tritt herein und bringt Gluck herein!” Tog is dit nie waaroor die skrywe gaan nie. Oppad Franschhoek toe ry ons oor Helshoogte. Kort voor Pniël is daar die mooiste boorde aan ons regterkant. Rye en tye appelbome. In volle drag. Die versoeking is net te groot. Ons hou stil en klim oor die draad. Dit voel paradyslik. Al hierdie appels! Plukgereed. Eetgereed. Ons besluit dadelik dat ons verstaan hoekom eers Eva en later ook Adam aan die versoeking toegegee het. ‘n Ryp appel aan ‘n boom met die vars reëndruppels daarop is onweerstaanbaar. Ons elkeen pluk ‘n appel en neem summier die eerste hap. Ai, die genot van so varsgeplukte vrug is moeilik beskryfbaar. Later, terwyl ons gemaklik geskaar is om die rooi-en-wit geruite tafeltjie in die hotel, swymel ons nog oor die intense genot van die varsgeplukte appels. Selfs die varsgebak en koffie is vandag nie heeltemal so spesiaal soos altyd nie.

Desember verlede jaar is ons weer in Philippolis vir ons jaarlikse somerkuier. Met die inryslag het ons gesien dat die appelkoosboom (waar sou die naam vandaan kom?) in volle drag is en reeds ‘n klomp van sy rypgeworde vrugte op die grond laat val het. Ons pluk appelkose van die laaghangende takke en kan nie wag om dit oop te breek, die pit uit te haal en die soet heerlikheid van die twee helftes te proe nie. En soos ook die geval met die ander vrugtebome in die tuin, proe die vrugte van ons eie boom nog lekkerder as die gesteelde vrugte uit kindertyd.

Met ‘n vorige kuier vroeër verlede jaar was die twee pekanneutbome in volle drag en kon ons na hartelus pluk. Ai, die onbeskryflike rykdom om neute van jou eie boom te pluk en dan rustig dit by die greinhouttafel uit te dop en te eet! Dit is een van die heerlikhede wat ons saam met die karaktervolle ou huisie gekry het – al die vrugtebome in die tuin: ‘n Amandelboom aan die kant van die huis maak die mooiste wit bloeisels in die lente (ons eie Wakkerboom!) en dra ‘n goeie vrag amandels. Die twee appelkoosbome dra oorvloedig, so ook die twee pekanneutbome. Daar is ‘n perske- en kaalperskeboom, ‘n vyeboom, ‘n olyf, ‘n suurlemoen- en lemoenboom. Ook ‘n turksvy en die lekker wingerd met kristal en ketobadruiwe. Om die Kanaanoorvloed volledig te maak het ek drie jaar gelede ‘n granaatboom by die bakoond geplant en met vreugde gesien hoe die granate volop begin uitswel(totdat  kwaaijongens dit, saam met kussingslope vol applkose, gepluk het). Is dit dalk “poetic justice” vir al ons strooptogte as kinders?

Terwyl ons egter die appelkose so een vir een pluk gedurende die vakansie, dink ek aan die aangrypend mooi toonsetting van ‘n gedig van Deon Opperman wat Amanda Strydom sing. Die titel daarvan is: Die Plukker

Ek sien ‘n sonryp perske daar doer bo aan ‘n tak
Hy groei hier en hy gloei daar vol sap en lig gepak
Ek haal my hoogste trapleer
want dit moet mens verstaan

‘n Plukker moet sy klim ken as hy’n boord ingaan
‘n Plukker moet sy klim ken as hy’n boord ingaan

Ek dra my trapleer na die boom en plaas
hom net mooi reg
So met die eerste trapslag klim ek die aarde weg
So met die eerste trapslag klim ek die aarde weg

Al hoër en al hoër op boontoe na die vrug
Al hoër en al hoër my mandjie op my rug
Verby tak, blaar en wolke trap vir trap, dis ver
Verby die son, verby die maan verby planeet en ster
Verby die son, verby die maan verby planeet en ster

So hoog klim ek dat onder sien ek die heelal draai
En bo my kop die goue vrug waar hemelswinde waai
En bo my kop die goue vrug waar hemelswinde waai

Aan die toppunt van my leer huiwer ek ‘n ruk
Dis bra moeilik, selfs’n kuns om so ‘n ding te pluk
Dan reik ek uit en vat hom – sy sap kan ek al proe

Laat val hom in die mandjie
En dra hom aarde toe
Die vrug deel ek met almal – ek sê neem, eet en glo
Want hierdie stukkie perske kom uit die boord daarbo
Hierdie stukkie perske kom uit die boord daarbo

Elke vrug wat mens (van jou eie!) boom pluk is soos ‘n klein vreugdesakrament. ‘n Bevestiging dat daar ‘n sorgsame Vader is wat ons behoeftes ken. En voorsien. Dit besef ons telkens as ons na die groot hoeveelheid voëltjies kyk wat lustig hulle maaltyd vind in die appelkoosboom.

In die film: City of Angels, geniet die mensgeworde voormalige engel, Seth (vertolk deur  Nicolas Cage) die vreugde van sintuiglike ervaring wanneer hy vir die eerste keer die aanraking van Maggie (vertolk deur Meg Ryan) kan voel. Wanneer hulle later saam ontbyt eet, is die eet van ‘n vars vrug vir Seth ‘n sensoriese ontdekkingstog en deur sy opgewonde beskrywing van die smaak van die vrug “proe” Maggie ook as’t ware die vrug vir die eerste keer.

‘n Varsgeplukte perske, appelkoos of vy uit ons tuin het hierdie selfde effek by my. Dis vrugte vars uit die hemelboord.

Pluk vandag ‘n vars vrug as jy kan. En eet dit met eerbiedige genieting.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.