Dis Vrydag 8 Februarie 1980. Ek is gepak en gedas.
Dis die begin van ‘n nuwe hoofstuk in my lewe. Na sewe jaar se studies is ek nou proponent. Oppad na my eerste gemeente. Ek ry in my Gunston-kleur Volksie wat my regdeur my studentejare gedra het. Vol opgewondenheid oor al die nuwe dinge wat voorlê: ‘n nuwe gemeente, nuwe provinsie en dorp, nuwe huis, nuwe mense. Tog ook die voorbehoud: wat gaan die nuwe omgewing vir my inhou? Hoe sal ek die nuwe verantwoordelikhede kan hanteer? Ek is vyf-en-twintig jaar oud en ongetroud. Die gemeente verwag ‘n jong proponent met ‘n verloofde/vroutjie aan die sy. Verrassing vir hulle want ek arriveer alleen. Gelukkig ry my ouers so entjie agter my. Hulle kom saam vir morele ondersteuning.
Uit die kassetspeler van die motor klink musiek op. Laurika Rauch se stem klink nostalgies mooi. Die liedjie wat sy sing is ‘n tipe wiegeliedjie/troosliedjie. Dis ‘n toonsetting van Ingrid Jonker se gedig, Toemaar, die Donkerman. Ek luister aandagtig na die woorde:
Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap ‘n ou man wat
‘n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en ‘n rug gebuk aan sy jare.
Wat maak hy, mammie?
Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.
Wat is sy naam, mammie?
Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toemaar, die donker man
Mammie…
Toemaar, die donker man
Die vreemde mengsel van troos en huiwering wat hierdie woorde oordra, vertolk my eie gemoed op die stadium tewyl ek die nuwe gemeente tegemoetry. Enersyds die gerusstellende Sjuut en Slaap. Andersyds die effe onheilspellende naam: Donkerman. So asof hy die swart geheimnis van die nag saam met hom dra. Wat sou tog alles vir my voorlê op hierdie dorpie wat ek glad nie ken nie? “Toemaar” troos Laurika se se stem.
Die film uit die vyftigerjare Vadertjie Langbeen (gebaseer op die boek Daddy Longlegs geskryf deur Jean Webster), vertel die mooi liefdesverhaal van Trudie, wat in ‘n weeshuis grootword. Wanneer sy matriek klaarmaak, besluit ‘n onbekende weldoener om haar universiteit toe te stuur. Sy enigste voorwaardes: sy mag nie sy naam weet nie en sy moet gereeld vir hom skryf en vertel van haar vordering op universiteit. Trudie sien die weldoener nie direk nie, maar wel eendag skrams wanneer sy sy skaduwee sien as hy uitstap. Sy noem hom Vadertjie Langbeen (a.g.v. die skadubeeld).In haar gedagtes is haar weldoener oud,gaaf en bles. Uiteindelik na ‘n misverstand besluit sy om haar weldoener op te soek. Groot is haar verbasing as sy ontdek dat haar weldoener en die man op wie sy verlief geraak het, dieselfde persoon is. Hy is allesbehalwe oud en bles – hy is jonk, aantreklik en innemend.
Die Donkerman vertel dus van vrese, voorbehoude en verrasssings. Dikwels sien ons die skaduwee en vorm ‘n valse werklikheidsbeeld. Ons sien die voorafskaduwing van iets wat voorlê en besluit reeds dat die skaduwee vol donker en swaar gaan wees. So dikwels is dit juis die teendeel! Selfs die skaduwee wat aanvanklik vol spoke en drogbeelde ons omhul (bv siekte en pyn) vertoon algaande ook sy ligter kant – die waardering van die klein dinge en oomblikke in die lewe. En ‘n uitbundige lag wat die donker besweer.
Tydens ‘n kuier op Philippolis verlede jaar, ry ons na die nedersettig, Waterkloof, vyf kilometer buite die dorp. Daar is ‘n gerestoureerde (eertydse) poskantoor en kerkie. Daar is ook heelwat murasies. Ons neem verskeie foto’s. Dan raak my reisgenoot kreatief en neem haar eie skaduwee in die veld af. Siedaar – die regte Vadertjie Langbeen, Donkerman-foto!
Daardie dag in 1980 met my ontvangs buite die dorp (Komga) het ek net weer besef – die Donkerman se skadu word ligter met die leefoomblikke van elke dag. Die groetkommando van die gemeente het my buite die dorp ingewag en ek is oorweldig deur vriendelike groetwense, nuwe name en gesigte. Tog, toe ons ‘n rukkie later in die ruim pastorie (met die spartaanse meubels wat ek as alleenloper toe gehad het) sit, begin die gemeentelede spontaan die verrigtinge met die sing van Ps 100 – Prys die Heer met blye galme. Toe ek na my ouers kyk, sien ek op hulle gesigte ‘n diepe dankbaarheid en verligting. Hulle kan my afgee aan die gemeente – daar sal genade wees saam met al die nuwe uitdagings.
Die Donkerman se gesig word lig as genade ons vergesel.
Die donkerman sien jy net as jy weg van die Lig kyk-so ons moet minder om kyk!!
Dis waar, want omkyk het Mev Lot in ‘n soutpilaar verander! As mens na die son kyk, lê jou skadu mos agter jou.