‘n Kiekie met ‘n storie

Vandat ek in 1966 my eerste swart-en-wit kiekie met my Traveller kamera geneem het, glo ek onwrikbaar dat daar stories agter kiekies (of dan foto’s) lê. Dit moet net vertel word.

 Vandag moes ek afdrukke van foto’s gaan maak vir vriende as aandenkings van twee belangrike gebeurtenisse in die onderskeie vriende se lewens. Die eerste was foto’s van ‘n begrafnis. Die foto’s vertel die verhaal van afskeid van ‘n lewensmaat van sewe-en-vyftig jaar. Die oë op die foto vertel die seer verhaal van afskeid. Die tweede stel foto’s is ook van ‘n afskeid. Die keer die afskeidsfunksie van ‘n kollega wat sewe-en-twintig jaar in sy werkkring gearbei het en nou weens swak gesondheid demissie ontvang. Die oë vertel ook hul eie verhaal. Ek dink weer aan die veelseggende lirieke van Lucas Maree se liedjie Kiekies:

My kiekies is bewyse van die feit dat ek ook daar was, die ensiklopedie van my bestaan…

 “n Kiekie met ‘n mooi, dog hartseer verhaal kruis my pad op die geskiedkundige Griekse eiland Rhodos in 2008.

 Toe ons die helder  lenteoggend op Rhodos afklim, is dit met afwagting. Ons stap eers as groot groep saam met die toergids, verken die hawe en besef:  een van die sewe wonders van die antieke wêreld was hier gesetel. Die Kolossus van Rhodos – die massiewe indrukwekkende bronsbeeld het  wydsbeen  die hawe uitgetroon en waggehou oor seilskepe wat onderdeur die standbeeld vaar. Nou pryk daar net ‘n beskeie bokkie op elk van die pilare waarop die kolos se voete vroeër gerus het.

 Ons stap tot by die strand. Advertensieblou water begroet ons. Impulsief pak ons die naam : Rhodos met strandklippies uit – ons monument vir die spesiale dag. Dan spat die groot groep uiteen –elkeen gretig om ‘n eie verkenning van die eiland te doen. Ek en my reisgenoot vertoef in ‘n kerkie vol ikone. Ek kyk na  die ikone. Hulle kyk terug. Hulle dra kennis van elk van die verskeidenheid van mense wat die kerkie binnekom. Mense met  behoeftes en versugtinge.

Onbeantwoorde liefde. Pyn. Dankbaarheid. Die klompie brandende kerse in die sandbak vertel van die hartswense wat tot klein liggebedjies omskep is.

 Versterk deur verposing, pak ons die dorpie soos wafferse Kruisvaarders aan. Soveel te sien. So min tyd. Ons moet sewe-uur vanaand alweer aan boord van die skip wees.

 Toe ons met ‘n skuins straatjie  afloop, gewaar ons ‘n paar van ons toervriende. Hulle het by ‘n materiaalwinkeltjie vasgehak: S. Ioannides staan op die buitekant. Ben beduie geesdriftig dat ons moet naderstaan – hulle het vriende gemaak met die gawe winkelier – ‘n gedistingeerde Griekse man wat opgewonde is toe hy  Afrikaans hoor. Ons stap nader. Die vroue is besig om die groot verskeidenheid van materiale te bestudeer. Ben en ek begin met die eienaar gesels. Hy staan tussen netjies opgevoude materiale. Raak soms takserend aan die tekstuur van ‘n spesifieke materiaal.  Hy stel homself as Stephanos Ioannides aan ons voor.

 Uit die gesprek blyk dit dat hy in die middel sestigs in Suidelike Afrika was. Eers het hy op ‘n plaas in Rhodesië gewerk en toe goed bevriend geraak met ‘n Afrikaanse gesin. Hulle het later na Suid-Afrika verhuis en hy is saam.

 “Do you know where Krugersdorp is?”, wil hy dringend van ons weet.  Ek verseker hom dat ons goed bekend is met die plek, veral aangesien dit my geboorteplek is. Op die derde verdieping van die Krugersdorpse hospitaal het ek immers die lewenslig aanskou.

 “Do you know Livia Steyn?” is sy volgende, dringender, vraag.  Hy spreek die   naam Livia uit asof hy die geheimsinnige luierende smaak van olywe in sy mond proe. Ons antwoord ontkennend en sien die teleurstelling op sy gesig.

 Ineens kom daar egter ‘n opheldering. “Wait, I’ll show you a photo of Livia” . Uit sy toonbanklaai haal hy dadelik ‘n sepia kiekie van ‘n jong glimlaggende meisie in ‘n baaikostuum. Sy moes pas geswem het want haar kort, bruin hare krul met punte agter haar ore. Sy kyk direk vir die kamera, wat haar tydloos vasvang. In haar oë ‘n weerlose onskuld, byna soos ‘n jong Ingrid Jonker. Langs haar staan ‘n  draagbare radio’tjie. Agter haar pryk ‘n wit Triumph sportmotor.. Regs van haar arm is die twee van die registrasieletters van die nommerplaat sigbaar: EK.

 Dan vertel die gryskop Griek vir ons sy verhaal. Hoe hy hartstogtelik op Livia verlief geraak het. In 1967. “It was true love” sug hy. Die lewenslustige Livia het sy Griekse hart gesteel. Hy het haar gevra om te trou en saam met hom vir altyd en altyd op Rhodos te kom bly. “She was too young” sug hy dan.”her parents wouldn’t let her.” Hy raak liggies aan die foto asof hy sopas ‘n rol egte sy-materiaal oopgevou het.

 Sy hart was gebreek. Hy is alleen terug na Rhodos. ‘n Ruk daarna het hy die vrou ontmoet met wie hy nou al soveel jare getroud is. Hy het nooit weer met Livia kontak gehad nie. ”I often wonder”, peins hy, “is she happy?”

 Sy  goedversorgde vrou onderbreek ons gesprek toe sy van die agterste vertrek ingestap kom. Sy hoor hoe Stephanos opgewonde  met ons gesels. Die swart en wit kiekie van Livia  lê steeds op die toonbank. Sy uiter ‘n paar kortaf woorde in Grieks. Stephanos verdwyn vir ‘n rukkie en kom dan met ‘n album terug.

Onder sy vrou se streng en wakende blik, wys hy vir ons die foto’s van hul troudag.

 “This is me and my wife Helena.” sê hy dan” We have two sons and a grandchild.. We are very happy.”

 Verbeel ek my of sê hy die laaste woorde terwyl sy oë nadenkend op die foto van Livia rus?

One Response to “‘n Kiekie met ‘n storie”

  1. Rene says:

    Gelukkig het n mens n foto of twee om te help onthou-mooi dinge en hartseer.!!!!

Leave a Reply