Die Goue Herder

As kind was die verhaal van die Goeie Herder een van die gunstelinge wat  by die kinderkrans vertel is. Aandagtig het ons as  kinderskaar op die mat gesit terwyl  Tannie Van Schalkwyk op die groen flenniebord die verhaal van die Goeie Herder laat ontvou het. Veral wanneer die Goeie Herder sy nege-en-negentig skape in die kraal gelaat het om na die verlore skapie te soek, het ons intens meegeleef en as’t ware met ons oê die herder oor die flenniebord-afstand na die verlore skapie in die hoek van die bord gewil.

 As beloning vir getroue bywoning van die weeklikse kinderkrans, het elkeen van ons ‘n prent van die Goeie Herder ontvang waar Hy op die mooiste groen weiveld. tussen sy skape staan. Elke keer dat jy in die betrokke kwartaal by die kinderkrans was, het jy ‘n skapie as beloning gekry – darem nou nie ‘n rerige skapie nie, maar ‘n prentjie van so wolwit skapie wat wag om op die groen weiveld geplak te word. So het die Herder se kudde gegroei met elke besoek aan die kinderkrans. Mits jy getrou was, was die kudde teen die einde van die kwartaal voltallig.

 Maar soms het ek poëtiese vryheid gebruik  en in my gedagtes van die Goeie Herder die Goue Herder gemaak. Dan het ek hierdie herder aangetrek met ‘n goue kleed en hom voor die skape laat uittrek –  op die paadjie wat met sulke  goue kronkels loop na die beste weivelde.

En die goue glans van hierdie herder het aan sy skape afgegee. Hulle wol het soos ‘n goue vag gelyk in die strale van die opkomende son. Hoewel dit die Bybelse waarheid so bietjie voller ingekleur het, het dit aan my ‘n gevoel van tevredenheid gegee.

 Ek het weer aan die Goue Herder gedink toe ek in Standerd vyf in Oom Saayman se  sondagskoolklas sit. Oom Saayman het sy naam gestand gedoen. Wyshede en waarhede van die Woord is weekliks in ons ontvanklike harte gesaai.

 Sover ek weet het Oom Saayman nooit enige naskoolse opleiding gehad nie, maar hy was opgelei in die kuns leef en die daadwerklike uitlewing van sy geloof.

 Kort voor die einde van die betrokke jaar sit hy ons eendag so en aankyk. “Julle weet” sê hy dan “ ons het oor baie dinge gesels die jaar. Meeste van die dinge sal julle seker vergeet. Maar ek wil so graag hê julle moet onthou dat die Here se liefde eg is en dat dit van ons egte mense maak. Nuwe mense.”

Toe vertel hy ons die verhaal van die fles vol goue albasters:

 Die lewe is soos ‘n stewige glasfles vol  goue albasters. Tog te mooi as jy daarna kyk, maar die skyn bedrieg, want sien die meeste van die albasters is nie rerig goud nie, maar eintlik gewone  glasalbasters wat maar net met ‘n lagie goue spuitverf oorgespuit is. Op die oog af lyk almal dieselfde. Jy skeer almal oor dieselfde kam en praat van die fles vol goue albasters. Die oomblik egter as jy die glasfles in die rondte draai en begin skud, gebeur daar iets. Dan begin die kamma goues hulle ware kleur of gebrek aan kleur wys. Met die skudslag begin die albasters teen mekaar skuur. Jy merk dit nie dadelik op nie, maar as jy fyn kyk sien jy tog iets het verander – by sommige albasters vind ‘n afsplintering van hulle goue omhulsels plaas. Eers net ‘n kolletjie hier en later begin die geverfde goudlagie almeer afskilfer en word die die kamma goues al leliker. Ontmasker,

 Maar ‘n interessante ding gebeur met die egte goue albasters. Van elke skuur en skudsklag begin hulle blinker word . Die rondskud doen hulle goed, Hulle ware kleure skyn deur. Die wrywing bring hulle ware karakter (kleur) na vore. Hulle is eg.

 “So “, som oom  Saayman dan die vertelling op , “is dit ook met mense . Wie waarlik nuutgemaak is deur  God en getrou bly aan Hom se  nuwe-skepsel-in Christus-egtheid sal blyk. Selfs al word dit aan ergere toetsing onderwerp. Wie egter voorgee om ‘n Christen te wees en ‘n valse front voorhou, sal altyd moet veg om die afskilferkolle weer toe te verf. Toetsing sal hom aan die kaak stel.

 Dis al meer as veertig jaar gelede dat ek die verhaaltjie gehoor het, tog bly die waarheid daarvan my steeds by.

 ‘n Jaar of drie gelede staan ek op die boonste verdieping van die Hagia Sophia katedraal in Istanbul. Ek kyk met verwondering na die indrukwekkende goue mosaieke van Christus. Dit het ‘n goue gloed. Wonderlike vakmanskap en talle mosaiekblokkies vorm die Christusfiguur wat seënend sy regterhand lig. Ek dink weer aan my prentjie van die Goue Herder. Hier is hy in al sy goue glorie uitgebeeld. Indrukwekkend. Koninklik.

 Tog mis ek ineens die kinderkransprentjie van die Goeie Herder in sy gewone herdersklere wat so tuis tussen sy skape lyk. Die goue mosaiek-Christus lyk afsydig en byna hooghartig.

 Ineens besef ek dat die Goue Herder se goudheid nie in uiterlike goue mantels en stralekranse lê nie. Die Goue Herder kom onder ons woon met ‘n menskleur lagie om hom. Ons herken nie dadelik sy Andersheid en Godheid nie. Hoe langer ons egter in sy teenwoordigheid deurbring, van hom leer en toelaat dat Hy ons verander, hoe meer sien ons sy Go(u)dheid raak en al hoe meer word sy beeld ook sigbaar ins ons lewe.

 Die Ware Herder leer ons lewensegtheid. Niks kan dit van ons wegneem nie.

Niks.

                        

One Response to “Die Goue Herder”

  1. Rene says:

    Hierdie keer beleef ek die albassters se skuurdery- ons het mekaar nodig om die ware “mens”na vore te bring!! Om in die natuur naby God te wees en by die Herder te sit kan net lekker wees…

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.