Boomverbond

Bome is my natuurvriende wie se skaduwee ek graag opsoek om hulle stille krag en wysheid te ervaar. Om met my rug teen die skurwe stam van so ‘n karaktervolle boom te sit, is vir my ‘n terapeutiese ervaring.

So baie bome is deel van my onthou, vrugtebome waarin ons geklim het en in wie se skaduwee ons speel-speel plase uitgelê het, die kersvlam-sipres wat jaarliks hoër getroon het as ons die kersliggies om hom draai. plataanbome met sy jeukwol, akasias, veral die soetdorings van Wes-Transvaal. Bloekombome met die mooi baspatrone. Daar het heelwat van hulle gestaan in Welkom-park langs die Schoonspruit in Klerksdorp. Dit was ons piekniekplek  waar ons Sondagmiddae die geruite ou reisdeken oopgegooi het en dan kraaklekker waatlemoen geëet het. Dit was  ook die plek waar ons  jaarlikse Sondagskoolpiekniek met al die Boeresportspeletjies soos driebeenresies, sakresies en eier-en-lepel resies gehou is. En ek die oulike meisie in my Sondagskoolklas asof vir die eerste keer raakgesien het. Die Akkerbome van die (gewese) Tomstraat in Potchefstroom was altyd my gespreksgenote as ek Bult toe stap. Net so Die Eike in Dorpstraat Stellenbosch en veral ook die karakterbome in die Laan.

Tog is dit daar sekere bome en boomgebeurtenisse wat my bybly. soos die Acacia Boliviana in ons erf in Floralaan, Klerksdorp. Dit was ‘n redelike gemaklike klimboom waarin ons Vrydagaande ons tuisgemaak het. Dit het as gerieflike uitkykpos gedien waarvandaan ons (ousus en ek ) die bure se bedrywighede kon bespied en ook interessante brokkies gesprekke kon hoor as sommige van die gaste tydens een van die partytjies daar kom staan en rook het  (of selfs ‘n vinnige omhelsing daar ingepas het!) Ons eie Boom van Kennis van Goed en Kwaad in die kleine!

Tog wil ek eintlik vandag my boomverbond in herinnering roep, want dit het vandag drie-en-veertig jaar gelede gebeur – 2 April 1968.

Ek onthou die dag met die die datum: 2-4-68

Ek was ‘n veertienjarige wat op sy eerste CSV kamp was te Maselspoort, Bloemfontein.  Het so ewe hoopvol my (toe baie gewilde) visnet hemp ingepak om so bietjie “mod” (rebels) te wees op hierdie korrekte kamp. Nogals so wit visnethemp met sulke oranje en geel vertikale strepe.  Ai, ek het gedink ek is aan die toppunt van die modefront!  Toe tref ‘n ander front Bloemfontein juis in daardie week van die Aprilvakansie – ‘n  ergere koue front laat ons bedags alle warm klere wat ons het oormekaar aantrek en saans bibber ons in ons tentjies. Ewe bekaf moes ek dus maar my trui oor die visnet hemp dra. (Gedog die liewe Vader straf my ydelheid)

Maar dis nie die eintlike storie nie. Ja, op die kamp is daar ook kans vir
regmaak en skuldbelydenis gegee.(En ek moes gebruikmaak daarvan want ek het op veertien ‘n oorontwikkelde gewete gehad!) Op die spesifieke dag  is daar met die seuns en die dogters afsonderlik gesels oor hulle lewens en lewenskeuses. Maar veral onthou ek dit as my Carpe Diem dag. My Boomdag. Ds Frikkie Kelber, ‘n waardige en wyse gryskop  omie-dominee het met ons seuns gepraat oor die belangrikheid van besluite wat jy in jou jeug neem en die invloed daarvan op jou latere lewe. Jou keuse van vriende en jou keuse vir God. As uitgangspunt het hy Psalm 1:1-3 geneem en die woorde vir ons plegtig gelees:

1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie Sit in die kring van die spotters nie;2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.3 En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

Hy het ons gewys op die die stelselmatige agteruitgang en verwording van die onverskillige mens – eers wandel hy in die raad van die goddelose, dan staan hy op die weg van die sondaars en uiteindelik sit hy in die kring van die spotters.

Daarteenoor is die regverdige welgeluksalig (driemaal gelukkig). Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, sy vrugte op sy tyd gee en alles wat hy doen voer hy voorspoedig. Veral sy beklemtoning wat die einde van elkeen is het my bygebly: By die regverdige vind daar groei plaas en hy hy ervaar vervulling. Die goddelose daarteenoor is soos kaf wat die wind wegwaai. Ek het sommer ‘n rilling gekry toe ek in my gedagtes die prentjie sien van die Kafmens wat so weggewaai word in die wind. Dit wou ek tog nie word nie. Nee, veel eerder ‘n Boommens wat veranker is in die Bron en vastigheid het.

 Later is aan ons die geleentheid gegee om op ons eie stil te raak. Ek het met my rug teen die stam van ‘n Bloekomboom gaan sit net so bewus geword van die onherhaalbaarheid van die oomblik en die krag van keuses. En van God. As veertienjarige het ek  besluit om die dag in my hart te bêre as  my Boomverbonddag. Dat ek net daar en dan, met my rug teen die skurwe boomstam, die Here kon vra om my lewe in ‘n nuwe koers (Syne) te stuur. Die dag toe ek besluit het dat ek graag wil hê my lewe moet met Sy hulp groeikrag hê. Met die koue wind wat snydend deur die trui en visnethemp waai, wou ek net nie wees soos kaf  wat wegwaai nie.

Ek was nog altyd lief vir bome maar het daardie dag ‘het die psalm en die beeld van ‘n groeikragtige boom my lewe in ‘n nuwe koers gestuur. Ek het net geweet ek behoort. Is geanker. Die vastigheid kon my bybly selfs in die dae van woeste stormwinde en onsekerhede.

Dus vier ek vandag my Boomverbond as ‘n viering van dankbaarheid oor Hom wat sy lewe aan die Kruisboom prysgegee het sodat daar ‘n nuwe begin vir vasgeloopte, oorlaaide mense kan wees.

In die agtergrond, terwyl ek hier skryf, speel Enya se CD “The Memory of Trees”. Stemmingsvolle musiek wat my weer laat dankie sê vir die Boomwaarheid van Psalm 1. My hart is ook vol van dankbaarheid oor boomvriende wat om jou groei en jou met hulle stil teenwoordigheid en skaduwee versterk.

Twee boomvriende uit my Laer-en Hoërskooldae het my vandag kom opsoek – die twee uur lange rit aangedurf en my kom versterk met al die onthou-jy-nog-geselsies. Ons het het opnuut ontdek dat ons drie saam deel was van die belydenisgroep wat vroeg in 1971 in Klerksdorp-Oos gemeente ons geloofsreis ‘amptelik” begin het. Ons kon deel in mekaar se ontdekkings  sedertdien oor ‘n tydperk van veertig jaar –  die eina’s en Amens. Maar ook meer as dit.  In hulle sien ek die groei waarvan Ds Kelber daardie Aprildag in 1968 gepraat het, want hulle lewe dra vrug. Die vrug van verankering en die vrug van ‘n lewe van volgehoue groei, ten spyte van teenspoed. Die vrug van die Gees. Ek is versterk en verryk deur hulle vriendskap.

Ek dink weer aan Elsabé Steenberg se treffende jeugverhaal met die ewe treffende titel: Boom, Bomer, Boomste. Sommige mense is soos bome wat jou in die skaduwee van hulle lawende teenwoordigheid laat sit.

Dankie Heer dat u my Boomste Vriend is en dat deur Boomvriende ek aan u Teenwoordigheid herinner word.

Eendag as my lewensboom afgesaag word vir Ewigheidsgebruik sal my jaarringe vertel van soveel genadejare. Tot dan, wil ek steeds groei!

                                          

2 Responses to “Boomverbond”

  1. ALWA says:

    Ek is nie goed met boomname onthou – maar die memories wat in of onder die boom gebeur het IS HELDER – veral onthou jy nog tye. Die likwarte boom in Discovery was, is en sal altyd baie prominente rol speel – my HEGTE , EGTE familie-wees ervarings ……”WORTELS” is daar geanker – sterk Duitse bloedlyn!
    Die pruimboom in Floralaan het gesorg dat die jongste boetie baie “yster” inkry tydens my ma se 4e “hartsgebegeerte” swangerskap.

    Die bome van Welkom – park was baie baie spesiaal en goed vir my as kind, maar NIE as grootmens nie. Op my 30e verjaardag ( terwyl ek dit met kosbare familie vier) het ons ‘n oproep ontvang dat iemand baie kosbaar in familie selfmoord gepleeg het in “Welkom park” – dit het ‘n letsel gelaat – dit was dan my IDOL !!

    Vandag dank ek die IDOL van ALLE tye -die onsterflike God wat BEHEER geneem het van my lewe, my wortels vasgeanker aan Geloof…Hoop….LIEFDE.

  2. Wim says:

    Ja, ek dink daar sal moet ‘n opvolgskrywe oor bome in ons familiegeskiedenis wees. Bv. “daar waar ons onder die bome geëet het” wat ‘n slagspreuk in die familie geword het. Ek stem saam met die dubbele “gevoel” wat bome soms teweegbring – goeie en slegte herinneringe. Ons beplan om die naweek ‘n boom in Clarens te plant om ons vyfde huweliksherdenking te vier op die plek waar die band gesmee is. Goeie herinnering!

Leave a Reply