Winterboom, Groenboom

Soms voel ‘n mens soos ‘n winterboom wat gestroop word van al jou blare sodat jy naak en totaal ontblaar voel. Verliese in my vriendekring het die afgelope tyd die gevoel sterk by my laat posvat. Toe ek twee weke gelede tydens my week op Philippolis die tyding kry van goeie vriend en kollega Cassie Nel se skielike heengaan, het hierdie gestroopte gevoel hom van my meester gemaak. Die ysige koue van die natuur het ook in my binneste posgevat. Boonop het ek weer die afgelope tyd gelees in Sheila Cussons se Versamelde gedigte  en by die gedig: Ses (variasies) op ‘n tema (van lyding) vasgehaak:

Wie sê dat pyn terwyl dit woed

Nie kan verwoord  word nie-

Tussen die primitiewe kreet

En die laaste berustende snik

Tussen eina en amen

Is daar baie klank-skakerings…

Dit is juis hierdie baie klank-skakerings tussen eina en amen wat voorop in my gedagtes is terwyl ek die Vrydagoggend terugry vanaf Philippolis Welkom toe. Ek dink ook aan die oggend so paar jaar gelede wat Cassie my voorgekeer het na ‘n Broederkring en sê dat hy iets het om my te vra. Ek kon sien hy is ernstig. Sy versoek: Dat ek asseblief die dag as hy sterf, sy begrafnis moet waarneem. Ek probeer nog skerts en sê dat hy nou op ‘n flou perd wed, want ek is is ‘n baie waarskynliker kandidaat as hy om eerste my kop neer te lê, maar hy bly ernstig en gee my selfs die Skrifgedeelte en vers van die diens : Ps 116:15. Ek willig  in maar sê dat ek nie hoop dat ek ooit die belofte gestand hoef te doen nie. Nou is dit wel sulke tyd.

So byna halfpad tussen Philippolis en Trompsburg sien ek soos ek naderkom staan daar aan die linkerkant van die pad ‘n pragtige groot groen boom. Die boom staan sommer uit in die vaal landskap. Selfs die windpompe in die veld lyk valer as gewoonlik. Juis daarom val die  groen boom  my des te meer op. Toe ek egter  naby kom, sien ek dat dit twee bome is wat lyk soos een. Die voorste boom het ‘n  bruin stam, maar die takke van die boom, wat presies op die vorm van die ander boom pas, is kaal. Die boom reg agter die kaal boom is egter helder groen – dis ‘n immergroen boom. Van ver af lyk dit dus soos een boom, maar as jy by hulle kom sien jy dat die eerste boom ‘n gestroopte boom is – as’t ware ‘n raamwerk van ‘n boom. Terwyl die tweede boom sy groenheid in al sy glorie vertoon.

Ineens dink ek daaraan dat dit ook maar is soos mens se lewe se soms is. Van ver af lyk alles goed en mooi, maar as jy naby kom sien jy die pynlike tekens van die winterseisoen waardeur die boom gaan. Net soos mens soms deur ‘n seisoen gaan waar jy gestroop word van die uiterlike en die oortollige en net op die kern aangewese is. Tog dien die ander boom as’t ware om die swaarkry-boom te bemoedig en te laat onthou dat blare en vrug weer al volg.

Dit is asof die prentjie van die bome my bybly het toe ek die psalm lees wat Cassie versoek het as teks vir sy begrafnis. Ek het as’t ware  met ‘n  vooropgesette idee na die psalm gegaan met die verwagting dat dit grootliks gaan handel oor die dood, veral omdat vers 15 sê:

Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.

Ek het dus eers die winterboom in die psalm raakgesien maar met die herlees van die gedeelte, sien ek dat dit eintlik ‘n psalm is wat uitbundig handel oor die lewe en oor God –  ‘n God wat lewe gee en sorg vir sy kinders selfs onder moeilike omstandighede. Dit is toe die groen boom in die psalm wat my baie meer opval as die bruin winterboom vol doodsheid.

Een van die persone wat ‘n kommentaar lewer oor die psalm, praat van die psalm as ‘n jubelende Heildronk op die lewe en met respek gesê ook op God. Want Ps 116 handel oor ‘n God wat lewe gee, wat sorg vir hulle aan wie Hy die lewe gegee het en ‘n God wat ook nie ligtelik dink oor die dood van sy dienaar nie.

Die psalm is so vol groenboomgedeeltes:

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.

2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

5Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons.

6Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos,maar Hy het my gered.

Ek dink oor hoveel mooi Groenboom-hoogtepunte daar in Cassie en hul gesin se lewe was:

Op oog af het dit gelyk asof hulle as gesin pal in die somerseisoen leef. Soveel goeie dinge wat gebeur, – Mylpale soos Cassie en Hannalize se  verlowing en huwelik; die beroep na Welkom; die ontvangs in die gemeente; die geboorte van hulle twee dogters;  nog later Lou-Ancy en Marilize wat matrikuleer, studeer, self grade behaal: Lou-Ancy en Conrad se huwelik,  Selfs ook vroeër vanjaar die welwillendheid van soveel gemeentelede wat hulle kon ervaar ervaar tydens hulle afskeid van die gemeente.

Die Groenboom Cassie is die man met sy diepe liefde en waardering vir sy vrou, Hannalize en sy trots en liefde vir sy twee dogters. Die Groenboom Cassie is die geroepene wat sy verhoudig met God voorop gestel soos ps 116 sê: Van my geboorte af is ek u dienaar. By Cassie was daar hierdie sterk roepingsbesef en toewyding  in die uitvoering van sy bedieningstake. Die Groenboom-Cassie is die netjiese Cassie wie se netjies-geordende studeerkamer en dagboek mens altyd weer jou eie dagboek en studeerkamer krities laat bekyk het. Groenboom Cassie is iemand met ‘n fyn humorsin, wat gereeld voor ‘n Ringsittig die liedjie (Weer ‘n keer) van Lucas Maree aangehaal het. 

Ons spaar mekaar nie juis nie want ons ken mekaar te lank Ons veg die met die vuis nie maar ons moor mekaar met klank

Die Groenboom Cassie kon met oorgawe en toewyding staan in diens van sy Meester en so die  ‘n gemeente en gemeenskap vir sewe-en twintig jaar dien.

Die Winterboomdele in die psalm is  egter ook daar:

 3Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp,

ek het benoud en bekommerd geword.

 Bande van die dood, doodsangs, ‘n gevoel van magteloosheid, vertwyfeling, selfs die dood.

 Wie van ons ken nie die uiterstes in ons menswees nie – dieselfde persoon wat triomfantelik ‘n groot mylpaal bereik, kan skielik ook deur selftwyfel en onsekerheid geteister word.

 In sy liedjie – die Taal van my Hart sing Stef Bos: Ek het myself leer ken as ‘n held en as ‘n  hond – kras woorde, maar dit is hoe mens soms in afkraaktaal na jouself kan verwys as jy voel dat jy misluk het. Tog sê die liedjie – ek ken ook nou my donker kant en ek het vrede in myself.

Vir  Cassie en gesin was veral die afgelope jaar of twee, deel van die Winterboomfase. Cassie se siekte, pyn en worsteling met depressie het ook aan hulle Groenboombestaan kom vreet soos ‘n  gulsige sprinkaantrop.

 Vir Cassie wat alles altyd so noukeurig en presies wou doen, was die fase van depressie ook soos ‘n vreemde indringer wat die bekendheid van die bestaan kom wegvreet het. Die behandeling en tye weg van die huis het swaar op almal gedruk. Tog was daar  telkens weer die  hoop dat alles weer na normaal kon teugkeer.

 Met die angskreet in die psalm kon hy homself identifiseer – hy het dikwels angs beleef a.g.v. sy siekte.

So  ‘n winterboom-ervaring stroop mens tot op jou kern en laat jou ook jou eie broosheid besef. Alhoewel mens so ‘n ervaring ten alle koste sou wou vermy, bring dit jou ook nader aan mekaar en maak dit ‘n eerliker gesprek met God moontlik (Soos so treffend verwoord in NP Van Wyk Louw se gedig Vroegherfs)

 Die genade was dat  die keerpunt gekom het: Cassie kon weer huis toe  kom. Die groot troos vir  Hannalize en die kinders is die nuwe begin wat hulle saam met Cassie  in hulle eerste eie tuiste kon beleef.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd was hy weer rustig, die bekende Cassie het weer na vore gekom en kon hy hom verlustig in die die proses om ‘n eie blyplek keurig in te rig. As egpaar kon hulle weer tyd saam spandeer en die klein ritueeltjies soos koffiemaak en gesels geniet,

 Die Here wat lewe en dood in sy hande hou, het vir Cassie kom haal op ‘n stadium dat hy werklik weer gelukkig was en kon glimlag

Ps 116:15 sê: Vir die Here is die dood van sy troue dienaar nie ‘n geringe saak nie-

 Die New Living Translation vertaal die vers as volg:

The Lord cares deeply when his loved ones die.

 Die Skepper-God  wat  male sonder tal  uitkoms in hulle  lewe gegee het, was in daardie laaste oomblik by Cassie. Daardie oomblik was en is, net soos die res van Cassie se lewe ook kosbaar in God se oë.

 Hy het aan hom daardie menuha-rus gegee waarvan ps 116:7 praat:

Ek moet nou tot rus kom want die Here het goed aan my gedoen.

Die woord menuha word in Engels vertaal as Quietness, a settled spot, a home.

God het die winterboom-takke met sy nuwe bloeiseldrag beklee.

 Nikos Kazantzakis se aanhaling: I said to the almond tree, “Friend, speak to me of God,” and the almond tree blossomed

 Cassie kan nou blom. God se Paradysseisoen het vir hom aangebreek.

               

Leave a Reply