Droombrug

Ek is nogal diep verlief op brue.

 Brúe vertel altyd vir my ‘n verhaal en dien as kragtige simbool van ‘n ontmoetigspunt tussen twee oewers/groepe/mense. Het ons dan nie ook in Suid-Afrika se geskiedenis die epiese Brugberaad gehad nie? In Augustus 1975 het Adv. BJ Vorster, Suid-Afrika se Eerste Minister, vir president Kenneth Kaunda, staatshoof van Zambië, in ‘n trein op die brug oor die Victoria-waterval ontmoet vir samesprekings.

 Kleintyd was dit die wonderlikste ding om oor die Barrage naby Vereeniging te ry. Toe is dit gesluit (ek dink daar was dreigemente van sabotasie) en ons moes noodgedwonge met ‘n ander, oninteressante roete ry.

 Ek het so ritueel ontwikkel dat as ek oor ‘n brug ry, veral die brug oor die Oranjerivier tussen Vrystaat en Kaap, dan luister ek graag ‘n simboliese liedjie. Dit bring soms ‘n geskarrel mee, veral as die brug skieliker opduik as wat ek te wagte was.

 Kleintyd het die film “Bridge over the river Kwai” ‘n groot indruk op my gemoed gemaak. Ons het  die film in die inry gaan kyk en my Pa het weke daarna nog die aansteeklike temalied gefluit as ons iewers heen oppad was.Veral die aangrypende slottoneel bly my by – die swaar gewonde soldaat (wie se taak dit was om die brug met springstof op te blaas om die aantog van vyandelike magte te keer), val met sy laaste kragte op die hefboom  wat die ontploffing sou laat gebeur.

 Ek is hartseer oor vervalle brue, halfgeboude brue, weggespoelde brue. Juis omdat ‘n brug so sterk simbool van ontmoeting en verhoudings is.

 In die roman van Irma Joubert Anderkant Pontenilo word die brug wat gebou word deur die Italiaanse krygsgevangene, Antonio,  ook die simbool van versoening tussen mense. In ‘n eerlike gesprek met Klara, die meisie op wie hy heimlik verlief is, vra hy of mens verskille soos taal, kultuur en godsdiens kan oorbrug deur mekaar in die middel (van die brug) te ontmoet. Sy antwoord: “Dan staan die twee partye in die middel van ‘n brug. Dis ten beste ‘n tydelike rusplek, Antonio, ‘n verposing om die mooi uitsig te bewonder. Hulle sal steeds moet kies waarheen hulle verder reis, die een of die ander kant.” (p353)

 In 1999 het ek die voorreg gehad om op die mees romantiese brug (vir my) op aarde te staan – die Karlov Most in Praag. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die besef dat hier soveel verhale afgespeel het op en om die brug sedert begin is met die bou daarvan in 1357.

 Ons het Sondag Praag begin verken vanaf die prominente Kasteel wat op die heuwel lê. Ek het op die ingewing van die oomblik ‘n kaartjie gekoop vir ‘n uitvoering van klassieke musiek wat die middag om 13h00 gehou sou word in die balsaal in die kasteel. Tydens die uitvoering van die hartsmooie musiek het ek telkens opgekyk na die dak wat ryklik versier is met fresko’s en vir myself gesê; Dis rêrig, ek is hier, ek ervaar regtig hierdie oomblik wat soos ‘n droom voel. Na die uitvoering het ek by my vriende aangesluit en het ons stelselmatig van die kasteel af deur die strate beweeg: winkels met delikaat-versierde eierdoppe (om Pase te vier), winkeltjies waar die mooiste marionette gemaak word en musiek wat orals uit stegies en winkel syfer, dit was my eerste indrukke van Praag. Tog het die hoogtepunt voorgelê. Ons het die Karlov Most bereik – ‘n eeue-oue brug wat tegelykertyd dieVltava(Moldau) rivier oorspan en so funsioneel is, maar tog terselfdertyd ‘n stuk argitektoniese skoonheid is.

Die brug wat aan die begin van die veertiende eeu voltooi is, is 516 meter lank en byna 10 meter breed. Dit bevat sestien boë wat ’n skoonheid en simmetrie aan die brug verleen. Met intervalle is daar kort-kort ‘n inham met ‘n standbeeld, dertig altesaam.

Bedags is die brug, waar net voetgangers toegelaat word, ‘n miernes van aktiwiteite, verkopers, skilders en allerhande interessante mense. Juis daarom wou ek die brug ontmoet sonder die gedrang.

 Die Maandagoggend het ek opgestaan toe dit nog donker was en met ‘n trem van ons blyplek tot by die brug gery.Die stad was nog half aan die slaap. Ek het eers ywerig foto’s geneem van die brug so teen die daglig wat begin breek. Toe het ek met verwondering die brug betree. Ek wou die eerste een wees wat daardie dag oor die brug stap terwyl die naglanterns nog weerskante brand. Dit was  ‘n ongelooflike gevoel. Op die brug het ‘n bedelaar my van die oorkant teegekom. Vir een vreemde oomblik het dit gevoel asof ons die enigste twee mense in die wêreld is. Ek het teen die betonkant van die brug gaan staan en die Moldau dopgehou, Dit was of musiek van eeue so deur die stad rivierlangs vloei en of die brug die stille luisteraar was. Toe hulle om 6.15 die lanterns afskakel en die dag begin, het ek die brug beloof om weer terug te kom. Maar nie alleen nie. Met ‘n Lewensreisgenoot aan my sy. By die inhammetjie waar jy ‘n wens kan wens, het ek my hand in die geelkoper vormpie geplaas sodat my vingers rivier se kant toe gewys het. Daar het ek my wens/gebed geuiter vir iemand om die mooi mee te kan deel. Wat was my teleurstelling groot toe ek later by ons blyplek in die klooster kom en ontdek dat ek vergeet het om ‘n film in my kamera te laai die oggend!  Daarom moet ek noodgedwonge  poskaartfoto’s  van die brug in dié blog gebruik, maar eendag wil ek graag weer ‘m ontmoeting met die brug hê en dan paraat wees met my digitale kamera! Tog het die besondere brug ‘n onuitwisbare induk op my hart gelaat en het ek soveel geheueskyfies wat ek koester. Daarom het ek, op ‘n dag toe die brugverlange my beetgepak het, die volgende woorde neergepen:

Om te brug (Karlov Most, Praag)

 hoe hartstogtelik het ek my aan jou verbind

hoe koesterend jou gestreel

so hunker hunker na jou klipverhaal

my hand laat pas in die glim van weersiensbeloftes

en met jou my terugkomverbond gesluit.

 Tuis het ek opgelees oor die merkwaardige brug en interessante feite ontdek.Hulle het toetse gedoen het om te kyk hoekom die brug so stewig staan na soveel eeue en toe ‘n organiese komponent in die mengsel ontdek wat moontlik blyk eiergeel te wees. Die eiergeel is  saam met die beton ingemeng om dit sterker te maak. Dit fassineer my dat daar so “lewende” komponent in die brug ingebou is, dalk soos die ou kunstenaars eiergeel saam met hul verf gemeng het om die besondere kwaliteit te verkry.

 Ek het ook nageslaan en ontdek dat die woord vir hoëpriester in Latyn Pontifex is, letterlik beteken dit  Brugbouer. Dit wat Jesus by uitnemendheid is.Om vir ons as Middellaar al die gebroke verhoudings (brue) weer te herstel, eerstens met God en dan ook met onsself en ander.. Dit gee mens sommer moed as die wêreld soms erg vervalle voel.

 Die liedjie van Simon and Garfunkel, Bridge over Troubled waters vertel van so Brugbouer wat bereid is om die storms in die lewe van sy vriende te oorbrug:

 When you’re weary
Feeling small
When tears are in your eyes
I will dry them all

I’m on your side
When times get rough
And friends just can’t be found
Like a bridge over troubled water
I will lay me down
Like a bridge over troubled water
I will lay me down

When you’re down and out
When you’re on the street
When evening falls so hard
I will comfort you
I’ll take your part
When darkness comes
And pain is all around
Like a bridge over troubled water
I will lay me down
Like a bridge over troubled water
I will lay me down

Sail on Silver Girl,
Sail on by
Your time has come to shine
All your dreams are on their way

See how they shine
If you need a friend
I’m sailing right behind
Like a bridge over troubled water
I will ease your mind
Like a bridge over troubled water
I will ease your mind

                      

4 Responses to “Droombrug”

  1. Rene says:

    Veilig terug in ons ou land!! Ons het baie brue gesien maar besef hulle is daar om uit te reik,n diens te verskaf en twee kante te verbind. Ek besef ons lewens is baie gemakliker as die van laaannnkk gelede maar met die besef GOD se grootsheid is oral om ons!!

  2. Wim says:

    So bly julle is terug van julle lang reis. Glo daar is baie stories om te hoor! Ook van plekke en brue wat ek nie ken nie.

  3. Toe hulle om 6.15 die lanterns afskakel en die dag begin, het ek die brug beloof om weer terug te kom. Maar nie alleen nie. Met ‘n Lewensreisgenoot aan my sy. By die inhammetjie waar jy ‘n wens kan wens, het ek my hand in die geelkoper vormpie geplaas sodat my vingers rivier se kant toe gewys het. Daar het ek my wens/gebed geuiter vir iemand om die mooi mee te kan deel. Wonder of jy toe die terugkom met jou Reisgenoot kon deel. Hoop dit gebeur binnekort. Moet ongelooflik mmoi wees en onthou die kamera moet reg wees die keer. Dankie vir ‘n ongelooflike mooi en inspirerende brug wat jy in my lewe gebou het as mens. wat ‘n vooreg om julle as Reisgenote te ken.

  4. Wim says:

    Dankie Sonja, ek waardeer jou kommentaar! Die reis na die Droombrug saam met my Reisgenoot moet nog gebeur, maar ek glo dit sal. Boonop moet die kamera die keer oortyd werk (gelukkig met die digitale kameras laat weet die kamera as daar nie ‘n geheueskyfie in is nie!). Baie dankie ook vir jou en Kobie se vriendskap oor baie jare!

Leave a Reply