Towertapyt

Floralaan 62, 1964

 Eendag lank, lank gelede (skuins na die middel van die vorige eeu) het daar ‘n meubelwa voor ‘n stewiggeboude drieslaapkamerhuis aan die voet van Goudkop gestop. Uit die meubelwa is daar ‘n donkergrysbank en twee bypassende grys stoele gelaai.

 Dit is die huis ingedra en eenkant in ‘n ry gepak. Die nuuskierige skare het aangegroei – ‘n Donkerkop pa en bruinkopma, ‘n opgeskote dogter van dertien, ‘n seun van tien, ‘n dogtertjie van ses en ‘n baba van ‘n maand of drie. Die nuwe stel was sommer groot opwinding want  die pa en ma is juis die vorige week weg Goudstad toe om dit uit te soek

Die ma se oë het egter nie lank op die grys stel gerus nie, maar weer afwagtend na die deur gedraai. Toe kom die verrassing – ‘n toegerolde mat is die vertrek ingedra. Op die gesonke blokkiesvloer van die sitkamer is dit oopgerol. Voor die oë van die toeskouers het die blokpatroon ontvou. Goud, maroen, swart en room – elke blok ‘n eie prentjie.

Die ma het haar hande saamgevou so asof sy bid en die mat met haar oë geliefkoos.

Die pa het rustig toegekyk en die kinders het hul misnoë laat hoor. Dis sommer ‘n lelike ou mat, dis nie so mooi soos die vorige een wat ons gehad het nie. Watter ou lelike blokke is dit en watter snaakse patrone. Ons ou mat se groen rand met blare en blomme was sommer baie mooier.  Die een is te deurmekaar, ons like dit nie.

 Die ma het die kinders nader getrek en gesê: Julle sal nog leer om baie daarvan te hou-

“Toe ek dit  sien hang in die winkel het ek dadelik geweet dit is ons mat die”, het sy gesê.  Sy het die hoek van die mat byna met piëteit omgevou en die etiket aan die kinders gewys. – ‘n Walton Super Kashan!

 Pa het gestaan en glimlag – “Ons kon die mat eintlik nie bekostig nie” het hy gesê en na die bruinkopvrou gekyk “maar julle ma het dadelik daarop verlief geraak toe sy dit sien. Ons moes maar oë toeknyp en dit koop.”

 ‘n Rukkie  later is die nuwe sitkamerstel  ewe mooi op die nuwe mat  gerangskik. Onder die skerp pootjies van die nuwe stel is maroengeverfde ysterbakkies geplaas wat soos deurgesnyde tennisballe gelyk het. Die moes kwansuis keer dat die nuwe mat nie beskadig word nie. Toe is die nuwe gordyne met so goudgroen skynsel ook opgehang en die kinders het versigtig op die nuwe blokmat gaan sit. Hulle moes darem eers voel hoe ‘n Super watsenaam ookal voel. Die baba het nogal geintereseerd na die patrone op die mat gestaar en probeer gryp na die prentjie van  ‘n pou met pronkende stertvere.

Die tienjarige het sy speelkarretjies gaan haal en gou met sy karretjies versigtig nuwe paadjies op die mat ontdek.

 Daardie aand het die bruinkopma se ouer broer sy kamera gebring en die gesin op die nuwe driesitplek grys bank laat sit, met twee van die kinders voor op die mat.Die kamera het wit geflits toe die foto geneem word en in daardie witflits die gesin gestol tot tydloosheid.

 Hulle verhaal en die van die blokkiesmat sou nou altyd verweef wees.

         

Agulhasstraat, 7 Maart 2002

 Bykans vier dekades  nadat die mat die eerste keer sy verskyning gemaak het, daag die mense van Four Seasons Cleaners op om die mat te sjampoe en te was. Die mat was lank opgerol en gestoor, nou word dit weer oopgerol en benut. Die skoonmaakproses is ‘n hele ritueel. Die bruin banke, stoele en tafel word van die mat weggeskuif en sy volle patroon word blootgelê. Skoonmaker Piet spuit eers ‘n sagte warm sproeilagie oor die mat om dit klam te maak. Toe word dit sistematies gesjampoe en gesuig. Ek wonder of daar na al die jare en na agt verhuisings nog enige oorblyfsels van Floralaan 62 aan die mat kleef. Miskien net die herinneringe wat onlosmaaklik deel is van die matpatroon. Die metodiese sproei, sjampoe en suig neem ongeveer ‘n halfuur. Toe herrys iets van die vroeëre glorie uit die middeljarige mat.

 Ek staan en beskou die mat soos hy onthul voor my lê. Ma was tog reg, ek het geleer om van die mat te hou, selfs lief te word daarvoor. Ek gaan haal my kamera en korrel deur die lens: Ek sien die eweredige randpatroon en die middelblok wat amper soos ‘n lyf lyk.

Ek het onlangs die blokke die eerste  keer in al die jare getel – een-en-veertig blokke, nagenoeg so oud as die mat seker is en minder blokke as wat my lewensjare nou is. Die blokpatrone en ons familiestories is onlosmaaklik aan mekaar verweef. Ek neem die foto. ‘n Leeftyd van geheuekiekies is aan die mat gekoppel.

          

Ibisana 9, Februarie 2009

 Met die inrig van my studeerkamer in ons Dupleks-meenthuis, kry die Towertapyt sy ereplek. Hy toon tekens van verwering na jare se gebruik.Tog het sy stories behoue gebly: Die onderskeie blokke met hul simboliese patrone is nog steeds herkenbaar. Volgens die boek wat Oosterse matpatrone verklaar, beeld die blokke die lewe en lewenssiklus uit. Die etiket met die naam van die mat het met die jare se gebruik losgekom en verdwyn. Dus is die naam van die mat maar net ‘n vae onthou uit my kindertyd. ‘n Verskeidenheid van meubels wat saam met die mat ‘n kuierplek gevorm het, het metertyd verdwyn, maar die mat leef voort. Die agterkleinkinders van die man en die vrou wat die mat vyf-en-veertig jaar gelede gekoop het, speel nou op die mat.

 In die mat is deel van ons familie- en lewensgeskiedenis verweef. Dit herinner ons aan kleintyd se onbesorgdheid en knielgesprekke met God tydens Huisgodsdiens. Dit vertel van daardie eerste kuiers van die sussies se kêrels en die veelbewoë dag toe ek en my hoërskoolliefde op maat van Jenifer Juniper op die mat gedans het en Ma gedog het haar kind is nou op die Breë Weg!

 Die Towertapyt is ons eie onthoumat, ons Storiemat.

 As ek Brandi Carlyle se trefferliedjie The Story hoor, dan is dit dit nie net die verhaal van ‘n lewe nie en lewens nie, maar van die interverweefdheid van  Towertapyt se verhaal en ons s’n:

 All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I’ve been
And how I got to where I am
But these stories don’t mean anything
When you’ve got no one to tell them to
It’s true…I was made for you
I climbed across the mountain tops
Swam all across the ocean blue
I crossed all the lines and I broke all the rules
But baby I broke them all for you
Because even when I was flat broke
You made me feel like a million bucks
You do
I was made for you
You see the smile that’s on my mouth
It’s hiding the words that don’t come out
And all of my friends who think that I’m blessed
They don’t know my head is a mess
No, they don’t know who I really am
And they don’t know what
I’ve been through like you do
And I was made for you…
All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I’ve been
And how I got to where I am
But these stories don’t mean anything
When you’ve got no one to tell them to
It’s true…I was made for you…

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply