Lente is onmiskenbaar hier. Blomtyd het aangebreek! Na so strawwe en uitmergelende winter vol trietsweer en misrabele (ver)koues, is die nuwe seisoen ‘n welkome vriend. En die kleur, die kleur. Die witstinkhout straatbome is lewegroen, die boslelies se triomfantelike oranje en geel blomme staan soos uitroeptekens in die skadukolle in die tuin, die jasmyn se pienkwit massa blomme tuimel uitbundig oor die muur en dra ‘n onmiskenbare lenteboodskap in voorkoms en reuk. Die seisoen van nuwe lewe blom welig. ‘n Potplant-malva wat ek onlangs by die kwekery gekoop het, blom bloedrooi.
Gedurende my studentejare op Stellenbosch, het ek akuut bewus geword van die lentekrag. Al was die gras en plante groen gedurende die reënnat winters, kon ‘n wintersdag ekstra grou lyk as die aanhoudende reëndruppels daglank teen die ruite afgeloop het.Die kaal eikestamme en takke het ‘n prentjie van gestrooptheid geskep te midde van die groen gras om hulle stamme en die kabbelende Eersterivier. Daarom die lekker ritueel op die 31e Augustus elke jaar. Dan het studente oral op die walle van die Eersterivier kappertjies gepluk en ook wederregtelik hul blommemandjies uit tuine se lente-opbrengs aangvul. Op lentedag was daar ‘n houer blomme in die voorportaal van die koshuis en soms ook persoonlike lenteboodskappe met ‘n blommetjie aangeheg, gerig aan die koshuisbewoners.
Miskien was dit waarom die afdruk van Picasso se skildery in Edrich se winkel in Van Ryneveldstraat my oog gevang het. Die oorspronklike skildery is getiteld: “Mother and child on the beach” en is tydens sy “Blou-periode” geskilder. Ek moes dit eenvoudig hê. Weens my knap begroting kon ek dit egter nie laat raam nie en het dit dus maar laat blok. Toe ek ‘n paar dae later die meesterstuk trots in my koshuiskamer onthul, het ek geweet dat die simboliese skildery my sou bemoedig in my “blou”dae. dae wanner die reën onophoudelik neerstuif en die koshuiskamervenster ‘n vae, grys Simonsberg omraam. Die spatsel rooi van die blom wat die moeder byna biddend in haar hande hou, was so uitroepteken van hoop.
Gedurende die drie jaar wat die afdruk in my koshuiskamer gehang het, het ek dikwels na die spatsel rooi gekyk en geweet – selfs al is die eksamen op sy taaiste en die teleurstelling van ‘n gebroke verhouding op sy seerste, is daar nogtans iewers die hoop wat nie beskaam nie. Die blom het my blues help besweer
So het die afdruk ook saamgetrek deur die jare – soms ‘n plekkie gekry teen ‘n muur en soms was dit iewers weggepak. Toe die lente vanjaar voelbaar word, het ek die afdruk gaan soek waar dit weggepak was. Dit was weer tyd om rooi-inspirasie te kry. Nou hang dit hier bo my werkplek – Na vyf-en-dertig jaar weer in ‘n ereposisie.
Die enkele rooi blom het my die afgelope week weer aan die ware verhaal van Janusz Korczak laat dink. So paar jaar gelede het vriend Leon my die merkwaardige verhaal vertel en ek dink dit pas by die lente.
Janusz Korczak was ‘n mediese dokter wat kinders se welsyn swaar op sy hart gedra het. Hy het in 1911 ‘n weeshuis, genaamd “Dom Sierot” in Warskou, Pole bestuur. Hy het groot waarde geheg aan die rol van kinders in ‘n samelewing en het verskeie boeke geskryf oor die onderwerp, o.a. “How you shall love a child” waarin hy sy siening oor onderwys uitspel.
Gedurende die besetting van Warskou deur die Nazi’s in 1939 is Korczak gedwing om sy weeshuis te skuif na die Joodse Ghetto. Daar het Korczak saam met die kinders gebly onder haglike omstandighede. Hy het noukeurig dagboek gehou van die tydperk – die dagboek het wonderbaarlik behou gebly.
Te midde van hierdie moeilike omstandighede, het hy die kinders geleer om moed te hou en te bly hoop deur hulle te leer om rooi malva’s oral te plant en uit te deel. Meer as tweehonderd potjies met malvas is uitgedeel aan mense rondom hulle. Dit was vir hulle ‘n teken van hoop te midde van die wanhoop wat hulle daagliks om hulle gesien het. Tog het Korczak ook geweet dat hy die kinders moes voorberei om die werklikheid van lyding en dood te kan tegemoetgaan met moed en geloof. Hy het hulle ‘n toneelstuk laat opvoer. Dit het gehandel oor Amal, ‘n sterwende Hindu seuntjie. Deur die stuk wou hy hulle leer dat selfs jong kinders soms die dood in die gesig moet staar.
Woensdag, 5 Augustus 1942 is die weeshuis in die Ghetto ontruim. Net voordat die soldate hulle weggeneem het uit die Ghetto, het Korczak ‘n laaste inskrywing in sy dagboek gemaak. Toe het hy die tweehonderd kinders aangesê om hulle beste klere aan te trek en saam met hulle het hy gestap, ‘n kind aan elke hand en sy kop fier orent en sy oê gevestig op ‘n stippel in die verte. Saam met die tweehonderd kinders het Korczak gesterf in die gaskamers van Treblinka, maar die hoop waaraan hulle tot die einde vasgeklem het, leef voort.
Vandag is al die geboue van daardie konsentrasiekamp afgebreek. Daar is slegs groen gras en bome en kring klippe met name. Op een van die klippe is uitgekerf: Janusz Korczak and Children”.
Later is Korczak se dagboek opgespoor agter ‘n steenmuur in die blyplek in die Ghetto. In een van die laaste inskrywings wonder hy of sy dagboek dalk iewers vorentoe vir iemand iets sal beteken, dalk vyftig jaar of so later. Hy som egter die sin van sy lewe op in die woorde: “I exist not to be loved an admired, but to love and to act”.
Dit is dan ook die boodskap wat die rooi malva hierdie lente dra. En terwyl ek hierdie woorde tik, kyk die moeder in die Picasso-afdruk goedkeurend toe met haar hoopblom in die hand. Ek vermoed ‘n glimlag.
Ns – die afgelope week is die 10,000 kerf verbygesteek vir besoeke aan die Blog. Baie dankie aan elkeen wat hier kom kuier. Dit bly ‘n voorreg dat ander dit wat jou na aan die hart lê, kan deel
Ek wonder of die mense nog Korczak kan onthou want die hele Europa het oral nog malvas ,die moiste kleure. Die plant moet eers swaar kry voordat dit die mooie blomme gee.Karakter bou????