Liede vertel soms ‘n dubbele verhaal: Die verhaal in die liedteks en die verhaal van die assosiasie wat die lied in die hoorder opwek.Liedstories bekoor my van jongsaf.
Van my kleintydse melankolie oor “The ship that never sailed” tot by onlangse treffers wat ‘n bepaalde indruk laat – die stories bly my by. Dalk die dat RSG se Vat Vyf op ‘n Saterdag tydens die program Brekfis met Derrich my terugneem na die onthou wat bepaalde liede opwek.
Kleintyd was dit veral die Hallelujaliede van die Kinderkrans wat ‘n groot indruk op my ontvanklike kindergemoed gemaak het. So het ek en sus Alwa lustig die liedjies wat ons die dag in die Kinderkrans geleer het, oppad terug huis toe gesing of by die huis ons eie konsert gehou. Toe ons “laat ons skyn vir Jesus “ leer, gaan oefen ons dit kliphard in die donkerste deel van die huis – daar waar die gang sy L buiging maak na die badkamer toe, want ons moet mos ons lig laat skyn “in die donker wêreld” en dit is die donkerste plek in die huis waar daar geen vensters is nie.
As vyfjarige was Superman my groot held. Op die comics se voorblad in die kafees het hierdie held gepryk –in volle vaart oppad om iemand te red. Toe die Kellogs promosie op die kartonflap van die Rice Krispies ontbytgraan verskyn, het ek geneul totdat my ma drie kartonflappe ingestuur het en ek in ruil daarvoor my Supermanbelt ontvang het – ‘n bloedrooi plastiekgordel met die bekende Supermanlogo op die gespe. Nes die seuntjie in die KFC advertensie het ek geweier om my belt af te haal want ek het mos super kragte gehad terwyl ek dié gedra het. Toe ons kort daarna die liedjie in die Kinderkrans leer van Red die wat sterwe (eintlik Red wat verlore gaan, soek die wat sterwe) het ek dadelik voor my geestesoog gesien hoe die sterke Red (want in my gedagtes was hy ‘n sterk man) soos ‘n wafferse Superman al wat siek is help en almal wat in nood (en dood) is, te hulp snel. Weekdae was ek Superman en Sondae was ek Red.
As jong seun het ek ook dikwels gesien met watter toewyding my Duitse ouma met geslote oë die lied “ Ruwe Storme breek in woede, alles om my heen is nag…” tydens huisgodsdiens gesing het. Dan het ek altyd die prentjie voor my geestesoog gehad van ‘n vrou wat op ‘n rots staan in die see met die woedende branders wat om haar slaan. Genadiglik was daar op die rots ook ‘n ruwe kruis waaraan sy kon vashou.
Heelwat van die prentjies wat ek aan die liede gekoppel het, het sy ontstaan in die ou Postcard Album wat dateer uit die Oorlogsjare. Die Album bevat poskaart prentjies met die liede van woorde, sommige ook Hallelujaliede, daarop. Die album was my Oupa en Ouma se eiendom. Na my Oupa se dood is al sy boeke na ons huis gebring in kartondose. Toe ons moes verhuis, moes van meeste van die boeke ontslae geraak word. Ek onthou hoe ek die dag na die hoop boeke gekyk het wat moes weggegooi word. Ek het ineens die boeke intens jammer gekry. Toe verskyn die “Red”-karakter weer skielik in my en begin ek boeke aandra na my kamer toe, o.a. die ou Poskaart-album vol prentjies. Ek kon sodoende darem ‘n paar boeke red, maar oor die album was ek die blyste. Ek kon ure kyk na die poskaartprentjies met die woorde van die verskillende verse van liedjies op elke blaai.
My ma was seker heimlik bly oor die redpoging van die poskaart-album, want soms het sy saam met my deur die album geblaai en sommige van die liedjies se stories in haar eie woorde vertel, o.a. Oh where is my wandering boy tonight? The Lost chord en Thora. So het die eerste reels van die liedjies in my kop vasgesteek – “I stand in a land of roses, but I dream of a land of snow, where you and I were happy in the years of long ago…” (Thora) Op die prentjie van vers vier kniel die bedroefde man by die graf van sy geliefde Thora met Thora wat vanuit die wolke haar arms na hom toe uitsteek. Baie melodramaties, maar dit was vir my jong gemoed so aangrypend. So ook die woorde van “where is my wandering boy tonight?”
– where is my wandering boy tonight –the boy of my tenderest care,
– the boy that was once my joy and light, the child of my love and prayer?
Op die prentjie van “The lost chord” sit ‘n jong meisie in ‘n vloeiende blou rok met goue omboorsels voor ‘n indrukwekkende pyporrel. Die eerste vers lui:
Seated one day at the organ, I was weary and ill at ease
And my fingers wandered idly over the noisy keys,
I know not what I was playing or what I was dreaming then,
But I struck one chord of music, likethe sound of a great Amen.
Soms het my ma die wysie van die liedjies saam met die woorde gesing en dit het diep indruk op my gemaak.
Nou nog wanneer ek deur die ou album vol poskaarte blaai, vou die liedjies met hulle (meestal hartseer) verhale voor my oop.
Soms, as dit voel asof die ruwe storme waarvan ouma altyd so met oorgawe gesing het, in al sy felheid om my breek en die stukkie rots waarop ek staan voel asof dit verswelg gaan word, bring die poskaartprentjie van die vrou op die rots ‘n vreemde troos. Veral ook die ruwe kruis wat soos ‘n ankerpaal haar regop hou.
Dan weet ek dat die eintlike Red my nie sal laat ondergaan nie.
Ek kan maar aanhou sing, al is dit soms bewerig.
“I stand in a land of roses, but I dream of a land of snow, where you and I were happy in the years of long ago…” (Thora) Dit is ongelooflik mooi! Ek so wat wou gee om elke poskaart te kon lees, want hierdie twee waaroor jy gesels het my diep geraak. Dit is so pragtig! Baie dankie vir die deel hiervan, dis die eerste keer dat ek hoor van Poskaart-albums.
Dankie Mefri, die album bevat vir my ‘n verhaleskat wat so diep heimwee onketen. Jy is reg – elke poskaart verdien eintlik om afsonderlik gelees te word en geniet te word.