Soms moet mens ‘n lewensbateregister opstel. Net soos mense gewoonlik aan die einde van die finansiële jaar hulle finansiële state opstel en/of voorraadopname hou van al hul goedere, moet mens soms jou lewensverliese en –winste opskryf.
In Mei 2008 woon ek ‘n retraite by op Menuha (plek van rus). Die besondere afsonderingsgeleentheid word gekoppel aan die Emmausgangers se reis – hoe hulle op die eerste pase hul reis van Jerusalem na Emmaus onderneem het en ontdek het dat ‘n vreemde medereisiger met hul saamloop. Meer nog, hy kan antwoorde bied op hulle vrae oor die gebeure in Jerusalem en die kruisiging.
Wat hierdie retraite nog meer besonders maak is die feit dat die verhaal van die Emmausgangers toegelig word m.b.v die aangrypende skilderye wat Rembrandt oor hierdie reisigers en hul reisgenoot/tafelgas geskilder het. Die verskillende weergawes van die skilderye hang ten nouste saam met die gebeure in Rembrandt se eie lewe, bv. die verlies van drie kinders aan die dood asook die uiteindelike verlies van sy geliefde Saskia.
Uiteindelik skilder Rembrandt agt weergawes van die Emmausverhaal en elke skildery vertel iets van Rembrandt se verliese/ lewenservaring op daardie spesifiek tyd toe hy dit geskilder het.
Tydens die retraite gee die gespreksleier elkeen van die aanwesiges kans om vir ‘n paar uur te gaan nadink oor hul eie verliese op die lewenspad. Dit word ‘n middag vol ontdekkings. Ek kry ‘n sitplek op ‘n lekker plat klip teen die rantjie en sit en staar na die skoon bladsy voor my waar en my eie verliesregister moet boekstaaf. En vreemd genoeg is my eerste verlies wat ek onthou “die dag van die mes.” My aantekening in die Verliesregister lui naastenby as volg:
“Vandag moet ek skryf oor verliese in my lewe en die impak daarvan op my. Ek weet dat die groot verliese in my lewe uiteindelik die verlies was van mense wat my langs die lewenspad ontval het – Oupa Van Niekerk, was die eerste groot verlies en daarna het vele ander gevolg. Maar nog voor Oupa se dood het ek iets baie kortstondig gehad wat vir my ‘n spesiale simbool was, maar wat ek toe verloor het – my Olifantmes.”
Dit was tydens ons Langverlof in die Kaap Feb/Maart 1959. Ons het deur die Kaap getoer in ons Vauxhall Victor saam met Oom Thys en Tannie Tina-hulle (hulle in ‘n ligbruin Austin). Op Knysna het ons gestop op die dorp. Die grootmense het gepraat van die Bos en die Olifante wat wild in die Bos rondloop. Dit het ‘n groot indruk op my kindergemoed gemaak. Ek sou binne ‘n dag of twee vyf word en het begerig gekyk na die mooi messe wat uitgestal was in die glaskas in die winkel vol kurios en ander aandenkings. Een mes het bo al die ander uitgestaan: ‘n Knipmes met ‘n wit hef en daarop die prentjie van ‘n Olifant wat trompetter. Die mes en die prentjie daarop het my aangegryp en ek het vasgenael gestaan. Pa het later nadergekom en gevra wat ek so aandagtig na staar. Ek het na die mes beduie. Pa het die begeerte in my oë gesien en ingestem om vir my die mes te koop “siende dat ek nou al so byna vyf is en groot genoeg is vir so geskenk.” Ai, die wonder van die mes in my hand te hou! My eie mes. My Grootseungeskenk.
Ons het van Knysna af verder gery. Later het ons ‘n stilhouplek gevind om te eet. Dit was half in die Bos en so mooi. Ek het enige oomblik verwag dat een van die Bosolifante waarvan ek gehoor het, hulle verskyning sou maak. Ons het padkos geëet. Daar was vrugte wat by ‘n padstal gekoop is en Ma wou die Langkloof-appels in kwarte sny. Daarvoor het sy my mes nodig gehad. Ek het dit trots uit my sak gehaal en die appels is mooi gesny. Toe ons oppak vra ek waar my mes is. Dit was skoonveld! Ons het oral gesoek, selfs rodgekrap in die blaretapyt rondom die sementtafel waarop ons geëet het.Die mes was skoonveld! Ek wou nie in die Vauxhall klim om verder te ry nie. Pa moes mooipraat en selfs later dreig. Onwillig het ek ingeklim, maar bly omkyk toe ons ry, so byna of ek verwag het dat ‘n Olifant met die mes vasgeknyp in sy slurp agter ons sou aankom. My eerste groot verlies in my verliesregister.
Ons het ‘n paar dae oorgebly op ‘n plaas op Uniondale waar ek ook my vyfde verjaarsdag gevier het. Die oggend van die verjaardag het ek ‘n pakkie gekry met ‘n mooi swart-en-wit blikmotortjie daarin. Dit was ‘n polisie-opwenmotortjie wat masjiengewere in voorste venster gehad het, wat heen en weer beweeg as die motor opgewen is. Dit was ‘n baie spesiale geskenk. Tog het ek heimlik verlang na my Olifantmes. ‘n Karretjie was ‘n seuntjie-geskenk, ‘n mes ‘n Grootwees geskenk. Tog het ek die Karretjie goed bewaar. Tog is die verlies op ‘n vreemde manier weer in ‘n wins omskep.
Ek het die gebeure opgeteken in Mei 2009:
My reisgenoot en ek ry vroegoggend na die Oos Vrystaat. Met ‘n versigtige opgewondenheid.
Vlak voor Senekal die eerste afwisseling van die landskap – heuwels. Klein bietjies kosmos. Agterop is die groot esel gelaai en Sandra (van Turksvytrading) se drie stoele en spoorweglamp.
Ons stop by die sandsteenpadstal. Dis rerig Oos-Vrystaat. Naby Rosendal die poskaartprentjie van die wakende sandsteenkop en die sagte kleure. Net die prentjie alleen maak die ry die moeite werd. Ry die dorpie binne en sien daar is ‘n Boeremark. Stop eers by Turksvy Trading en groet Sandra. Laai die vrag af. Gaan verken boeremark. Interessante grepe van gesprekke: “toe nou Poepsie hou jou hande uit die kaneelsuiker” en “ my ma se koek gaan platval as ek nie nou dadelik ry nie” (vrou met versierde koek in hand). “ Ek koop eiers by ‘n boer wat elke eier met ‘n potlooddatum merk” (vrou by stalletjie)
Ons eet pannekoek en koop drie kruieplantjies. Verken die dorp verder. Kotze ateljee is gesluit en te koop. Ontdek “the Rosendal” hotel. Mooi sandsteen gebou met landelike uitsig en mooi eenhede en pragtige tuin agter.
Ons drink ‘n heerlike tee’tjie, geniet die uitsig met koeie wat rustig wei. ‘n bonte blommetuin en berge wat die prentjie omraam. Kyk na die verskeidenheid mense. Ek skribbel ‘n paar gedagtes in Lynette se boekie. Bel Sandra en sy is nog besig. Ons besluit om sommer middagete daar te geniet. Sit en terugdink aan drie jaar gelede – die Saterdag na ons troue en die heerlike verkenning van Clarens. Verlede jaar was ons tydens Pase in Turkye met die Grotnagmaal.
Ons vra onsself af hoe ons Goeie Vrydag/Paasfeesprentjie oor ‘n jaar gaan lyk en formuleer ‘n paar doelwitte.
Stap later deur die mooi blomtuine en kyk na die kerkie. ‘n Heerlike saligheid kom lê in ons binneste Ons ry na Turksvy Trading en begin Sandra se drie winkels verken. Ons is verbaas oor al die uitbreidings en die magdom voorraad. Maar die eintlik lekkerte bly Turksvy Trading. Dis stiller (na twee reeds) Sandra wys haar aankope van ‘n winkel wat gesluit het in Lesotho. In ‘n pakstoor agter die winkel was vorraad geberg wat uit die jare vyftig en sestig dateer: Ou medisyne (Dr William’s Pink Pills, Phillips Milk of Magnesia ens.) Ouma Meelbol. Flennie. Outydse rooi vilt kinderpantoffels met die bont tossel op. Ons kan dit nie weerstaan nie en koop ‘n paar.
Tog is die verrassendste oomblik toe ek die ou messe raaksien. Nog geseël in ‘n houer. My hart ruk behoorlik toe ek my lankverlore Olifantmes sien. My mes wat so kortsstondig gehd het tydens ons langverlof in die Kaap en wat ek verloor het in die Knysna bos. Ek wil so graag so een hê, maar die pak is geseël en sy wil dit as eenheid verkoop. Tog, sy het dalk ‘n los een agter in die stoor, sê sy. Terwyl ek en Lynette verder snuffel, gaan sy kyk en kom na ‘n ruk terug met ‘n toe hand. Vra dat ek my hand moet oophou. Sy plaas die Olifantmes daarin. So onwerlike oomblik. ‘n Sirkel is voltooi.
Toe ek vandag die foto van die opwenkarretjie neem (nou reeds 53jaar oud) en die mes wat nou weer drie jaar in my besit is, dink ek daaraan dat die inskrywings onder die Verliesregister soms, op ‘n vreemde manier, weer ‘n Wins-inskrywing word.
(Met dank aan Jan Lubbe vir die bewusmaking van die Rembrandt skilderye en die Emmaus-ervaring.)
Ek het dit weereens baie geniet. Hoe heerlik om kleintyd se skat terug te vind. Dit het my ver laat terugdink en mooi dinge laat onthou, dankie.
Die geloof van n “Kind”