Kleintyd in die kinderkrans leer ons liedjies soos : Laat ons skyn vir Jesus, Red wat verlore gaan, Jesus roep my vir ‘n sonstraal. Tog is dit die liedjie van die pottebakker en die klei wat in my kop prentjies maak. Ek weet nog niks van pottebakkerswiele en soorte klei nie, maar verstaan iets van die man wat iets uit die klei skep:
Doen slegs U wil Heer, U wil met my -U pottebakker, met my die klei –
Vorm my en maak my, net soos U wil – Op U bly wag ek, nederig en stil.
Klei -‘n wonderlik vormbare medium om gedagteprentjies gestalte te gee.
My eerste herinnering van klei is my onbeholpe gewoel met modder om kleikoekies en -diertjies te maak in die agtertuin van ons huis. Die diep bevrediging om met modderbesmeerde hande jou modderskepping uit te stal, lê die grondslag vir my lewenslange belangstelling in kleikreatiwiteit.
My eerste defnitiewe onthou van speelklei, is my eerste dag in Graad 1. Juffrou Ackerman herrangskik die raserige groep en laat ons seuntjie-dogtertjie langs mekaar sit in die dubbelbanke. Dit het nogal ‘n effek, want wat sê mens vir ‘n vreemde meisie wat ook grootoog na jou staar? Juffrou deel aan elkeen ‘n stukkie klei uit, met die opdrag dat ons iets vir haar moet maak. Ek begin my stukkie klei in slangetjies uitrol. Hestertjie (sy het darem haar naam vir my gesê!) begin ingedagte wolletjies op haar trui afpluk en vorm dit tot bolletjies tussen haar duim en voorvinger. “Kyk”sê sy terwyl sy trots haar hand uithou “hier is ‘n klompie eiertjies.” Ek vorm ‘n kleimandjie met die kleislangetjies en rond dit af ‘n gevlegte handvatsel. Die woleiertjies word versigtig in die mandjie geplaas. Ons is baie trots op ons spanpoging. Die ys is gebreek.
Die wonder van klei is die absolute plooibaarheid daarvan. Om ‘n stuk klei in die hand te neem, dit te brei en te vorm, is om onbeperkte moontlikhede in jou hand te hou. Die bol klei kan enigiets word; ‘n vis, ‘n duif, ‘n leeu, ‘n blompot, ‘n mensfiguur!
Eers as volwassene neem ek Pottebakkersklasse en ontdek die terapie van klei. Die oomblik as jy die koel kleirol in jou hande neem, dit begin brei en op die pottebakkerswiel vorm, is magies. Dis ‘n wonderlike sensasie om die klei op die wiel te sentreer want dan voel jy klei lewe. Onder jou hande word die vormlose iets nuuts. Soms die teleurstelling as dit onder jou hande knak as jy dit te haastig optrek. Dan verstaan mens die gedeelte waar Jeremia oor die pottebakker se skouer loer en sien hoe die voorwerp begin vorm aanneem en dan, ineens, klaaglik misluk! Tog die wonder- Jeremia sien dat die pottebakker geduld met die klei het, hy gooi dit nie woedend eenkant in die hoek omdat dit misluk het nie, maar brei dit weer en vorm dit dan tot iets bruikbaars. (Jer 18) So ‘n groot lewensles – die Skepper wat geduldig met ons besig is en ons mislukkings hervorm tot nuwe moontlikhede.
Die 1996 film Phenomenon vertel die verhaal van George Malley (vertolk deur John Travolta), ‘n doodgewone werktuigkundige wat op sy 37e verjaarsdag saam met sy vriende kuier en dan as hy uitstap, deur ‘n lig uit die hemelruim oorweldig word. Hy is tydelik bewusteloos, maar wanneer hy wakker word, beskik hy oor buitengewone vermoëns. Hy is voorwaar soos ‘n stuk klei met oneindige moontlikhede – hy kan dinge oombliklik snap, leer tale moeiteloos aan en is in staat om wiskundige probleme op te los. Sommige mense wil sy vermoë misbruik en van hom ‘n pion in hulle spel maak. Dan ontmoet hy vir Lace (Kyra Sedgwick), ‘n kreatiewe vrou wat meubels uit afvalstukke hout maak, Sy is sinies oor die liefde, maar geleidelik ontdek hulle dat hulle weer mekaar nuut kan laat kyk na onvoorwaardelike liefde. ‘n Liedjie op die klankbaan van die film is “Piece of clay” (deur Marvin Gaye) Dit handel juis oor die feit dat mense soms ander soos klei wil vorm met selfsugtige motiewe, maar beklemtoon dan dat ons eerder mekaar se broosheid as kleimense moet respekteer:
Father stop criticizing your son
Mother please leave your daughters alone
Don’t you see that’s what wrong
With the world with world today
Everybody wants somebody
To be their own piece of clay
We should all love each other
Love and take one another
We should love each other
Love and not hate, oh
Everybody wants somebody
To be their own piece of clay…
Gedurende April 2005 kuier ek by my broer op Paternoster nadat ons die KKNK bygewoon het. Ons gesels oor die lewe wat soveel moontlikhede inhou en dat mens deur kreatiwiteit uiting kan gee aan die unieke prentjie wat jy in jou binneste ronddra. Hy inspireer my om iets te skilder en ons praat oor die wonder van die lewe met al sy fasette: goed en sleg.
Ons besoek ‘n pottebakkersateljee en verkyk ons aan die uniekheid van elke pot. Ek neem ‘n foto van ‘n groep potte wat ge-raku is en elk sy eie patroon vertoon a.g.v. van die vuur waarin die potte gebak is. So is die lewe, sê ons – elke mens se verhaal is uniek al verg dit die hitte van vuur en toetsing om dit na vore te bring.
Vandag eers besef ek hoe waar daardie woorde was. In sy en my verhaal het die toetsing gekom, maar deur die genade is ons betyds uit die raku-vuur gelig.
Brose kleipotte, maar tog behoue.
“Ons wat hierdie skat in het, is maar kleipotte wat maklik breek, die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” (2Kor4:7)
Die kleipot moet deur di e vuur aangeraak word om sterk te word. Net so is dit lewensbelangrik dat ons ook deur lewensvure moet gaan, sodat ons sterker kan word. Dankie dat jy ons aan hierdie belangrike lewensles herinner.
Ons bly maar buigbare kleipotte in die hande van die Here. Hy vorm ons lewe en laat ons deur belewenisse gaan wat ons sterker maak vir dit wat op ons pad mag kom. Soms breek hy ‘n stuk af en ander kere voeg Hy iets weer by. Dankie vir de kleipot gedagtes dit laat mens weer dink oor die seeninge wat jy elke dag ervaar.