Lengte, breedte, hoogte, diepte

 

Aan die Blogfront was dit maar stil die afgelope paar weke – dit was tyd om bietjie te hiberneer. net soos die bere hul pantser teen die winterkoue, het ek so bietjie in my grot geskuil terwille van oorlewing. Ek dink tog dis die sin van die seisoen-siklusse – om in die winter bietjie halt te roep en nes die gestroopte bome hulle wortels vaster te anker vir die nuwe groeiseisoen.

More begin die nuwe maand wat die lente wil-wil verwelkom. en ek voel die nuwe seisoen se prikkels wat soos bolplantjies groen spruitsels maak wat duidelike uitroeptekens van ‘n nuwe begin is.

Tydens die wintervakansie het ons ‘n week op Philippolis deurgebring. Die Hartjiehortjiehuis in Tobie Mullerstraat. Ons winterhawe met sy brakdakkombuis en Welcome Dover stoof wat genoeglike hitte verskaf in die ysige winteraande. Ons het behoorlik ‘n eiland geskep in die kombuisie – deure diggetrek, beenkomberse en knettervuur in die stoof. Saans ‘n hartlike bord sop by lamplig en daarna leestyd en kaartspel. Wintervakansie op sy beste. Smiddae stap my reisgenoot lang ente saam met buurvrou en haar twee honde, Sirius en Gemini. Hulle verken Philippolis in sy lengte, breedte, diepte en hoogte, want hulle staptog neem hulle oor rantjies en deur vleie – hulle stap lank en ver – tot by die koppie waar hulle ‘n panoramiese 360° uitsig het. Teen diepskemer is hulle weer terug – dan is dit tyd om die hoogtedimensie van Philippolis te beleef – die ontsagwekkende uitspansel met die melkweg, sterre en planete. So word die wintervakansie ‘n volronde, driedimensionele belewing van goedheid en guns en van medemenslikheid. Op Philippolis is die huise nie verniet so op die straat gebou nie, mense weet van mekaar en stel belang in mekaar se welsyn, maar respekteer tog die privaatheid as die deur na die straat en die luike toe is.

Op Philippolis word ook ywerig voorberei vir die komende 150-jarige fees van die gemeente wat in Oktober vanjaar gevier word. Ons stap weer een middag rondom die kerk en kyk na die suile voor die kerk wat ook dien as getuigskrifte vir die leraars wat in die gemeente gedien het en reeds oorlede is. Ons vertoef lank by die suil wat opgerig is ter nagedagtenis van Ds Tobie Muller – die begaafde jong dominee wat sy eerste gemeente, Philippolis, met soveel ywer gedien het en so blywende invloed op die dorpie gehad het, dat ‘n straat na hom vernoem is. Tog het hy slegs ‘n skrale twee jaar die geleentheid gehad om in die bediening te wees, want op 25 Oktober 1918, sterf hy tydens die landswye griepepidemie. Hy word die volgende dag begrawe. ‘n Boek wat die verhaal van sy lewe vertel en die impak wat hy op die samelewing gehad het boekstaaf, beskryf sy eenvoudige begrafnis as volg:

“Die begrafnisplegtigheid op Saterdag, 26 Oktober, was noodwendig baie eenvoudig – asof dit gepas het by die lewe van iemand wat altyd sy eie nietigheid besef het. ‘n Eenvoudige houtkis van planke aanmekaargetimmer deur die gewillige hande van die wat nie deur die siekte neergetrek was nie, ‘n kleine skaar, meestal kinders en ou mense, agter die baar in stille optog na die begraafplaas, ‘n paar toesprake by die graf – dit was al. (Uit: Tobie Muller – ‘n inspirasie vir jong Suid-Afrika deur B.B. Keet en Gordon Tomlinson).

‘n Sober, gestroopte begrafnis vir ‘n merkwaardige talentvolle man wat die professoraat in Filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch verruil het vir die ampswerk van ‘n leraar in Philippolis. Eers vier jaar later, dag en datum, op 26 Oktober 1922, word ‘n gedenkdiens ter ere van Ds Tobie Muller gehou op Philippolis en word die betonnaald met inskripsies oor sy lewe op die kerkerrein onthul.In 2012, vier-en negentig jaar na Ds Tobie Muller se afsterwe. staan dit steeds daar as getuigskrif van ‘n merkwaardige lewe.

Verlede week moet ek ‘n dag in Bloemfontein deurbring om ‘n verskeidenheid toetse te ondergaan in die Iatros toetseenheid en Medi Clinic in Bloemfontein. Dit dien as siftingsproses om te sien of ek kwalifiseer om deel van ‘n nuwe proefgroep te wees wat die effektiwiteit van n nuwe middel in die bestryding van kanker moet toets. Die toetse is lank en uitmergelend. Indringende vrae, bloedmonsters, bloeddruk, EKG, hartsonar, beendigtheid, scan en flikkergram van die skelet – alles deel van die toetsprogram. My regterbeen pyn kaend en ek beweeg hinkepink. Ek voel hoe my lyf en gemoed rebelleer toe ons eers teen 19h30 met die laaste toets klaarkry. Toe moet die bloeddruk weer gemonitor word en daar is ‘n laaste vraelys wat ingevul moet word. Ek is oermoeg, afgestomp en reageer meganies. Genadiglik besorg vriend Ben my teen halftien tuis waar ‘n warm bord kos en verwelkoming deur my reisgenoot wag. Ek voel broos en ons albei is stil en onseker oor die vreemde wending wat die siekte neem.

Tydens ons stiltetyd lees ek uit Jak 4. Veral ook vers 14:

“Julle wat nie eens weet wat more sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”

Ek lees ook ter aanvulling vir ons ‘n stukkie uit ‘n preek wat Ds Tobie Muller bykans 100 jaar gelede oor die vers gelewer het:

 ” Laat ons dan nie ons bekommer oor die lengte van ons lewe nie -daaroor kan God alleen beskik; en Hy alleen weet wanneer ook ons in sy wêreldplan ons rol gespeel het. Maar laat ons met Gods hulp ons lewe breed maak, sodat dit ook die welsyn van ander insluit. Laat ons dit veral diep maak, gewortel in ‘n noue omgang met God. So word dit ook hoog, opgehef deur die Heilige Gees tot die dinge van die Vader. Die breedte, diepte en die hoogte van die lewe – daar lê ons taak. Die lengte kom aan God alleen toe.”

Eenvoudige woorde maar met ‘n diep waarheid daarin opgesluit. My reisgenoot en ek gryp die waarheid daarvan aan – maak nie saak hoe lank of kort mens se lewe is nie, ons taak berus by die breedte , diepte en hoogte daarvan. Met God se hulp kan ons lewens vierdimensioneel word en ‘n ewigheidswaarde kry omdat ons ander se lewens aanraak, geanker is in verhouding met ons Skepper en ‘n sterredimense kry omdat Hy ons laat opkyk en sy koers vir ons laat raaksien.

Die nuwe groeiseisoen lê voor die deur – mag die ‘n toename nie net in lengte nie, maar veral ook in breedte, diepte en hoogte wees.

 So word ons wasemdamp ‘n konkrete lewensmonument.

4 Responses to “Lengte, breedte, hoogte, diepte”

  1. Mefri says:

    Hier sit ek in stilte en luister met my hart en siel… Jou woorde het hande wat raakvat in my hart.

    Ek wonder soms in hoe ‘n mate, die somtotaal van my bestaan, gaan opweeg in die skale voor Sy troon, want die skippie waarin ek oor die lewe se oseaan reis, is dikwels net ‘n vlot, maar die Stuurman ken die pad wat my terug sal neem, na Hom wat IS.

  2. Rene says:

    Wonderlik om weer te kan lees….. Ja die afgelope Paar maande was vol gebeure soms mooi ander hartseer !!! Weereens Bly die gesegde “leef elke dag asof dit jou laaste is ” sowaar!! Sterkte , julle altyd in my gebede !!

  3. Wim says:

    Dankie Mefri en René vir julle kommentaar. Dit bly vir my ‘n voorreg om gedagtes te kan deel en ander se reaksie daarop te kan lees. Daar is ‘n hele paar blogs wat wag in my kop, dus gaan ek julle bietjie meer besig hou in Augustus!

  4. Mefri says:

    Jy is welkom Wim, ek kyk altyd uit vir jou skryfgoed 🙂

Leave a Reply