Dagreis

A lifetime comes and goes
And as my friend the rose said only yesterday
“This morning I was born
And baptised in the dawn
I flowered in the dew
And life was fresh and new
The sun shone through the cold
And through the day I grew
By night-time I was old”

Die nostalgiese klanke van dié Francoise Hardy liedjie, The Rose, begroet ons toe ons die ouditorium van die Odeon binnestap. Dis die eerste vertoning wat ons by vanjaar se Volksblad kunstefees in Bloemfontein kyk. My kleinsus en ek het besluit om die trip down memory lane ons eerste baken te maak by vanjaar se fees. My reisgenoot sluit later in die week by ons aan, maar eers moet Lana en ek op ons kleintyd spore terugstap.

Ons het van kinderjare af ‘n spesiale musiekverbintens. Ons het gereeld Vrydagaande laat die Hit parade saam geluister en ons verbind sekere liede met sekere intense kleintyd-ervarings. Veral ons onthou van diegene op wie ons op Hoërskool verlief was, is aan sulke liede gekoppel: Lonely lady, You, Brown eyes, Lady D’Arbanville, I’am a Rock, Jennifer Juniper, Where do you go to my lovely, To love Somebody, Dancing Queen…

Francoise Hardy het in 1970 haar regmatige plek op die lys ingeneem. Op die langspeelplaat: Francoise Hardy sings in English was daar ‘n paar snitte wat presies die hunkering van ‘n adolessente eerste liefde verwoord het. As die openingswoorde van All over the world gespeel het, het ons saamgesing:

All over the world
People must meet and part
There’s someone like me
Feeling a pain in their heart…

Gedurende my matriekjaar (1971) het ons familie een aand in die binnehof van ons huis in Van Ryneveldstraat, Klerksdorp gesit en gesels onder die sterre. Ek het die aand die voorreg gehad om op die groen kampbedjie te lê en die sterre dop te hou terwyl ons oor alles en nogwat gesels. Die skuifdeur was oop en die klanke van Francois Hardy het na buite gesyfer. Toe die woorde van All over the world opklink het ek diepe Weltschmertz ervaar ( ek  kyk interessantheidshalwe hoe die woord gedefineer word en kry die volgende: A feeling of melancholy and world-weariness). Dis presies die gevoel wat ek beleef het daardie aand onder die sterre, veral toe Francoise die tweede strofe sing:

Some may meet again
Under that same bright star
If maybe some night
You come back from afar
Who cares if tonight
I don’t know where you are

Toe die melancholiese “A lifetime comes and goes, thats what my friend the Rose said only yesterday…” kort daarna volg, het ek behoorlik  oor die vlietende aard van die lewe (wat in die liedjie as ‘n kortstondige dagreis uitgebeeld word), gewonder. Terwyl ek na die flonkerende sterre  en grootse uitspansel gekyk het, was dit  behoorlik asof die broosheid  en die onpeilbare gang van die menslike bestaan daardie aand diep in my gemoed ingebrand het.

Met die vertoning by die Kunstefees sit ek en Lana in die derde ry van voor: Naomi Morgan en ‘n bekwame kwartet van sangeresse in hulle gestreepte T-hemde en  berets, vertel die vreemd-hartseer lewensverhaal van Francoise Hardy en haar skielike roem. Die vertoning is getiteld: Die hart van Francoise Hardy en is gebaseer op haar outobiografie wat onlangs verskyn het. In die boek vertel sy haar verhaal: Hoe sy, Francoise Madeleine Hardy,  op 17 Januarie 1944 as buite-egtelike kind gebore is en haar hele lewe lank gesoek het na onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Dit het sy nie by haar ouers, familie, kerels of man gekry nie. Ook nie by Chris Barnard in haar kortstondige verhouding met hom nie. Selfs haar oupa het haar geignoreer.  Die enigste keer dat hy met haar gepraat het, was toe sy begin beroemd word het in 1962. Hy het haar slegs gevra: “Is jy nou gelukkig?” Eers toe sy self ma word van haar seun Thomas, het sy ervaar dat sy regtig kon liefhê en liefgehê word deur hom

In die vertoning word haar lewensloop uitgebeeld tot op op die hede (sy is tans 68). D.m.v. haar liede word die verhaal ontplooi en die nostalgie het die gehoor behoorlik beetgepak. Toe die liedjie the Rose in Frans gesing word (Mon amie la rose) klink die broosheid van ons bestaan nog meer verganklik in die franse woorde:

on est bien peu de chose
et mon amie la rose me l’a dit ce matin
à l’aurore je suis née
baptisée de rosée
je me suis épanouie
heureuse et amoureuse
aux rayons du soleil
me suis fermée la nuit
me suis réveillée vieille…
 
Met die uitstap kyk ek en my musieksus vir mekaar en weet – ons het voorwaar op die ou hartspore van ons jeug gestap en weer die intensiteit van verliefdheid en hartseer van daardie jare onthou.
 
Sedert die vertoning bly die vervlietende aard van ons bestaan my opnuut by. Die strakheid van die intense Vrystaatse winter dra nogal daartoe by. Ek onthou hoe ek na my ma se skielike dood ook troos gevind het in die woorde van diê lied en dit as agtergrondmusiek gebruik het vir ‘n skyfie-essay wat ek oor haar gemaak het.
 
Ek dink ook oor my mooi niggie Etoux, wat etlike skoonheidtitels verwerf het en tog aan depressie gely het.
 
Ek gaan diep dié ou foto van haar op en wens dat ek meer verstaan het van wat in haar gemoed omgegaan het voor sy op 37 jarige ouderdom nie meer kans gesien het vir die broosheid van lééf nie…
 
I flowered in the dew
And life was fresh and new
The sun shone through the cold
And through the day I grew
By night-time I was old”
 

Ek dink ook oor die roos as teken van liefde en viering. Op ons eerste huweliksherdenking stuur ek vir my reisgenoot ‘n gerf wit rose om dankie te sê vir die reis wat soveel nuwe bakens het. Byna gelyktydig laat sy vir my ‘n bos blomme aflewer waar ons in die Coffee Shop kuier. Rose as uitroeptekens  van lewensvierings.

 Vanjaar met Valentynsdag het ek vir haar ‘n piekniek op ons voorste grasperk beplan. Sy was oorstelp toe sy die tafel met die piekniekmandjie en die bos oranje rose sien. Ons borswering teen verganklikheid – ‘n viering van die lewe. Daarom – veel eerder gerwe rose terwyl ons dit kan geniet – begrafnisblomme verwelk tog maar ongesiens.
 
Dit was juis ‘n enkele geskenkroos wat my op die dag toe my siekte gediagnoseer as’t ware ‘n lewensskop gegee het! (Vgl my blog – My Something-went-wrong-roos  geskryf op 3 Junie 2010). Sien foto hieronder.
 
Rose is inkarnasie, rose verlewendig my, eggo ek Sheila Cussons se ervaring:
 
Ontsag wek die lelie by my,
iets warmers wek die roos,
‘n soort soortgevoel,
want lelies is engelgestaltes
en rose is Inkarnasie…
 
Die lelie het iets ongenaakbaars,
die roos verlewendig my
met die verrassende van genade,
met die bloedskap van’n soen.
(Uit die roos, die lelie – Versamelde Gedigte Sheila Cussons)
 
Die brose roos weet ook van nuut begin, opstanding en onverganklikheid:
 
When the night has been too lonely
And the road has been too long,
And you think that love is only
For the lucky and the strong,
Just remember in the winter
Far beneath the bitter snows
Lies the seed that with the sun’s love
In the spring becomes the rose
(The Rose – Bette Midler)
 
 
 
 
 

                                                                        

 

4 Responses to “Dagreis”

  1. Leon says:

    Dankie dat jy dit deel. Ek dink meer van ons het bepaalde verbindings met hierdie meisie met die mooi stem. Ek luister steeds graag na haar.

  2. Wim says:

    Leon, dit was opvallend dat die mense by die vertoning vyftig-plussers was en na die vertoning met die uitstapslag vir mekaar soos ou bekendes geglimlag het omdat ons die gemeenskaplike herinnering deel. Sy het voorwaar hartsmusiek gemaak.

  3. Len says:

    Wim, vandag het ek weer ‘n vriend ontmoet wat ek 40+ jaar laas gesien het. Ons het dadelik lekker gesels in die koffiewinkel en saam ons lee suikerkardoesies ewe netjies opgevou. Ons was saam in die skooolbanke en het duits geneem en het saam vir juf Williams onthou. Ek dink aan ons gesamentlike “heartthrob” en ek will graag met van die woorde van haar liedjie ‘Magic Horse’ my lekker onthou hier afsluit.
    “Up above where all is silent
    On my Magic Horse I fly
    Where the Phoenix burns so brightly
    To the place above the sky
    Higher, higher, higher in the night
    Faster, faster, faster in the sky”
    Francoise Hardy.
    Ons lewens is ‘n heerlike rit op ‘n ‘Magic Horse” geniet dit!

  4. Wim says:

    Len, is dit nie die wonder van vriendskap dat mens die gesprek kan voortsit waar dit drie-en-veertig jaar gelede (tydelik) opgehou het nie…
    Dankie vir soveel gedeelde onthou’s, sowel as die aanwakker van nuwe belangstellings. Die “Magic Horse” moet voluit gery word! Dankie!

Leave a Reply