Plaisir d’Amour

August 16th, 2012

                                      

 

16 Augustus is my onthoudag.

Miskien klink Memory Day beter. Dis ook die dag van die koning van Rock, Elvis Presley, se dood. The day the music died. Of dalk  juis begin het.

Vir my altans.

Dit was my eerste Groot liefde. Die soort wat jou lighoofdig maak. Jou dagdrome laat droom. Op die 1970 kalender wat ek nou weer bekyk het, is die dag in rooi gemerk. Die rooiletter Sondag van die sestiende Augustus 1970. Ek was sestien. Die dag was sestien. Die lewe was ‘n lied..

Ons het saam musiek geluister: The Hollies, Joan Baez, Francois Hardy, Donovan, Peter Sarstedt. Ons spesiale liede was: Plaisir D’Amour, All over the World, I’m a Rock, Lady D’Arbanville, Jennifer Juniper, Where do you go to my lovely, Ma Belle Amie, Love Grows, To Love Somebody….

Ek gaan delf in ou dagboeke en ontdek die stukkie wat ek aan haar opgedra het…

Vanaand moet ek skryf vir jou – oor al die onthou’s – ek skryf in blou – want blou en onthou hoort saam…

dit was die tyd van saam ontdek …

jy was sestien, ek was sestien, die dag was sestien, maar die toekoms tydloos, onbepaald…

Ek wat jou die Saterdagaand vra om met my uit te gaan. Jy wat my aan ‘n lyntjie hou en sê jy sal my die volgende dag antwoord. Uiteindelik! Sondag die sestiende Augustus. Die lang opdraande met my Ralleigh fiets tot by julle meenthuis. Ons wat uiteindelik van jou ouers se geselskap ontsnap toe ons gaan koffie maak…jou antwoord – JA!

Plaisir d’ amour – die vreugde van die liefde – ons het saamgeluister en beleef.  Joan Baez sing: Your eyes kissed mine, I saw the love in them shine.. ek wat afkyk na jou om te sien of jy opkyk, maar jy het my blik ontwyk – skaam bedeesd – maar iewers, terwyl ons gedans het, het jy tog opgeloer…

Die naweek  saam met jou en jou ouers op jou Ouma-hulle se plaas -die lang ente loop en die kopstukke gesels…die reën wat afdrup van die geut… jy wat die reën  bakhand opvang en jou gesig daarin druk – kortstondige geluk. Die terugrit -ons twee wat agter in jou Pa se Volvo 164 boodskappe aan mekaar stuur m.b.v die liedjieboek wat by ons was. Jy wys vir my die sinsnede uit Katrina’s Theme: Young was your love. Ek druk  die “Y” van “your” toe  en wys dit vir jou: Young was our love…. Ons lag instemmend.

Wat is dit van ‘n eerste liefde wat dit so diep ingraveer in mens se onthoubank? Dalk is dit die vars klei van mens se ontvanklike gemoed wat die diep indrukke bewaar en dalk mettertyd verromatiseer. Want saam met eerste liefde kom ook dikwels die eerste skerp pyn van ‘n verhouding wat be-eindig word. The first cut is the deepest sing Cat Stevens. Voorwaar – eerste liefde en eerste pyn is intens, maar ook seer.

Onwillekeurig, op Memory Day, wonder ek waar het daardie eerste liefde se paaie heen geloop?   Is ek opnuut dankbaar dat my spore tot by dié van my reisgenoot geloop het…

Die eerste 16e Augustus na  ons herfsverbintenis op Clarens skryf ek die volgende:

sestien augustus 2006

na jare se

hiberneer, eksisteer, vegetateer en selfs krepeer

sal ek op sestien nul agt nul ses

leer

innoveer, ekstra-poleer, fantaseer

en liefhê

in lewenskleur…

 

Dagreis

August 9th, 2012

A lifetime comes and goes
And as my friend the rose said only yesterday
“This morning I was born
And baptised in the dawn
I flowered in the dew
And life was fresh and new
The sun shone through the cold
And through the day I grew
By night-time I was old”

Die nostalgiese klanke van dié Francoise Hardy liedjie, The Rose, begroet ons toe ons die ouditorium van die Odeon binnestap. Dis die eerste vertoning wat ons by vanjaar se Volksblad kunstefees in Bloemfontein kyk. My kleinsus en ek het besluit om die trip down memory lane ons eerste baken te maak by vanjaar se fees. My reisgenoot sluit later in die week by ons aan, maar eers moet Lana en ek op ons kleintyd spore terugstap.

Ons het van kinderjare af ‘n spesiale musiekverbintens. Ons het gereeld Vrydagaande laat die Hit parade saam geluister en ons verbind sekere liede met sekere intense kleintyd-ervarings. Veral ons onthou van diegene op wie ons op Hoërskool verlief was, is aan sulke liede gekoppel: Lonely lady, You, Brown eyes, Lady D’Arbanville, I’am a Rock, Jennifer Juniper, Where do you go to my lovely, To love Somebody, Dancing Queen…

Francoise Hardy het in 1970 haar regmatige plek op die lys ingeneem. Op die langspeelplaat: Francoise Hardy sings in English was daar ‘n paar snitte wat presies die hunkering van ‘n adolessente eerste liefde verwoord het. As die openingswoorde van All over the world gespeel het, het ons saamgesing:

All over the world
People must meet and part
There’s someone like me
Feeling a pain in their heart…

Gedurende my matriekjaar (1971) het ons familie een aand in die binnehof van ons huis in Van Ryneveldstraat, Klerksdorp gesit en gesels onder die sterre. Ek het die aand die voorreg gehad om op die groen kampbedjie te lê en die sterre dop te hou terwyl ons oor alles en nogwat gesels. Die skuifdeur was oop en die klanke van Francois Hardy het na buite gesyfer. Toe die woorde van All over the world opklink het ek diepe Weltschmertz ervaar ( ek  kyk interessantheidshalwe hoe die woord gedefineer word en kry die volgende: A feeling of melancholy and world-weariness). Dis presies die gevoel wat ek beleef het daardie aand onder die sterre, veral toe Francoise die tweede strofe sing:

Some may meet again
Under that same bright star
If maybe some night
You come back from afar
Who cares if tonight
I don’t know where you are

Toe die melancholiese “A lifetime comes and goes, thats what my friend the Rose said only yesterday…” kort daarna volg, het ek behoorlik  oor die vlietende aard van die lewe (wat in die liedjie as ‘n kortstondige dagreis uitgebeeld word), gewonder. Terwyl ek na die flonkerende sterre  en grootse uitspansel gekyk het, was dit  behoorlik asof die broosheid  en die onpeilbare gang van die menslike bestaan daardie aand diep in my gemoed ingebrand het.

Met die vertoning by die Kunstefees sit ek en Lana in die derde ry van voor: Naomi Morgan en ‘n bekwame kwartet van sangeresse in hulle gestreepte T-hemde en  berets, vertel die vreemd-hartseer lewensverhaal van Francoise Hardy en haar skielike roem. Die vertoning is getiteld: Die hart van Francoise Hardy en is gebaseer op haar outobiografie wat onlangs verskyn het. In die boek vertel sy haar verhaal: Hoe sy, Francoise Madeleine Hardy,  op 17 Januarie 1944 as buite-egtelike kind gebore is en haar hele lewe lank gesoek het na onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Dit het sy nie by haar ouers, familie, kerels of man gekry nie. Ook nie by Chris Barnard in haar kortstondige verhouding met hom nie. Selfs haar oupa het haar geignoreer.  Die enigste keer dat hy met haar gepraat het, was toe sy begin beroemd word het in 1962. Hy het haar slegs gevra: “Is jy nou gelukkig?” Eers toe sy self ma word van haar seun Thomas, het sy ervaar dat sy regtig kon liefhê en liefgehê word deur hom

In die vertoning word haar lewensloop uitgebeeld tot op op die hede (sy is tans 68). D.m.v. haar liede word die verhaal ontplooi en die nostalgie het die gehoor behoorlik beetgepak. Toe die liedjie the Rose in Frans gesing word (Mon amie la rose) klink die broosheid van ons bestaan nog meer verganklik in die franse woorde:

on est bien peu de chose
et mon amie la rose me l’a dit ce matin
à l’aurore je suis née
baptisée de rosée
je me suis épanouie
heureuse et amoureuse
aux rayons du soleil
me suis fermée la nuit
me suis réveillée vieille…
 
Met die uitstap kyk ek en my musieksus vir mekaar en weet – ons het voorwaar op die ou hartspore van ons jeug gestap en weer die intensiteit van verliefdheid en hartseer van daardie jare onthou.
 
Sedert die vertoning bly die vervlietende aard van ons bestaan my opnuut by. Die strakheid van die intense Vrystaatse winter dra nogal daartoe by. Ek onthou hoe ek na my ma se skielike dood ook troos gevind het in die woorde van diê lied en dit as agtergrondmusiek gebruik het vir ‘n skyfie-essay wat ek oor haar gemaak het.
 
Ek dink ook oor my mooi niggie Etoux, wat etlike skoonheidtitels verwerf het en tog aan depressie gely het.
 
Ek gaan diep dié ou foto van haar op en wens dat ek meer verstaan het van wat in haar gemoed omgegaan het voor sy op 37 jarige ouderdom nie meer kans gesien het vir die broosheid van lééf nie…
 
I flowered in the dew
And life was fresh and new
The sun shone through the cold
And through the day I grew
By night-time I was old”
 

Ek dink ook oor die roos as teken van liefde en viering. Op ons eerste huweliksherdenking stuur ek vir my reisgenoot ‘n gerf wit rose om dankie te sê vir die reis wat soveel nuwe bakens het. Byna gelyktydig laat sy vir my ‘n bos blomme aflewer waar ons in die Coffee Shop kuier. Rose as uitroeptekens  van lewensvierings.

 Vanjaar met Valentynsdag het ek vir haar ‘n piekniek op ons voorste grasperk beplan. Sy was oorstelp toe sy die tafel met die piekniekmandjie en die bos oranje rose sien. Ons borswering teen verganklikheid – ‘n viering van die lewe. Daarom – veel eerder gerwe rose terwyl ons dit kan geniet – begrafnisblomme verwelk tog maar ongesiens.
 
Dit was juis ‘n enkele geskenkroos wat my op die dag toe my siekte gediagnoseer as’t ware ‘n lewensskop gegee het! (Vgl my blog – My Something-went-wrong-roos  geskryf op 3 Junie 2010). Sien foto hieronder.
 
Rose is inkarnasie, rose verlewendig my, eggo ek Sheila Cussons se ervaring:
 
Ontsag wek die lelie by my,
iets warmers wek die roos,
‘n soort soortgevoel,
want lelies is engelgestaltes
en rose is Inkarnasie…
 
Die lelie het iets ongenaakbaars,
die roos verlewendig my
met die verrassende van genade,
met die bloedskap van’n soen.
(Uit die roos, die lelie – Versamelde Gedigte Sheila Cussons)
 
Die brose roos weet ook van nuut begin, opstanding en onverganklikheid:
 
When the night has been too lonely
And the road has been too long,
And you think that love is only
For the lucky and the strong,
Just remember in the winter
Far beneath the bitter snows
Lies the seed that with the sun’s love
In the spring becomes the rose
(The Rose – Bette Midler)
 
 
 
 
 

                                                                        

 

Lengte, breedte, hoogte, diepte

July 31st, 2012

 

Aan die Blogfront was dit maar stil die afgelope paar weke – dit was tyd om bietjie te hiberneer. net soos die bere hul pantser teen die winterkoue, het ek so bietjie in my grot geskuil terwille van oorlewing. Ek dink tog dis die sin van die seisoen-siklusse – om in die winter bietjie halt te roep en nes die gestroopte bome hulle wortels vaster te anker vir die nuwe groeiseisoen.

More begin die nuwe maand wat die lente wil-wil verwelkom. en ek voel die nuwe seisoen se prikkels wat soos bolplantjies groen spruitsels maak wat duidelike uitroeptekens van ‘n nuwe begin is.

Tydens die wintervakansie het ons ‘n week op Philippolis deurgebring. Die Hartjiehortjiehuis in Tobie Mullerstraat. Ons winterhawe met sy brakdakkombuis en Welcome Dover stoof wat genoeglike hitte verskaf in die ysige winteraande. Ons het behoorlik ‘n eiland geskep in die kombuisie – deure diggetrek, beenkomberse en knettervuur in die stoof. Saans ‘n hartlike bord sop by lamplig en daarna leestyd en kaartspel. Wintervakansie op sy beste. Smiddae stap my reisgenoot lang ente saam met buurvrou en haar twee honde, Sirius en Gemini. Hulle verken Philippolis in sy lengte, breedte, diepte en hoogte, want hulle staptog neem hulle oor rantjies en deur vleie – hulle stap lank en ver – tot by die koppie waar hulle ‘n panoramiese 360° uitsig het. Teen diepskemer is hulle weer terug – dan is dit tyd om die hoogtedimensie van Philippolis te beleef – die ontsagwekkende uitspansel met die melkweg, sterre en planete. So word die wintervakansie ‘n volronde, driedimensionele belewing van goedheid en guns en van medemenslikheid. Op Philippolis is die huise nie verniet so op die straat gebou nie, mense weet van mekaar en stel belang in mekaar se welsyn, maar respekteer tog die privaatheid as die deur na die straat en die luike toe is.

Op Philippolis word ook ywerig voorberei vir die komende 150-jarige fees van die gemeente wat in Oktober vanjaar gevier word. Ons stap weer een middag rondom die kerk en kyk na die suile voor die kerk wat ook dien as getuigskrifte vir die leraars wat in die gemeente gedien het en reeds oorlede is. Ons vertoef lank by die suil wat opgerig is ter nagedagtenis van Ds Tobie Muller – die begaafde jong dominee wat sy eerste gemeente, Philippolis, met soveel ywer gedien het en so blywende invloed op die dorpie gehad het, dat ‘n straat na hom vernoem is. Tog het hy slegs ‘n skrale twee jaar die geleentheid gehad om in die bediening te wees, want op 25 Oktober 1918, sterf hy tydens die landswye griepepidemie. Hy word die volgende dag begrawe. ‘n Boek wat die verhaal van sy lewe vertel en die impak wat hy op die samelewing gehad het boekstaaf, beskryf sy eenvoudige begrafnis as volg:

“Die begrafnisplegtigheid op Saterdag, 26 Oktober, was noodwendig baie eenvoudig – asof dit gepas het by die lewe van iemand wat altyd sy eie nietigheid besef het. ‘n Eenvoudige houtkis van planke aanmekaargetimmer deur die gewillige hande van die wat nie deur die siekte neergetrek was nie, ‘n kleine skaar, meestal kinders en ou mense, agter die baar in stille optog na die begraafplaas, ‘n paar toesprake by die graf – dit was al. (Uit: Tobie Muller – ‘n inspirasie vir jong Suid-Afrika deur B.B. Keet en Gordon Tomlinson).

‘n Sober, gestroopte begrafnis vir ‘n merkwaardige talentvolle man wat die professoraat in Filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch verruil het vir die ampswerk van ‘n leraar in Philippolis. Eers vier jaar later, dag en datum, op 26 Oktober 1922, word ‘n gedenkdiens ter ere van Ds Tobie Muller gehou op Philippolis en word die betonnaald met inskripsies oor sy lewe op die kerkerrein onthul.In 2012, vier-en negentig jaar na Ds Tobie Muller se afsterwe. staan dit steeds daar as getuigskrif van ‘n merkwaardige lewe.

Verlede week moet ek ‘n dag in Bloemfontein deurbring om ‘n verskeidenheid toetse te ondergaan in die Iatros toetseenheid en Medi Clinic in Bloemfontein. Dit dien as siftingsproses om te sien of ek kwalifiseer om deel van ‘n nuwe proefgroep te wees wat die effektiwiteit van n nuwe middel in die bestryding van kanker moet toets. Die toetse is lank en uitmergelend. Indringende vrae, bloedmonsters, bloeddruk, EKG, hartsonar, beendigtheid, scan en flikkergram van die skelet – alles deel van die toetsprogram. My regterbeen pyn kaend en ek beweeg hinkepink. Ek voel hoe my lyf en gemoed rebelleer toe ons eers teen 19h30 met die laaste toets klaarkry. Toe moet die bloeddruk weer gemonitor word en daar is ‘n laaste vraelys wat ingevul moet word. Ek is oermoeg, afgestomp en reageer meganies. Genadiglik besorg vriend Ben my teen halftien tuis waar ‘n warm bord kos en verwelkoming deur my reisgenoot wag. Ek voel broos en ons albei is stil en onseker oor die vreemde wending wat die siekte neem.

Tydens ons stiltetyd lees ek uit Jak 4. Veral ook vers 14:

“Julle wat nie eens weet wat more sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”

Ek lees ook ter aanvulling vir ons ‘n stukkie uit ‘n preek wat Ds Tobie Muller bykans 100 jaar gelede oor die vers gelewer het:

 ” Laat ons dan nie ons bekommer oor die lengte van ons lewe nie -daaroor kan God alleen beskik; en Hy alleen weet wanneer ook ons in sy wêreldplan ons rol gespeel het. Maar laat ons met Gods hulp ons lewe breed maak, sodat dit ook die welsyn van ander insluit. Laat ons dit veral diep maak, gewortel in ‘n noue omgang met God. So word dit ook hoog, opgehef deur die Heilige Gees tot die dinge van die Vader. Die breedte, diepte en die hoogte van die lewe – daar lê ons taak. Die lengte kom aan God alleen toe.”

Eenvoudige woorde maar met ‘n diep waarheid daarin opgesluit. My reisgenoot en ek gryp die waarheid daarvan aan – maak nie saak hoe lank of kort mens se lewe is nie, ons taak berus by die breedte , diepte en hoogte daarvan. Met God se hulp kan ons lewens vierdimensioneel word en ‘n ewigheidswaarde kry omdat ons ander se lewens aanraak, geanker is in verhouding met ons Skepper en ‘n sterredimense kry omdat Hy ons laat opkyk en sy koers vir ons laat raaksien.

Die nuwe groeiseisoen lê voor die deur – mag die ‘n toename nie net in lengte nie, maar veral ook in breedte, diepte en hoogte wees.

 So word ons wasemdamp ‘n konkrete lewensmonument.

Woestynvis

June 6th, 2012

                         

 

Soos ‘n vis op droë grond – die uitdrukking het nog altyd ‘n prentjie in my kop gevorm van die spartelende vis wat op die droë grond swem dat die stof so staan! Eintlik is dit ‘n baie beskrywende uitdrukking om iets of iemand aan te dui wat uiters ongemaklik is en in ‘n vreemde situasie beland. Maar ‘n vis in die woestyn? ‘n Totaal ondenkbare scenario.

Tog het ek in 2004 tydens ons tog deur ‘n stukkie Namib-woestyn nogal die vreemde bekoring van die woestyn en sy veranderende sandduine geniet. Tydens my worsteling om die kruin van Duin Sewe te bereik, het ek nogal soos ‘n spartelende vis gevoel wat stroom-op swem op droë grond. Terwyl ek dan ‘n Pisces-man is het ek nogal in my kop die twee uiteenlopende komponente gesien – woestyn en vis. Toe het ek nogal nagedink oor die  jukstaposisie van die twee en gewonder oor die vreemde kombinasie:  Woestynvis.

Miskien is ek dalk van kleintyd af ietwat van ‘n woestynvis, want ek vind  dit nie aldag maklik om small talk  te maak in ‘n gesprek nie. Kleintyd het ek myself nogal as woestynvis  beleef wat soms maar in sosiale situasies spartelbewegings uitvoer teryl ek verlang na die vriendelike milieu van my eie klein en bekende  kring.

In my Grensjoernaal wat ek tydens my diensplig in 1979 gehou het, het ek dikwels my lot bekla dat ek daar in die barre Ovamboland (wat maar baie woestynerig gevoel het) soms soos ‘n vis op droë grond gevoel het. Veral het ek dit soms moeilik gevind om heeltyd te sosialiseer, as’t ware groepsverplig te voel en baie min privaatheid te hê. By die inskrywing van Saterdag 19 Mei 1979 lees ek die volgende: Vreemd genoeg is die fliek wat vanaand wys – The Passenger – dit is ‘n fliek waarmee ek nogal kan identifiseer omdat ek dikwels soos ‘n buitestander voel, ‘n passasier wat saamry, maar wat nie altyd deel van die groep is nie.

Telkens vorentoe in my lewe was daar weer momente waar ek ‘n situasie ervaar het asof ek van buite daarop inkyk en nie deel is van die prentjie nie.

Die dag toe ek die dokteruitspraak hoor van die PSA-telling wat buite beheer is en van vreemde plakkers wat my liggaam beset het,  het ek besef dat hierdie vis vreemde vaarwaters binneswem en dat die strome in die dorsland maar soms klein poeletjies  gaan wees waarin ek sou moes aanhou swem – soms desnoods stroomop.

Die afgelope week het ek ‘n fliek gesien met die interessante titel Salmon fishing in the Yemen.  Hierdie sjarmante film met Lasse Hallström as regisseur, die man wat ook verantwoordelik was vir die film Chocolat, het my opnuut oor die vreemdheid van ‘n vis in die woestyn laat nadink.

Salmon Fishing  vertel die verhaal van ‘n onwaarskynlike droom. ‘n Welvarende Sjeik wat in Jemen woon, se ideaal is om ‘n Salm-visse in die woestynagtige omgewing van Jemen te vestig. Hy vra ‘n konsultant, Harriet Chetwode-Talbot (vertolk deur Emily Blunt) om navraag te doen ten einde ‘n kundige te kry wat die Sjeik hierin behulpsaam kan wees.  Die kundige blyk Dr Alfred Jones (vertolk deur Ewan McGregor) te wees. Leon van Nierop se gloeiende resensie van die fliek gee die sinopsis as volg weer:

Die fliek wat soos warm vla oor jou hart spoel en nes warm botterbroodjies vol stroop proe, gaan oor ʼn opportunistiese en flink jong vrou, die onvergelyklike Emily Blunt, wat deur ʼn sjeik in Jemen genader word met ‘n onmoontlike voorstel. Hy wil salm na die woestyn neem waar hy besig is om ‘n dam te bou. Hy wil die visse daar vestig sodat hy daar sy viskanvang alvorens hy hulle teruggooi in die water. Maar sal die salm kan aanpas?

Die vrou nader ‘n konserwatiewe, laaistok-in-die-slukderm amptenaar by Britse Visserye en vra of hy kan reël dat 8,000 salm Midde-Ooste toe vervoer word. Die Britse pers attaché, wonderbaarlik vermaaklik gespeel deur Kristin Scott Thomas, sien hier ‘n geleentheid om die Eerste Minister in ‘n goeie lig te stel, en gryp dit aan as ‘n publisiteitsfoefie.

 Geen resensie of stortvloed byvoeglike naamwoordekanreg laat geskied aan hierdie klein juweel nie. Die stywe bolip van die stroewe, dog aantreklike amptenaar, simpatiek en knap vertolk deur Ewan McGregor, bewe soms so ‘n bietjie van plesier as Emily Blunt naby hom staan. Maar die tonele in die woestyn waar die sjeik probeer om sy land op te hef, is weergaloos.

Die fliek het sekere  take aways soos Boet Ewald altyd sê as ‘n fliek hom tot nadenke stem. Dit laat mens weer nadink  oor die krag van drome, veral sekere sogenaamde onmoontlike drome. In die film word die sjeik se droom om vis in die woestyn te vestig, deur verskeie persone afgelag. Tog blyk dit dat dit nie so onmoontlik is soos wat almal gemeen het nie, veral omdat die Sjeik sy huiswerk vooraf gedoen het en ‘n groot dam gebou het waarin die salm gevestig kon word. Telkens in die film is daar ‘n vergelyking tussen visvang en geloof – albei verg ‘n “blinde vertroue” – ‘n wete dat alles uiteindelik die moeite werd sal sal wees.

So sê die Sjeik  Muhammad ibn Zaidi bani Tiham aan Dr Jones: Faith is the cure that heals all troubles. Without faith there is no hope and no love. Faith comes before hope, and before love.

Dalk is die belangrikste les wat hierdie woestynvis geleer het juis dat geloof dit moontlik maak vir ‘n vis om sy poeletjie water in die woestyn te vind.

Die aangrypende slottoneel in die film bly my by as ek die dag moedeloos raak: nadat iemand die projek probeer saboteer het  deur die dam se sluise oop te maak en so alles laat verspoel het en die vis laat wegspoel het, die woestyn in, wil almal wat by die projek betrokke was, tou opgooi. Die Sjeik waad egter met sy volle uitrusting in een van die poele wat oorgebly het na die vloed. Opgewonde beduie hy dan dat daar wel van die visse is wat die ramp oorleef het en wys na van die salm wat sierlike spronge uit die water maak.

Dit is vir my die wonder van die lewe en van geloof – daar is altyd ‘n nuwe mootlikheid en ‘n nuwe begin. Selfs vir die vaal karakter van Dr Jones wat op ‘n stadium van homself sê: I was wondering if I was genetically programed to a dull pedestrian life, is daar ‘n nuwe liefde moontlik na sy mislukte huwelik.

Ook hierdie woestynvis het  sy hawe gevind.

My musiek-ma

May 12th, 2012

Ma Winnie. Oftewel Alwine Bertha Wilhelmine. Gebore op 13 Februarie 1924 uit die huwelik tussen ‘n toegewyde Afrikaanse pa en ‘n streng Duitse ma. Dié eerste dogter (na drie broers) van Oupa en Ouma van Niekerk het  slegs 5vt 4 duim in hoogte gemeet en het haar lewe lank (swangerskappe uitgesonderd!) haar gewig van 108 pond gehandhaaf. Dalk daarom dat neef Johan haar so onthou:

Tannie Winnie was van Duitse afkoms en dit het gereflekteer in haar lewe. Die pragtige petite mensie het ‘n aansteeklike glimlag gehad met ‘n sagte stem – maar die stem het elke woord maak tel. Ek onthou haar kinders het altyd om haar ‘gekoer’.

Vreemd hoe mens se onthou van iemand mettertyd in breë penstrepe saamgevat kan word. Toe ek vanoggend ‘n invalshoek soek om ‘n paar woorde oor my ma te skryf m.d.o. op Moedersdag, probeer ek iets  kry om as vertrekpunt te dien. Ek ontdek toe  hoeveel van my onthou-oomblikke van my ma met musiek verband hou. Ja, daar was ander fasette – haar erns, haar opregtheid, haar diepe geloofsoortuigings, haar intense liefde vir haar gesin, haar lekker baksels beskuit en melktert  en haar liefde vir ‘n goeie storie. Tog staan die musiek-onthou vanoggend voorop.

Kleintyd onthou ek stories wat sy ons ons vertel het oor musiek en die verhaal agter die musiek. So was die eerste plaat waarvan sy gehou het wat ek (as voorskoolse kleuter kan onthou), ‘n 78-spoed plaat getiteld: The ship that never sailed.  Die liedjie vertel die hartseer verhaal  van ‘n man wie se geliefde vir hom soos ‘n boot was wat hom na ‘n verre land sou neem. Dan die ontnugtering – die liefdesboot sink en hy bly alleen agter met sy herinneringe en drome. My ma het altyd half hartseer geraak as sy die plaat geluister het. Miskien was dit juis wat ons as kinders dan aangespoor het om te vra dat sy ook vir ons die keersy van die plaat speel want dié was ‘n opgewekte “rumoerige”  liedjie wat ons sommer die “potte-en-panne” plaat gedoop het omdat ons lustig saam met die ritme van die lied getokkel het op omgekeerde potte en panne. Dit het my ma laat lag en dan was die hartseer van die skip-liedjie sommer weg.

Ek onthou ook uit hierdie tyd hoe sy vertel het dat terwyl sy my kleinsus verwag het, die liedjie : Freight Train ‘n groot treffer was en dat telkens as sy so naar was aan die begin van die swangerskap, die liedjie juis gespeel het en sy later die liedjie met naarheid geassosieer het!

                                  

Wanneer die liedjie Que Sera, Sera speel, sal ek altyd dink aan die fliek The Man who knew too much (Alfred Hitchcock se 1956 film) waarvan dié liedjie die temamusiek was.  My ma het my die fliek se verhaal vertel: van die seuntjie, Hank, wat tydens ‘n gesinsvakansie in Marokko ontvoer word omdat sy pa die sterwenswoorde van ‘n man gehoor het wat ‘n belangrike komplot wou ontmasker. Die seuntjie word gyselaar gehou en later Londen toe geneem sodat sy ouers nie die inligting wat hulle by die man gekry het sou bekendmaak nie. Op een of ander wyse ontdek sy ouers dat Hank iewers in ‘n ambassade aangehou word. Hulle word deur die Eerste Minister soontoe genooi omdat hulle ‘n sluipmoordpoging op hom gefnuik het. Wanneer die ma,gespeel deur Doris Day, gevra word om te sing tydens die geleentheid, sing sy die liedjie, Que Sera, Sera (Whatever will be, will be). Vanwaar Hank aangehou word in ‘n kamer, herken hy die liedjie en sy ma se stem en begin hy saamsing. Sy ouers hoor sy stem en dit lei hulle na sy plek van aanhouding. So eindig die verhaal gelukkig danksy die lied. Dié week luister ek na ‘n nuwe opname van die liedjie, soos vertolk deur Pink Martini. Ineens word die hele verhaal van die fliek weer ‘n werklikheid – die mag van musiek en verhale!

Op dertienjarige ouderdom vra ek my ouers vir ‘n langspeelplaat as geskenk vir my verjaarsdag. Ek hoop dat hulle tussen al die skimpe kon agterkom van watter musiek ek hou. Die oggend van my verjaarsdag vertel die toegedraaide pakkie dat dit sowaar ‘n langspeelplaat is – ek skeur die geskenkpapier af en sien met ‘n soort ongeloof dat dit ‘n plaat met klassieke musiek is: The Hollywood Bowl Orchestra se “A night under the stars”. Ek moes seker vreeslik teleurgesteld gelyk het, want my ma beloof dat sy my die stories sal vertel wat die komposisies geinspireer het, Die  aand luister ek na die Warsaw Concerto (Addinsell se komposisie) en hoor behoorlik die bombardement van Warskou in die musiek. Op die plaat is ook  “Cornish Rhapsody” (uit die 1944 film Love Story). Met die luister van Die Slawekoor uit Nabucco van Verdi hoor ek behoorlik die versugtinge van die slawe om vryheid te kan verwerf. So het ek my liefde vir klassieke musiek via ‘n langspeelplaat en verhale verkry. Later sou ek ook met behulp van my ma die eksotiese atmosfeer van Persië ontdek in die klanke van Albert Ketelby se “In a Persian Market”.

‘n Prentjie wat my bybly is die spontane sangsessies as Oom Thys en Tannie Tina kom kuier en Pa en Ma vorm saam met hulle ‘n kwartet. Dan het hulle ou gunstelinge gesing soos Beautiful Isle of Somewhere, True Love, Perfect Day.  Let the rest of the world go by, Lily Marlene, en God be with you till we meet again

Na my Oupa se dood het my Duitse Ouma na ‘n woonstel toe getrek en het die Carl Ecke klavier wat altyd in hulle huis gestaan het, na ons toe gekom. Soms het Ma voor die klavier gaan sit en die enkele liede wat sy kon onthou, gespeel. Ek het nooit die name van die liede gehoor nie. (ek vermoed dit was ‘n Jim Muller keurspel) Tog kan ek van die deuntjies onthou.

As David Whitfield se Angellus (Angel Voices) oor die radio gespeel het op U eie keuse het Ma met geslote oë gesit en elke noot ingedrink. Dit was ook sy wat my die stories van die poskaart album met liede se woorde vertel het, Veral Oh where is my wandrin’ boy tonight, Thora en The lost Chord.

Wat ‘n voorreg om saam met haar twaalf dae in Switserland deur te bring in September 1976! Om saam deur die skilderagtige Grindelwald se strate te stap en die prentjiemooi begraafplaas aan die voet van die berge te sien! Haar versugting: “Ai as mens maar eendag in so fraai plek jou laaste rusplek kan vind”.  Tydens ‘n kerkdiens wat ons in Zurich se Grossmunster bygewoon het, het die orrelis tydens die offergawe  Bach se Toccata en Fuga in D mineur gespeel en dit het trane  in haar oë gebring. Die volgende dag het ons ‘n plaat met dié opname in ‘n musiekwinkel in Zurich gekoop.

My ma was die een wat my aangespoor het om te skryf. Toe ek as vyfjarige nog nie kon lees of skryf nie, het ek maar prentjies geteken. Een middag het ek onder die kosyn van die kombuisdeur gelê in ons huis in Stilfontein. Ek was moeg geteken en het begin lettertjies naboots wat ek gesien het in ‘n storieboek. Toe ek my “skryfpoging” vir Ma gaan wys waar sy besig was om kos te kook het sy opgewonde gesê dat ek vir haar ‘n briefie geskryf het en vir my gelees wat ek kamtig geskryf het. Ek was so opgewonde dat ek elke keer onder die deurkosyn gaan lê het (want dit was klaablyklik my magiese skryfmuse!) en telkens gehardloop het dat Ma die briewe kon “lees”.  Toe ek in die skool leer lees, het sy my my eerste volwaardige boek laat lees – Die Twee Wesies deur Fanny Eden (Dit was maar ‘n hartseer beginboek, maar ek was nogal aangegryp deur die lot van die twee weeskinders!)

Op skool was Ma die een wat gehelp het om my opstelle en mondelinge beter te laat lyk en klink. Toe ek een vakansie verveeld was en niks gehad het om te lees nie het sy haar ou pak Girls Chrystals uit die trommel opgediep en my die vervolgverhaal Princess on Probation laat lees. Dit het die verveling laat verdwyn en ek is later in die vakansie saam met haar biblioteek toe om my eie Tarzan, Trompie en Uile-boeke uit te neem.

Ma wou in haar jeugjare graag ‘n “Sendingdame” word  wat in verre lande die evangelie aan ongekerstende mense sou bring, maar oupa van Niekerk wou dit nie toelaat nie. Aan die einde van Standerd 7 moes sy uit die skool (Hoërskool Monument)  gaan sodat sy “haberdashery” kon aanleer om ‘n inkomste te verdien. Later het sy as kassiere by die OK basaar gaan werk totdat sy ‘n kantoorpos in  Rand Leases se mynkantoor gekry het (waar sy haar lewensmaat ontmoet het). Telkens as ons oor die vreemde draaie gepraat het wat ‘n mens se lewenspad soms neem, het sy gesê: “God maak nie ‘n fout nie”.

Tog  het die hunkering om ‘n verskil in mense se lewens te maak, gebly. Miskien het dit onbewustelik op my kindergemoed ‘n indruk gemaak, want kleintyd as ek na kerk my sussies se poppe gedoop het, het ek verklaar dat ek ‘n dominee gaan word as ek eendag groot is.

Hoe groot was haar blydskap toe sy op 8 Februarie 1980 my toga kon omhang na my ordening as leraar op Komga! Vir haar was dit ‘n groot baken-oomblik.  Twee maande later, nadat sy gesorg het dat ek goed ingerig is in die grote pastorie, het sy op 29 April onverwags aan ‘n hartaanval gesterf.

Soms wonder ek wat was die laaste musiek wat my Musiek-ma op daardie  oomblik gehoor het. Dalk die Angellus gesing deur ‘n volle engelekoor?

Moedersdag 2012 dank ek die Skepper vir Ma Winnie (Alwine) wat die basis van soveel belangstellings in my lewe gelê het. Veral ‘n geloofsfondament. Terugskouend oor die vreemde kronkels wat my lewenspad soms gevolg het, kan ek beaam: “God maak nie ‘n fout nie.”

Dankie Ma Winnie vir jou nalatenskap!

                                           

‘                                             Oppad na Switserland! September 1976

Eenvoud

April 10th, 2012

                                 

Eenvoud is die vreugde van die lewe,
dis gee en neem net wat daar is…
dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood
…wat liefde is.

Jannie du Toit sing die toonsetting van Koos du Plessis se woorde op sy CD Palet. Dié Eenvoud-liedjie groei eenvoudig op ‘n mens!  Soos alle dinge wat gebore is in eenvoud, lê die liedjie se trefkrag juis in sy oorrompelende eenvoud.

Soms is dit heerlik om aan ‘n keurig gedekte tafel te sit met gestyfde Damask tafeldoek, servette, Sheffield silwer eetgerei, fyn porselein eetservies en kristalglase. En ‘n hele spyskaart van vyf geregte  en al die nodige bybehore.

Tog word mens se diep honger soms juis net gestil deur die eenvoud van ‘n bord tuisgemaakte sop, varsgebakte brood en heerlike plaasbotter. Dan is hierdie één dis jou hele begeerte en stil dit jou honger volkome, veral as dit saam met ‘n geliefde of hartsvriende genuttig word by die lig van ‘n olielamp/kers.

So ‘n eenvoudige maaltyd was ons aandete op Goeie Vrydag vanjaar. My Reisgenoot en ek het laatmiddag op Philippolis aangekom, ons bagasie in die Hartjiehuis ingedra en toe heerlik sit en ontspan onder die lawende koelte van die Appelkoosboom. Ons kon die eerste aanmaning van herfs-wat-wil-winter-word in die laatmiddagluggie voel. ‘n Ideale tyd vir ‘n hartlike sop en brood. Ons het die lampe opgesteek, die tafel met grasmatjies gedek en die sop en brood opgedien. ‘n Perfekte Goeie Vrydag aandete. Die gestrooptheid van die versierings en die spyskaart het by die wese van die dag gepas.

Ons het dankie gesê vir die eenvoudsfeesmaal en die ete met blydskap geniet. ‘n Heerlike, eerlike ete. Selfs die patrone van die greinhouttafel wat in die lamplig sigbaar was, het ‘n verhaal vertel van hout wat deur ‘n vakman voorberei is en omvorm is tot ‘n eenvoudige, dog treffende tafel waar gesinne die vreugde van saam-eet kon smaak.

In die loop van die naweek maak ons kennis met drie gesinne (familie van mekaar) wat uit drie windrigtings kom om juis hier in Philippolis byeen te kom vir ‘n familiefees. Die onderskeie egpare kom van Kaapstad, Durban en Benoni en ontmoet mekaar hier in die karoo vir ‘n paasfees-bymekaarwees. Wat my opval toe ek oor die muur in die agterplaas kyk en die egpare se onderskeie motors in die agterplaas van die gastehuis sien staan, is dat nie en met  blinknuwe vlagskip-motors gekom het nie. Dit is beskeie, kleiner en praktiese motors wat hulle ry. So by myself dink ek dat as hulle met swierige motors en luukse 4×4’s gearriveer het, sou hulle hiperverveeld gewees het op hierdie klein Karoodorpie. Om hier ‘n langnaweek te kan deurbring moet jy nie opsoek wees na die blink ooraanbod van die stad nie. Jy moet kan opgewonde raak oor gestroopte eenvoud: die stilte van ‘n kleindorpie, die rykdom van die sterrehemel en die malse heerlikheid van ‘n volmaan wat voel of dit rakelings by die kerktoring verbyskuur.

Elke keer as ons verby die gastehuis stap en die mense sien gesels op die stoep, groet ons en merk op dat hulle gelukkig lyk. laatmiddag as hulle van ‘n stappie deur die dorp en veld terugkeer is daar ‘n stil tevredenheid aanwesig.

Op paasmaandag nooi ons die groep van ses mense vir tee en om so bietjie meer oor die dorpie en sy geskiedenis met hulle te deel. Dit word ‘n interessante kuier en ons sien die opregtheid van die mense as hulle uitvra oor die betekenis van ‘n Brakdak en wat Hartjiehortjie nou eintlik beteken. Ons hoor in hulle vrae en gesprekke die hunkering na die eenvoud van die landelike bestaan in ‘n klein dorpie waar daar nog ‘n gemeenskapsgevoel is en mense mekaar ken en omgee vir mekaar. Toe hulle bykans twee ure later groet, voel dit asof ons mekaar goed ken, sonder om te weet wat hulle beroepe, adresse of status in hulle gemeenskappe is. Ons het mekaar as bure, medemense, soekers na sin in eenvoud leer ken en herken.

In sy boek “Rykdom in Eenvoud” skryf Willem Nicol in die openingsparagraaf: ” Ons samelewing wil ons graag wysmaak dat ‘n mens jou lewe moet verryk deur dit al voller te maak met besittings, aktiwiteite, status en mag. maar in werklikheid lei dit na ‘n gejaag wat jou lewe verarm en innerlik leeg laat loop. Daar lê groter rykdom in die teenoorgestelde rigting, naamlik eenvoud.”

Dit was ook ons (her) ontdekking die naweek. Die dinge wat die naweek vol vreugde en sin gemaak het, het niks met materiële besit te doen gehad nie: Dit was die vreugde van ‘n veldstappie, die opgewondenheid oor ‘n volmaan wat oor die dorpie verrys, die blydskap oor ‘n bloedrooi granaat wat plukgereed aan die boom hang, gedeelde vriendskap om ‘n tafel.

Juis daarop sê Nicol ook in sy boek: “Die bron van eenvoud lê in die hart en in die geloof.

G’n wonder dat daar die afgelope tyd wêreldwyd so ‘n versugting is na eenvoud nie, en dan noem Nicol  die titels van ‘n aantal blitsverkoperboeke op:

Enough is enough;  99 ways to a simpler lifestyle; Small is beautiful; The freedom of simplicity, Beyond the rat race ens.

In ons soeke na eenvoud moet ons juis by die Skepper van Eenvoud begin – Sy anderste koms na hierdie wêreld, sonder prag of praal, vertel juis dat Hy ons by die kern van ons menswees wil bring – om gestroopte, eerlike mens voor God te wees.

NP van Wyk Louw se Feesgedig vertel juis hiervan:

“Nie in die wit paleise nie

wou Hy (uit soewereine wil)

tot ons soort staat gebore word;

maar, waar die Kuise en die Arme stil

en buite die hotel se poort

verniet loseer het in `n stal

het hy, Visarendjie van God

in ons benoude vlees geval.”

Uieindelik vertel Sy geboorte, lewe en Kruisdood vir ons  die eenvoudige, dog ondeurgrondelike waarheid: God het ons uit liefde kom opsoek en herstel, sodat ons oop viir God kan leef en ‘n hart kan hê vir mense om ons.

“Eenvoud is die vreugde van die lewe…” 

  

Verlies en Wins

March 4th, 2012

Soms moet mens ‘n lewensbateregister opstel. Net soos mense gewoonlik aan die einde van die finansiële jaar hulle finansiële state opstel en/of voorraadopname hou van al hul goedere, moet mens soms jou lewensverliese en –winste opskryf.

 In Mei 2008  woon ek ‘n retraite by op Menuha (plek van rus). Die besondere afsonderingsgeleentheid word gekoppel aan die Emmausgangers se reis – hoe hulle op die eerste pase hul reis van Jerusalem na Emmaus onderneem het en ontdek het dat ‘n vreemde medereisiger met hul saamloop. Meer nog, hy kan antwoorde bied op hulle vrae oor die gebeure in Jerusalem en die kruisiging.

Wat hierdie retraite nog meer besonders maak is die feit dat die verhaal van die Emmausgangers toegelig word m.b.v die aangrypende skilderye wat Rembrandt oor hierdie reisigers en hul reisgenoot/tafelgas geskilder het. Die verskillende weergawes van die skilderye hang ten nouste saam met die gebeure in Rembrandt se eie lewe, bv. die verlies van drie kinders aan die dood asook die uiteindelike  verlies van sy geliefde Saskia.

 Uiteindelik skilder Rembrandt agt weergawes van die Emmausverhaal en elke skildery vertel iets van Rembrandt se verliese/ lewenservaring op daardie spesifiek tyd toe hy dit geskilder het.

 Tydens die retraite gee die gespreksleier elkeen van die aanwesiges kans om vir ‘n paar uur te gaan nadink oor hul eie verliese op die lewenspad. Dit word ‘n middag vol ontdekkings. Ek kry ‘n sitplek op ‘n lekker plat klip teen die rantjie en sit en staar na die skoon bladsy voor my waar en my eie verliesregister moet boekstaaf. En vreemd genoeg is my eerste verlies wat ek onthou “die dag van die mes.”  My aantekening in die Verliesregister lui naastenby as volg:

 “Vandag moet ek skryf oor verliese in my lewe en die impak daarvan op my. Ek weet dat die groot verliese in my lewe uiteindelik die verlies was van mense wat my langs die lewenspad ontval het – Oupa Van Niekerk, was die eerste groot verlies en daarna het vele ander gevolg. Maar nog voor Oupa se dood het ek iets baie kortstondig gehad wat vir my ‘n spesiale simbool was, maar wat ek toe verloor het – my Olifantmes.”

 Dit was tydens ons Langverlof in die Kaap Feb/Maart 1959. Ons het deur die Kaap  getoer in ons Vauxhall Victor saam met Oom Thys en Tannie Tina-hulle (hulle in ‘n ligbruin Austin). Op Knysna het ons gestop op die dorp. Die grootmense het gepraat van die Bos en die Olifante wat wild in die Bos rondloop. Dit het ‘n groot indruk op my kindergemoed gemaak. Ek sou binne ‘n dag of twee vyf word en het begerig gekyk na die mooi messe wat uitgestal was in die glaskas in die winkel vol kurios en ander aandenkings. Een mes het bo al die ander uitgestaan: ‘n Knipmes met ‘n wit hef en daarop die prentjie van ‘n Olifant wat trompetter. Die mes en die prentjie daarop het my aangegryp en ek het vasgenael gestaan. Pa het later nadergekom en gevra wat ek so aandagtig na staar.  Ek het na die mes beduie. Pa het die begeerte in my oë gesien en ingestem om vir my die mes te koop “siende dat ek nou al so byna vyf is en groot genoeg is vir so geskenk.”  Ai, die wonder van die mes in my hand te hou! My eie mes. My Grootseungeskenk.

  Ons het van Knysna af verder gery. Later het ons ‘n stilhouplek gevind om te eet. Dit was half in die Bos en so mooi. Ek het enige oomblik verwag dat een van die Bosolifante waarvan ek gehoor het, hulle verskyning sou maak. Ons het padkos geëet. Daar was vrugte wat by ‘n padstal gekoop is en Ma wou die Langkloof-appels in kwarte sny. Daarvoor het sy my mes nodig gehad. Ek het dit trots uit my sak gehaal en die appels is mooi gesny. Toe ons oppak vra ek waar my mes is. Dit was skoonveld! Ons het oral gesoek, selfs rodgekrap in die blaretapyt rondom die sementtafel waarop ons geëet het.Die mes was skoonveld! Ek wou nie in die Vauxhall klim om verder te ry nie. Pa moes mooipraat en selfs later dreig. Onwillig het ek ingeklim, maar bly omkyk toe ons ry, so byna of ek verwag het dat ‘n Olifant met die mes vasgeknyp in sy slurp  agter ons sou aankom. My eerste groot verlies in my verliesregister.

 Ons het ‘n paar dae oorgebly op ‘n plaas op Uniondale waar ek ook my vyfde verjaarsdag gevier het. Die oggend van die verjaardag het ek ‘n pakkie gekry met ‘n mooi swart-en-wit blikmotortjie daarin. Dit was ‘n polisie-opwenmotortjie wat masjiengewere in voorste venster gehad het, wat heen en weer beweeg as die motor opgewen is. Dit was ‘n baie spesiale geskenk. Tog het ek heimlik verlang na my Olifantmes. ‘n Karretjie was ‘n seuntjie-geskenk, ‘n mes ‘n Grootwees geskenk. Tog het ek die Karretjie goed bewaar. Tog is die verlies op ‘n vreemde manier weer in ‘n wins omskep.

 Ek het die gebeure opgeteken in Mei 2009:

 My reisgenoot en ek ry vroegoggend na die Oos Vrystaat. Met ‘n versigtige opgewondenheid.

Vlak voor Senekal die eerste afwisseling van die landskap – heuwels. Klein bietjies kosmos. Agterop is die groot esel gelaai en Sandra (van Turksvytrading) se drie stoele en spoorweglamp.

 Ons stop by die sandsteenpadstal. Dis rerig Oos-Vrystaat. Naby Rosendal die poskaartprentjie van die wakende sandsteenkop en die sagte kleure. Net die prentjie alleen maak die ry die moeite werd. Ry die dorpie binne en sien daar is ‘n Boeremark. Stop eers by Turksvy Trading en groet Sandra. Laai die vrag af. Gaan verken boeremark. Interessante grepe van gesprekke: “toe nou Poepsie hou jou hande uit die kaneelsuiker” en “ my ma se koek gaan platval as ek nie nou dadelik ry nie” (vrou met versierde koek in hand). “ Ek koop eiers by ‘n boer wat elke eier met ‘n potlooddatum merk” (vrou by stalletjie)

 Ons eet pannekoek en koop drie kruieplantjies. Verken die dorp verder. Kotze ateljee is gesluit en te koop. Ontdek “the Rosendal” hotel. Mooi sandsteen gebou met landelike uitsig en mooi eenhede en pragtige tuin agter.

Ons drink ‘n heerlike tee’tjie, geniet die uitsig met koeie wat rustig wei. ‘n bonte blommetuin en berge wat die prentjie omraam. Kyk na die verskeidenheid mense. Ek skribbel ‘n paar gedagtes in Lynette se boekie. Bel Sandra en sy is nog besig. Ons besluit om sommer middagete daar te geniet. Sit en terugdink aan drie jaar gelede – die Saterdag na ons troue en die heerlike verkenning van Clarens. Verlede jaar was ons tydens Pase in Turkye met die Grotnagmaal.

 Ons vra onsself af hoe ons Goeie Vrydag/Paasfeesprentjie oor ‘n jaar gaan lyk en formuleer ‘n paar doelwitte.

 Stap later deur die mooi blomtuine en kyk na die kerkie. ‘n Heerlike saligheid kom lê in ons binneste Ons ry na Turksvy Trading en begin Sandra se drie winkels verken. Ons is verbaas oor al die uitbreidings en die magdom voorraad. Maar die eintlik lekkerte bly Turksvy Trading. Dis stiller (na twee reeds) Sandra wys haar aankope van ‘n winkel wat gesluit het in Lesotho. In ‘n pakstoor agter die winkel was vorraad geberg wat uit die jare vyftig en sestig dateer:  Ou medisyne (Dr William’s Pink Pills, Phillips Milk of Magnesia ens.) Ouma Meelbol. Flennie. Outydse rooi vilt kinderpantoffels met die bont tossel op. Ons kan dit nie weerstaan nie en koop ‘n paar.

 Tog is die verrassendste oomblik toe ek die ou messe raaksien. Nog geseël in ‘n houer. My hart ruk behoorlik toe ek my lankverlore Olifantmes sien. My mes wat so kortsstondig gehd het tydens ons langverlof in die Kaap en wat ek verloor het in die Knysna bos. Ek wil so graag so een hê, maar die pak is geseël en sy wil dit as eenheid verkoop. Tog,  sy het dalk ‘n los een agter in die stoor, sê sy. Terwyl ek en Lynette verder snuffel, gaan sy kyk en kom na ‘n ruk terug met ‘n toe hand. Vra dat ek my hand moet oophou. Sy plaas die  Olifantmes daarin. So onwerlike oomblik. ‘n Sirkel is voltooi.

 Toe ek vandag die foto van die opwenkarretjie neem (nou reeds 53jaar oud) en die mes wat nou weer drie jaar in my besit is, dink ek daaraan dat die inskrywings onder die Verliesregister soms, op ‘n vreemde manier, weer ‘n Wins-inskrywing word.

                            

(Met dank aan Jan Lubbe vir die bewusmaking van die Rembrandt skilderye en die Emmaus-ervaring.)

Liede met verhale

February 12th, 2012

 

                      

 

Liede vertel soms ‘n dubbele verhaal: Die verhaal in die liedteks en die verhaal van die assosiasie wat die lied in die hoorder opwek.Liedstories bekoor my van jongsaf.

 Van my kleintydse melankolie oor “The ship that never sailed” tot by onlangse treffers wat ‘n bepaalde indruk laat – die stories bly my by. Dalk die dat RSG se Vat Vyf op ‘n Saterdag tydens die program Brekfis met Derrich my terugneem na die onthou wat bepaalde liede opwek.

 Kleintyd was dit veral die Hallelujaliede van die Kinderkrans wat ‘n groot indruk op my ontvanklike kindergemoed gemaak het. So het ek en sus Alwa lustig die liedjies wat ons die dag in die Kinderkrans geleer het, oppad terug huis toe gesing of by die huis ons eie konsert gehou. Toe ons “laat ons skyn vir Jesus “ leer, gaan oefen ons dit kliphard in die donkerste deel van die huis – daar waar die gang sy L buiging maak na die badkamer toe, want ons moet mos ons lig laat skyn “in die donker wêreld” en dit is die donkerste plek in die huis waar daar geen vensters is nie.

 As vyfjarige was Superman my groot held. Op die comics se voorblad in die kafees het hierdie held gepryk –in volle vaart oppad om iemand te red. Toe die Kellogs promosie op die kartonflap van die Rice Krispies ontbytgraan verskyn, het ek geneul totdat my ma drie kartonflappe ingestuur het en ek in ruil daarvoor my Supermanbelt ontvang het – ‘n bloedrooi plastiekgordel met die bekende Supermanlogo op die gespe. Nes die seuntjie in die KFC advertensie het ek geweier om my belt af te haal want ek het mos super kragte gehad terwyl ek dié gedra het. Toe ons kort daarna die liedjie in die Kinderkrans leer van Red die wat sterwe (eintlik Red wat verlore gaan, soek die wat sterwe) het ek dadelik voor my geestesoog gesien hoe die sterke Red (want in my gedagtes was hy ‘n sterk man) soos ‘n wafferse Superman al wat siek is help en almal wat in nood (en dood) is, te hulp snel. Weekdae was ek Superman en Sondae was ek Red.

 As jong seun het ek ook dikwels gesien met watter toewyding my Duitse ouma met geslote oë die lied “ Ruwe Storme breek in woede, alles om my heen is nag…” tydens huisgodsdiens gesing het. Dan het ek altyd die prentjie voor my geestesoog gehad van ‘n vrou wat op ‘n rots staan in die see met die woedende branders wat om haar slaan. Genadiglik was daar op die rots ook ‘n ruwe kruis waaraan sy kon vashou.

 Heelwat van die prentjies wat ek aan die liede gekoppel het, het sy ontstaan in die ou Postcard Album wat dateer uit die Oorlogsjare. Die Album bevat poskaart prentjies met die liede van woorde, sommige ook Hallelujaliede, daarop. Die album was my Oupa en Ouma se eiendom. Na my Oupa se dood is al sy boeke na ons huis gebring in kartondose. Toe ons moes verhuis, moes van meeste van die boeke ontslae geraak word. Ek onthou hoe ek die dag na die hoop boeke gekyk het wat moes weggegooi word. Ek het ineens die boeke intens jammer gekry. Toe verskyn die “Red”-karakter weer skielik in my en begin ek boeke aandra na my kamer toe, o.a. die ou Poskaart-album vol prentjies. Ek kon sodoende darem ‘n paar boeke red, maar oor die album was ek die blyste. Ek kon ure kyk na die poskaartprentjies met die woorde van die verskillende verse van liedjies op elke blaai. 

 

My ma was seker heimlik bly oor die redpoging van die poskaart-album, want soms het sy saam met my deur die album geblaai en sommige van die liedjies se stories in haar eie woorde vertel, o.a. Oh where is my wandering boy tonight? The Lost chord en Thora. So het die eerste reels van die liedjies in my kop vasgesteek – “I stand in a land of roses, but I dream of a land of snow, where you and I were happy in the years of long ago…” (Thora) Op die prentjie van vers vier kniel die bedroefde man by die graf van sy geliefde Thora met Thora wat vanuit die wolke haar arms na hom toe uitsteek. Baie melodramaties, maar dit was vir my jong gemoed so aangrypend. So ook die woorde van “where is my wandering boy tonight?”

–     where is my wandering boy tonight –the boy of my tenderest care,

–     the boy that was once my joy and light, the child of my love and prayer?

 Op die prentjie van “The lost chord” sit ‘n jong meisie in ‘n vloeiende blou rok met goue omboorsels voor ‘n indrukwekkende pyporrel. Die eerste vers lui:

 Seated one day at the organ, I was weary and ill at ease

And my fingers wandered idly over the noisy keys,

I know not what I was playing or what I was dreaming then,

But I struck one chord of music, likethe sound of a great Amen.

 

Soms het my ma die wysie van die liedjies saam met die woorde gesing en dit het diep indruk op my gemaak.

 Nou nog wanneer ek deur die ou album vol poskaarte blaai, vou die liedjies met hulle (meestal hartseer) verhale voor my oop.

 Soms, as dit voel asof die ruwe storme waarvan ouma altyd so met oorgawe gesing het, in al sy felheid om my breek en die stukkie rots waarop ek staan voel asof dit verswelg gaan word, bring die poskaartprentjie van die vrou op die rots ‘n vreemde troos. Veral ook die ruwe kruis wat soos ‘n ankerpaal haar regop hou.

 Dan weet ek dat die eintlike Red my nie sal laat ondergaan nie.

 Ek kan maar aanhou sing, al is dit soms bewerig.

Tree of Life

January 24th, 2012

                         

In meeste  mense se lewe is daar iewers ‘n boom – ‘n klimboom, kuierboom, skaduboom, biegboom, bidboom. Selfs al is dit net vir ‘n woonstelbewoner ‘n miniatuurboom, ‘n bonsai.

Philla “ontvoer” haar geliefde oupa uit die hospitaal om hom weer ‘n slag na sy geliefde Bos toe te neem. Toe hy sukkel om te loop, laai sy hom in ‘n kruiwa wat in ‘n erf staan. Oupa se gesig helder sommer op toe die ontsnapping slaag: “Dis die Boomste ding wat ek in jare gedoen het” sê hy opgewonde. In die bos gee sy vir hom ‘n klein sederboompie (bonsai) as geskenk. Hy kniel by die boompie,vat saggies aan elke takkie. Die rimpels op sy ou gesig glimlag met so ‘n blydskap dat sy weet: sy het reg besluit. Hy neem die boompie in sy arms: “Jy is die boomste boom wat ek nog met hierdie oë van my aanskou het.” (Uit: Boom, bomer, boomste – Elsabe Steenberg).

So het ek omtrent gevoel toe ek kort voor Kersfees ‘n twee-en-twintigjarige Acacia Galpinii (Apiesdoring) bonsai van my reisgenoot kry. ‘n Baie spesiale geskenk wat met eerbied versorg en gekoester moet word. In die natuur kan die pragbome 25-30meter hoog word, maar die boompie van my staan so 75cm hoog. Tog is dit ‘n perfekte voorbeeld van die mooi vorm en karakter wat ‘n volwasse boom vertoon.

Bome – soms simbolies geplant as teken van ‘n nuwe begin of herdenking. Tydens ons veertigjarige matriekreünie verlede jaar plant ons groep klasmaats ‘n boom op die skoolterrein as simbool van dankbaarheid en ook van nuwe groei vir die toekoms. Ons plant ook ‘n tydkapsule saam met die boom met briefies van die matrieks, foto’s en ook ons eksamenrooster van 1971. Van kleintyd af is dit my ritueel – saam met ‘n jong boompie wat geplant word, hoort ‘n tydpkapsule. Sal dit nie interessant wees om eendag weer die kapsules te gaan opgrawe nie!

In die bekroonde film van Terrence Malick, The tree of Life (2011) plant die pa (Bradd Pitt) simbolies ‘n boom naby hulle huis. Die verhaal speel af in ‘n plattelandse dorpie in Texas in die vyftigjare. Dit vertel die verhaal van die O’Brien-gesin: Pa, Ma en drie seuns. Dit is ‘n verhaal wat vrae vra oor lewe, lyding, dood en sin. Hoewel die drie seuns in hierdie plattelandse, byna idilliese omgewing grootword, word hulle ook blootgestel aan die realiteite van grootword. veral die onderliggende spanning tussen hulle ouers veroorsaak hul verwarring. Terwyl die ma aan hulle die die pad van Genade beklemtoon, lê die pa weer meer klem op die wet van die natuur en die noodwendigheid daarvan. Die gesin word ook nie tragedie gespaar nie, en wanneer die middelste seun in sy tienerjare tragies sterf, worstel elkeen van die gesin met die verwerking van die verlies. Die verhaal bestaan uit baie terugflitse, sommige wat selfs by die skepping gaan draai. Dit word hoofsaaklik gesien vanuit die die perspektief van die volwasse oudste seun (vertolk deur Sean Penn) wat as argitek werk in ‘n koue, kliniese gebou.Wanneer hy eendag sien hoe ‘n boom voor die gebou geplant word, laat dit hom dadelik terugdink aan die boom wat sy pa geplant het by hulle huis en hoe hulle (en die boom) saam gegroei en grootgeword het.

Kort voor Kersfees kry ek my laaste Chemoterapie vir die jaar. Die  Onkoloog verduidelik aan my die oorsprong van die chemomiddel Texotere. Die kernbestanddeel is Taxol – ‘n ekstrak wat verkry word uit die naalde van die Taxus brevifolia, ‘n tipe den wat voorkom in die Noorde van Amerika en Kanada (in Engels bekend as the Pacific Yew Tree). Die middel voorkom dat dat nuwe selvorming kan plaasvind en beperk so die groei van die kankergewasse.

Ek is opgewonde oor die inligting – van kleintyd af het ek ‘n voorliefde vir Konifere. Dié kersfees hoef ek dus eintlik nie ‘n kersboom te versier nie want ek dra ‘n kersboom se ekstrak in my bloed.  Praat van “getting high on Christmas!” Dus nie soos ons altyd gespot het” Oom rook Boom” nie maar oom word Boom-bedrup!  (Of bietjie grusamer: Oom bloei Boom).

Kort voor nuwejaar kuier ons in Philippolis. Ons gaan drink ons gebruiklike koffie by die Jobhuis en geniet die geselskap en inspirasie wat dit bied. Kort voor ons moet loop, sê ons kunstenaar-vriendin daar is ‘n geskenk wat sy vir my wil gee. Ek wonder wat dit kan wees. Sy bring een van haar skilderye wat ek al lankal bewonder, maar wat nog nie te koop was nie. Sy oorhandig dit aan my met die woorde: “Ek weet dat jy al lank na die skildery kyk en ek gee dit graag vir jou as geskenk” Ek is oorstelp. Dis waar. Vir etlike jare al bewonder ek die skildery. Nou is dit my inspirasie-geskenk vir die nuwe jaar.

Terug in Welkom hang ek die skildery op ‘n prominente plek in die sitkamer. Sodat ek dit daagliks kan sien en die impuls van kreatiwiteit ervaar. Die skildery is getiteld” My creation fot my Creator.”  Graag wil ek in die nuwe jaar skeppend wees in diens van die Skepper.

Die skildery herinner my ook die waarheid uit “Tree of Life”  Genade lei tot ware vervulling van jou lewensdoel. Mev O’Brien verwoord dit as volg:         ” The nuns taught us that no one who loves the way of grace ever comes to a bad end. Help each other. Love everyone. Every leaf. Every ray of light. Forgive. ”

So kan dit die Boomste Jaar wees.

                                

 

Mooi Toekomsstraat

January 7th, 2012

 

                      

By die wisseling van die jaar dink mens onwillekeurig terug aan jou lewe en die pad tot by die jaar 2012. Langs hierdie pad het jy by verskeie adresse gewoon. Net ‘n handjievol mense bly hulle lewe lank slegs by een adres.

 Ek het so bietjie ‘n lys opgestel van al die straatadresse waar ek van kleintyd af tot nou gebly het. So lyk die lysie:

Anderson, Dawkins, Kervel, Flora, Aberdeen, Henry, Van Ryneveld, Pinewoods, Victoria,Shapiro, Tainton, Ibis, Drongo, Agulhas, Buren, Tobie Mullerstraat

16 adresse  altesaam..

Soms kan dit gebeur dat mens se omstandighede sodanig is dat dit jou wil laat sê: Ek bly in Tamatie straat. Spreekwoordelik ‘n slegte adres om in te bly. As Tamatiestraat op die Monopolybord moes wees, sou dit net na die Go blokkie gewees het, dws  in Bruinstraat.

 Soms wil mens sommer vir jou adres die skuld gee vir alles wat nie reg is in jou lewe nie. As ek net op ‘n ander plek, dorp, stad, provinsie of land kon bly , sou my lewe anders wees, is die verweer.

 Die brief wat  Jeremia aan die ballinge stuur in Jer 29, gee egter vir mense wat by hulle ou (ongeliefde) adres bly, ‘n nuwe uitsig, as’t ware ‘n venster met ‘n nuwe uitsig.

 Die brief, wat jeremia met twee boodskappers, Elasa en Gemarja stuur, bevat ‘n goeie tyding, maar nie vir die ontvangers nie – eers hulle kinders sal baat – Oor presies 70 jaar sal ek Babel straf en julle onder my sorg neem…

 Tog is daar ook vir hulle hoop:want Die boodskap wat Jeremia aan hulle moet oordra, bevat hoop vir hulle en die toekoms:

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” (Jer 29:11)

 Om  egter by die visie uit te kom wat God vir hulle het, sal hulle moet verhuis, want tans word hulle hele wêreld gekleur deur die omstandighede waarin hulle is:

 Hulle is die mense van Ballingstraat.

Hulle huise is almal in ‘n enerse grys geverf. Geen tuine, geen blomme maar veral geen bome want boomplant is tog ‘n geloofsaak…

 Nog ‘n kenmerk van die huise in Ballingstraat – geeneen het ‘n posbus nie, want hulle verwag nie meer ‘n boodskap nie…

 En voor almal se vensters hang ‘n dik donker gordyn van uitsigloosheid. Kyk nie meer om die dag te sien breek en die seisoene te sien verander nie.

 Die huise en die bewoners van Ballingstraat sou hulle straat wou herdoop na Bedrukstraat. Want hulle is bedruk. Beswaard. Mismoedig. Melankolies. Moedeloos. Sonderhoopstraat.

 Dan gebeur iets verrassend. By elke posbuslose huis in Ballingstraat klop daar ‘n boodskapper met ‘n brief.

 Party lees net die eerste woorde van die eerste sin – oor presies  sewentig jaar en gooi dan die brief eenkant. Ander lees darem dat die straf Babel gaan toekom en glimlag wrang- dis hoog tyd , maar dan is ek al lankal dead and gone, wat help dit tog. Sommige lees egter die hele brief en hoor die briefskrywer se beloftehart klop. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee – ‘n verwagting.

Bou huise en bewoon dit, lê tuine aan.

 Daarom die opdrag: Leef voluit daar waar ek julle geplaas het. Al woon julle tans nog in Ballingstraat, het ek reeds julle adres verander na Mooi Toekomsstraat. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.

 Mooi Toekomsstraat. Wat ‘n besondere straat is dit nie! Ek was so opgewonde toe ek die dag ontdek dat daar in Flamingopark,  Welkom ‘n straatjie is met die naam van Mooi Toekomsstraat. Oppad van my blyplek in Ibisstraat moes ek gereeld met Mooi Toekomsstraat ry as ek winkel toe gaan. Dan het ek altyd gedink dit sal lekker wees om in ‘n straat met so naam te bly.

 Want aan die bewoners van Mooi Toekomsstraat word daar nege beloftes gegee in Jeremia 29: God self is die Beloftemaker, inisieerder:

 Beloftes

  1. Ek julle onder my sorg neem
  2. Julle na Jerusalem terugbring
  3. Ek beplan vir julle voorspoed
  4. Ek gee vir julle ‘n toekoms, ‘
  5. Ek gee julle ‘n uitsig, ‘n verwagting
  6. Ek sal julle gebede verhoor
  7. Julle sal my wil ken
  8. Julle sal my ontmoet
  9. Ek sal julle bymekaar maak tussen die nasies

 Ten einde in Mooi Toekomsstraat te kan woon, moet mens eers ‘n paar ander adresse bewoon:.

 Kripstraat

Wie in die gees by die Kripkind in die stal kniel en hulde aan Hom bring omdat Hy sy Hemelstraat-adres verruil het vir Kripstraat, is gereed vir die volgende adres.

Kruisstraat

Dis seker die belangrikste straat warin jy moet woon voor jy eendag MooiToekomsstraat kan betrek – die huise in Kruisstraat het bloedrooi kosyne wat herinner aan die bloed van die lam wat geslag om versoening te bring. In Kruisstraat word mens klein voor die groot waarheid, dat jy nie self die prys van jou blyplek in Kruisstraat kan betaal nie, jy moet aanvaar dat dit reeds vir jou betaal is. Hier leer jy dus nederige oorgawe. Dan kan jy verhuis na die volgende adres:

 Klipstraat.

 Klipstraat se naam is misleidend. Hier verwag mens uitsiglose huise, maar word juis verras deur oop deure!  Klipstraat  herinner ons aan die klip wat voor die graf geplaas was en wat weggerol is met die opstanding. Mense van klipstraat weet dat Jesus die dood se klipswaar oorheersing oorwin het. Dan is jy gereed vir die volgende straat:

 Koningstraat

 Wie hier woon erken Jesus se heerskappy oor sy/haar lewe, verhoudings, werk, besluite….In die straat leer mens dag-vir-dag gehoorsaamheid – ‘n fyn luister na die stem van die herder-koning.

 Mooi Toekomsstraat

 Wie die pad gevolg het – Krip-, Kruis-, Klip- en Koningstraat weet dat hulle huis in Mooi Toekomsstraat ‘n werklikheid is. Dat daar vir hulle ‘n uitsig, ‘n verwagting is.

 Mag 2012 se adres vir elkeen Mooi Toekomsstraat wees.

 Mooi bly!