Towertapyt

August 25th, 2011

Floralaan 62, 1964

 Eendag lank, lank gelede (skuins na die middel van die vorige eeu) het daar ‘n meubelwa voor ‘n stewiggeboude drieslaapkamerhuis aan die voet van Goudkop gestop. Uit die meubelwa is daar ‘n donkergrysbank en twee bypassende grys stoele gelaai.

 Dit is die huis ingedra en eenkant in ‘n ry gepak. Die nuuskierige skare het aangegroei – ‘n Donkerkop pa en bruinkopma, ‘n opgeskote dogter van dertien, ‘n seun van tien, ‘n dogtertjie van ses en ‘n baba van ‘n maand of drie. Die nuwe stel was sommer groot opwinding want  die pa en ma is juis die vorige week weg Goudstad toe om dit uit te soek

Die ma se oë het egter nie lank op die grys stel gerus nie, maar weer afwagtend na die deur gedraai. Toe kom die verrassing – ‘n toegerolde mat is die vertrek ingedra. Op die gesonke blokkiesvloer van die sitkamer is dit oopgerol. Voor die oë van die toeskouers het die blokpatroon ontvou. Goud, maroen, swart en room – elke blok ‘n eie prentjie.

Die ma het haar hande saamgevou so asof sy bid en die mat met haar oë geliefkoos.

Die pa het rustig toegekyk en die kinders het hul misnoë laat hoor. Dis sommer ‘n lelike ou mat, dis nie so mooi soos die vorige een wat ons gehad het nie. Watter ou lelike blokke is dit en watter snaakse patrone. Ons ou mat se groen rand met blare en blomme was sommer baie mooier.  Die een is te deurmekaar, ons like dit nie.

 Die ma het die kinders nader getrek en gesê: Julle sal nog leer om baie daarvan te hou-

“Toe ek dit  sien hang in die winkel het ek dadelik geweet dit is ons mat die”, het sy gesê.  Sy het die hoek van die mat byna met piëteit omgevou en die etiket aan die kinders gewys. – ‘n Walton Super Kashan!

 Pa het gestaan en glimlag – “Ons kon die mat eintlik nie bekostig nie” het hy gesê en na die bruinkopvrou gekyk “maar julle ma het dadelik daarop verlief geraak toe sy dit sien. Ons moes maar oë toeknyp en dit koop.”

 ‘n Rukkie  later is die nuwe sitkamerstel  ewe mooi op die nuwe mat  gerangskik. Onder die skerp pootjies van die nuwe stel is maroengeverfde ysterbakkies geplaas wat soos deurgesnyde tennisballe gelyk het. Die moes kwansuis keer dat die nuwe mat nie beskadig word nie. Toe is die nuwe gordyne met so goudgroen skynsel ook opgehang en die kinders het versigtig op die nuwe blokmat gaan sit. Hulle moes darem eers voel hoe ‘n Super watsenaam ookal voel. Die baba het nogal geintereseerd na die patrone op die mat gestaar en probeer gryp na die prentjie van  ‘n pou met pronkende stertvere.

Die tienjarige het sy speelkarretjies gaan haal en gou met sy karretjies versigtig nuwe paadjies op die mat ontdek.

 Daardie aand het die bruinkopma se ouer broer sy kamera gebring en die gesin op die nuwe driesitplek grys bank laat sit, met twee van die kinders voor op die mat.Die kamera het wit geflits toe die foto geneem word en in daardie witflits die gesin gestol tot tydloosheid.

 Hulle verhaal en die van die blokkiesmat sou nou altyd verweef wees.

         

Agulhasstraat, 7 Maart 2002

 Bykans vier dekades  nadat die mat die eerste keer sy verskyning gemaak het, daag die mense van Four Seasons Cleaners op om die mat te sjampoe en te was. Die mat was lank opgerol en gestoor, nou word dit weer oopgerol en benut. Die skoonmaakproses is ‘n hele ritueel. Die bruin banke, stoele en tafel word van die mat weggeskuif en sy volle patroon word blootgelê. Skoonmaker Piet spuit eers ‘n sagte warm sproeilagie oor die mat om dit klam te maak. Toe word dit sistematies gesjampoe en gesuig. Ek wonder of daar na al die jare en na agt verhuisings nog enige oorblyfsels van Floralaan 62 aan die mat kleef. Miskien net die herinneringe wat onlosmaaklik deel is van die matpatroon. Die metodiese sproei, sjampoe en suig neem ongeveer ‘n halfuur. Toe herrys iets van die vroeëre glorie uit die middeljarige mat.

 Ek staan en beskou die mat soos hy onthul voor my lê. Ma was tog reg, ek het geleer om van die mat te hou, selfs lief te word daarvoor. Ek gaan haal my kamera en korrel deur die lens: Ek sien die eweredige randpatroon en die middelblok wat amper soos ‘n lyf lyk.

Ek het onlangs die blokke die eerste  keer in al die jare getel – een-en-veertig blokke, nagenoeg so oud as die mat seker is en minder blokke as wat my lewensjare nou is. Die blokpatrone en ons familiestories is onlosmaaklik aan mekaar verweef. Ek neem die foto. ‘n Leeftyd van geheuekiekies is aan die mat gekoppel.

          

Ibisana 9, Februarie 2009

 Met die inrig van my studeerkamer in ons Dupleks-meenthuis, kry die Towertapyt sy ereplek. Hy toon tekens van verwering na jare se gebruik.Tog het sy stories behoue gebly: Die onderskeie blokke met hul simboliese patrone is nog steeds herkenbaar. Volgens die boek wat Oosterse matpatrone verklaar, beeld die blokke die lewe en lewenssiklus uit. Die etiket met die naam van die mat het met die jare se gebruik losgekom en verdwyn. Dus is die naam van die mat maar net ‘n vae onthou uit my kindertyd. ‘n Verskeidenheid van meubels wat saam met die mat ‘n kuierplek gevorm het, het metertyd verdwyn, maar die mat leef voort. Die agterkleinkinders van die man en die vrou wat die mat vyf-en-veertig jaar gelede gekoop het, speel nou op die mat.

 In die mat is deel van ons familie- en lewensgeskiedenis verweef. Dit herinner ons aan kleintyd se onbesorgdheid en knielgesprekke met God tydens Huisgodsdiens. Dit vertel van daardie eerste kuiers van die sussies se kêrels en die veelbewoë dag toe ek en my hoërskoolliefde op maat van Jenifer Juniper op die mat gedans het en Ma gedog het haar kind is nou op die Breë Weg!

 Die Towertapyt is ons eie onthoumat, ons Storiemat.

 As ek Brandi Carlyle se trefferliedjie The Story hoor, dan is dit dit nie net die verhaal van ‘n lewe nie en lewens nie, maar van die interverweefdheid van  Towertapyt se verhaal en ons s’n:

 All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I’ve been
And how I got to where I am
But these stories don’t mean anything
When you’ve got no one to tell them to
It’s true…I was made for you
I climbed across the mountain tops
Swam all across the ocean blue
I crossed all the lines and I broke all the rules
But baby I broke them all for you
Because even when I was flat broke
You made me feel like a million bucks
You do
I was made for you
You see the smile that’s on my mouth
It’s hiding the words that don’t come out
And all of my friends who think that I’m blessed
They don’t know my head is a mess
No, they don’t know who I really am
And they don’t know what
I’ve been through like you do
And I was made for you…
All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I’ve been
And how I got to where I am
But these stories don’t mean anything
When you’ve got no one to tell them to
It’s true…I was made for you…

 

 

 

 

 

 

Trappieslied

August 15th, 2011

Trappe was nog altyd vir my ‘n wonderlike ding! Kleintyd was dit my groot  wens dat ons tog eendag in huis met baie trappies sal bly- verkieslik ‘n dubbelverdiepinghuis of ten minste dan net ‘n semi-dubbelverdieping. Oupa en Ouma van Niekerk se huis in Ontdekkers met sy dertien rooi trappe wat lei tot op die groot stoep en voordeur het ‘n diep indruk op my kindergemoed gemaak.

Tydens my laerskooljare was ‘n kuier by klasmaat Johan de Korte altyd ‘n heerlike ondervinding. Hulle het in Herzenbergstraat 24 gebly en die huis het baie trappies gehad. Die gepaste naam van die huis: “Op-en-Af” was soos musiek in my ore. Ek wou graag eendag in ‘n huis bly waarin ek op en af met trappies kon klim. Ons huis op daardie stadium het drie of vier trappies gehad tot op die voorstoepie en dan as jy in die voorportaal inkom en links draai was daar twee houttrappies na die “sunken lounge”  Vanuit die vertrek moes jy weer met twee trappies klim om in die eetkamer te kom. Die twee trappies was ons gunsteling speelplek op Sondagmiddae as ons onsself moes besig hou terwyl die grootmense slaap. Op die trappies het ons resies gehou met gekleurde albasters en dit soms  as verhoog gebruik om te mimiek op die musiek wat oor die radio speel. Daar het my twee susters een aand vir ons konsert gehou in twee wye pienk tafsyrokke met bolero’s oor. Met die twee trappies het tannie van Schalkwyk geklim om agter die lae “room divider” stelling in te neem wat sy as preekstoel gebruik het tydens die weeklikse kinderkranslesse. Sy het die gewoonte gehad om met haar gewig terug te leun op haar hoëhakskoene sodat die skerp hakke later sulke duikies op ons hout blokkiesvloer gelos het. Dit het veroorsaak dat ons later nie meer die kinderkrans in ons huis gehou het nie. maar dis ‘n ander storie.

Tydens ‘n retraite in 2003 by Good Shepherd sentrum by Hartebeestpoortdam het ek vir die eerste keer indringend kennisgemaak met die trappieslied van Ps 126.

Die nuwe vertaling se opskrif lui: “Verander tog ons lot” en die Ou Vertaling s’n: ” ‘n Oes van vreugde uit die tranesaad”. ‘n baie beskrywende titel want in die psalm is daar ‘n beweging van onder na bo. Van trane en verdriet tot vreugde en ‘n blye oes. Daarom sou die psalm tereg kon heet : ‘n (trane) Trappieslied.

 Ons het’n uitdrukking wat sê: Van lekkerlag kom lekkerhuil. Ouers sê dit soms vir hulle kinders: Onthou! Van lekkerlag kom Lekkerhuil

 Maar ons Psalm draai dit so bietjie om: Van lekkerhuil kom lekkerlag.

Vir ons klink dit maar bietjie vreemd. Huil klink so…….. hartseer en lag klink so……….lighartig. Dit voel of die twee nie saamhoort nie. Tog weet ons uit eie ervaring hoe die traan soms tog die lag kan word. Hoe daar soms selfs op ‘n begrafnis ‘n snaakse ding kan gebeur wat ‘n glimlag ontlok. Juis asof die lag die weerligafleier is wat die trane bietjie temper.

 Die psalm begin as’t ware in trane en eindig in ‘n lag van vreugde en diepe blydskap.

Dus inderdaad: ‘n oes van vreugde uit die tranesaad.Die blydskapsblomme kom nie sommer maklik op nie. Die saad word gesaai en trane is die ontkiemingvog. Tog kom daar blydskap na vore.

Die Bybel vertel dat trane nie sommer maar net soutdruppels is nie. Dat ons trane dikwels die noodsaaklike vloestof is wat die nuwe begin aandui, soos ‘n geboorte. Daarom hoef ons nie so skaam te wees as daar soms trane vloei nie. Dis as’t ware die  deurweekte watte wat die nuwe saad laat ontkiem soos in ons kleintyd eksperimente.

En vir God is ons trane kosbaar. Daar staan immers in Ps 56: vers 9

9 U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie? (Ou Vertaling)

 Dis ‘n pragtige beeld: Trane wat ‘n kruik vul met gebrokenheid In die New English Bible lees ons: Enter my lament in thy book , store every tear in thy flask.

 Moontlk  is dit  ‘n verwysing na die professionele roubeklaers wat by rougeleenthede gehuur is om te treur en dan betaal is volgens die trane wat hulle kon opvang.

 Die wonder van die psalm is dat dit nie vashaak by die hartseer en trane nie, maar ‘n gebed is dat God ons lot sal verander en nuut maak.

In 2005 hou ons Projek 15 groep van die gemeente ‘n eie retraite op Menuha, die mooi kampterrein naby Brandfort. Weer praat die psalm met ons en word die mooie kerkie op die koppie met sy trappies wat daarheen lei (soos op foto) vir ons ‘n beeld van die pad na verandering wat nie maar ‘n gelykpad, moeitelose pad is nie.

Tog word die psalm ook weer vir ons ‘n belofte dat God die verandering en ommekeer op sy tyd bring – in ons eie lewens en die van die gemeente en gemeenskap.

Voorverlede week ervaar ek net weer die swaarte van die boer met die saaisak. Soveel dinge gebeur wat dreig om my moedeloos te maak – fisies en psigies is ek op ‘n laagtepunt. Tog – die Vrydagoggend is  ons dagstukkie gekoppel aan die boodskap van Ps 126. In die stukkie noem Johan Cilliers die geneigdheid wat ons het om ‘n ritseling van blare aan die boom te hoor en te dink dit is ‘n stormwind. Dan juis moet ons die fluisterstem van God hoor wat ons verseker:dit is ‘n skoonmaakwind. Hy  waai net die die droë blare van ons lewensboom skoon  – dis nie ‘n tornado nie, maar ‘n wind van verandering.

Vandag sit ek op die boonste vloer van ons meenthuis, hier waar my studeerkamer gesellig ingerig is en ek kan weer oor hierdie trappieslied skryf. Ek moet twintig trappies klim om by my rekenaar uit te kom en vanwaar ek sit het ek ‘n effense uitsig, hoewel die aangrensende meenthuis die uitsig redelik versper. Tog het my droom van ‘n trappiesblyplek waar geword! Vandag is ook my ousus se mylpaalverjaarsdag. Sy is die eerste een in ons gesin wat by die sestig-trappie uitkom. Ons ouers was beide in hul vyftigs toe hulle oorlede is. Dit is ‘n lang reis van 1980 toe my Ma oorlede is en 1984 toe my Pa oorlede is tot hier waar ons die mylpaal saam met my sus kan vier.  Die tranesak het tog vreugdesaad opgelewer.

Hoe bemoedigend is dit nie om te weet – buite is die seisoen stadig maar seker besig om te verander – lente is oppad. Ook in ons is daar verandering besig. Al gebeur dit trappiesgewys en stadig.

Die vreugde-oes kom!

 

 

Droombrug

July 23rd, 2011

Ek is nogal diep verlief op brue.

 Brúe vertel altyd vir my ‘n verhaal en dien as kragtige simbool van ‘n ontmoetigspunt tussen twee oewers/groepe/mense. Het ons dan nie ook in Suid-Afrika se geskiedenis die epiese Brugberaad gehad nie? In Augustus 1975 het Adv. BJ Vorster, Suid-Afrika se Eerste Minister, vir president Kenneth Kaunda, staatshoof van Zambië, in ‘n trein op die brug oor die Victoria-waterval ontmoet vir samesprekings.

 Kleintyd was dit die wonderlikste ding om oor die Barrage naby Vereeniging te ry. Toe is dit gesluit (ek dink daar was dreigemente van sabotasie) en ons moes noodgedwonge met ‘n ander, oninteressante roete ry.

 Ek het so ritueel ontwikkel dat as ek oor ‘n brug ry, veral die brug oor die Oranjerivier tussen Vrystaat en Kaap, dan luister ek graag ‘n simboliese liedjie. Dit bring soms ‘n geskarrel mee, veral as die brug skieliker opduik as wat ek te wagte was.

 Kleintyd het die film “Bridge over the river Kwai” ‘n groot indruk op my gemoed gemaak. Ons het  die film in die inry gaan kyk en my Pa het weke daarna nog die aansteeklike temalied gefluit as ons iewers heen oppad was.Veral die aangrypende slottoneel bly my by – die swaar gewonde soldaat (wie se taak dit was om die brug met springstof op te blaas om die aantog van vyandelike magte te keer), val met sy laaste kragte op die hefboom  wat die ontploffing sou laat gebeur.

 Ek is hartseer oor vervalle brue, halfgeboude brue, weggespoelde brue. Juis omdat ‘n brug so sterk simbool van ontmoeting en verhoudings is.

 In die roman van Irma Joubert Anderkant Pontenilo word die brug wat gebou word deur die Italiaanse krygsgevangene, Antonio,  ook die simbool van versoening tussen mense. In ‘n eerlike gesprek met Klara, die meisie op wie hy heimlik verlief is, vra hy of mens verskille soos taal, kultuur en godsdiens kan oorbrug deur mekaar in die middel (van die brug) te ontmoet. Sy antwoord: “Dan staan die twee partye in die middel van ‘n brug. Dis ten beste ‘n tydelike rusplek, Antonio, ‘n verposing om die mooi uitsig te bewonder. Hulle sal steeds moet kies waarheen hulle verder reis, die een of die ander kant.” (p353)

 In 1999 het ek die voorreg gehad om op die mees romantiese brug (vir my) op aarde te staan – die Karlov Most in Praag. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die besef dat hier soveel verhale afgespeel het op en om die brug sedert begin is met die bou daarvan in 1357.

 Ons het Sondag Praag begin verken vanaf die prominente Kasteel wat op die heuwel lê. Ek het op die ingewing van die oomblik ‘n kaartjie gekoop vir ‘n uitvoering van klassieke musiek wat die middag om 13h00 gehou sou word in die balsaal in die kasteel. Tydens die uitvoering van die hartsmooie musiek het ek telkens opgekyk na die dak wat ryklik versier is met fresko’s en vir myself gesê; Dis rêrig, ek is hier, ek ervaar regtig hierdie oomblik wat soos ‘n droom voel. Na die uitvoering het ek by my vriende aangesluit en het ons stelselmatig van die kasteel af deur die strate beweeg: winkels met delikaat-versierde eierdoppe (om Pase te vier), winkeltjies waar die mooiste marionette gemaak word en musiek wat orals uit stegies en winkel syfer, dit was my eerste indrukke van Praag. Tog het die hoogtepunt voorgelê. Ons het die Karlov Most bereik – ‘n eeue-oue brug wat tegelykertyd dieVltava(Moldau) rivier oorspan en so funsioneel is, maar tog terselfdertyd ‘n stuk argitektoniese skoonheid is.

Die brug wat aan die begin van die veertiende eeu voltooi is, is 516 meter lank en byna 10 meter breed. Dit bevat sestien boë wat ’n skoonheid en simmetrie aan die brug verleen. Met intervalle is daar kort-kort ‘n inham met ‘n standbeeld, dertig altesaam.

Bedags is die brug, waar net voetgangers toegelaat word, ‘n miernes van aktiwiteite, verkopers, skilders en allerhande interessante mense. Juis daarom wou ek die brug ontmoet sonder die gedrang.

 Die Maandagoggend het ek opgestaan toe dit nog donker was en met ‘n trem van ons blyplek tot by die brug gery.Die stad was nog half aan die slaap. Ek het eers ywerig foto’s geneem van die brug so teen die daglig wat begin breek. Toe het ek met verwondering die brug betree. Ek wou die eerste een wees wat daardie dag oor die brug stap terwyl die naglanterns nog weerskante brand. Dit was  ‘n ongelooflike gevoel. Op die brug het ‘n bedelaar my van die oorkant teegekom. Vir een vreemde oomblik het dit gevoel asof ons die enigste twee mense in die wêreld is. Ek het teen die betonkant van die brug gaan staan en die Moldau dopgehou, Dit was of musiek van eeue so deur die stad rivierlangs vloei en of die brug die stille luisteraar was. Toe hulle om 6.15 die lanterns afskakel en die dag begin, het ek die brug beloof om weer terug te kom. Maar nie alleen nie. Met ‘n Lewensreisgenoot aan my sy. By die inhammetjie waar jy ‘n wens kan wens, het ek my hand in die geelkoper vormpie geplaas sodat my vingers rivier se kant toe gewys het. Daar het ek my wens/gebed geuiter vir iemand om die mooi mee te kan deel. Wat was my teleurstelling groot toe ek later by ons blyplek in die klooster kom en ontdek dat ek vergeet het om ‘n film in my kamera te laai die oggend!  Daarom moet ek noodgedwonge  poskaartfoto’s  van die brug in dié blog gebruik, maar eendag wil ek graag weer ‘m ontmoeting met die brug hê en dan paraat wees met my digitale kamera! Tog het die besondere brug ‘n onuitwisbare induk op my hart gelaat en het ek soveel geheueskyfies wat ek koester. Daarom het ek, op ‘n dag toe die brugverlange my beetgepak het, die volgende woorde neergepen:

Om te brug (Karlov Most, Praag)

 hoe hartstogtelik het ek my aan jou verbind

hoe koesterend jou gestreel

so hunker hunker na jou klipverhaal

my hand laat pas in die glim van weersiensbeloftes

en met jou my terugkomverbond gesluit.

 Tuis het ek opgelees oor die merkwaardige brug en interessante feite ontdek.Hulle het toetse gedoen het om te kyk hoekom die brug so stewig staan na soveel eeue en toe ‘n organiese komponent in die mengsel ontdek wat moontlik blyk eiergeel te wees. Die eiergeel is  saam met die beton ingemeng om dit sterker te maak. Dit fassineer my dat daar so “lewende” komponent in die brug ingebou is, dalk soos die ou kunstenaars eiergeel saam met hul verf gemeng het om die besondere kwaliteit te verkry.

 Ek het ook nageslaan en ontdek dat die woord vir hoëpriester in Latyn Pontifex is, letterlik beteken dit  Brugbouer. Dit wat Jesus by uitnemendheid is.Om vir ons as Middellaar al die gebroke verhoudings (brue) weer te herstel, eerstens met God en dan ook met onsself en ander.. Dit gee mens sommer moed as die wêreld soms erg vervalle voel.

 Die liedjie van Simon and Garfunkel, Bridge over Troubled waters vertel van so Brugbouer wat bereid is om die storms in die lewe van sy vriende te oorbrug:

 When you’re weary
Feeling small
When tears are in your eyes
I will dry them all

I’m on your side
When times get rough
And friends just can’t be found
Like a bridge over troubled water
I will lay me down
Like a bridge over troubled water
I will lay me down

When you’re down and out
When you’re on the street
When evening falls so hard
I will comfort you
I’ll take your part
When darkness comes
And pain is all around
Like a bridge over troubled water
I will lay me down
Like a bridge over troubled water
I will lay me down

Sail on Silver Girl,
Sail on by
Your time has come to shine
All your dreams are on their way

See how they shine
If you need a friend
I’m sailing right behind
Like a bridge over troubled water
I will ease your mind
Like a bridge over troubled water
I will ease your mind

                      

Winterboom, Groenboom

July 19th, 2011

Soms voel ‘n mens soos ‘n winterboom wat gestroop word van al jou blare sodat jy naak en totaal ontblaar voel. Verliese in my vriendekring het die afgelope tyd die gevoel sterk by my laat posvat. Toe ek twee weke gelede tydens my week op Philippolis die tyding kry van goeie vriend en kollega Cassie Nel se skielike heengaan, het hierdie gestroopte gevoel hom van my meester gemaak. Die ysige koue van die natuur het ook in my binneste posgevat. Boonop het ek weer die afgelope tyd gelees in Sheila Cussons se Versamelde gedigte  en by die gedig: Ses (variasies) op ‘n tema (van lyding) vasgehaak:

Wie sê dat pyn terwyl dit woed

Nie kan verwoord  word nie-

Tussen die primitiewe kreet

En die laaste berustende snik

Tussen eina en amen

Is daar baie klank-skakerings…

Dit is juis hierdie baie klank-skakerings tussen eina en amen wat voorop in my gedagtes is terwyl ek die Vrydagoggend terugry vanaf Philippolis Welkom toe. Ek dink ook aan die oggend so paar jaar gelede wat Cassie my voorgekeer het na ‘n Broederkring en sê dat hy iets het om my te vra. Ek kon sien hy is ernstig. Sy versoek: Dat ek asseblief die dag as hy sterf, sy begrafnis moet waarneem. Ek probeer nog skerts en sê dat hy nou op ‘n flou perd wed, want ek is is ‘n baie waarskynliker kandidaat as hy om eerste my kop neer te lê, maar hy bly ernstig en gee my selfs die Skrifgedeelte en vers van die diens : Ps 116:15. Ek willig  in maar sê dat ek nie hoop dat ek ooit die belofte gestand hoef te doen nie. Nou is dit wel sulke tyd.

So byna halfpad tussen Philippolis en Trompsburg sien ek soos ek naderkom staan daar aan die linkerkant van die pad ‘n pragtige groot groen boom. Die boom staan sommer uit in die vaal landskap. Selfs die windpompe in die veld lyk valer as gewoonlik. Juis daarom val die  groen boom  my des te meer op. Toe ek egter  naby kom, sien ek dat dit twee bome is wat lyk soos een. Die voorste boom het ‘n  bruin stam, maar die takke van die boom, wat presies op die vorm van die ander boom pas, is kaal. Die boom reg agter die kaal boom is egter helder groen – dis ‘n immergroen boom. Van ver af lyk dit dus soos een boom, maar as jy by hulle kom sien jy dat die eerste boom ‘n gestroopte boom is – as’t ware ‘n raamwerk van ‘n boom. Terwyl die tweede boom sy groenheid in al sy glorie vertoon.

Ineens dink ek daaraan dat dit ook maar is soos mens se lewe se soms is. Van ver af lyk alles goed en mooi, maar as jy naby kom sien jy die pynlike tekens van die winterseisoen waardeur die boom gaan. Net soos mens soms deur ‘n seisoen gaan waar jy gestroop word van die uiterlike en die oortollige en net op die kern aangewese is. Tog dien die ander boom as’t ware om die swaarkry-boom te bemoedig en te laat onthou dat blare en vrug weer al volg.

Dit is asof die prentjie van die bome my bybly het toe ek die psalm lees wat Cassie versoek het as teks vir sy begrafnis. Ek het as’t ware  met ‘n  vooropgesette idee na die psalm gegaan met die verwagting dat dit grootliks gaan handel oor die dood, veral omdat vers 15 sê:

Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.

Ek het dus eers die winterboom in die psalm raakgesien maar met die herlees van die gedeelte, sien ek dat dit eintlik ‘n psalm is wat uitbundig handel oor die lewe en oor God –  ‘n God wat lewe gee en sorg vir sy kinders selfs onder moeilike omstandighede. Dit is toe die groen boom in die psalm wat my baie meer opval as die bruin winterboom vol doodsheid.

Een van die persone wat ‘n kommentaar lewer oor die psalm, praat van die psalm as ‘n jubelende Heildronk op die lewe en met respek gesê ook op God. Want Ps 116 handel oor ‘n God wat lewe gee, wat sorg vir hulle aan wie Hy die lewe gegee het en ‘n God wat ook nie ligtelik dink oor die dood van sy dienaar nie.

Die psalm is so vol groenboomgedeeltes:

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.

2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

5Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons.

6Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos,maar Hy het my gered.

Ek dink oor hoveel mooi Groenboom-hoogtepunte daar in Cassie en hul gesin se lewe was:

Op oog af het dit gelyk asof hulle as gesin pal in die somerseisoen leef. Soveel goeie dinge wat gebeur, – Mylpale soos Cassie en Hannalize se  verlowing en huwelik; die beroep na Welkom; die ontvangs in die gemeente; die geboorte van hulle twee dogters;  nog later Lou-Ancy en Marilize wat matrikuleer, studeer, self grade behaal: Lou-Ancy en Conrad se huwelik,  Selfs ook vroeër vanjaar die welwillendheid van soveel gemeentelede wat hulle kon ervaar ervaar tydens hulle afskeid van die gemeente.

Die Groenboom Cassie is die man met sy diepe liefde en waardering vir sy vrou, Hannalize en sy trots en liefde vir sy twee dogters. Die Groenboom Cassie is die geroepene wat sy verhoudig met God voorop gestel soos ps 116 sê: Van my geboorte af is ek u dienaar. By Cassie was daar hierdie sterk roepingsbesef en toewyding  in die uitvoering van sy bedieningstake. Die Groenboom-Cassie is die netjiese Cassie wie se netjies-geordende studeerkamer en dagboek mens altyd weer jou eie dagboek en studeerkamer krities laat bekyk het. Groenboom Cassie is iemand met ‘n fyn humorsin, wat gereeld voor ‘n Ringsittig die liedjie (Weer ‘n keer) van Lucas Maree aangehaal het. 

Ons spaar mekaar nie juis nie want ons ken mekaar te lank Ons veg die met die vuis nie maar ons moor mekaar met klank

Die Groenboom Cassie kon met oorgawe en toewyding staan in diens van sy Meester en so die  ‘n gemeente en gemeenskap vir sewe-en twintig jaar dien.

Die Winterboomdele in die psalm is  egter ook daar:

 3Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp,

ek het benoud en bekommerd geword.

 Bande van die dood, doodsangs, ‘n gevoel van magteloosheid, vertwyfeling, selfs die dood.

 Wie van ons ken nie die uiterstes in ons menswees nie – dieselfde persoon wat triomfantelik ‘n groot mylpaal bereik, kan skielik ook deur selftwyfel en onsekerheid geteister word.

 In sy liedjie – die Taal van my Hart sing Stef Bos: Ek het myself leer ken as ‘n held en as ‘n  hond – kras woorde, maar dit is hoe mens soms in afkraaktaal na jouself kan verwys as jy voel dat jy misluk het. Tog sê die liedjie – ek ken ook nou my donker kant en ek het vrede in myself.

Vir  Cassie en gesin was veral die afgelope jaar of twee, deel van die Winterboomfase. Cassie se siekte, pyn en worsteling met depressie het ook aan hulle Groenboombestaan kom vreet soos ‘n  gulsige sprinkaantrop.

 Vir Cassie wat alles altyd so noukeurig en presies wou doen, was die fase van depressie ook soos ‘n vreemde indringer wat die bekendheid van die bestaan kom wegvreet het. Die behandeling en tye weg van die huis het swaar op almal gedruk. Tog was daar  telkens weer die  hoop dat alles weer na normaal kon teugkeer.

 Met die angskreet in die psalm kon hy homself identifiseer – hy het dikwels angs beleef a.g.v. sy siekte.

So  ‘n winterboom-ervaring stroop mens tot op jou kern en laat jou ook jou eie broosheid besef. Alhoewel mens so ‘n ervaring ten alle koste sou wou vermy, bring dit jou ook nader aan mekaar en maak dit ‘n eerliker gesprek met God moontlik (Soos so treffend verwoord in NP Van Wyk Louw se gedig Vroegherfs)

 Die genade was dat  die keerpunt gekom het: Cassie kon weer huis toe  kom. Die groot troos vir  Hannalize en die kinders is die nuwe begin wat hulle saam met Cassie  in hulle eerste eie tuiste kon beleef.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd was hy weer rustig, die bekende Cassie het weer na vore gekom en kon hy hom verlustig in die die proses om ‘n eie blyplek keurig in te rig. As egpaar kon hulle weer tyd saam spandeer en die klein ritueeltjies soos koffiemaak en gesels geniet,

 Die Here wat lewe en dood in sy hande hou, het vir Cassie kom haal op ‘n stadium dat hy werklik weer gelukkig was en kon glimlag

Ps 116:15 sê: Vir die Here is die dood van sy troue dienaar nie ‘n geringe saak nie-

 Die New Living Translation vertaal die vers as volg:

The Lord cares deeply when his loved ones die.

 Die Skepper-God  wat  male sonder tal  uitkoms in hulle  lewe gegee het, was in daardie laaste oomblik by Cassie. Daardie oomblik was en is, net soos die res van Cassie se lewe ook kosbaar in God se oë.

 Hy het aan hom daardie menuha-rus gegee waarvan ps 116:7 praat:

Ek moet nou tot rus kom want die Here het goed aan my gedoen.

Die woord menuha word in Engels vertaal as Quietness, a settled spot, a home.

God het die winterboom-takke met sy nuwe bloeiseldrag beklee.

 Nikos Kazantzakis se aanhaling: I said to the almond tree, “Friend, speak to me of God,” and the almond tree blossomed

 Cassie kan nou blom. God se Paradysseisoen het vir hom aangebreek.

               

Boeke met Stories

June 29th, 2011

Party boeke bevat stories.

Soms is die boek self ‘n storie.

Veral word die boek wat storie word, gekenmerk deur ‘n interessante inskripsie voorin: ‘n Naam, plek, datum, ‘n wens voorin geskryf. Wanneer  ek  ‘n tweedehandse boek optel wat kennelik ‘ n lang pad kom, is die eerste opwinding om te sien aan wie die boek behoort het, waar die persoon gebly het en watter geleentheid die boek se aankoop regverdig het (verjaarsdag, prestasie, krisis ).

‘n Naam, geskryf in sierletters in ‘n boek, laat dadelik baie vrae ontstaan  oor wat die persoon se omstandighede was. En altyd wonder ek of die persoon nog lewe en waarom die boek uit sy haar besit gegaan het. So bv. kyk ek na die twee piepklein sangbundeltjies wat in 1915 uitgee is. Op die titelblad staan die inligting oor die klein boekies: Het boek der Psalmen nevens de Gezangen bij de Hervormde Kerk van Nederland in gebruik. Maar ek hou van die die persoonlike inskripsie in sierletters op die blad voor die titelblad: Birthday Present to Miss MC Pretorius: Many, Many happy days on your birthday. May Good Fortune dear attend you and love light your Way. From Naudé, 26 May 1918. Dadelik wonder ek oor die “Miss Pretorius” en in watter verhouding sy tot Naudé gestaan het. Sekerlik leef hulle nie meer nie, maar steeds wonder ek oor die res van hulle verhaal…

Saterdag  het my reisgenoot en ek op die koudste dag van die jaar besluit om boeke wat nou al geruime tyd in kratte is, uit te pak en dit ten minste ‘n staanplek te gee op die boekrak wat ons onder die trap ingerig het. Toe begin die Groot uitpak, die Groot uitsorteer en die Groot ontdekkings. Ek pak uit en sorteer die boeke in hopies: Kosbaar (hou naby) goeie boek (wil dit byderhand hê om te herlees), Studeerkamerboeke (moet boontoe gedra word en plek voor in die boekrak gevind word) Boeke vir verkoop, veiling toe neem of weggee. (Weggooi is nie ‘n opsie nie)

Ek dink aan die waar woorde oor boeke wat ek onlangs in Sting se outobigrafie, Broken Music, raakgeloop het:

“Books will become for me a acquisitive passion, filling up rooms and rooms with their dusty and inert bodies. Like my Grandmother, I will never throw a book away, storing dog-eared paperbacks from school or college, year after year, stacked like hunting trophies on makeshift shelves in my room. For to sit in a room full of books, and remember the stories they told you, and to know precisely where each one is located and what was happening in your life at that time when you first read it, is the languid and distilled pleasure of the connoisseur…”

Boeke is van kleintyd af soos vriende waarvan ek nie kan afstand doen nie. daarom sal ek moeilik aanpas by ‘n e-boek in die vorm van Kindle. Want vriende het persoonlikhede en elke boek het sy eie gevoel. Tel maar ‘n nuwe boek op, bekyk die voorkant en draai hom om om ook die agterkant te bestudeer. Maak hom dan met peiteit oop en hoor hoe kraak die boek van genoegdoening om bekyk te word. Ruik aan die boek en kry die unieke geur van drukkersink op kraakskoonblaaie. Dis byna soos om die eerste een te wees wat die oggend vroeg langs die see stap nadat die gety die nag die strand skoongevee het en jy laat jou eerste voetspore op die blinkskoon strand…

Van kleintyd af het ek ook die intense behoefte om boek te red, van daar my kompulsiewe koop van boeke op veilings en tweedehandse boekwinkels. Ek kry boeke jammer, nes mens daardie leepoog hondjie in die draadhok by die DBV of in ‘n troeteldierwinkel se venster jammer kry. Tel ek ‘n goeie boek by so uitverkoping of veiling op, dan wil ek hom weer geliefd laat voel op ‘n rak tussen ander boeke, waar hy soms afgehaal word en gelees word. (ongelukkig moet ek bieg – ek het hordes ongeleesde of halfgeleesde boeke op my rak. Tog glo ek dat hulle weet dat hulle geliefd is.

Maar terug na die stories in boeke. Saterdag met die regpak van die boeke, kom my reisgenoot en ek weer op op soveel boeke af wat deel is van ons elkeen se geskiedenis en die lekker – die bekendheid van ‘n handskrif wat jy al byna vergeet het: Haar Pa se Pocket Oxford Dictionary met die inskrywing in sy eie handsrif voorin: Julius Kruger, Trades School, 16-01-1940. My Psalm-en Gesangboekie wat ek as geskenk ontvang het van my Ouma Fourie tydens my eerste studentejaar: ‘Wimpie, Gods Rykste seën met geboortedag. Van Ouma en Oom Jannie – 15 Maart 1972. So ook my reisgenoot se byna identiese gesangeboeke wat sy ‘n jaar later ontvang het: “Aan Lynette, Geseënde Kersfees, Met Liefde van Mamma en Pappa (1973).

Soms is daar ‘n kriptiese inskrywing wat toegelig word met meer feite, (ook hartseer)  as mens verder in die boek lees. My Duitse Oumagrootjie se Boek: Predigten uber die Evangelien des Kirchenjahrs is  oorgetrek met ‘n groenkleurige tipe seilmateriaal  wat binnekant met naald en gare sorgvuldig vasgewerk is. Voorin is die inskripsie in pen en ink: Wilhelmine Schwartz, Frankfurt 1873. ‘n verdere skaars leesbare inskripsie blyk ‘n aanhaling uit ‘n Psalm  te wees. Agterin die boek is nog name en datums:August Carl Emil, geboren 1875, Getauft 1878. Ook: Augusta Mathilda, geboren den 14 October, gestorben 19 October. ‘n Kriptiese inskrywing met ‘n eie verhaal lê agter die inskrywig.

Die boek en inskrywing wat my egter die meeste fassineer, is die een in my Duitse ouma oor wie ek in ‘n vorige blog geskryf het  (Ouma Vanniekerk) – dit is ‘n goties-Duitse bybel met die Voorwoord:

“Erinnerung zur Funf und Vierzichsten Auflage – Halle, den 24 Februarii 1747”

Die voorste skutblad het ongelukkig verlore gegaan, dus weet ek nie wie se naam oorspronklik in die eeue-oue Bybel geskryf was nie. Klaarblyklik het die Bybel saam met Oumagrootjie Schwartz uit Duitsland na Suid-Afrika gekom. Dit was egter in Ouma Alwine se besit na haar ouers se dood.

Iewers in haar lewe moes sy ‘n krisis gehad het oor iemand van wie sy finaal afskeid moes neem en skryf sy op die skoon bladsy voor die begin van die Nuwe testament:

Close your heart to me, my love, for now we are going to part for the last time and let us be friends forever.” Op die volgende blaai het sy ook vervolg: “If the Lord helps, I must forget him forever. Winnie

Die skynbaar onbeweeglike streng ouma van my het iewers in haar lewe ‘n liefdesteleurstelling beleef wat sy in haar Bybel moes opteken.’n Bybel dus met meer as net die Bybelverhale wat ons as kinders gehoor het – ‘n intens persoonlike verhaal van liefde wat nie beantwoord is nie.

Met Saterdag se regpakkery kom ek op my ou Bybel af. Binne in die Bybel is ‘n buiteblaadjie van die Johannes-Evangelie wat ook ‘n storie vertel:

Ons is vir die Julie vakansie in Durban, ‘n grootse avontuur. Dit is  1961, Ins gaan tuis in die Coogie hotel, langs die Federal hotel en as ek reg onthou nie ver van die Belmoral hotel nie. Die hotel is nie op die befaamde Marine parade nie, maar ‘n paar strate dieper in. Vir ons is dit ‘n luukse om in ‘n hotel tuis te gaan. Ons kan nie wag vir die ding-dong deuntjie van die Xilofoon wat stiptelik die etes aankondig nie.

Soggens na ontbyt stap ons na Durban se hoofstrand met sambreel, opvoustoele, emmertjies en grafies en met ‘n bruisende opgewondeheid oor die dag wat voorlê. As ons by die Four Seasons hotel wat op die Marine parade geleë is, verbystap, verkyk ek my aan die luukse hotel en wonder wie bevoorreg is om daar tuis te gaan. Tog is die strand die groot gelykmaker want hier weet niemand in watter hotel jy bly nie (tensy jy wederregtelik van die hotel se handdoeke met die naam op saamgebring het!)

Een bepaalde oggend is daar ‘n beroering op die strand – daar is ‘n vakansiespan met ‘n poppekas en megafoon. Hulle nooi al die kinders nader vir die poppekas storie. Later vra hulle ons om die eerste paar verse van die Johannes Evangelie te memoriseer. Ons sê dit ‘n paar keer agter hulle aan. Dan kan jy voerntoe gaan en self opsê sover jy kan onthou, Die gebeure en verse maak ‘n groot indrukk op my sewejarige kindergemoed. Ek gaan staan in die ry wat wil kwalifiseer vir ‘n Evangelie van Johannes boekie. Toe dit my beurt is onthou ek die verse asof dit iewers in my brein gegraveer is:

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 

Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.

Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die Lig getuig…”

Ek kry ‘n Blou Johannes Evangelie  en voel skielik ryker as almal wat in die mooi hotelle teenaan die see bly. Terug by die hotel die middag skryf my Ma in drukskrif voorin my Evangelie van Johannes:

WILLEM FOURIE, FLORALAAN 62, ADAMAYVIEW

en onderaan: DURBANSTRAND     23-7-1961

Tot vandag nog bly die Evangelie my gunsteling Evangelie aangesien dit die wonderlike verhaal van Jesus se koms na die wêreld vanuit so spesiale hoek vertel.

“n Skynbaar onbenullige “boekie”  word ook die belangrikste deel van my lewensverhaal- My Ligreis.

                    

Potskerf-prediker

June 19th, 2011

“As ek maar net kon” Coenie de Villiers se  liedjie oor verlore liefde, bevat die aangrypende frase:

 Dalk kan ek die seer, met ‘n potskerf besweer

of dalk kan ‘n mens, deur bloot net te wens en hard te probeer

die verhaal herskryf…

Is daar werklik omdraaikans en nuwe hoop vir ‘n vasgeloopte lewe? Kan daar uit die ashoop weer nuwe lewe kom? As mens alles verloor het, is daar nog iets om te wen?

 Audrey Blignault skryf in haar essay : Nogtans sal ek jubel, dat as sy die dag voel soos ‘n garsland met doodgaansiekte, dit tyd is om weer die profeet Habakuk se lied in Habakuk 3:17 e.v. te lees.

 Ek gaan soek graag versterking by Job op sulke dae, want veel slegter kan dit nie met mens gaan as met Job op die ashoop nie. Hy het alles verloor – sy veetroppe, sy besittings, sy tien kinders en nou staan hy die gevaar om sy vertroue in God ook te verloor hier waar hy op die ashoop sit en himself met ‘n potskerf  krap. Hierdie  suksesvolle en geseënde Godsman is ook uitgelewer aan ‘n velsiekte en verder verwyt sy vrou hom. Sy moedig hom aan om God te verwyt vir die dilemma waarin hy (Job) tans is.

 In die film wat tans op die kringloop wys, Jane Eyre (Charlotte Bronte se klassieke verhaal),  is daar ‘n toneeltjie wat nogal aan  Job-op-die ashoop herinner. Na verloop van tyd keer Jane terug na die kasteel waar sy as goewernante gewerk het. Sy het Adele,  die franse meisie wat onder voogdyskap van die edelman Edward Rochester is, opgepas. ‘n Bus laai haar by die ingang van Thornfield Hall, af. Sy drafstap die ent pad wat lei tot by die kasteel. Tot haar uiterste skok sien sy toe sy naderkom, dat die kasteel in ‘n brand verwoes is. Sy dwaal rond in die gebrande  oorblyfsels en daar kom sy die huishoudster tee.  Sy hoor by haar dat die versteurde vrou van die edelman een nag die kasteel aan die brand gesteek het in een van haar aanvalle. Hy het in die brandende toring opgeklim het om sy vrou te probeer red, maar tevergeefs. Wanneer Jane van die kasteel begin wegstap, sien sy ‘n verwaarloosde figuur onder ‘n boom sit met ‘n hond as geselskap. Kan dit wees?  Toe sy so te se by die man is, kyk hy vraend op en vra huiwerig of daar iemand is. Jane kom nader en raak aan sy hand. Hy kyk met onsiende oe op, terwyk hy huierend haar naam noem. Die ryk edelman het alles in die brand verloor, ook sy sig.

‘n Klompie jare gelede is ek vir ‘n paar weke in die Nasionale Hospitaal behandel vir akute psoriase. Oor ‘n tydperk van maande het die vel-uitslag toegeneem en my met groeiende frustrasie en irritasie gevul. Die rooi uitslag oor my lyf het verander in rowe wat vorm en oopbars. Nie ‘n plesierige ervaring nie. Kortisoonbehandeling  en ‘n soutlose dieet vorm deel van die behandeling. Die behandeling word dan  opgevolg met ‘n direkte velbehandeling. ‘n Dik salflaag word oor jou hele lyf gesmeer en dan moet jy ‘n tipe plastiek-ruimtepak aantrek wat jy dag en nag moet dra totdat die rowe uiteindelik afval. Daarna word die gevoelige vel blootgestel  aan  Ultraviolet A (die  behandeling word PUVA genoem). Dit sensitiseer jou vel vir die lig, maar dit bring mee dat jy vir ‘n paar uur ‘n donkerbril moet dra omdat jou oë dan ook uiters sensitief is vir lig.

In die pre-ultravioletfase lê ek eendag in die hospitaalbed en bedink die vreemdheid van my lyf. Behalwe vir die vreemde plastiekpak, is ‘n verpleegster boonop besig om steriele papiertjies tussen my tone in te druk sodat die salf tussen die tone kan “asemhaal”. Ek voel melaats. Ek bekyk die prentjie en dink skielik dat my voete nou ‘n klaagmuur geword het, waar gebedsbriefies in die skrefies gedruk kan word. Boonop jeuk my lyf onophoudelik en wens ek vir ‘n stukkie potskerf om net die volgehoue jeuksensasie te verlig. Ek ervaar Job lyflik en eerstehands. Ek het nie naastenby die somtotaal van sy verliese ervaar nie, maar net die aantasting van my lyf, laat my besef hoe kwesbaar mens is. Hoe gou kan loflied klaaglied word. Al wat ek darem redelik gemaklik kan doen is om te lees en te skryf, want my hande is darem nie besalf nie.

Ek tel my vertroude Bybel  met sy bruin leeromhulsel op. Ek blaai weer tot by die geskiedenis van Job: “In die land van Us was daar ‘n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy…”  Geleidelik ontvou die geskiedenis van Job, word hy eietyds. …

 Uiteindelik lê ek terug op die hospitaalbed. Die woorde van Job 42:5 bly my by: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek u self gesien.”

Ek moet die ontdekking met iemand deel. In my bedkassie is ‘n skryfblok en ‘n pen. Ek begin met ‘n Hospitaalbrief: Van een pasient aan ‘n ander :“Liewe Pa” 

My Pa lê in Little Company of Mary hospitaal in Pretoria waar hy behandeling vir  klierkanker ontvang.  Henri Nouwen se treffende boek: “The wounded Healer” sou eers jare later my pad kruis, maar ek ervaar iets van die heling wat selfs vanuit die pen van ‘n  “melaatse” aan ‘n ander lydende gebring kan word. Die brief is ‘n vorm van terapie, want ongemak en pyn word ‘n vreemde band wat my en my Pa hegter bind as wat ons ooit nog was. ‘n Maand later is ek by toe my Pa se seerpad voltooi is. Vroeër die aand kon ek vir hom lees van ons wat meer as Oorwinnaars is deur Hom wat as Gewonde Heelmaker herstel bring.

 Toe kom Job ook tuis op Philippolis. Elke besoek wat ons aan die dorpie bring, bring nuwe ontdekkings mee. Gedurende Desember verlede jaar,  het ons die eerste keer die Jobhuis in Bergstraat besoek. Die huisie is amptelik op 4 Desember 2010 geopen en huisves 25 skilderye wat die worstelstryd van Job uitbeeld. Tien jaar gelede het die kunstenares, Rina Coetzee ‘n nuwe ontmoeting met Job gehad, tydens ‘n oorgangsfase in haar lewe. Nou hang die aangrypende skilderye in ‘n permanente plek in die Jobshuis se galery. Elkeen wat daar besoek aflê kan troos, versterking en heling vind deur net in die galery te sit en die proses van Job se worsteling  in te neem terwyl suiwerende musiek op die agtergrond weerklink. Mooi verhale van heling  het al in die paar maande wat die Jobhuis bestaan, hom hier afgespeel. Die drie vroue wat die huisie voltyds “beman” is ingestel om ‘n hawe te skep vir mense met seer. So word dit ‘n katarsisplek. ‘n Klaagmuur met bedebriefies wat ook ‘n dankiesêplek word.

Jobhuis het weer vir my ‘n ontmoetingsplek geword met die potskerf-profeet.

En met die God wat ashoop-potskerf-mense weer hoop gee.

“ Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor,

Hom met vreugde laat bid,

Dan getuig hy voor die mense:

Hy het my gered,

Ek het nie gesterf nie,

Nou lewe ek weer.”

(Job 33: 26,28)

                        

                            (Met erkenning -skilderye deur Rina Coetzee)

met ‘n engel in ‘n onverligte stad

June 9th, 2011

 

Dit is donker en ek is heeltemal verdwaal. Buite die stadsmuur van ‘n vreemde stad. Ek kan nie juis my pad terugvra nie, want die voertaal is Frans…My saamwandel-Engel sal vanaand moet help!

Die hoë stadsmuur wat reg rondom die stadskern gebou is, is juis daargestel om vyandelike magte uit te hou. Op een of ander manier het ek dit reggekry om vanaand vanuit die stadskern deur een van die stadspoorte te loop en bevind ek my nou buite die stadsmuur van hierdie prentjiemooie stad. Dit is donker en ek kry nie weer ‘n stadspoort om deur die muur na binne te stap nie. terug na die ou stadskern – waar my veilige hotelkamer wag. Gaan hierdie stad wat ek so lankal wou besoek vir my na vanaand dalk net onaangename herinneringe inhou?  Die meisie wat lank ‘n droombeeld in my gedagtes was – gaan sy my Lorelei wees wat my in ‘n valstrik lei?

Sy was ‘n verliefraak-meisie. Met haar ligbruin hare en sielvolle oë het sy harte verower. In die sewentigerjare het sy weekliks op die (toe nog nuwe)  TV skerms verskyn en mense betower. Die meisie van Avignon.

Daar was iets misterieus aan haar. Ontwykend, tog ook uitnodigend. Die ewige femme fatale. Wanneer die melankoliese temamusiek van die reeks gespeel het, was ons gesin voor die Sony beeldradio (in daardie jare het ons nog probeer korrek praat)  om haar wel en weê te aanskou. Sover ek onthou was dit meer weë as wel! Die aktrise wat die hoofrol vertolk het, is Marthe Keller. Dié Switserse aktrise het my ook as student betower met haar vertolking in die film “And now my Love”   Later het sy ook in heelwat Amerikaanse films gespeel. Tog is dit die rol van die meisie van Avignon wat haar in my geheue ingegraveer het. 

Saam met die heldin het ook die plek waarin dit afspeel ‘n groot indruk op my gemaak – Avignon. Die uitspreek van die naam het mens onwillekeurig laat verlang na vreemde stede – om te  reis na plekke met verhale. Eers meer as twintig jaar later sou ek die voorreg hê om self die mooie Avignon te voet te verken. Alleen, maar tog met ‘n Engel aan my sy.

Ons groep vriende het die middag van 23 Februarie 1999 per trein in Avignon aangekom. Na ‘n paar dae se verblyf in die fassinerende stad Barcelona (waar my kamera en films met aankoms gesteel is), is ons weer  terug Frankryk toe en Avignon was ons eerste halte. Ek kon nie wag om die stad te verken nie. In ‘n klein hotelletjie, ewe gepas genoem Hotel Mignon, geleë in die historiese stadskern, het ons die bagasie gelaat en begin om die stad te voet te verken. Daar is so baie om te sien in hierdie stad wat reeds soveel eeue oud is.

Vir ‘n klompie jare in die veertiende eeu, was die stad selfs die setel van die Pous en daarom is ons eerste mikpunt in die stad om die indrukwekkende Pouslike paleis te besigtig. Dit is voorwaar ‘n impossante gebou. Ons stap verder en sien ook die bekende Pont D’Avignon waar slegs vier van die oorspronklike agtien brugpilare steeds staan.

Laatmiddag besluit ons dat elkeen op sy eie die stad verder kan verken en ook doen waarvoor hy/sy die aand lus is. Dit is dus ‘n ope uitnodiging tot ‘n avontuurlustige kennismaking met Avignon. Wie weet dalk loop ek die geheimsinnige Meisie van Avignon iewers raak?

By die Operahuis op die Horloge-plein steek ek vas. Dis ‘n indrukwekkende gebou met twee standbeelde weerskante – Moliére en Corneille. Ek wens skielik dat ek dit kan beleef om ‘n musiek-uitvoering in die mooie gebou te beleef. Ek stap nader en bestudeer die plakkate. Sowaar – Op 23 Februarie is daar om 7 nm ‘n uitvoering van werke van Beethoven in die Operahuis. Ek koop ‘n kaartjie en probeer nie eers die waarde omskakel van Franse Frank na Suid-Afrikaanse Rand nie. Opgewonde loop ek deur die res van die historiese kern en begin systraatjies verken.  Uiteindelik is dit tyd vir die uitvoering. Ek staan in die foyer en beskou die indrukwekkkende trappe wat na bo lei. Gelukkig is my sitplek op die boonste vlak. Toe ek plaasneem, voel ek soos ‘n lid van die koninklike familie. Die sitplek is in een van die uitgeboude balkonnetjies, wat mens gewoonlik net in flieks sien. Vandaar het ek ‘n perfekte uitsig op die verhoog waar die rooi fluweelgordyne die gevoel van outydse elegansie verskerp.

Toe ek bykans twee uur later uitstap, weet ek dat ek Avignon altyd sal assosieer met die ervaring van ‘n belwenisryke aand  in die Operahuis en die musiek van Beethoven. Selfs al was die Meisie van Avignon nie daar nie, het ek my maar verbeel dat sy langs my op die balkonnetjie sit en wuif vir die mense!

Ek stap van die Teater en verken die systraatjies – dit is tipiese ouwêreldse smal straatjies met keistene en ou geboue weerskante van die straat. Oor my skouer hang my drasak wat ek spesiaal vir die toer saamgebring het. Dit is ‘n wit linnesak met ‘n engel wat op ‘n kantsak geborduur is. Ek  verken die swakverligte straatjies van Avignon. Vir een oomblik dink ek hoe onwerklik die situasie is – hier loop ek, ‘n vreemdeling uit Suid-Afrika, kruis en dwars in ‘n vreemde stad in Frankryk en ek kyk nie kort-kort oor my skouer of daar dalk ‘n vreemde sluipende figuur is wat my wil aanval nie. Heeltyd, terwyl ek stap, speel Stef Bos se liedjie ” Ik wandel met een engel”  ( eintlike titel Johannesburg)”, as temalied deur my kop:

Er staat geschreven
Dat mijn leven
Niet veel waard is
Als de nacht valt
Als de straten
Vogelvrij zijn
Als het laatste licht
Verdwijnt

Maar ik doe net alsof
Het gevaar niet bestaat
Want ik wandel met een engel
Door een onverlichte straat
Ik doe net alsof het gevaar niet bestaat
Want ik wandel met een engel
Door een onverlichte straat…

So al wandelende met my engel(sak) aan my sy, verken ek die winkeltjies en die straatjies van Avignon. Dit word laat. Ek hoor ‘n horlosie elf slae slaan. Iewers moes ek onbewustelik deur een van die poorte in die stadsmuur gestap het, want toe ek weer sien, is ek buite die eeue-oue grys stadsmuur en ek weet nie waar die stadspoort is om terug te keer na die ou stad nie. Vir ‘n oomblik wil ek paniekerig raak. Laataand. Alleen. ‘n Vreemde stad. Toe ineens is daar die besef – maar ook hier is God. Immers – ons sing mos – op berge en in dale en oral is my God. En ek het ‘n Engelsak aan my sy om my daaraan te herinner.

Ek keer ‘n voetganger voor. Met ‘n konkoksie van Engels en ‘n  Franse woord hier en daar en baie gebare beduie ek dat ek deur die stadmuur moet kom. Hotel toe. ‘n Lig gaan op. Aanwysings met baie gebaretaal volg. Die engel sorg dat ek iets verstaan en die stadspoort vind.

Miskien het die Meisie van Avignon en die Engel saamgespan want middernag is ek terug in die knusse hotelkamer.  Ek het die mooie stadjie beleef en wil eendag weer terugkom. Met ‘n Reisgenoot aan my sy. En ‘n Engel.

            

Genadejaar!

June 2nd, 2011

Vandag is ‘n vierdag!  Dit is ‘n verjaarsdagkoek-met-een-kersie-dag! Die Blog-baba het vandag sy eerste mylpaal bereik. Tegnies verjaar die Blog op 1 Junie, maar gister was ‘n chemodag en het die muse laag gelê. Dus vier ek die verjaarsdag maar ‘n dag laat, die spreekwoord lui immers: Liewers laat as nooit!

Verlede jaar op 1 Junie sit ek in die dorp by ‘n eetplek, toe my selfoon lui. Dis vriend Leon wat wil weet of ek dalk by die rekenaar sit. Op my ontkennende antwoord gee hy my die opdrag – sodra ek tuis kom moet ek  my rekenaar aanskakel en die webadres www.wimfourie.co.za  intik en sien wat gebeur. Ek kan nie gou genoeg by die rekenaar kom om die opdrag uit te voer nie. Ek wag in spanning vir die webwerf om oop te maak en sien verbaas hoe my eie gesig vanuit die skerm na my staar!  Regs sien ek die oop kerkdeur van Philippolis se kerk en die opdrag om op die deur te klik. Toe die Blog se mashoof op die skerm verskyn met die woord “Hallo” daaronder, voel ek die opgewondenheid deur my are bruis. Hier kom ‘n ding! Leon vertel hoe ek te werk moet gaan om die inskrywings te doen en foto’s te laai. Ek spring weg met my eerste foto en inskrywing: ‘n kerk, ‘n sjabloon, ‘n kamera, ‘n kiekie. Dit word die begin van ‘n reis met baie haltes (sover reeds 57).

Vandag dink ek net net weer hoe ‘n wondelike gawe tyd is. In die afgelope genadejaar het daar heelwat dinge gebeur, waarvan ek ‘n hele paar onder my “goeie dinge wat gebeur” joernaal kan inskryf. Vir my was die Blog een van die beste dinge wat kon gebeur.  Na soveel jare se kondisionering om weekliks ‘n boodskap aan die gemeente te moes bring (plus al die openinge, afsluitings en ander boodskappies daarby), is mens in ‘n ritme om gedagtes, verse en simbole te soek wat diensbaar kan wees in ‘n preek. Dan as die preek-uitlaatklep skielik toegemaak word, dam die idees egter steeds op. Nes ‘n grondwalletjie om ‘n vrugteboom se stam nie suksesvol weerstand kan bied teen die opdammende water uit die tuinslang se bek nie en uiteindelik iewers moet meegee, so soek opgegaarde gedagtes en prikkels ‘n uitlaatklep. Siedaar! Die blog bied so ‘n uitloop!

Eintlik het die hele gedagte begin met ‘n gesprek die aand verlede jaar by  Amariskool se  Melodramari. In gesprek met vriende aan tafel, moedig hulle my en Lynette aan om van my foto’s uit te soek en dan kan ek iets gepas by elkeen skryf. Dalk kan ons werk aan so ‘n tipe inspirasiebundel deur van die geskrewe stukke saam te voeg. Die volgende oggend begin my reisgenoot en ek om deur my foto’s van die afgelope paar jaar te sif. Foto’s met ‘n moontlike storie word eenkant gesit in ‘n rekenaarlêer. Ons kry ‘n stuk of veertig foto’s wat moontlikhede het vir die projek en maak afdrukke daarvan. Die bal is aan’t rol! Die volgende week gesels ek met vriend Leon oor die gedagte. Om dalk te begin deur ‘n stukkie elke week te skryf, ‘n foto daaraan te heg en dit as epos uit te stuur aan ‘n klompie vriende en familie. Hy wys my egter op die weeklikse rompslomp daarvan om so ‘n pos aan ‘n groot aantal mense te stuur en beveel aan dat ek eerder my gedagtes in Blogvorm moet weergee. Ek is maar onkundig en vra uit oor wat ‘n Blog behels en hoe mens te werk gaan om so iets tot stand te bring. Hy verduidelik  dat dit nie ‘n probeem is nie en dat ek dit aan hom moet oorlaat. Groot is my verrassing toe ek ‘n paar dae  later sy opdrag kry om die webadres in te tik. Baie vernuftig het hy toe die samestelling van die foto en kerkdeur gedoen. Presies soos ek dit sou wou gehad het!

By hierdie Blogverjaarsdag dus my dankies. Eerstens aan die Vader wat so kreatief in ons lewens werk en ons lei om steeds ontdekkings te maak. Soos die spits van die kerktoring op die foto(die kerk waar ek belydenis van geloof afgelê het) wys na die son as bron, wil ek ek net baie dankie sê aan God die Vader as Bron van elke skeppende idee en beeld. Baie dae het ek fisies en psigies nie op my beste gevoel terwyl ek begin het om die Blog te skryf nie, maar terwyl ek skryf, ervaar ek net ‘n versterking en inspirasie. “I was an empty vessel –
You filled me up inside” (Pretty Amazing Grace – Neil Diamond)

 Baie dankie Leon vir jou praktiese hulp,  aansporing en inisiatief. Dankie ook aan my reisgenoot vir haar inspirasie met die uitsoek van die foto’s en die aanmoediging om aan te hou “blogeer”.

Dan sekerlik ook ‘n reuse dankie aan diegene wat gereeld lees dit wat ek neerskribbel en ook d.m.v opmerkings onderaan die Blog of epos kommentaar lewer. Dit maak die skrywes dubbeld en dwars die moeite werd. Daar is ook diegene wat dit wel lees maar nie spesifiek kommentaar lewer nie. Dankie ook vir julle getroue meelewing. Sonder lesers sal ‘n Blog nie oorleef nie. Ter wille van interessantheid: Die blog is die afgelope jaar 8322 keer besoek, d.w.s ‘n gemiddeld van 693 besoeke per maand -gemiddeld 23 besoeke per dag. Dit is lekker om te weet dat byna twee dosyn persone per dag by my kuier sonder dat ek dit weet! (Gelukkig hoef ek nie soveel koppies koffie te maak nie!).

Die afgelope jaar het ek as genadejaar beleef en ek sien uit om DV  op 1 Junie 2012  twee kersies dood te blaas!  Dalk het die blogs dan ook al in ‘n ander formaat verskyn, wie weet? (As dit van my reisgenoot afhang, gaan daar iewers ‘n bundel verskyn).

As viering van die genadejaar plaas ek die woorde van die aangrypende liedjie van Neil Diamond: Pretty Amazing Grace

 Pretty Amazing Grace
Pretty amazing grace is what You showed me
pretty amazing grace is who You are
I was an empty vessel
You filled me up inside
and with amazing grace restored my pride

Pretty amazing grace is how You saved me
and with amazing grace reclaimed my heart
love in the midst of chaos
calm in the heat of war
showed with amazing grace what love was for

You forgave my insensitivity
and my attempt to then mislead You
You stood beside a wretch like me
Your pretty amazing grace was all I needed.

Stumbled inside the doorway of Your chapel
humbled in God by everything I found
beauty and love surround me
freed me from what I fear
ask for amazing grace and You appear

You overcame my loss of hope and faith
gave me a truth I could belive in
You led me to a higher place
showed Your amazing grace
when grace was what I needed

look in a mirror I see Your reflection
open a book You live on every page
I fall and You’re there to lift me
share every road I climb
and with amazing grace You ease my mind

Came to You with empty pockets first
when I returned I was rich man
didn’t believe love could quench my thirst
but with amazing grace You showed me that it can

In Your amazing grace I had a vision
from that amazing place I came to be
into the night I wandered
wandering aimlessly
found Your amazing grace to comfort me.

pretty amazing
pretty amazing ….

Vuurhoutjie se verhaal

May 25th, 2011

“Wat het hier gebeur?”  Die skerp klank in Ouma Alwine se stem sal ek nie sommer vergeet nie.  Ek krimp ineen, want skielik wonder ek wat het gebeur in die pakhoekie agter die kantstoep waar ek kort tevore gespeel het en ‘n paar vuurhoutjies getrek het om te kyk hoe vrolik hulle brand.

Ouma staan dreigend met die grasbesem in die hand. Haar daaglikse ritueel is om eers die sementpaadjie om die huis te vee as sy vieruur smiddae kom kuier. Vanmiddag het sy egter net tot by die agterhoek van die huis gevorder waar daar ‘n klein inham onderdak is. Hier word ‘n paar kartonne en oortollige goed geberg, o.a. die blou hout eetstoeltjie wat ons almal se eerste tafelstoel was. Ek vermoed onraad toe ek die reuk van smeulende karton en hout kry. Die volle impak tref my toe ek langs Ouma staan. Van die kartondose smeul swart terwyl ‘n rokie nog in die lug hang. Die blou eetstoeltjie het swart vlekke aan die een kant. My hart krimp ineen. Ek het maar net ‘n paar vuurhoutjies getoets in die beskutte hoekie om te sien hoe hulle brand. Klaarblyklik het een nog gebrand toe ek dit op die grond neergegooi het en dit het op ‘n karton geland het en begin smeul. Die tuinslang is gelukkig byderhand en ek spuit verwoed om die smeulrokie te blus. Genadiglik het die vuurtjie nie na die res van die huis versprei nie. Daardie aand kry ek ‘n deeglike lesing van Pa oor die gevaar van vuurhoutjies en vuur  asook ‘n verdiende pak slae.

Vuur, daardie wonderlike, fassinerende ding wat mens betower met sy wisselende vlammedans. Kleintyd het die knetterende kaggelvuur in Floralaan die magiese van winteraande bevestig. Voor die leiklipkaggel is gekuier en baie stories vertel. Uiteindelik is ons kinders se nagklere sommer oor ‘n stoelleuning naby die vuur gehang sodat dit kon warm word voor ons dit aantrek. Later is die kaggelvuur met ‘n Esse steenkoolstofie vervang wat ook met sy vlammetjies agter die vensterdeurtjies die koue verdryf het, maar nooit met die selfde betowering as die oop kaggel nie.

As tienjarige kry ek van Juffrou opdrag om die volgende dag in die klas ‘n paar verse van eie keuse uit die Bybel lees. Ek is hoogs benoud en wend my tot Ma  om hulp. Sy beveel die gedeelte in Jakobus aan waar gepraat word oor die mag van die tong en die gesproke woord.

Die aand voor my Skriflesing lees ek die gedeelte in Jakobus 3 oor en oor:

   Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou. Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee. Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word, word gestuur deur ’n baie klein roer net waarheen die stuurman wil. Net so is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook ’n vuur..”
 
 Oppad skool toe ry ek met met my Ralleigh in  Floralaan afdraand tot by Adalaan waar ek regs draai. Heeltyd bly fragmente van die Skrifgedeelte in my kop. Ek moet dit tog net reg lees vanoggend! 

Dit gaan betreklik goed met die lees van die stuk, hoewel ek bietjie kortasem en droëmond  is. Tog besef ek die waarheid van die ontembaarheid van die tong toe ek “skape” i.p.v.  “skepe” lees. Dit klink toe so: “Kyk, ook die skape, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word…”  Daar is ‘n ligte geproes in die klas toe enkeles wat fyn luister wel hoor van die “skape wat deur hewige winde voortgedryf word..” Tog oorleef ek darem my eerste “klaspreek”.

Ek het in die vorige blog  genoem van die verhaal wat die handelaar se seun aan die Sultan en Sultana moes vertel voor hy met hulle dogter, die beeldskone prinses,  kon trou.

So klink sy verhaal:

Daar was eenmaal ‘n dosie vuurhoutjies wat baie trots was op hul hoë afkoms. Hulle kon hul geslagsregister nagaan tot by ‘n hoë denneboom in die bos. Tans het hulle hul egter op ‘n kaggelrak bevind tussen ‘n tonteldoos en ‘n ou ysterpot met wie hulle dikwels gesels het. “Ai, toe ons nog aan die groen takke was, “het hulle gesê, “het ons tog te heerlik gelewe. Elke oggend het ons dou gedrink vir tee en die hele dag het ons sonskyn gehad terwyl al die klein voëltjies vir ons stories vertel het. Maar toe kom die houtkapper, kap die denneboom af en so is ons familie opgebreek. Die hoof van die familie het ‘n pos gekry as hoofmas op ‘n pragtige skip, die ander takke van ons familie is in alle rigtings gestuur en ons, helaas, het die taak gekry om lig te verskaf aan gewone mense. So het dit dan gebeur dat mense van ons aansien deesdae in ‘n kombuis woon.”

Al die gereedskap in die kombuis waar die vuurhoutjies hul bevind,  besluit  een aand om ‘n jolige partytjie te hou. Die borsel plaas ‘n krans van groen blare om die pot en hulle dans vrolik terwyl die vuurhoutjies met veragting na die verspottigheid kyk. Die teepot word gevra om te sing, maar omdat sy verkoue het, word die kanarie gevra om in te staan. Al die joligheid laat die stoel se sitplek in twee skeur. Die besem moedig almal aan om mee te doen aan die feestelikhede.  Net toe gaan die deur oop en die diensmeisie kom binne. Almal  staan skielik doodstil en dink hoe hulle nog die aand kon geniet het as dit nie deur die binnekoms van die diensmeisie onderbreek sou word nie. Ook dink elkeen aan al die wonderlike dnge wat hulle nog sou doen as…..

Die diensmeisie tel die dosie vuurhoutjies op, haal een uit en trek dit teen die swawelkant van houer. Vir ‘n oomblik brand daar ‘n helder vlammetjie. “Ai,”  sê die vuurhoutjie trots, “nou kan almal sien uit watter vooraanstaande familie ek kom en watter helder lig ek gee.”

En terwyl die vuurhoutjie nog praat, verbrand hy tot as.

Tot sover die verhaal wat die man aan die Sultan vertel het.Omdat die verhaal soveel lewenswaarhede bevat, stem die Sultan in dat die man met sy dogter kan trou.

Die aand voor die beplande bruilof vier die hele stad fees. Die aanstaande bruidegom besluit om te deel in die feesvieringe en klim met ‘n handvol vuurwerke en klappers in sy vlieënde koffer. Hy vlieg oor die stad en gooi telkens brandende vuurwerke uit. Die Turke stroom uit hulle huise om na die vreemde verskynsel, wat vir hulle soos ‘n meteoor lyk, te kyk. Na afloop van die skouspelagtige vertoning gaan bêre die handelaar se seun weer sy koffer in die bos. Hy stap na die stad om te hoor wat die mense sê. “Ek het die groot profeet met my eie oë gesien” sê die een. “Hy het weggevlieg in ‘n mantel van vuur,” sê die ander. Die aanstaande bruidegom is hoogs tevrede met die reaksie en keer terug na waar hy die koffer gebêre het. Tot sy uiterste skok ontdek hy dat die koffer uitgebrand het a.g.v. ‘n vonkie van ‘n vuurwerk wat in die koffer agtergebly het. Die towerkoffer is verbrand tot as. Die handelaar se seun sou nooit weer daarin kon vlieg nie en dus ook nie weer sy bruid besoek nie. Die arme prinses het dag en nag op die dak van die paleis sit en treur oor haar bruidegom wat haar in die steek gelaat het.
So het die verhaal wat die handelaar se seun vertel het uiteindelik ook sy lot voorspel : Hoogmoed kom voor ‘n val (vuur).
Een vuurhoutjie, een vonk en als kan verbrand tot as.
Die waarheid dus van Jak 3 en die verhaal is dat mens uiters versigtig wees met jou tong wat ‘n (skinder)veldbrand kan veroorsaak en met hoe jy die gawe van vuur gebruik – positief (in die knusse kaggel) of negatief (om ‘n huis af te brand).
Vuur vra verantwoordelikheid, dit het ek daardie dag in Floralaan geleer!
                          

Reise met die Vlieënde Koffer

May 19th, 2011

Om op ‘n towertapyt te klim en tot in enige uithoek van die wêreld te kan reis, is ‘n kleintyddroom wat so met die hoor van die verhale uit ‘n Duisend en Een nagte gebore is.

Maar ‘n reis met ‘n vlieënde koffer? ‘n Koffer is gewoonlik die voorwerp wat jou reis belemmer omdat jy die nodige bagasiestuk oral moet saamsleep (deesdae darem met behulp van wieletjies saamtrek). Tog kan selfs ‘n koffer jou droomvoertuig word wat jou na vreemde bestemmings neem.

In 1963 is ek by Juffrou Venter in die klas. So vriendelike, skraal juffrou met sulke kort ligrooi hare en sproete op haar gesig en arms. Sy lê op ‘n vriendelike, dog besliste manier baie klem op die korrekte spelling van woorde. Ek neem haar besorgdheid oor spelling ernstig op en probeer my bes om woorde reg te spel.

Aan die einde van die jaar beloon sy my pogings (of dalk kry sy die  sproetgesig, witkopseuntjie maar net jammer wat so hard probeer om die juffrou te behaag) en sy gee aan my ‘n boek as prys. Die titel van die boek is: “Die Vlieënde Koffer.” So mooi prenteboek waarin die prentjies regop staan as jy dit oopmaak.

Jare later besef ek dat dit ‘n vertaalde boek is van een of ander Turkse skrywer (Moontlik iemand met die naam van V Kubasta, want die naam verskyn in die hoek van die titelblad, hoewel dit ook die naam van die illustreerder kan wees). Tog vra ek nie te veel vrae oor die herkoms van die boek, skrywer ens. toe ek die geskenkboek ontvang nie, ek geniet dit net. Ek lees darem die verhaal, maar blaai dikwels deur die boek om net die opstaanprentjies te bekyk. Dit maak die verhaal driedimensioneel. Die boek word ‘n belangrike deel van my boekversameling en vorm saam met enkele boeke (kinderkrans en Sondagskoolpryse) die oudste lede van my boekery.

Gister herlees ek weer die verhaal en besef maar weer hoe baie lesse in so (skynbaar) eenvoudige kinderverhaal opgesluit lê. Wat my opval is dat die verhaal in ‘n Sultanryk in Turkye afspeel. As kind sou ek nooit kon droom dat ek dié eksotiese land sou besoek en selfs in die Beylerbeyi Paleis (gebou in opdrag van Sultan Abdulaziz in 1861) sou rondloop en die prag en praal van ‘n Sutan se paleis sou betrag nie.

Die verhaal is redelik eenvoudig:

‘n Skatryk handelaar wat baie spaarsamig geleef het, laat sy hele fortuin na aan sy spandabelrige seun. Dié verkwis die geld (net soos die Verlore seun) totdat hy slegs vier sjielings, ‘n groot muurhorlosie, sy pa se portret en ‘n ou koffer oor het. Sy enigste klere is ‘n ou rooi kamerjas en ‘n paar pantoffels. Hy maak die koffer oop en verwag om nog geld daarin te ontdek. Al wat hy vind is ‘n stukkie papier met ‘n boodskap daarop. Hy lees die papiertjie wat vertel dat hierdie ‘n wonderkoffer is. As ‘n mens op die slot van die koffer druk, kan dit vlieg en mens na wonderlike bestemmings neem.

Die seun van die handelaar laat nie op hom wag nie. Hy klim in die koffer en net voor hy die deksel laat toeval, druk hy op die slot. Die volgende oomblik styg die koffer op en vlieg deur die lug. Toe die koffer land, is dit aan die buitewyke van ‘n Turkse stad. Die man steek die koffer weg en stap die stad in – hy ontdek dat almal ook sulke klere soos hy dra. Hy doen navraag oor die groot indrukwekkende gebou wat eenkant uittroon en verneem dat dit die Sultan se paleis is. Daar steek hy sy beeldskone dogter weg omdat ‘n  voorspelling gemaak  is dat ‘n voornemende bruidegom eendag haar hart sal breek.

Die handelaar se seun besluit om met sy koffer na die paleis te vlieg. Hy maak so en land op die dak van die paleis, waar hy die skone prinses in ‘n hangmat sien slaap. Sy is vir hom so onbeskryflik mooi dat hy nie anders kan as om haar te soen nie. Sy skrik wakker en vra ontsteld wie hy is. Hy verduidelik aan haar dat hy ‘n Turkse profeet is wat uit die lug gekom het om haar te besoek. Hy besing haar skoonheid en oorreed haar om met hom te trou. Sy willig in op voorwaarde dat hy Saterdag na die paleis sal kom om die haar pa, die Sultan en die Sultana te  ontmoet. By die geleentheid moet hy dan aan hulle hulle ‘n storie vol wysheid en humor te vertel sodat hulle hom kan goedkeur as bruidegom. As bewys van haar liefde gee sy aan hom ‘n goue sabel en hy beloof om Saterdag weer besoek af te lê om haar ouers te ontmoet. Hy vlieg terug na die buitewyke van die stad, steek weer die koffer weg en gaan koop vir hom ‘n nuwe kamerjas met die oog op sy besoek aan die paleis. Toe gaan sit hy by sy koffer en dink aan ‘n gepaste storie om aan die Sultan te vertel.

Toe die Saterdag aanbreek, trek  die seun van die handelaar sy nuwe kamerjas aan, klim in sy koffer en vlieg na die paleis. Daar aangekom, word hy gul deur die Sultan en sy vrou ontvang. Hulle dring daarop aan dat hy aan ‘n hulle ‘n storie vol lewenswysheidvertel.

Sy storie is so mooi, dat hulle toestemming verleen dat hy met hulle dogter mag trou. Verheug vlieg die man toe terug na sy sy blyplek in die bos. Die aand voor die beplande huwelik sien hy hoe die stad verlig word deur hordes vuurwerke wat afgevuur word ter ere van die bruilof wat die volgende dag sal plaasvind.

Het die handelaar se seun en sy prinses toe lank en gelukkig saamgeleef?  Die ontknoping sal  eers nog moet wag, want die antwoord lê opgesluit in die verhaal wat die handelaar se seun aan die Sultan en Sutana vertel het. Daaroor wil ek graag volgende keer skryf.

Tog wil ek nog graag ‘n opmerking oor die boek self maak. Miskien het die boek ‘n rol gespeel in my versugting om eendag ook oorsee te reis, darem nie met ‘n vlieënde koffer nie, maar met ‘n  meer konvensionele vevoermiddel – ‘n vliegtuig.

In 1976 kry ek so ‘n kans – Ons familie skryf in vir ‘n kompetisie geloods deur die destydse radio Port Natal. Ons wen toe die prys wat ‘n SAL retoerkaartjie vir twee na die Buiteland insluit. In September 1976 vlieg my ma en ek met  SAL na Zurich, Switserland. ‘n Droom op my wenslysie word waar! Vir twee weke kry ons kans om die skilderagtige land te verken en sien prentjies wat ons tot dusver nog net op Almanakke gesien het. ‘n Wonderlike ervaring!

Die Vlieënde  Koffer (besef ek jare later eers toe ek fyner oplet) het twee eksotiese bestemmings in sy inhoud. Eerstens Turkye (waarin die verhaal afspeel) en Praag in die Tjeggiese Republiek, want by nadere bestudering vind ek die inligting op die laaste blad van die boek: Gedruk 1960, ARTIA, Praag, Tjeggoslovakye.

Met ‘n rugsaktoer saam met vriende het ek die voorreg om in 1999 die wonderlike stad Praag te ontdek. Sewe jaar later bied Lééf Tydskrif aan my en my Reisgenoot die geleentheid om op die voetspore van Paulus in Turkye te gaan loop. Die dag toe ons in Istanboel die skilderagtige Beylerbeyi  paleis van die die Sultan Abdulaziz besoek, voel ek nes die handelaar se seun wat pas in sy eksotiese bestemming geland het. Al verskil – ek hoef nie na die slapende prinses op die paleis se dak te soek nie – my mooie Reisgenoot staan langs my. Ek neem haar hand, maak my oë ‘n oomblik toe. ‘n Wonderreis van kleintyd se drome het waar geword.