Ware liefde

Ware Liefde.

Ware Liefde? Mens wil byna ‘n vraagteken agter die woorde plaas. Is daar werklik so iets soos ware liefde, of is dit iets wat mens net in fiksie en sprokies aantref? Is ware liefde net beskore vir engele, soos die foto aandui wat ek tydens ons toer in Kappadosië afgeneem het?

Met die uitsending van die Koninklike troue gister, was dit amper asof die miljoene mense wat meegedoen het deur of op die strate te staan en kyk of deur die televisie uitsending dop te hou, wou sê: Ons het weer hoop en inspirasie nodig. Ons wil so graag weer glo die verbintenis kan gelukkig en durend wees. Immers dit is tog soos die sprokies altyd eindig: “En hulle het lank en gelukkig saamgeleef” Die Engelse uitdrukking klink nog meer indrukwekkend: “And they lived happily ever after…” Saam met miljoene ander het ek ook die aanloop, die seremonie, die straatoptog en die balkonsoen(e) dopgehou en gehoop dat hierdie liefdesverhaal tog ‘n gelukkige verloop sal hê. Anders as die verhaal van Charles en Diana wat ook so sprokiesagtig begin het dertig jaar gelede en as tragedie ge-eindig het.

In my Matriekjaar was die liedjie van Groep 2, Daar is niks soos ware liefde, ‘n treffer. Tydens ‘n saalopening het ‘n Dominee hewig uitgevaar teen die liedjie omdat dit dan die bestaan van die ware lliefde sou afkraak en ontken. Tog dink ek dat die liedjie juis waarsku dat ware liefde nie met valse skyn verwar moet word nie en dat jy ontnugter kan word as jy verlifdheid met liefde verwar. Ek dink die titel wil eintlik sê: Niks kan met ware liefde vergelyk word nie. Die lirieke lui:

As sawens die liggies so glinster,
dan glo jy daar’s liefde naby.
Maar dis net verbeelding,
en jy’s weer alleen.
Die oomblik van vreugde is heen.

KOOR:

Daar’s niks soos ware liefde,
Niks so teer, so mooi, so rein.
Soek jy waarheid in jou drome.
Vind jy dalk met die liefde se skyn.

Dit lyk vir my dat deel van die probleem is juis dat ons ‘n valse en geromantiseerde denkbeeld het van die liefde en dit dikwels met romanse, maanskyn en rose verwar, terwyl ware liefde juis ook in die fel sonskyn en die harde lewenswerklikheid van elke dag moet kan standhou. As liefde die sonligtoets deurstaan, sal die maanskyn en rose ook daar wees.

 In die geskiedenis en die storieskat is daar baie verhale van skynbare teenstrydighede – waar een persoon ‘n ander selfs ten spyte van syhaar gebreke kan liefhê.  Skoonlief en Ondier is tekenend hiervan. Ook Quasimodo, die Boggelrug van Notre Dame en sy liefde vir Esmeralda, die sigeunermeisie vertel van ‘n aanvaarding en ontfermende liefde tenspyte van die liggaamlike gebreke. So bring Esmerelda vir die erg gemartelde Quasimodo water as hy pleitend roep om ontferming. Later  red hy die  ter dood veroordeelde Esmerelda van ‘n gewisse galgdood en steek hy haar weg in die Notre Dame. Jare later kom ‘n grafgrawer af op die graf van Esmeralda. Tot sy verbasing vind hy die beendere van die Boggelrug, Quasimodo wat om die oorblyfsels van Esmerelda gekrul lê. 

Dit wil tog lyk asof die woordjie “nogtans” ‘n belangrike deel van ware liefde is. Dit is immers ‘n Nogtans-liefde wat Christus aan die kruis vir ons bewys het.

Don MCCullough vertel die volgende verhaal: (soos aangehaal in Illustrasies vir die lewe – Solly Ozrovech)

‘n Man en vrou het d.m.v. ‘n korrespondensiekolom ontmoet en het vir mekaar begin skryf. Mettertyd het hulle op mekaar verlief geraak al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie. Op ‘n dag reël hulle om op ‘n lughawe te ontmoet. Ten einde mekaar te eien het hulle besluit dat die vrou ‘n rooi serp sal dra saam met haar rooi hoed. Sy sou ook ‘n rooi angelier aan haar jas vasspeld.

Toe die man van die vliegtuig afklim, het hy dadelik na die vrou begin soek. Skielik sien hy die die vrou met ‘n rooi serp, hoed en angelier. Sy het so doodgewoon en vaal gelyk dat hy dit oorweeg het om terug op die vliegtuig te klim sonder dat hy hom aan haar bekend gestel het. Tog het hy nadergestap, geglimlag en homself aan haar voorgestel.

Die vrou kyk hom aan en vra toe” “Waaroor gaan dit alles tog? Ek weet nie wie jy is nie, maar die vrou daar oorkant het my vyf dollar gegee om die rooi serp, hoed en angelier te dra.” Toe die man die vrou sien na wie beduie word, besef hy dat hy een van die mooiste vroue aanskou wat hy nog gesien het. Hy stap na die vrou en sy verduidelik: “My lewe lank het mans my geselskap opgesoek vanweë my voorkoms. Hulle het my met komplimente oorlaai en my vertel dat ek beeldskoon is.Ek soek egter iemand wat my liefhet vir wie ek is en nie omgee hoe ek lyk nie. jy het aan hierdie vereiste beantwoord.” Hulle is getroud en het ‘n lang en gelukkige huwelik gehad.

Gister toe Katherine  Middleton die lang paadjie van die Westminister Abdy afstap – het sy in haar eenvoudige, dog uiters stylvolle uitrusting my laat dink aan die jong Grace Kelly wat met ‘n baie soortgelyke uitrusting haar Prins Rainier van Monaco tegemoetgestap het. Hulle huwelik was ook nie aldag maanskyn en rose nie, maar tog het hulle die beloftes wat hulle met die huwelikseremonie afgelê het, gestand gedoen tot met haar dood op 14 September 1982 ( in ‘n motorongeluk.)

Uit die film: High Society wat in 1956 vrygetel is, kom die immergroen liedjie True Love wat Grace Kelly saam met Bing Crosby sing:

Sun-tanned, Wind-blown honeymooners at last alone.

Feeling far above par. Oh, how lucky we are!

While I give to you and you give to me,

True love, true love.

So on and on it’ll always be, True love, true love.

For you and I have a guardian angel on high,

With nothin’ to do. But to give to you and to give to me,

Love forever true.

Love forever true.

Lank lewe ware liefde!

2 Responses to “Ware liefde”

  1. Rene says:

    Liefde verander baie dinge……ons mis so baie as ons nie liefde uitdeel nie. Dankie vir die onthou van liedjies baie lank gelede, die draai weer in die kop rond en bring goeie herinneringe!!!!!Heerlike Herfsdae !!

  2. Wim says:

    Dankie René vir jou kommentaar. Ek kon dalk nog “Love Changes everything” ook in die stuk genoem het! Ja die herfs is onverbeterlik!

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.