Droommateriaal.

IMGP9714-1

‘n Nuwe jaar verdien ‘n nuwe uitsig. ‘n Agterlaat van die oue en die blye ontvangs van die nuwe.

Die nuwe jaar vra vir ‘n nuwe foto.

Carly Simon sing gepas:

Take a look around now

Change the direction
Adjust the tuning
Try a new translation
Don’t look at your man in the same old way
Take a new picture…

(The stuff that dreams are made of)

Onwillekeurig dink ek terug aan die dag vyftien jaar gelede toe die liedjie in ‘n Supermark in Barcelona gespeel het…

Toe die nagtrein vanaf  Parys vroegoggend die stasie op Barcelona binnekom, is dit asof daar ‘n vreemde stilte heers. ‘n Afwagting.

Die perron is donker toe ons afklim. Ons is in ‘n keldervlak van die stasie. Ons raap ons bagasie bymekaar en klim af. Ek ervaar ‘n vreemde gevoel toe ek van die trein afklim. Behalwe vir die donkerte van die perron klink daar in agtergrond klassieke musiek. Dit voel asof ek deel is van ‘n surrealistiese film noir. Ons beweeg met die roltrap na die boonste vlak van die stasie en verkyk ons aan die gewoel en al die winkels en besighede. Ons plaas al ons bagasie op ‘n hoop en begin rondom ons kyk/verken. Iewers moet ons blyplek vind. Ek bly by ons bagasie-stapel terwyl die toervriende gaan soek vir verblyf. Hulle kom terug na ‘n ruk en sê dat ons geholpe is met slaapplek vir ons paar dae in Barcelona.

Toe ons die bagasie optel om  die blyplek te gaan opsoek, is my kamerasak weg. Ek kyk en soek tussen die stukke bagasie. Die swart sak is weg. Gesteel. Iewers het ‘n skelm gesien dat die mense vreemd en onseker lyk en sy kans benut. Ek is kwaad – vir myself omdat ek nie die kamerasak oor my skouer gedra het nie, kwaad dat ek nie beter oog gehou het oor die bagasie nie, kwaad vir die dief, kwaad vir die vreemde stasie en stad. Ek is sommer kwaad dat ek in ‘n vreemde plek beroof is van my kamera wat ek as student met swaarverdiende vakansiewerk-geld gekoop het  een-en-twintig jaar vantevore. Kwaad ook veral omdat ek vroegoggend op die trein ook my videokamera en klaargeneemde films in die einste sak gepak het saam met my Asahi Pentax K1000 kamera. Al die foto’s wat ek in Londen en Parys geneem is, is daarmee heen. En toe word ek eers kwaad, by die besef dat die dief soveel van my herinneringe gesteel het en seker die rolletjies film wat gebruik is, iewers in ‘n asblik gaan weggooi. Die woede slaaan binnetoe en ek bly stil-kwaad. Ons probeer die diefstal by ‘n sekuriteitswag aanmeld maar kom agter dat Engels nie so maklike voertaal in Spanje is nie.

Ons vind uiteindelik ons selfsorg blyplek. Dit is nie te onaardig nie en het selfs ‘n uitsig oor ‘n deel van die stad. Maar ek bly teleurgesteld-kwaad op my bed lê. Die toervriende gaan later die stad verken en kos koop maar ek bly agter en voel gefnuik. Hoe gaan ek op die res van die toer nou foto’s neem? Al die wonderlike lande en stede wat voorlê en ek het geen getroue kamera in die hand om dit op film vas te lê nie.

Die aand gaan stap ons en begin die stad verken. Die binne-woede wil egter nie wyk nie. Ek kyk, maar ek sien nie. Ons stap deur ‘n inkopiesentrum. By ‘n musiekwinkel kyk ek na hulle klassieke musiek. die stasie het immers die toonaard van die besoek bepaal met die klassieke musiek wat daar gespeel het. Ek koop ‘n dubbel-CD met swaar klassieke musiek en koorwerke. Terwyl ons verder stap luister ek die musiek op ‘n  Cd-speler. Dit resoneer die sombere swaarte wat ek ervaar.

Die volgende oggend koop ons  kosvoorrade in ‘n Supermark – kaas, kouevleis, brood en sap. Toe ek die deur van die yskas oopmaak om die sap uit te haal, raak ek bewus van die musiek wat op die agtergrond speel – Ek hoor Carly Simon se stem en spits my ore vir die woorde:

Take a look around now, change the direction. Adjust the tuning,
try a new translation. Don’t look at your man in the same old way,
take a new picture. Just because you don’t see shooting stars
Doesn’t mean it isn’t perfect can’t you see…

 It’s the stuff that dreams are made of, it’s the slow and steady fire
It’s the stuff that dreams are made of it’s your heart and soul’s desire.

Op daardie oomblik besef ek dat ek nuut na my omstandighede moet kyk. Ek is in Barcelona, besig met ‘n uitgebreide reis. Ek kan nie toelaat dat ‘n simpele dief ook my reisvreugde steel nie. Ek moet n nuwe foto neem, met ‘n nuwe kamera. Ineens word hierdie stad met sy diepklinkende heimwee-musiek vir my mooi. Toe ons later Gaudi se Familia Sagrada kerk besoek, is ek ontvanklik vir die vreemde bekoring van die gebou en die stad. 

Met ons aankoms in Arles in Frankryk, koop een van die toervriende ‘n nuwe kamera aan leen aan my haar ou kamera vir gebruik op die toer. Nou kan ek weer met my  eie foto’s herinneringe van ons reis vaslê. Sowaar: “take a new picture.”

Eers later ontdek ek dat die titel van Carly Simon se  liedjie, The stuff that dreams are made of, eintlik ontleen is aan ‘n Shakespeare aanhaling. In The Tempest praat Prospero met Ferdinand en sê dan:

We are such stuff as dreams are made on.

Ons kuier die afgelope vakansie in ons hartshuisie in Philippolis. Ons sit in die agterste vertrek wat ons destyds met die aankoop van die huisie die “Oneintlike vertrek” gedoop het omdat dit so oninteressant en deurmekaar was. Verlede jaar het ons deurgedruk en die vertrek omskep in ‘n heerlike leef-en kuiervertrek. Ons sit by die greinhouttafel en gesels oor die transformasie wat die vertrek aan die huisie teweeggebring het. Ons kyk deur die antieke Oregon houtraam en sien die panoramiese prentjie van die geil wingerd, die bakoond, die stal, die plaashek en die rantjie wat sigbaar is, selfs ook die windpomp van ‘n buurman. Ons is intens dankbaar vir die gulheid van die huisie en dink daaraan hoe ons sy intrinsieke potensiaal raakgesien het toe ons dit agt jaar gelede gekoop het.  Die huisie  se verhaal is so met ons eie verhaal verweef. Ons het immers na die huisie kom kyk op dieselfde dag as wat ons verloof geraak het.

Die dag voor oujaarsdag nooi ons ‘n paar vriende oor vir ‘n ete onder die wingerdpriëel. Dis laatmiddag en die son kleur die wingerblare ‘n diepgroen. Ons sit om die tafel, skink ‘n glas vonkelwyn en vier die onherhaalbare oomblik. Nou. Die intense belewenis van so héél oomblik. Van Goedheid en Guns. Ons neem ‘n nuwe foto onder ons priëel. Die foto vertel van ‘n droom bewaarheid : Om saam met my reisgenoot en vriende ‘n feesmaaltyd te geniet om danke te sê vir ‘n jaar met sy kwota swaar en goedheid, maar ook  om dit op so goeie manier te kan afsluit. Om die seer van die jaar agter te laat en met ‘n nuwe verwagting 2014 binne te gaan. Met ‘n herwaardering van ons huisie wat aan ons geleen is. Van mekaar.  Van liefde. Hoop.Geloof. Van die lewe…

It’s the stuff that dreams are made of
What if the prince on the horse in your fairytale
Is right here in disguise
And what if the stars you’ve been reaching so high for
Are shining in his eyes

Don’t look at yourself in the same old way
Take another picture
Shoot the stars off in your own backyard
Don’t look any further
And you will see
It’s the stuff that dreams are made of….

 Dankie Shakespeare en Carly vir die waarheid.

 IMGP9792b-1 (3)

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.