Archive for April, 2011

Ware liefde

Saturday, April 30th, 2011

Ware Liefde.

Ware Liefde? Mens wil byna ‘n vraagteken agter die woorde plaas. Is daar werklik so iets soos ware liefde, of is dit iets wat mens net in fiksie en sprokies aantref? Is ware liefde net beskore vir engele, soos die foto aandui wat ek tydens ons toer in Kappadosië afgeneem het?

Met die uitsending van die Koninklike troue gister, was dit amper asof die miljoene mense wat meegedoen het deur of op die strate te staan en kyk of deur die televisie uitsending dop te hou, wou sê: Ons het weer hoop en inspirasie nodig. Ons wil so graag weer glo die verbintenis kan gelukkig en durend wees. Immers dit is tog soos die sprokies altyd eindig: “En hulle het lank en gelukkig saamgeleef” Die Engelse uitdrukking klink nog meer indrukwekkend: “And they lived happily ever after…” Saam met miljoene ander het ek ook die aanloop, die seremonie, die straatoptog en die balkonsoen(e) dopgehou en gehoop dat hierdie liefdesverhaal tog ‘n gelukkige verloop sal hê. Anders as die verhaal van Charles en Diana wat ook so sprokiesagtig begin het dertig jaar gelede en as tragedie ge-eindig het.

In my Matriekjaar was die liedjie van Groep 2, Daar is niks soos ware liefde, ‘n treffer. Tydens ‘n saalopening het ‘n Dominee hewig uitgevaar teen die liedjie omdat dit dan die bestaan van die ware lliefde sou afkraak en ontken. Tog dink ek dat die liedjie juis waarsku dat ware liefde nie met valse skyn verwar moet word nie en dat jy ontnugter kan word as jy verlifdheid met liefde verwar. Ek dink die titel wil eintlik sê: Niks kan met ware liefde vergelyk word nie. Die lirieke lui:

As sawens die liggies so glinster,
dan glo jy daar’s liefde naby.
Maar dis net verbeelding,
en jy’s weer alleen.
Die oomblik van vreugde is heen.

KOOR:

Daar’s niks soos ware liefde,
Niks so teer, so mooi, so rein.
Soek jy waarheid in jou drome.
Vind jy dalk met die liefde se skyn.

Dit lyk vir my dat deel van die probleem is juis dat ons ‘n valse en geromantiseerde denkbeeld het van die liefde en dit dikwels met romanse, maanskyn en rose verwar, terwyl ware liefde juis ook in die fel sonskyn en die harde lewenswerklikheid van elke dag moet kan standhou. As liefde die sonligtoets deurstaan, sal die maanskyn en rose ook daar wees.

 In die geskiedenis en die storieskat is daar baie verhale van skynbare teenstrydighede – waar een persoon ‘n ander selfs ten spyte van syhaar gebreke kan liefhê.  Skoonlief en Ondier is tekenend hiervan. Ook Quasimodo, die Boggelrug van Notre Dame en sy liefde vir Esmeralda, die sigeunermeisie vertel van ‘n aanvaarding en ontfermende liefde tenspyte van die liggaamlike gebreke. So bring Esmerelda vir die erg gemartelde Quasimodo water as hy pleitend roep om ontferming. Later  red hy die  ter dood veroordeelde Esmerelda van ‘n gewisse galgdood en steek hy haar weg in die Notre Dame. Jare later kom ‘n grafgrawer af op die graf van Esmeralda. Tot sy verbasing vind hy die beendere van die Boggelrug, Quasimodo wat om die oorblyfsels van Esmerelda gekrul lê. 

Dit wil tog lyk asof die woordjie “nogtans” ‘n belangrike deel van ware liefde is. Dit is immers ‘n Nogtans-liefde wat Christus aan die kruis vir ons bewys het.

Don MCCullough vertel die volgende verhaal: (soos aangehaal in Illustrasies vir die lewe – Solly Ozrovech)

‘n Man en vrou het d.m.v. ‘n korrespondensiekolom ontmoet en het vir mekaar begin skryf. Mettertyd het hulle op mekaar verlief geraak al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie. Op ‘n dag reël hulle om op ‘n lughawe te ontmoet. Ten einde mekaar te eien het hulle besluit dat die vrou ‘n rooi serp sal dra saam met haar rooi hoed. Sy sou ook ‘n rooi angelier aan haar jas vasspeld.

Toe die man van die vliegtuig afklim, het hy dadelik na die vrou begin soek. Skielik sien hy die die vrou met ‘n rooi serp, hoed en angelier. Sy het so doodgewoon en vaal gelyk dat hy dit oorweeg het om terug op die vliegtuig te klim sonder dat hy hom aan haar bekend gestel het. Tog het hy nadergestap, geglimlag en homself aan haar voorgestel.

Die vrou kyk hom aan en vra toe” “Waaroor gaan dit alles tog? Ek weet nie wie jy is nie, maar die vrou daar oorkant het my vyf dollar gegee om die rooi serp, hoed en angelier te dra.” Toe die man die vrou sien na wie beduie word, besef hy dat hy een van die mooiste vroue aanskou wat hy nog gesien het. Hy stap na die vrou en sy verduidelik: “My lewe lank het mans my geselskap opgesoek vanweë my voorkoms. Hulle het my met komplimente oorlaai en my vertel dat ek beeldskoon is.Ek soek egter iemand wat my liefhet vir wie ek is en nie omgee hoe ek lyk nie. jy het aan hierdie vereiste beantwoord.” Hulle is getroud en het ‘n lang en gelukkige huwelik gehad.

Gister toe Katherine  Middleton die lang paadjie van die Westminister Abdy afstap – het sy in haar eenvoudige, dog uiters stylvolle uitrusting my laat dink aan die jong Grace Kelly wat met ‘n baie soortgelyke uitrusting haar Prins Rainier van Monaco tegemoetgestap het. Hulle huwelik was ook nie aldag maanskyn en rose nie, maar tog het hulle die beloftes wat hulle met die huwelikseremonie afgelê het, gestand gedoen tot met haar dood op 14 September 1982 ( in ‘n motorongeluk.)

Uit die film: High Society wat in 1956 vrygetel is, kom die immergroen liedjie True Love wat Grace Kelly saam met Bing Crosby sing:

Sun-tanned, Wind-blown honeymooners at last alone.

Feeling far above par. Oh, how lucky we are!

While I give to you and you give to me,

True love, true love.

So on and on it’ll always be, True love, true love.

For you and I have a guardian angel on high,

With nothin’ to do. But to give to you and to give to me,

Love forever true.

Love forever true.

Lank lewe ware liefde!

Die klank van stilte

Wednesday, April 13th, 2011

Stilte.

Die wonder van die die bewussyn van stilte.

“Stilte is God se oertaal”  het die 16e eeuse woestynheilige Johannes van die Kruis gesê. Hy het hierdie waarheid tydens sy lang tye van afsondering in die woestyn ervaar.

Later het Thomas Keating die aanhaling uitgebrei: “Silence is God’s first language; everything else is a poor translation. In order to hear that language, we must learn to be still and to rest in God.”

Dit was tydens die wintervakansie van 1967 dat ek “The sound of Silence’ leer ken het. Ons het soos gebruiklik die Julievakansie by die Suidkus deurgebring. Een mddag is ons na die nuwe winkelsentrum toe wat in Beach Road sy verskyning gemaak het. Die besoek aan die CNA was die hoogtepunte van die inkopies want as aandenking aandie vakansie kon elkeen van ons kinders ‘n Solus sewe plaat kies. Toe ek die oranje en wit CBS omslag sien met die logo en die woorde Seven Single wat drie keer daarop herhaal word, het ek die plaatjie binne in herken: Simon and Garfunkel se “The Sound of Silence”  Die lied het oor radiostasies gespeel en my elke keer met sy teenstrydige titel bekoor. Nou was die kans om die plaatjie my eie te maak. Die res van die vakansie het ek met ‘n ongeduld die plaatjie uitgehaal en bewonder. Ek het ‘n sit-rots gehad waar ek smiddae na die see sit ek kyk het. Dan het die liedjie solank in my kop gespeel. Ek sou egter moes wag tot ons tuis kom voor ek dit op ons Pilot radiogram kon speel. Die wag was die moete werd. Oor en oor het ek die Oranje CBS solus sewe gespeel en later die woorde uit my kop geken:

Hello darkness, my old friend
I’ve come to talk with you again
Because a vision softly creeping
Left its seeds while I was sleeping
And the vision that was planted in my brain
Still remains
Within the sound of silence

In restless dreams I walked alone
Narrow streets of cobblestone
‘Neath the halo of a street lamp
I turned my collar to the cold and damp
When my eyes were stabbed by the flash of a neon light
That split the night
And touched the sound of silence

And in the naked light I saw
Ten thousand people, maybe more
People talking without speaking
People hearing without listening
People writing songs that voices never share
And no one dared
Disturb the sound of silence

“Fools”, said I, “You do not know
Silence like a cancer grows
Hear my words that I might teach you
Take my arms that I might reach you”
But my words, like silent raindrops fell
And echoed
In the wells of silence

And the people bowed and prayed
To the neon god they made
And the sign flashed out its warning
In the words that it was forming
And the sign said, “The words of the prophets are written on the subway walls
And tenement halls”
And whispered in the sounds of silence

Hoewel ek nie die omvang an die woorde kon verstaan nie, het ek die “gevoel” van die lied verstaan en hoe woorde soms hol simbole word wat nie meer werklik dit oordra wat wesentlik is nie. In my gedagtes het ek die liedjie as musiekvideo (wat eers later jare sou kom) gesien en ekself was die die figuur in ‘n donker jas wat “neath the halo of a street lamp” gestap het, my jaskraag teen die “cold and damp” opgeslaan het en deur die klank van stilte aangeraak is. Tot vandag toe bly hierdie liedjie een van my allergunstelinge en wek dit so onpeilbare heimwee elke keer as ek dit hoor.

Stilte. Die krag wat ons so dikwels ontken en miskyk in ons dolle gejaag na meer. Tydens ‘n retraite wat ek in 2003 bygewoon het, het ek die krag van stilte herontdek. Ons moes die Saterdagmiddag vir drie ure lank stilraak. Jy kon die kapel opsoek, gaan stap, onder die bome sit of selfs gaan swem. Al voorwaarde was dat jy nie met ander sou praat nie maar in ‘n “lang gesprek” met God sou bly. Ek het vir die eerste keer die monikke bewonder wat ‘n  “vow of silence’ kon nakom vir sulke lang tye. Tog het ek so baie geleer in die drie uur. Ek kon ook die tyd gebruik om dinge neer te skryf waarvoor ek nie andersinds tyd gehad het nie. Die ontdekking van Stilte. Daardie binnestilte wat voel soos die see van Galilea nadat Jesus die storm stilgemaak het. Die klank van die vredige stilte. Mens herken dit.

Op Phlippolis het ek weer die intensiteit en die krag van Stilte ontdek. Op my bakoond-sitplek soggens as die dag  sy gang kry. Saans as ek en my reisgenoot op die voorstoep sit met die eerste sterverskynings. In die mooie kerk met sy boogvensters kon ek die serene stilte ervaar. Laataand terwyl ek alleen in die middel van die labirint sit en die stilte hoor. Mens moet immers oefen om stilte te hoor.

Die volgende verhaal vertel iets daarvan:

Lank lank gelede in antieke Japan, het daar ’n magtige man geleef wat besef het sy dood is naby. Hy het sy enigste dogter, prinses Yumiyo, aangemoedig om te trou.  Hy het vir haar gesê:  “My liefste dogter, die groen van die pruimbome het gekom en gegaan en dis al weer bloeiseltyd.  Maar jy het nog nie ’n man gekies nie.  Al die mans wat sover om jou hand kom vra het, het jy van die hand gewys.  Gaan ek, jou pa, sterf sonder dat ek jou getroud gesien het en sonder om die gesiggies van my kleinkinders te bewonder?”

Prinses Yumiyo het geantwoord:  “Nee, pappa, ek sal ’n drom maak van egte sy. Die man wat die noot hoor as ek die drom slaan,  met daardie man sal ek trou.”“Wat se nonsens is dit!” antwoord haar pa.  “‘n Sy-drom maak geen klank nie. Arme ek, ek sal doodgaan sonder dat ek my kleinkinders gesien het.”

Maar die mooie prinses Yumiyo het ’n sterk wil en sy het haar spesiale drom uit sy gemaak. Baie jong mans het na Yumiyo en haar sy-drom kom luister, nie net omdat sy beeldskoon was nie, maar ook omdat sy skatryk was!  Maar niemand kon die klank van die sy-drom hoor as sy daarop gespeel het nie. Maande het gekom en gegaan, terwyl lang rye potensiële trou-mans hulle opwagting gemaak en dan net so vinnig weer verdwyn het!  Haar vader, het net gesê:  “Ek het mos vir jou gesê! Ek het mos vir jou gesê!”

Toe op ’n dag verskyn daar in die binnehof van die paleis ’n jong, pragtig geklede man. Hy het laag gebuig voor die magtige man en toe voor die prinses.“ Waar kom jy vandaan?” vra die pa.“ Ek kom van ’n plek ver anderkant die berge en die see.” antwoord die jong vreemdeling.“En vir wat het jy so ’n ver afstand gereis?” wou Yumiyo se pa weet.“My heer, ek het gekom om met u dogter te trou.” antwoord die jong man.

“ Sy is net bedoel vir die man wat haar sy-drom se klank kan hoor. Wil jy vir my sê jy kon die klank daarvan hoor in jou veraf koninkryk, oor berge en die see?”, het die pa gevra. ” U is korrek, my heer, geen klank van die drom het my ore bereik nie!”

“Vat dan die pad, jong man, soos al die manne voor jou”  blaf-sê die magtige man beslis.  “Hoekom hang jy nog hier rond?

”Omdat, my heer, ek sy stilte gehoor het en in die stilte, u dogter se hartklop gehoor het.” Prinses Yumiyo het geglimlag en haar sy-drom weggesit, want sy het dit nie meer nodig gehad nie.

Mag die Pase van 2011 ons weer by die kern van onsself en van stilte bring.

Sodat ons weer God se hartklop kan hoor.

Dan kan die verwondering weer herleef.

Boomverbond

Saturday, April 2nd, 2011

Bome is my natuurvriende wie se skaduwee ek graag opsoek om hulle stille krag en wysheid te ervaar. Om met my rug teen die skurwe stam van so ‘n karaktervolle boom te sit, is vir my ‘n terapeutiese ervaring.

So baie bome is deel van my onthou, vrugtebome waarin ons geklim het en in wie se skaduwee ons speel-speel plase uitgelê het, die kersvlam-sipres wat jaarliks hoër getroon het as ons die kersliggies om hom draai. plataanbome met sy jeukwol, akasias, veral die soetdorings van Wes-Transvaal. Bloekombome met die mooi baspatrone. Daar het heelwat van hulle gestaan in Welkom-park langs die Schoonspruit in Klerksdorp. Dit was ons piekniekplek  waar ons Sondagmiddae die geruite ou reisdeken oopgegooi het en dan kraaklekker waatlemoen geëet het. Dit was  ook die plek waar ons  jaarlikse Sondagskoolpiekniek met al die Boeresportspeletjies soos driebeenresies, sakresies en eier-en-lepel resies gehou is. En ek die oulike meisie in my Sondagskoolklas asof vir die eerste keer raakgesien het. Die Akkerbome van die (gewese) Tomstraat in Potchefstroom was altyd my gespreksgenote as ek Bult toe stap. Net so Die Eike in Dorpstraat Stellenbosch en veral ook die karakterbome in die Laan.

Tog is dit daar sekere bome en boomgebeurtenisse wat my bybly. soos die Acacia Boliviana in ons erf in Floralaan, Klerksdorp. Dit was ‘n redelike gemaklike klimboom waarin ons Vrydagaande ons tuisgemaak het. Dit het as gerieflike uitkykpos gedien waarvandaan ons (ousus en ek ) die bure se bedrywighede kon bespied en ook interessante brokkies gesprekke kon hoor as sommige van die gaste tydens een van die partytjies daar kom staan en rook het  (of selfs ‘n vinnige omhelsing daar ingepas het!) Ons eie Boom van Kennis van Goed en Kwaad in die kleine!

Tog wil ek eintlik vandag my boomverbond in herinnering roep, want dit het vandag drie-en-veertig jaar gelede gebeur – 2 April 1968.

Ek onthou die dag met die die datum: 2-4-68

Ek was ‘n veertienjarige wat op sy eerste CSV kamp was te Maselspoort, Bloemfontein.  Het so ewe hoopvol my (toe baie gewilde) visnet hemp ingepak om so bietjie “mod” (rebels) te wees op hierdie korrekte kamp. Nogals so wit visnethemp met sulke oranje en geel vertikale strepe.  Ai, ek het gedink ek is aan die toppunt van die modefront!  Toe tref ‘n ander front Bloemfontein juis in daardie week van die Aprilvakansie – ‘n  ergere koue front laat ons bedags alle warm klere wat ons het oormekaar aantrek en saans bibber ons in ons tentjies. Ewe bekaf moes ek dus maar my trui oor die visnet hemp dra. (Gedog die liewe Vader straf my ydelheid)

Maar dis nie die eintlike storie nie. Ja, op die kamp is daar ook kans vir
regmaak en skuldbelydenis gegee.(En ek moes gebruikmaak daarvan want ek het op veertien ‘n oorontwikkelde gewete gehad!) Op die spesifieke dag  is daar met die seuns en die dogters afsonderlik gesels oor hulle lewens en lewenskeuses. Maar veral onthou ek dit as my Carpe Diem dag. My Boomdag. Ds Frikkie Kelber, ‘n waardige en wyse gryskop  omie-dominee het met ons seuns gepraat oor die belangrikheid van besluite wat jy in jou jeug neem en die invloed daarvan op jou latere lewe. Jou keuse van vriende en jou keuse vir God. As uitgangspunt het hy Psalm 1:1-3 geneem en die woorde vir ons plegtig gelees:

1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie Sit in die kring van die spotters nie;2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.3 En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

Hy het ons gewys op die die stelselmatige agteruitgang en verwording van die onverskillige mens – eers wandel hy in die raad van die goddelose, dan staan hy op die weg van die sondaars en uiteindelik sit hy in die kring van die spotters.

Daarteenoor is die regverdige welgeluksalig (driemaal gelukkig). Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, sy vrugte op sy tyd gee en alles wat hy doen voer hy voorspoedig. Veral sy beklemtoning wat die einde van elkeen is het my bygebly: By die regverdige vind daar groei plaas en hy hy ervaar vervulling. Die goddelose daarteenoor is soos kaf wat die wind wegwaai. Ek het sommer ‘n rilling gekry toe ek in my gedagtes die prentjie sien van die Kafmens wat so weggewaai word in die wind. Dit wou ek tog nie word nie. Nee, veel eerder ‘n Boommens wat veranker is in die Bron en vastigheid het.

 Later is aan ons die geleentheid gegee om op ons eie stil te raak. Ek het met my rug teen die stam van ‘n Bloekomboom gaan sit net so bewus geword van die onherhaalbaarheid van die oomblik en die krag van keuses. En van God. As veertienjarige het ek  besluit om die dag in my hart te bêre as  my Boomverbonddag. Dat ek net daar en dan, met my rug teen die skurwe boomstam, die Here kon vra om my lewe in ‘n nuwe koers (Syne) te stuur. Die dag toe ek besluit het dat ek graag wil hê my lewe moet met Sy hulp groeikrag hê. Met die koue wind wat snydend deur die trui en visnethemp waai, wou ek net nie wees soos kaf  wat wegwaai nie.

Ek was nog altyd lief vir bome maar het daardie dag ‘het die psalm en die beeld van ‘n groeikragtige boom my lewe in ‘n nuwe koers gestuur. Ek het net geweet ek behoort. Is geanker. Die vastigheid kon my bybly selfs in die dae van woeste stormwinde en onsekerhede.

Dus vier ek vandag my Boomverbond as ‘n viering van dankbaarheid oor Hom wat sy lewe aan die Kruisboom prysgegee het sodat daar ‘n nuwe begin vir vasgeloopte, oorlaaide mense kan wees.

In die agtergrond, terwyl ek hier skryf, speel Enya se CD “The Memory of Trees”. Stemmingsvolle musiek wat my weer laat dankie sê vir die Boomwaarheid van Psalm 1. My hart is ook vol van dankbaarheid oor boomvriende wat om jou groei en jou met hulle stil teenwoordigheid en skaduwee versterk.

Twee boomvriende uit my Laer-en Hoërskooldae het my vandag kom opsoek – die twee uur lange rit aangedurf en my kom versterk met al die onthou-jy-nog-geselsies. Ons het het opnuut ontdek dat ons drie saam deel was van die belydenisgroep wat vroeg in 1971 in Klerksdorp-Oos gemeente ons geloofsreis ‘amptelik” begin het. Ons kon deel in mekaar se ontdekkings  sedertdien oor ‘n tydperk van veertig jaar –  die eina’s en Amens. Maar ook meer as dit.  In hulle sien ek die groei waarvan Ds Kelber daardie Aprildag in 1968 gepraat het, want hulle lewe dra vrug. Die vrug van verankering en die vrug van ‘n lewe van volgehoue groei, ten spyte van teenspoed. Die vrug van die Gees. Ek is versterk en verryk deur hulle vriendskap.

Ek dink weer aan Elsabé Steenberg se treffende jeugverhaal met die ewe treffende titel: Boom, Bomer, Boomste. Sommige mense is soos bome wat jou in die skaduwee van hulle lawende teenwoordigheid laat sit.

Dankie Heer dat u my Boomste Vriend is en dat deur Boomvriende ek aan u Teenwoordigheid herinner word.

Eendag as my lewensboom afgesaag word vir Ewigheidsgebruik sal my jaarringe vertel van soveel genadejare. Tot dan, wil ek steeds groei!