Soms (veral teen die einde van die jaar) is ‘n mense se moed- en geduldtenk maar boomskraap. Dan het jy versterking nodig!
Onlangs luister ek na die inspirerende lied wat Peter Gabriel en Kate Bush sing: Don’t Give up. Dit is ‘n lied wat inspireer tot volharding en aanhou, selfs al is al die omstandighede teen jou en alles in jou bring jou naby die oomblik van handdoek ingooi:
I am a man whose dreams have all deserted
I’ve changed my face, I’ve changed my name
but no one wants you when you lose
Dan die refrein:
don’t give up
‘cos you have friends
don’t give up
you’re not beaten yet
don’t give up
I know you can make it good
Don’t give up. Hou uit. Hou aan.Volhard.
Dit het my onverwags aan die Tenacity borsel laat dink. Dit was ‘n borsel wat ek as tiener gebruik het om my daaglikse taak uit te voer. Elkeen van ons gesin het ‘n paar werkies gehad wat ons moes doen in en om die huis: bv. Ma en die sussies het kos gemaak, ek het help afdek en Pa het die skottelgoed gewas terwyl ek die afdroogwerk gedoen het en die sussies weggepak het. Kleinboet het dan gewoonlik een of ander nood ontwikkel en het homself verskoon uit die kombuis.
Elkeen het ook ‘n oggendtaak gehad om voor skool te verrig. Die sussies het gehelp met huishoudelike take terwyl dit my taak was om elke oggend terwyl ma koffiewater kook en ontbyt begin voorberei, elke gesinslid se skoene te poets.
Dit was ‘n behoorlike ritueel. Aan die begin van die nuwe kwartaal het ek vir my ‘n interessante koerant dubbelblad uitgesoek met heelwat berigte en ook advertensies. Die koerant moes dan die hele kwartaal hou. Soggens terwyl ek die vier pare swart skoolskoene en pa se bruin skoene op die koerant uitpak het ek dan so vlugtig ‘n beriggie gelees of ‘n advertensie bestudeer. Nodeloos om te sê: Ek het die koerantblad omtrent uit my kop geken teen die tyd dat ek dit teen die einde van die kwartaal met groot verligting kon weggooi!
Daar, terwyl ek sorvuldig eers die skoene met politoer gesmeer het en dan blinkgepoets het, het die tenacity borsel sy verskyning gemaak. Dit was my poetsborsel vir die skoolskoene. Op die rugkant van die borsel het die woord Tenacity gestaan. Dit was vir my so interessante woord dat ek sy betekenis moes uitvind. Ek vra een oggend vir my ma wat die woord beteken en sy sê: “Dit wat jy nou doen, is Tenacity – jy is besig om aan te hou poets tot die skoen mooi blink is. Tenacity beteken volharding.” Later soek ek ook Tenacity in die verklarende Engelse woordeboek op en ek vind die volgende sinonieme: firm, stubborn or persistent, cohesive, to stick or adhere. From Latin tenax, to hold.
Menige oggend was ek nie baie lus vir my takie as poetser van skoene nie want dit gevoel asof die skoene in elk geval sommer binne ‘n japtrap weer stofvuil sou wees. Tog het ek die koerantblad (wat teen die tyd al ‘n paar swart- en bruin merke op gehad het) oopgevou, die Nugget politoerblikkie oopgemaak, die borsel in die politoer gedruk en die eerste paar skoene begin politoer. Algaande het ek dan ontdek dat dit eintlik gouer gaan as wat ek gedink het en dat daar tog (moes ek teësinnig erken) iets lekkers daaraan was om vuil skoene te poleer n blink te poets. So voor- en na prentjie. Tog onthou ek die onwilligheid om op ‘n ekstra koue wintersoggend onder die kombuislig te kniel en my taak uit te voer, terwyl ek eerder graag nog bietjie snoesig in die bed sou wou lê! Op sulke oggende het ek die tenacity borsel ekstra styf vasgehou en vinnige poetsbewegings gemaak om die bloed vinniger deur my lyf te laat pomp.
Soms het ek probeer om tenacity in Afrikaans te vertaal, maar volharding sê nie so lekker soos tenacity nie. Eers ‘n paar jaar later sou ek in die weermag die woordjie vasbyt leer ken wat omtrent die beste vertaling van tenacity is. Daardie volhardende vashou terwyl jou geduld en moed al gedaan is. Die aanhou ten spyte van.
Ek bewonder mense wat daardie “Tenacious“-eienskap het. Vasbyt-mense.
Van so iemand lees ek in een van Dot Serfontein se verhale. In haar boek oor vreeslose Vrystaters,Systap onder die juk, vertel sy die verhaal van haar oumagrootjie, Tant Sannie van der Hoven van Leeukuil. ‘n Ware Tenacity Tannie. Dié formidabele vrou was bekend onder almal in die omgewing en ook volksleiers soos Brand, de Wet en Steyn was gaste aan haar huis. Sy het honderd-en-een jaar oud geword en as sy bietjie beter saamgehelp het, kon sy selfs heelwat ouer geword het, reken Dot Serfontein.
Die weduwee het haar g’n laat stuit deur enige teëspoed of terugslag nie. Toe sy op tagtigjarige ouderdom haar heup breek, het die kleinkinders begin reëlings tref vir versorging en ‘n invalidebestaan. Vir veertien dae het sy in die bed gelê en toe opgesukkel, die heup met boegoebrandewyn ingesmeer en met ‘n eetkamerstoel as loopraam gehink tot in die kombuis. En dit was die einde van die gebreekte heup wat haar betref. Van daardie dag af, tot aan die einde van haar lewe, het sy gestap met ‘n eetkamerstoel as stut voor haar en met so skewe galoppie deur die huis beweeg. In die tyd het sy drie stinkhoutstoele opgeloop tot dig by hulle matte! Dis vasbyt!
Iets van hierdie (geloofs)vasbyt kry ons by die Ou Testamentiese profeet Habakuk. Te mide van die verwoesting wat die Galdeërs onder sy volk en land saai, klim hy op die wagtoring en bly hy in gesprek met God. Te midde van al die verval, vyebome sonder vrug, wingerde sonder druiwe, ‘n olyfoes wat misluk en vee wat gesteel word uit kampe, nogtans sing hy sy Vasbyt-lied:
kee kaw-khash’ an-ee’ aw-laz’
al sou die vrugte teleurstel, nogtans sal ek jubel (spring) van vreugde.
Ek gaan weer soek tot ek iewers ‘n Tenacity-borsel raakloop en dan die Habakuk lied sing, terwyl ek my skoene spieëlblink poets!
Daarna gaan ek weer aandagtig luister na Peter en Kate se lied: Don’t Give up.
rest your head
you worry too much
it’s going to be alright
when times get rough
you can fall back on us
don’t give up
please don’t give up
don’t give up
‘cos you have friends
don’t give up
you’re not beaten yet
don’t give up
I know you can make it good…