Archive for June, 2010

Halte: Solitaire

Saturday, June 26th, 2010

Om met ‘n engel te reis (vgl vorige inskrywing), bepaal weliswaar jou roete, maar vrywaar jou nie van vreemde haltes nie. Soos Halte Solitaire. Die halte kan baie name hê. Sommige noem die halte Eenzaamheid. Verlatenheid. Wanhoop. Desperado. Uit-dieptes-gans-verlore. Tog is dit belangrik dat jy juis by die halte sal aandoen, sodat jy meer perspektief op die res van die reis kan hê. Vir Elia was dit ‘n belangrike ontmoetingsplek met ‘n engel toe hy by Halte Besembos gaan lê het en gewens het om dood te gaan. (1 Kon 19). Eers toe hy die engel met die waterkruik en die roosterkoek raaksien, is hy genoeg versterk om vorentoe (oop-oog) te reis.

Soms voel dit mos vir ‘n mens of al die paaie in jou lewe na hierdie eensame stasie toe lei. Daarvan sing Neil Sedaka in sy liedjie Solitaire:

There was a man, a lonely man
Who lost his love, through his indifference
A heart that cared, that went unshared
Until it died within his silence

And solitaire’s the only game in town
And every road that takes him, takes him down
While life goes on around him everywhere
He’s playing solitare…

Die liedjie het vir my oor die jare meer as ‘n toestand geword, dit het ‘n plek geword met sy eie sombere inkleding van menswees. ‘n Halte waar jy nie graag wil vertoef nie, want dit vertel van isolasie, mislukking, teleurstelling en uitsigloosheid. Om uitgerangeer te wees op ‘n ongebruikte syspoor. Tog bevind jy jou soms daar (dikwels a.g.v. jou eie verkeerde keuses).

Gedurende  Julie 2005 reis ek as deel van ‘n groep vanaf Swakopmund na Windhoek. Ons neem die woestynroete en  beleef stukke onherbergsaamheid, ‘n maanlandskap en die verrassing van ‘n Welwitschia wat hardnekkig voortbestaan in die onherbergsame omgewing.

Ons woestynreis lei uiteindelik tot groter tekens van “beskawing” wat begin opduik. So beland ons  by ‘n bordjie wat ‘n afdraaipad aandui. Sou ons reguit aanhou ry met die pad, is ons bestemming ‘n plekkie genaamd Solitaire. Draai ons egter na links af, dan wag die weelde van ‘n bederf-kuier in van Windhoek op ons. Ek klim uit en neem die bordjie af.  Dis die naaste wat ek nog in lewende lywe aan Solitaire gekom het, alhoewel ek die toestand al lank ken. Ons draai links Windhoek toe. Soms is Halte Solitaire ‘n keuse wat jy kan vermy. Soms moet jy deurdruk en via Solitaire na jou eindbestemming reis.

Kruispadkeuses.
In die film Sliding Doors word Helen Quilley (vertolk deur Gwyneth Paltrow) se lewe as’t ware in twee gedeel nadat sy onverwags afgedank word by haar werk.  Alles wentel rondom die feit of  sy betyds die trein haal of  nie. In die eerste scenario is sy net betyds om wel in die trein te klim voordat die glydeur toeskuif. Sy ontmoet ‘n aangename man, James. Sy kom vroeër as gewoonlik by die huis en betrap haar kerel op heterdaad waar hy ontrou is aan haar. In die alternatiewe weergawe mis sy net-net die trein, word sy beroof en beland sy uiteindelik heelwat later tuis en word haar ontroue kerel nie betrap nie. Die fliek bou op elk van die verhaalllyne voort – In die eerste geval: Helen wat beheer van haar lewe neem, nadat sy haar ontroue kerel afgesê het. Sy verhuis, kry ”n nuwe haarkapsel, begin ‘n nuwe werk en ‘n bou ‘n moeitewerd verhouding op met James, haar nuwe vriend. In die parallelle verhaal bly sy in ‘n afbrekende verhouding met haar ontroue kerel Gerry en moet sy later as kelnerin werk net om hulle te onderhou. Haar doelbewuste inspanning om betyds die trein te haal, bepaal uiteindelik die gang van haar hele lewe. In die eerste geval leer sy om nuwe (goeie) keuses te maak en neem haar lewe ‘n positiewe wending. In die ander geval bly sy slagoffer van haar omstandighede en spiraal haar lewe afwaarts.

Dit is onvermydelik dat Halte Solitaire soms in ‘n mens se lewe opduik. Vir Elia en Moses was hulle woestynervarings ‘n voorbereidende leerskool om nog meer te kon verrig en te kon fokus op die eintlike taak waarvoor hulle bestem was. Ook Jesus se versoekingstydperk in die woestyn word die basis van sy oorwinning. Tog moet mens nie van Halte Solitaire jou permanente blyplek maak nie. Die gevaar is om jou te begin verlustig in jou lot, weg te sak in ‘n put van selfbejammering en ‘n martelaarshouding  te kweek. Alles en almal is teen my. My lot is swaarkry en ellende. Ek is van mens en God verlate.

Niemand hoef by Halte Solitaire bly vertoef nie. Gelukkig is daar ‘n trein wat ook van hierdie Halte vertrek vir diegene wat oop-oog en met verwagting reis. Die trein se reis het begin by Halte Golgota. Sy bestemming is die stad waarvan Laurika Rauch so aanrypend sing in Hot Gates:

There’s another city I’ve been told, where the streets are paved wih gold…

Die trein heet Kainos. Nuwe Begin. Maak seker dat jy op die perron is en betyds by die trein se glydeur inklim. Daar lê opwindende haltes anderkant Solitaire.

Om met ‘n Engel te reis

Monday, June 21st, 2010

 

Kleintyd was engele deel van my wêreld. Hulle was soos kabouters en feëtjies werklike wesens in my gedagtes. Sondae veral. In die kerkgebou het ek hulle ontmoet. Terwyl die Dominee breedvoerig uitgewei het oor een of ander Heidelbergse boek (ek het gedink die Heidelbergse kategismus is ‘n tydskrif soos die Huisgenoot maar dat dit net by Dominees afgelewer word), het ek die engele bestudeer. Hoog bo het die dak so ‘n inham met sterpatroon gemaak. Dis waar die engele gebly het. In my gedagtes het ek gesien hoe die luik in die oorhanggedeelte oopgaan en die engele opgewonde uitgevlieg kom. ‘n Hele leërskare (die woord by ‘n kerssangdiens gehoor!) van hulle. Dan ineens het hulle my raakgesien. Veral die kere wat ons op die galery gesit het waar tannie Weitz die orrel die orrel bespeel het. Dan het hulle direk na my aangevlieg gekom, my maklik opgetel en op hulle vlerke na hulle blyplek gedra. Net voor die “Amen” het hulle my weer op my sitplek kom neersit. Hulle het die diens vir my draaglik gemaak.

Toe verdwyn die engele uit my lewe. Hulle gaan op AWOL. Die lewe word vol realiteite. Kort daarna verhuis ons na die Vrystaat waar die kerk se dak  glad nie so “engelblyplek” het nie. Ek begin gaandeweg meer van die die dominee se preek verstaan, maar die diens verloor sy betowering.

So met die grootwordjare en daarna bly die engele maar afwesig. Soms vermoed ek ‘n engelvlerk wat tog oor my oë vee, maar maak dit af as verbeelding. Tog bly die droom van Jakob waar hy in die Niemandsland op sy klipkussing lê en die geopende hemel bo hom sien, vir my wonderlike gedeelte (Gen 28). Veral die leer wat op die aarde staan en die punt daarvan raak aan die hemel met al die engele wat op en af met die leer klim. Dit voel telkens vir my asof ek weer my kerkengele op die droomleer herken. Ook die verskyning van God wat ‘n belofte aan Jakob maak, gryp my aan. Immers is Jakob(us) ook my tweede naam.

Toe die milleniumwending kom, weet ek dat dit weer tyd is om die engele raak te sien. Die aand na kerk met die oorgang van 1999 na 2000 sit ek in    die woonkamer en luister na die sielvolle woorde van Sarah McLaglan se lied “Angel”

Spend all your time waiting for that second chance
For a break that would make it okay
There’s always one reason to feel not good enough
And it’s hard at the end of the day

 In the arms of an angel fly away from here
From this dark cold hotel room and the endlessness that you fear
You are pulled from the wreckage of your silent reverie
You’re in the arms of the angel – may you find some comfort there

Gedurende Desember 2002 is ek met vakansie in die mooie Kaap. By ‘n Kerskunsmark koop ek ‘n fyne glasengeltjie en weet dat daar ‘n spesiale besteming op die engel wag. Saterdag  7 Desember  is ek op Paternoster. Heelweek dreig ek al om die engelpakkie te gaan neersit voor die deur van Riana Scheepers se hartshuisie. Ek stop by die huisie en sien te laat dat daar mense is. ‘n Man is besig om ‘n houtluik te herstel en ‘n vrou sit met haar rug teen die bakoond en lees. Toe sy opkyk sien ek dis Riana.  Ek sê dat ek nie wil inbreuk maak nie, maar slegs bode is wat die pakkie moet aflewer. Riana en Johann stel hulleself voor en ek word genooi om deur die huisie te stap. Toe Riana die pakkie oopmaak, is sy opgewonde oor die glasengel, wat dadelik aangestel word as bewaker van die mooi vissershuisie. In die koerant die Woensdag na my besoek, verskyn haar rubriek onder die opskrif: “Engel in my huis” waarin sy vertel van die geskenk wat ek onwetend vir haar as verjaarsdaggeskenk gebring het. So begin ‘n nuwe reis waarin engele ‘n groot rol speel.

Gedurende September 2005 hou ek so retraite op my eie. Ek bring ‘n paar dae deur in die Laurens Van der Post Skrywershuis op Philippolis. Ek wil bietjie skryf, bietjie skilder en sommer baie dinktyd hê. My Reisgenoot gee vir my ‘n geskenkie saam om my geselskap te hou – ‘n engeltjie wat ek in die venster ophang toe ek daar aanland.  Elke keer as ek opkyk van my skilderpoging sien ek die inspirasie-engeltjie in die venster. So produseer ek toe meer as wat ek verwag het. Neem ook Dinsdagaand 20 September die belangrike besluit oor my en my Reisgenoot se pad saam vorentoe.

Ek neem ‘n foto van my “engel-in-die-venster” en voel behoorlik weer kleintyd se verwondering oor die gevlerkte boodskappers van die Allerhoogste wat ook saam met ons reis.

Vanoggend terwyl ek hier skryf, blaai ek weer deur Izak de Villiers se “Engel voor my uit” waarin hy sy reis deur ‘n worsteltyd in sy lewe beskryf. Die bewussyn van die Teenwoordigheid van die Almagtige en sy engele het hom as’t ware deur die tydperk begelei Ook die belofte van Eks 33:2 “Ek sal My engel voor jou uitstuur…

Die engel reis inderdaad saam.

Die fontein van lewe

Wednesday, June 16th, 2010

29 Augustus 2003

Clarens, Oos-Vrystaat.

Dis vandag (29/8) my Reisgenoot se verjaarsdag. Ek besluit om haar Clarens toe te ontvoer vir die dag. Ons is nog net ‘n paar maande saam op reis. Daar is soveel nuwe horisonne om te verken. Ons stap deur die dorpie en ontdek ons eie spesiale haltes. By die komberswinkel luister ons na die verhaal van die twee susters wat al soveel jaar saam die besigheid bestuur. Hier kry mens nog die gevoel van ‘n outydse handelshuis met hoë houtrakke en die verkoopsware uitgestal op die rakke, sommige wat met ‘n leertjie bereik moet word. Die houtklap van die ou toonbank word opgelig en ons word agtertoe geneem om na ‘n groter voorraad komberse te kyk. Ons vind ‘n mooi tartan kombers. Die berekeninge word met ‘n pen op ‘n stukkie karton gedoen. Ons glimlag vir die stukkie nostalgie.

Etenstyd vind ons ‘n lekker tafeltjie by Artist’s Café. In die agtergrond is sielsmooi musiek. Tjello en ‘n vrouestem. Ons geniet die gedeelde oomblik. Verken die omgewing deur rond te kyk en sien dan ‘n interessante fontein buite. Ons bekyk dit van nader. Die fontein is van klip gebou. ‘n Geroeste kraan spuit ‘n dik stroom water uitbundig in die fonteinbak. Die lawende prentjie met die gewillige kraan noop ons om ons hande in die koel fonteinwater te druk en die oomblik te beleef. Ek dink aan die aanklag wat tot die volk gerig word in Jeremia 2: (Hulle het ) My , die fontein van lewende water verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie”. Ek neem die fontein af en wens ek kon tuis ook so verfrissende oase skep om my aan die oomblik en die Bybelwaarheid te herinner. Die fontein-oomblik word een van my Reisgenoot se kosbaarste geskenke van die dag.

Fonteinwater. Lewensbron. 

In die treffende film “Manon of the spring” (wat volg op die die aangrypende Jean De Florette) word die verhaal vertel van Manon, Jean se pragtige dogter. Sy besef dat daar jare gelede ‘n onreg teen haar pa gepleeg is, deurdat die fontein wat sy grond van water voorsien, deur ‘n gierige Ugolin toegestop is, sodat Jean se blomme-boerdery sou misluk. Die swaarkry en waterdra lei uiteindelik tot haar pa se dood. Na sy dood neem Ugolin die plaas oor en maak die verseëlde fontein weer oop. Hy het ‘n florerende boerdery. Op ‘n dag ontdek Manon die bron van die fontein in ‘n ondergrondse grot en stop dan op haar beurt die fontein toe, sodat Ugolin se water opdroog, maar ook die dorpsfontein. Eers waneer daar ‘n krisis in die dorpie onstaan a.g.v. die watertekort, kom daar ‘n wending by die inwoners en word die onreg van jare gelede bely.  Dan maak Manon weer die fontein se toevoer oop. Dit bring weer water en herstel na die dorpie

Tydens ‘n herfskool ‘n paar jaar gelede by die die PUK (tans die NWU), stap ek een aand na die  fontein voor die hoofgebou. Sopas het ons  geluister na ‘n besonder inspirerende lesing deur Dr. Johan Cilliers. Sy onderwerp: “Om God te sien” ‘n Mens kan God sien in die klein en alledaagse, herinner hy ons, maar jy het ‘n “wedergeboorte ” van jou sintuie nodig.

Terwyl ek by die fontein gaan sit sien ek die helderverligte Hoofgebou voor my. Ek kyk en neem waar asof ek die bekende baken uit my Universiteitsdae vir die eerse keer werklik sien – die nege dakvensters, die drie balkonne en die twee datumskilde soos harte weerskante van die venster. Die spuitfonteine borrel jubelend en vorm ‘n dansbeeld van die weerkaatsing van die gebou in die water.

Onwillekeurig kom die vers waaruit die  die leuse van my Alma Mater geneem is, by my op: “Want by U is die fontein van die lewe; in U lig sien ons die lig.” (Ps 36:10).

Terwyl ek daar by die fontein sit, dink ek daaraan hoeveel male ek as student hier verbygestap het, Soms selfs met die PUK kandelaar en leuse  gesakwapen op my baadjie. Tog nie altyd werklik bewus van hoe lawend die fontein is en hoe verhelderend die lig is nie.

Daarom bid ek die aand daar: help my om weer te kan sien, U weer raak te sien. Met verwondering te let op die  fyn weefpatroon wat u in elke mens se lewe weef. In die weerkaatsing van die helder lig wat die gebou verlig, sien ek woorde wat ingegraveer is op die granietblok by die fontein. Waterspatsels het van die woorde byna onleesbaar gemaak, maar ek braille as’t ware die letters uit:

JOHANNES CALVYN 10 JULIE 1509 – 27  MEI 1564

“EK OFFER MY HART”

Die slagspreuk van Calvyn word weer vir my nuut en waar. Om met nuwe oë te kan sien, het mens ‘n nuwe hart nodig. ‘n Heelgemaakte hart. ‘n Aangeraakte hart. Dan kan mens héélhartig oop-oog reis.

Vandag terwyl ek die inskrywing van my fonteinherinneringe maak, is dit Jeugdag, 16 Junie 2010.Ek bid dat ons in hierdie land fonteinmense sal wees. Met héél harte en genoeg lewenswater vir ‘n dorstige medemens.

Vandag!

Thursday, June 10th, 2010

 

“Wat is die mooiste woord in Afrikaans?”, vra ‘n artikelskrywer onlangs. Dan gee hy ‘n klompie woorde wat hy as antwoord gekry het op die vraag, o.a. die voorspelbare woorde: liefde, vrede, vreugde, hoop, geloof, vertroue ens. Dan verras hy deur te sê dat vir hom die mooiste woord in Afrikaans “VANDAG” is. Eintlik is dit ‘n woord wat mens ‘n paar keer vir jouself moet herhaal en dink aan al die moontlikhede. Vandag kan ek iets doen wat ek nog nooit gedoen het nie. Vandag kan ek ‘n nuwe woord aanleer.’n Blog begin. ‘n Nuwe vriend(in) ontmoet. ‘n Nuwe uitsig kry.

John Denver se mooi liedjie oor vandag bly nog altyd my hieraan herinner:

Today, while the blossoms stil cling to the vine – I’ll taste your strawberries, I’ll drink your sweet wine – A million tomorrows shall all pass away – Ere I forget all the joy that is mine, Today.

I can’t be contented with yesterday’s glory -I can’t live on promises winter to spring -Today is my moment, now is my story- I’ll laugh and I’ll cry and I’ll sing.

Carpe Diem. Die Slagspreuk wat Meneer Keating(Robin Williams) aan sy klas leer terwyl hulle staar na al die groepfoto’s van hul voorgangangers in die portaal van die tradisieryke skool. Dit bly vir my ‘n aangrypende toneeltjie uit die aangrypende “Dead Poet’s Society”(1989). Carpe Diem.Gryp die Dag!

My Vandag-foto het ek geneem op ‘n spesiale dag wat ek op Paternoster deurgebring het. Heel naweek was die weer mistig/trietsig/reënerig. Maar hierdie Maandag  7 Junie 2004 was ‘n perfekte skoongewaste dag. Eers verlustig ek my in die malse geel blomme wat oral groei en die begraafplaas soos ‘n blommeskou laat lyk. Daarna durf ek ‘n seestappie aan. Dit voel of die strand skeppingsnuut voor my uitstrek. Ek ervaar die bruisende wete dat vandag onherhaalbaar en onvervangbaar is. Ek tel ‘n uitgespoelde seemeeuveer op en skryf die woord: “Vandag” in sierletters op die strand.Plaas ‘n noodsaaklike uitroepteken langsaan en versier dit met ‘n tweelingskulp wat naby lê. ‘n Intense joie de vivre neem van my besit. Hierdie vonkeldag moet verewig word. Met my kamera zoom ek in op die woord en druk die sluiterknoppie. Vandag – ‘n oomblik wat ek ook more en vorentoe sal onthou.

Juis die week word ek aan my “vandag”-woord herinner. Ek gaan vir opvolgtoetse in Bloemfontein en voel skoon uitgemergel deur al die Flikkergram- en Xtrale kameras. Voel uitgelewer en voos.

‘n Verrassingsgeskenk wat ek kry, toe ek na die tyd by familie en vriende kuier, plaas sommer die dag in perspektief. Uit ‘n onverwagte oord kry ek ‘n DVD van Rob Bell, getiteld “Today”. Dit bevestig die waarheid dat vandag die enigste ruimte is waarbinne jy kan handel en groei.  Die regte geskenk op die regte dag.

Die aansporing van Ef. 5:16″maak die beste gebruik van elke geleentheid” is by uitstek ‘n “vandag”vers. Deur elke geleentheid ten volle te benut/beleef, belê jy in vandag se moontlikhede en sluit jy die nuwe moontlikhede vir more oop.

In sy boek “Elke dag tel” vertel John Maxwell van die basketbalafrigter wat sy spelers geleer het dat die oefensessie wat jy vandag gemis het, nie weer more ingehaal kan word nie. Dis vir altyd verlore. Daarom het hy hulle hierdie slagspreuk geleer” Maak Vandag jou Meesterstuk. Belê alles wat jy kan in vandag, dan sal jy na ‘n reeks “vandags” die goeie vrugte pluk.

Dit sluit aan by die waarheid wat Izak de Villiers uitlig in sy boek: “Wat dra my deur ‘n krisis?”. Hy verduidelik dat mens soms ontmoedig raak deur die lang proses om oorwinning te behaal oor negatiewe gewoontes en gedagtes. Jy ontmoedig jouself deur te vra: Hoe sal ek dit ooit regkry om in die bepaalde saak bo uit te kom? Hy gee dan die goeie raad om as’t ware in dagdigte kompartemente te leef, waar jy fokus op elke dag se taak en klein oorwinnings en nie die hele reis probeer vooruitsien nie. Sy raad: “Bou ‘n muur om elke dag”.

Om oop-oog te reis sal mens dus leer om elke dag ‘n muurbouer te wees. Jy “omring” as’t ware elke dag met sy eie muur. Jy ontgin die moontlikhede van vandag en word nie lamgelê deur gister se foute en verwyte nie. Jy leer om met die genade van Bo met nuwe oop-oë te kyk en en te weet: vandag is die enigste ruimte en tyd wat ek het om ‘n verskil te maak.

Dit lyk my die ou man wat die hoofkarakter is in die film: “The Milagro Beanfield war” het die waarheid goed verstaan. Met ‘n troeteldiervark as enigste geselskap leef hy op sy lappie grond wat gierige grondbaronne wil inpalm vir hulle selfsugtige doeleindes. Ten spyte van al die woelinge om hom stap hy en sy vark rustig dorp toe waar hy steeds sy sake ongejaag afhandel.Hy leef elke dag rustig maar tog voluit. Soggens as hy opstaan gaan staan hy voor die spieël, strek hom uit en sê: ” Thank you God for letting me live another day.”

Mag die dankbare ontvangs van “vandag” jou reis bepaal!

Die Hart van Lig

Monday, June 7th, 2010

Hartjiehortjiehuisie. Philippolis. 8 Oktober 2008

Die rare ding gebeur. In die toegeluikte huisie in Tobie Mullerstraat duur die nag langer en word daglig eers gestuit. Totdat – die son trefseker die uitgesnyde patroon op die luik vind en sy aankoms hartvormig aankondig. Dit word ‘n lekker wakkerwordspeletjie – kyk of die luikhart al lig deurskyn, dan is dit ‘n duidelike teken van die nuwe dag.

Lig. Jy weet as dit daar is. veral na ‘n lang nag met skrikdrome is lig die verspieder wat verlossing bring. Ek onthou een so uitgerekte wag-vir-die-lig nag toe ek vier jaar oud was. Ons het by my familie gekuier. Die vorige aand het ons ‘n oorlogsfilm in die inryteater gaan kyk. Ek dink nie my ouers het besef hoe grafies die geweldstonele gaan wees nie.  ‘n Toneel van ‘n geweldige bombardement ruk die dorpie aan flarde. In die volgende  toneel hardloop ‘n seuntjie beangs deur die vernielde strate opsoek na sy ouers. Uiteindelik vind hy die lyke van sy ouers net buite die dorpie aan die rand van die bos. Hulle lê  leweloos verwronge met bloed op hulle gesigte. Hy gaan kniel by sy ma en tel haar hand op. Dit gly willoos terug. Die kamera fokus op die seuntjie se ontreddering en angs. Die nag sien ek die prentjie  eindeloos voor my oê afspeel. Dit word ‘n lang nag. As mantra om die donkerte te besweer prewel ek my ouers  se name.  Uiteindelik verval ek in ‘n rustelose slaap. Toe ek wakkerword merk ek op dat die gordyne lig begin word. Soos die lig toeneem, kan ek die patrone op die gordyne al duideliker uitmaak –  sulke bamgoesgrasse wat geleidelik verkleur. Uiteindelik is dit dag!

LIG. Net die sê van die woord klink sommer reg. Véérlig. Lig kan niks anders as lig wees nie. Aan die bestaan van lig kan mens nooit twyfel nie – jy wéét wanneer lig teenwoordig is.

Die bevrydende teenwoordigheid van lig maak my altyd opgewonde, veral as dit deurbreek op plekke waar die donker wou  paaiboelie speel.

In haar outobigrafiese vertelling: “Om die son te aanskou” vertel Audrey Blignault van so ‘n donker tydperk in haar lewe na die motorongeluk waarin haar man dood is en sy ernstig beseer is. Terwyl sy by haar dogter en skoonseun kuier, dra sy die binnedoodsheid van seer en verlies. Dit duur etlike weke. Tot op ‘n dag. Haar kleinseun sit in sy stootwaentjie. Sy merk op hoe hy verwonderd die ligstrale dophou en dan gryp na  die klein stofdeeltjies wat in die ligbane ronddans. Hy gryp aanhoudend en lag uitbundig. Op daardie oomblik gebeur daar iets in haar binneste. Sy self sien die lig wat so sonder voorbehoud skyn en ‘n klein seuntjie gelukkig maak. Skielik voel dit asof die lig ‘n pad deur die donker in haar binneste brand. Sy onthou ineens die woorde van die Bybelvers: “Soet is die lig en goed is dit vir die oë om die son te aanskou (Pred 11:7).

‘n Wonderlike eienskap  van lig bly my by: ‘n eksperiment met ‘n glasprisma in die Skeinatklas. ‘n Sterk ligstraal val met ‘n bepaalde hoek by die prisma in en breek dan oop in ‘n kleure-reënboog. Lig herinner altyd aan die verrassing wat weggesluit lê vir diegene wat dieper wil kyk en bereid is om te wag.

In die film : Marvin’s  Room speel ‘n jong Leonardo DiCaprio die rol van van Hank, ‘n tienerseun vir wie al die komplekse werklikhede van die lewe te veel raak en dan uit reaksie sy enkelouer ma (gespeel deur Meryl Streep) se huis aand die brand steek. Sy ma kry toestemming om hom tydelik na sy oupa, Marvin, te neem. Die oupa is al vir twintig jaar chronies siek en bedleênd. Hank is onwillig , maar wanneer hy wel sy oupa vir die eerste keer ontmoet, vorm daar ‘n vreemde band tussen hulle. Hy besef dat sy oupa eintlik niks het om hom te vermaak daar in die donker siekekamer  nie. Hank prakseer ‘n plan – met ‘n spieëltjie kaats hy die ligstreep wat deur ‘n spleet in die gordyne val, tot by sy oupa op die bed. Wanneer sy oupa die ligkolletjie opmerk, begin hy reageer en daarna gryp. Met behulp van die spieëltjie laat Hank die ligkolletjie oral in sy oupa se  kamer dans. Hy sien hoe sy oupa dit geniet. So klein gebaar, so groot reaksie.

Om oop-oog te reis beteken dat mens die ligstrale sal raaksien. Soms byna kinderlik weer daarna sal gryp en dit toelaat om tot diep binne jou te skyn. Dan kan mens ook soms soos ‘n stukkie spieël wees wat die lig inkaats tot by ander wat in gedempte vertrekke smag na die dans van lig.

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh1:5)

My Something-went-wrong-roos

Thursday, June 3rd, 2010

 

3 Junie 2003.

Vandag is die dag van die UITSLAG.

Die biopsies is gedoen, die bloed is getrek en ontleed. Sonar en skandering is ook agter die rug. Die ongenadige blootstelling van lyf onder kliniese ligte en oë.

Die dokter sal net na ses vanaand die resultate bring. Dit gaan ‘n lang dag wees.

Maar eers bring iemand vir my ‘n enkele roos. Tussen die ruikers wat vroeër reeds gekom het, lyk die enkele roos maar baie…..enkel. Tog het die roos ‘n storie. So vertel die roosdraer. Ek glo haar want sy ken blomme, veral rose.

Dis ‘n Leonides-roos. Die Leonides-roos is nogal ‘n gesogte roos. Dit was o.a. Hansie Cronje se gunsteling roos gewees. Op sy begrafnis verlede jaar moes bloemistes bontstaan om genoeg Leonides-rose in die hande te kry.

Ek hoor dat hierdie ‘n baie besondere Leonides roos is, een van ‘n spesiale groep.

Ek verdiep my in die vertelling: Tydens die kweektyd van die roos en sy roosgenote in die beskutting van hulle kweekhuis is hul gelykmatige en voorspelbare roosbestaan wreed ontwrig. ‘n Geweldige rukwind steek op en waai die dak van hulle kweekhuis af. Die gesogte troetelrose word eensklaps uitgelewer aan die elemente – vir die eerste keer voel hulle die skerpte van die son direk op hulle delikate roosblare, die warrel van die wind, maar ook die lafenis van regte reën. Natuurlik voel hulle heel weerloos – hulle is immers ontwerpersrose en nou kry hulle swaar. Byna soos om Koningin Elizabeth na ‘n brand in Buckingham paleis in ‘n plakkershut met gate in die dak te laat bly.

Die rose regeer op die swaarkry en die sonskyn – kleurvlekke verskyn- songeel spatsels op hierdie andersinds letsellose rose. Interessante patrone vorm op die buiteblare van elke roos. Elke ontwerpersroos kry ‘n unieke karakter. Soos gebeur met ‘n foutiewe munt of seël wat gedruk word, begin die mense navraag doen oor die unieke Leonides-rose. Die rose kry ‘n bynaam: Leonides Something-went-wrong-rose. ‘n Paar van die rose beland in Welkom. Een word persoonlik afgelewer by bed 22, Chirurgiese saal, Medi Clinic. Op die dag van die gevreesde uitslag. Ek identifiseer met die roos en sy verhaal.

Something went wrong. Dit sien ek op die spesialis-dokter se gesig toe hy vra dat ek saam met hom na die kantoortjie in die saal moet kom. Ek verkies die privaatheid van die kantoor. Die tweebed kamer is nie privaat nie.

Hy deel my die feite nugter mee: Die biopsie bevestig ‘n infiltrerende hoëgraadse adenokarsinoom. Die Gleasonskaal toon ‘n hoë 7. Die PSA telling wat nul moet wees is hemelhoog: 323 – net soos die Mazda! (Toe ek die telling later aan ‘n Doktersvriend van my deurgee, uiter hy net een woord: Bliksem!)

Die spesialis verduidelik die opsies. Hy teken prentjies op die papier – ‘n eendimensionele prostaat. dis nie my liggaam wat so lyk nie. Hy voeg die pyltjies in om na die verskillende behandelings-opsies te verwys. Ek neem dit in asof deur ‘n filter. Vra wat hy sou gedoen het as hy in my (prostaat) skoene gestaan het. Hy vertel. Verduidelik. Skryf moontlikhede op die papier neer. Professionele simpatie, met tog ‘n tikkie menslikheid wat deurskyn.

Later toe ek terugkeer kamer toe wag Leonides langs my bed. Ek glimlag wrang vir hom. Something did indeed go wrong.

Ek dink aan ‘n begrip wat ek iewers in ‘n lesing op Universiteit gehoor het – Felix Culpa – die gelukkige ongeluk. Die positiewe wat na vore kom uit die hartseer. Vir Leonides was dit so – hy het ‘n interessante geel vlek op sy buiteblaar om dit te bewys. Sy en my Skeppingskunstenaar sal hierdie dak-afwaai-liggaam-buite-beheer in ‘n Felix Culpa  omskep.

My Reisgenoot bring vir my ‘n piouter kruis met ‘n blou steen in die kruispunt. Sy sit stil by my. So baie om oor te gesels. So min woorde. Ons reispad-vriendskap het dan pas eers begin.

Later terug by die huis kry Leonides Something-went-wrong ‘n ereposisie in die wit nis in die gang. Ek neem ‘n foto.

Elke keer as ek by my kamerdeur indraai knik ek vertroulik vir hom. Ek verbeel my seker, maar ek is oortuig: sy geel spatsel knik speels terug.

Naskrif: Dis vandag presies sewe jaar sedert die dag van die uitslag. Ek kry nog steeds behandeling en die PSA wat na behandeling tot byna nul afgekom het, is weer oor die 100. Tog het soveel wonderlike dinge intusssen gebeur, veral die feit dat ek en my Reisgenoot ‘n huweliksbelofte kon aflê op ‘n herfshelder dag in Clarens.

Die Skepper is ook Herskepper. Die Something-went-wrong word ‘n belofte – Ek laat alles meewerk ten goede.

Kyk Ek maak alles nuut.

‘n Spiraalreis met ‘n doel

Wednesday, June 2nd, 2010

 

Philippolis, Suid-Vrystaat. 9 Augustus 2004

My eerste regte kennismaking met ‘n labirint. My Reisgenoot en ek kuier vir die naweek op Philippolis en sien die dorpie vir die eerste keer. Ons ontdek fasette in die dorpie wat ons opgewonde maak. Dis ‘n dorpie waar mens kan tot verhaal kom. Rustig raak. Die sterrehemel met ‘n psalm 8 verwondering beleef. Die helende stilte beleef. Ek dink weer aan die aanhaling wat ek iewers gelees het: ” Silence is God’s first language, all the others are bad translations.” Ons geniet ons kuier op Planeet Philippolis!

Die Sondagmiddag is dit die ideale tyd om die labirint te verken. Dit vorm deel van die Laurens van der Post Gedenktuin en is teenaan die mooie Moederkerk geleë. Ons stap met die paadjie wat lei vanaf die Suilegang. Dit voel opwindend. ‘n Ontdekkingstog. Ons betree die steenpaadjie van die labirint. Dit vorm ‘n uitkringende spiraalroete wat jou soms nader aan die middelpunt neem en dan weer verder. Amper soos ‘n belofte wat jy weet moet waar word, maar wat soms bietjie dowwer raak. Nes jy dink, nou gaan jy nooit  die middelpunt bereik nie, dan swenk die paadjie weer belofteryk binnewaarts. Tussen die spirale van die steenpaadjie is daar watervore, dus moet jy mooi opletloop, anders trap jy die paadjie mis en beland kniediep in die waterslootjie. Dit gebeur toe ek dit die minste verwag – ek probeer ‘n foto neem van my eerste labirintreis en trap die paadjie mis. Toe my linkerbeen wegsak in die waterslootjie duik-val ek vorentoe terwyl ek die kamera verbete vashou. So maak ek eerstehands kennis met die steenpaadjie en voel ek die growwe tekstuur van die bakstene teen my wang toe ek daar lê. Ek glimlag – dis tipies soos dit gaan in die lewe. Nes jy dink jy is mooi op dreef (“look Ma, no hands!”) dan maak jy met ‘n slag weer kennis met die harde werklikheid. Gelukkig is nie ek of die kamera beskadig nie nie. Met ‘n groter versigtigheid én nedrigheid loop ek die oorblywende stuk en bereik die kern sonder enige verdere ongevalle. In die kern van die labirint maak ek myself tuis en beskou al die steenkronkelinge om my. So stukkie lewenswaarheid leer ek hier in die hart van die  labirint – dit maak nie saak hoeveel draaie en wendings jou lewenspad neem nie, daar is ‘n einddoel en dis eers met die aankoms by dié doelwit dat jy die patroon van die pad verstaan.

Later lees ek bietjie meer oor die verskil tussen ‘n labirint en ‘n doolhof. By ‘n doolhof kan jy jou vasloop en dan moet jy terugdraai en weer soek na die regte pad. In ‘n labirint is daar slegs een roete. Dit kronkel soms verder en soms nader aan die eindpunt, maar dit lei altyd tot by jou eindbestemming. Ek lees ook oor die spirituele simboliek van die labirint. Op jou reis na binne moet jy ligter word deur van die oortollige bagasie ontslae te raak (‘n baie moeilike opdrag vir my wat so kan opgaar!). Wanneer jy dan die middelstuk van die labirint bereik, moet jy dink oor jou reis terug. Op hierdie terugreis moet jy nuwe dinge saamneem.Dit is die goeie  ontdekkings wat jy maak oor die sin van jou menswees en jou doel op aarde.

Met my eerste   kennismaking met die labirint leer ek dus sommer meer van die lewe en van myself. ‘n Jaar later sou ek weer in die middel van die labirint gaan sit om ‘n belangrike besluit te neem. So word die labirint ‘n belangrike deel van my “oop-oog reis”.

 Gaan loop dus gerus die honderd-vier-en-sestig treë van die labirint op Philippolis. En ontdek die vreugde van bagasie minder maak. Hou bietjie lewensvoorradopname. En pak dan die regte  benodigdhede in jou reissak., Mooi reis!

‘n Kerk, ‘n Sjabloon, ‘n Kamera, ‘n Kiekie

Tuesday, June 1st, 2010

 

Augustus 2005. Rosendal. ‘n Badkamervenster.

Wie sê mens kan nie ver kyk en oop-oog reis in ‘n Badkamer nie?
My Reisgenoot en ek is op ‘n verkenningstog in Rosendal, Oos-Vrystaat. Ons verken, verkyk en verluister ons aan alles wat die klein dorpie te bied het. Uiteindelik besoek ons Turksvy Trading. Dis ‘n winkel geskoei op die lees van ‘n outydse handelshuis. Iets van alles. Nostalgiese goed. ‘n Ware ontdekkingstog vir ons twee reisigers.

Selfs die badkamer van die winkeltjie is interessant. ‘n Groot ou enemelbord wat ondergronds in myne voorkom, is aangebring by die toilet: GEVAAR. SKIETWERK AAN DIE GANG!

Maar dis die venster wat my boei. Op die ruitjies is daar sjabloonwerk in die vorm van ‘n takkie met ‘n blaar. Kyk mens egter deur die oop blaargedeelte, is die mooi ou sandsteenkerk van Rosendal sigbaar. Dis ‘n foto werd. Met my digitale kamera wat nog ‘n nuwe speelding is, fokus ek deur die sjabloonprent op die kerk en druk die sluiter.
Ons eie “kyk” op die kerk word vasgelê.

Met hierdie blog-inskrywings wil ek graag probeer anders kyk, verder kyk en moontlik ook nuut kyk. Ons is redelik kykvoos. Herhalende beelde op die TV, moegmakende berigte in koerante, tekens van verwaarlosing wat ons in ons omgewing opmerk, maak ons kyk dof. Verwagtingloos. Laat ons versigtig kyk en kyk sonder verwondering.

Ons kyk blind. Soos die bedelaar wie se verhaal on Lukas 18 so aangrypend vertel word. Jesus vra : Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Hy antwoord dringend: Dat ek kan sien!

Sien is nie altyd net die sigbare waarneem van die werklikheid om ons nie – dis ook om met ‘n binne-oog te sien. Met jou hart te kyk. Soos die nuutkyk van ‘n kind.

Op hierdie blog “Om oop-oog te reis” wil ek graag saam met jou oefen om nuut te kyk. Daarvoor gaan ons foto’s, skilderye en soms net iets so eenvoudigs soos ‘n herfsblaar gebruik.

Ek sien uit na die reis!