Archive for December, 2011

Hark die Engele nader! (kersfees op Philippolis)

Thursday, December 15th, 2011

Op Philippolis het ek leer hark. Doodgewone alledaagse hark met ‘n langsteelhark. In die agterplaas van ons huisie met sy gruisgrond tussen die druiweprieel en die stal. Maar hark is nie maar net die bymekaarhark van blare of klippies of grond nie. Hark is soveel méér. Dis gedagte-ordening. Dis droomsekwensies en grondskilderye.

 Op Philippolis het ek eers my Ouma Alwine se harkpassie begin verstaan, haar verbete vee-sessies. Want hark en vee is nie net ‘n skoonmaakding nie, dis ordeskeppende rituele – die uitvee van die oue en ongewenste –die inhark van die nuwe…..

 Vroegmore op Oukersdag staan ek en hark  met ‘n engelrefrein in my kop: Hark now hear the angels sing, glory to the newborn king, So  al harkende met die “Hark” van die engelelied  as temamusiek , begin  my gedagtes op ‘n tweespoorpad loop. Een spoor loop terug, die ontdekkingspad van die  reis tot hier –  die ander vorentoe, die vooruitsig van ‘n eerste Kersfees saam met ou en nuwe vriende in hierdie dorpie wat soveel seën vir my, vir ons gebring het….

 Vir jare was Philippolis net die naam van ‘n dorpie iewers in die Suid-Wes Vrystaat. Op ‘n dag lees ek van Anna Neethling-Pohl wat terugkeer na Philippolis want dis die plek “om sterre te pluk’. In my agterkop liasseer ek die woorde, want so ‘n plek moet mos verken word. Jare gaan verby. Op die langnaweek van Vrouedag 2004 besluit ons om die “sterre-dorpie” te verken.

 ‘n Onverklaarbare iets gebeur toe ons die eerste keer Philippolis binnery. Ons is moeg van die gejaagde leefstyl. Ervaar ook die middeljare as plato-tyd. Soms selfs soos Klaagliedere se gruisklippie-in-die-mond-tyd. Die verwoede tempo van elke dag doof die lewensmusiek uit. Dit voel byna asof die engeltjies so bietjie op AWOL is. Her-oriëntering is nodig. Ons het  ‘n behoefte aan die salwing van ‘n rustige plekkie. Ongejaag en Leef-vriendelik.. Toe ons om die laaste draai vanaf Trompsburg se kant die dorpie nader ervaar ons so gevoel van bekendheid, van tuiskom Ons eerste aanblik van die dorpie is die kerktoring met sy besondere swart spitsdakkie. Ons  gastehuis is teenaan die kerk. Vir die duur van die naweek word die kerktoring die baken, die uurlikse klokslag ons sonwyser.

 Ons ontdek ‘n dorpie wat ‘n geskiedenis, ‘n storie met hom saamdra. En ons nooi om deel van sy  verhaal te word. Ons leer nuwe mense ken. ‘n Hartlikheid wat in ons resoneer. Ons leer stap waar ons wil wees. Af met Voortrekkerstraat. “n Ry dennebome langs die straat en een akkerboom as uitroepteken. Verby Indraf, Kokkewiet en Ons Dien, die twee kafees en die een algemene handelaar. Verby die Emily Hobhouse gedenktuin. ‘n Heerlike ontdekkingstog van karaktervolle historiese huisies. Ons raak verlief op die dorp en sy outentieke karakter. Ons leer mense ken.  Jim Reeves se Liedjie van jare her “A stranger’s just a friend you do not know” kon hier geskryf wees. Ons ervaar die opwinding van ‘n besigtigingstoer van  Philippolis op  Café se perdekarretjie, die Saterdagmiddag. Besluit: die rit is die naaste wat ons aan ‘n Suid-Afrikaanse Jingle Bells slee-rit kan kom! 

 Sondagoggend woon ons die erediens in die pragtige ou historiese kerk by,  Die gebou het die aanslae van die  Anglo-Boere oorlog, sowel as die twee wêreldoorloë oorleef . Die spitsboog vensters skep ‘n gewyde atmosfeer. Die inspirasie van die Woord en orrelmusiek skep ‘n  diep vrede in ons.

Na die diens staan die mense buite die kerk en gesels. Ons herken al ‘n paar gesigte en vriendelike glimlagte.

 Later verken ons die Labirint  wat deel vorm van die Laurens van der Post  gedenktuin. Steenspirale waarop mens kan loop, vertel van ‘n geestelike reis. Die loop daarvan is ‘n ontdekkingstog na binne waartydens jy al die negatiewe dinge en oortollige bagasie aflê. In die kern van die labirint sien jy as’t ware jou lewenspatroon. Ontdek jy jou kern-self, dit wat ten diepste saak maak. Dan is jy gereed om die terugspiraal te loop en simbolies die goeie lewensbagasie op te tel. Die spirale van die labirint bevestig dit wat ons reeds ervaar.-‘n rusplek waar jy die binnereis met insig en ‘n rustige eerlikheid kan aandurf.

 Maandagoggend voor sonsopkoms, klim ons teen die koppie in die middel van die dorpie uit. Twee kanonne staan waaksaam en tuur oor die slapende dorpie. Ons sit en wag die son in. Toe die strale teen die kerktoring en kanonlope  blink, lag ons uitbundig oor die kontras van kanon en kerktoring wat so in mekaar se skadu staan.

 Ons neem swaar afskeid van die dorpie met sy karaktervolle geboue, eiesoortige sjarme en vriendelike mense. Na Planeet Philippolis (soos ons die ervaring doop) sal ons gewis terugkeer.

 ‘n Jaar later hang ek ‘n glasengeltjie in die oop raam wat uitkyk op die kerk. Lynette se geskenk aan my.  Dis lente. Nuwe lewe bot oral. Hierdie keer gaan ek alleen. Dis tyd vir kopskrop. Retraite. Tyd om die wintersheid van ou bagasie af te skud. Om ongeskryfde woorde neer te pen. Ek gaan tuis in die Laurens van Der Post Skrywershuis.

 Toe ek die Sondagaand skuins voor middernag in die bed klim, is daar die welbehaaglike gevoel – ek is weer op  die “sterre-pluk-plek”. Ek luister na die twaalf afgemete klokslae en  voel soos ‘n eietydse Marco Polo.My tweede besoek aan die hartsplek word ‘n ontdekkingstog, geografies en spiritueel,  ‘n verkennende omlyning van my binnestem.

 In die drie dae wat volg groei die besef: hierdie plekkie se bekoring lê diep. Daar is ‘n byna magiese kwaliteit aan die omgewing wat moeilik in woorde vasgevang word. Saans verwonder ek my aan die wydsheid van die uitspansel. Die stilte. Dink weer aan die aanhaling: “ Silence is God’s first language, all the others are bad translations.”

 Soggens vroeg is ek op die solder van die skryfhuis voor die rekenaar om my eerste indrukke van die dag neer te pen. Soos eerste voetspore op ‘n skoon strand. Ek kry kans om die Woord rustig in te neem. Te dink. Gedagtes neer te skryf.  Die uurlikse kerkklok beaam die proses. Ek ervaar die oop stilte waarin mens so bewus word van God.

 Later  in die dag is dit verkenningstyd. Gesels ek, vra ek uit. Leer ek meer van die dorpie en sy inwoners ken. Ek ontmoet Richard Proctor-Sims, ‘n uitgewer wat onlangs hierheen verhuis het. Hy bly in Oom Japie se huis en bedryf sy spesialis boekwinkel  en ‘n restaurant vandaar. Hy vertel dat hy die land deurreis het op soek na ‘n plek om in af te tree, ‘n aantal moontlike plekke op sy kortlys geplaas het, maar  sy hart in Philippolis verloor het.

In Tobie Mullerstraat ontdek ek ‘n  klein,  historiese huisie met ‘n Te Koop-bordjie. Dit het groen luike en voordeur, in  tipiese Karoostyl gebou met ‘n gestroopte eenvoud. Die naambord links van die voordeur lui: Hartjiehortjie Huisie. In elk van die ses groen luike is ‘n hartjie uitgesny.  Die res van die oggend, terwyl ek besig is om  my eie indruk van die magiese landskap in woord en beeld te probeer vaslê, sien ek telkens in my gedagtes ‘n hartshuisie wat wag om betrek te word.

 aataand stap ek weer verby die huisie. Die sekerheid groei, hier wag daar ‘n nuwe hoofstuk. Veral toe ek ontdek dat daar agter die huis  ‘n lang erf  met ‘n bakoond en ‘n stal is.  Terwyl ek vertoef in  die eenvoudige vertrek met sy lang hout voerbak en klippiesvloer, voel dit vir my ineens of ek midde in die kersverhaal staan. Ek kry so ligte rilling van opgewondenheid. Besluit dat ek en Lynette ‘n aanbod op die huisie moet maak. Wat ons toe  die volgende  week  wel doen.

Advent 2005. Ons  kuier in Philippolis en ontvang  die goeie nuus dat die huisie nou amptelik ons s’n is. Ons hoor dat die huisie uit 1861 dateer en dat die oorspronklike transportakte deur Adam Kok III onderteken is. By die greinhouttafel sê ons dankie vir die hartshuis met sy plankvloer-voorhuis, slaapkamers, badkamer en kombuisie met ‘n rietjiesdak (brakdak), vuurherd en koolstoof. In die slaapkamer met die mooi muurpapier maak ons ‘n fyn engeltjie staan. ‘n  Versierde Koniferboompie  by die venster in die voorhuis .

 Vroeg op Oukersdag word die werf skoongehark. Die harkpatrone word landelike skilderye met Van Gogh se spiralende lug, golwende koringvelde wat tuiskom op Vrystaatse bodem. So al harkende neurie die engelekoor hulle kersagenda..

 Die werklikheid oortref self ons beplanning. Onder die sterre braai ons karoo-skaaptjops. Die bykosse is reeds gereed. Die greinhouttafel word uitgedra en op die voorstoepie teenaan die straat geplaas. Dit word feestelik versier.

Die lui van die koperklok is die aanduiding dat die fees begin! Twee krulkopdogtertjies hardloop na die stal waar verligte glasengeltjies  op die rand van die voerkrip hulle verwelkom. Die ou verhaal van die Jesuskind klink selfs vir ons volwassenes nuut hier in die gestroopte omgewing waar diere oor baie jare ‘n skuiling gevind het. Dit word ineens waarlik Christusfees. Ek verstaan weer die eenvoud van die Blye Boodskap. Koningskind wat kripkind word. Terwille van ons. Ek sien die opgewondenheid in die twee dogtertjies  se oë. Weet dat hierdie oomblik hulle meer sal bybly as die geskenke wat wag  onder die boompie in die voorhuis.

Laataand sit ons op die stoep en sien die uitspansel. Sterre ontelbaar. Helder. Naby. Ek steek my hand asof om een te pluk. Want op Kersfees het die hemel na aan ons gekom. Immanuel. God met ons.

Iewers vermoed ek ‘n engelekoor –Vrede op aarde. Ook op planeet Philippolis.

 

Op Vlerke van die Phoenix

Saturday, December 10th, 2011

Die Apollo teater, Victoria-Wes, het ‘n wonderlike storie. Die outentieke filmteater wat vir meer as twintig jaar in sy toegeseëlde  sarkofaag gerus het, met ‘n Foschini winkel wat in sy voorportaal bedryf is, totdat dit in die negentigs herontdek is en weer opgeknap is tot sy vroeëre glorie. Die verhaal van die Apollo laat my verlang na die bioskoop-teaters uit my kinderjare – Leba in Klerksdorp en die Alpha in Welkom. Maar veral ook die Phoenix met sy mitiese naam – die Cinema Paradiso van my jeug.

 Die Phoenix teater op my  jeugdorp het nie gewalifiseer vir die term Art Deco nie. Dit was te modern, Te sestigs. ‘n Bruin siersteengebou met glaspanele. Naby die bank en die biblioteek in ons myndorpie teen die rivier. Dit was nie ‘n buitengewoon groot teater nie. Tog het dit vir my  verskriklik groot gevoel, so asof  ek in die buitenste ruim instap – ‘n Regtige Space Odyssey-ervaring.

Buite het die naam groot gepryk: PHOENIX. Die naam het wonderlike ontdekkingsreise in die binneruim van die teater voorspel. Talle nuwe droomreise sou daar begin. Helde wat hulle lewe op die spel plaas vir heldinne.  Diep fliekspore wat ‘n blywende indruk laat. Want ‘n  teater–onthou van ‘n fliek is anders as ‘n inry-onthou. Met ‘n inry onthou jy meer die geselligheid  rondom die kyk van die fliek as die trefkrag van die fliek. Selfs rillers het ‘n sekere afstand tussen jou en die skerm geskep (alhoewel jy doodbang was vir iemand wat dalk teen jou motorruit klop en grynslag!)

 Met ‘n fliek wat in die teater gekyk is, is dit  mos heel anders Dit het ‘n onmiddellikheid, ‘n impak. Jy is dààr. Daarom verg dit ook ‘n behoorlike aanloop. Die aantrek en regmaak, uitsien en  die afwagting. Die foyer. Die koop van die kaartjie. Natuurlik, moet nie die verversings vergeet nie, Coke en springmielies vir gewone Matinee’s . Vir die spesiale aandfliek:- sjokolade. As pa rojaal was die aand: ‘n boksie Nutties. As jy ‘n meisie rêrig wou beindruk : Black Magic.

Die fliekervaring uit my tienerjare wat my in stadige aksie bybly, is  ‘n film premiere in ons eie dorpie

 Dit was die era van die Afrikaanse film – Hoor my Lied het mense na sakdoekies/sneesdoekies laat gryp. Ons het lustig saamgesing met die tragiese verlamde heldinnetjie van die A en die B en die grote C. Die Afrikaanse film, die A van my ABC van fliekervarings.

Maar toe kom Die Geleentheid. ‘n Afrikaanse film se premiere word in ons dorpie gehou in 1968. Die film is (retrospektief gesien) een van die liggewigte in die Afrikaanse filmbedryf. Tog het dit ‘n immergroen sangeres van Afrikaanse musiek opgelewer. Wie het toe kon dink dat Dopper Erasmus se “Timothy” vir  Carike Keuzenkamp deure na ‘n sangloopbaan sou open?

Maar dit was altyd maar vir my  ‘n minder belangrike rede waarom “Die Professor en die Prikkelpop” so ‘n indruk op my gemaak het. Die hoofoorsaak, wat aan my slapelose nagte en visioene van skoonheid besorg het, was die een “prikkelpop” (In my oë lasterlik om ‘n engel met so woord te beskryf!) Vir my was sy ‘n eteriese wese wat aan my vaal dertienjarige bestaan nuwe kleur kom gee het.

 Haar naam (in neonligte natuurlik): Tani de Lange.

 Ek onthou nie veel van die Jamie Uys fliek nie. Wel dat ek ‘n wrewelrige haat jeens ene Serena Price (vertolk deur Bernadette da Silva) gekoester het omdat sy, die donker heks van onheil, gekonkel het om die ander deelnemers uit te skakel, veral dan vir Sue Pearson (vertolk deur Tani de Lange) – Wie kon tog dink om so boos op te tree teen die onskuldige blondekop meisiekind met die bokkiebruin  oë wat “in die moeilikheid” beland het  (‘n begrip wat waarvan die volle betekenis op dertien  nog nie vir my so mooi duidelik was nie.) Maar ek was vinnig aan die leer!

 Tani de Lange. My droomprinses wat so reg uit die silwerdoek gestap het in my dertienjarige leefwêreld in. Kry ek sowaar weer ‘n rilling hier waar ek voor my eie klein skermpie sit en die onthou uittik.

Ons familie was voltallig daar die aand: Pa, Ma en ons vier kinders. Die foyer het die aand getintel van opwinding. Al die dorpie se belangrike persone was daar, burgemeester inkluis. 

 Daar was ‘n spesiale afwagting die aand in die voorportaal. ‘n Rooi tapyt is uitgerol van die gemerkte parkeerplek tot reg voor die glasdeure van die teater. ‘n Rerige rooi tapyt. Die groot oomblik het aangebreek: ‘n Lang wit  spogmotor het  stilgehou. Die chauffeur het uitgeklim en die linkerkantste agterste deur oopgemaak.  ‘n Visioen in Wit het daar uitgeswewe. ‘n Engel. Op daardie oomblik het alles om die engelvrou vervaag en was sy presies in die fokus van my sig – die res was uit fokus, net sy en elke  detail van haar is ingegraveer op my brein- ‘n reuse ligsensitiewe vel fotopapier wat die indrukke verewig het.

 Haar hare: ‘n Stralende goue kroon op haar kop met twee goue lokke wat weerskante van haar kop spiraal.

Haar vel:  albastewit en vlekloos (vra my wat die Clearasil juis kunstig aangewend het voor die uittog die aand)

Haar neusie, fyn en pikant. Die mond, onskuldig, vriendelik en vanuit my verliefde oogpunt uiters soenbaar! Die rare kombinasie van vonkelbruin oë saam met die blonde hare.

Haar uitrusting het die vroue aan die praat gehad. n Silwerwit rok wat kuitlengte gehang het en onder die rok het die twee parmantige wit frillletjiespype van ‘n langbroek uitgesteek. Ek het ‘n vernietigende blik gewerp na die tannie met die Crimplene rok en stringe krale wat hardop gewonder het of sy dalk ‘n volksvreemde  geloof aanhang . Ek wou my hand uitsteek om aan die waas van drome te raak maar het dit maar weer ewe verleë in my blou hipster se sak gesteek.Ek kon net staar. Later sou ‘n liedjie van Peter Sarstedt my aan die oomblik herinner: Where do you go to my lovely….

 Van die fliek onthou ek net my gevoel van skreiende onreg toe sy so onbarmhartig behandel is in die kompetisie, veral  toe die oorsaak  van haar “Moeilikheid” bekend geword het. En die oomblik toe een van die beoordelaars in ‘n oomblik van meevoering by aanskoue van die prikkelpopparade sy potlood in twee gebreek het. Ek sou deur ‘n hele blik Steadler potlode kon draf en hulle tot die fynste vuurmaakhoutjies vermorsel met my nuutgevonde krag.

 Kort-kort in die loop van die fliek het my oë na die plek links voor gedwaal waar sy in die teater gesit het. Het ek  jaloers gewonder wie langs haar sit.

 Toe die eindtitels rol het ek pleitend na my pa gedraai. Pa kan ons nie maar die tweede vertoning ook bywoon nie?  Ek sal my pa ewig dankbaar bly dat hy gaan navraag doen het. Selfs al moes ons teleurgesteld verneem dat al die kaartjies uitverkoop was. Ek was bereid om enige plek in die paadjie my tuis te maak, watwou ‘n kaartjie.

 Die wonderlikste bonus egter: Na die vertoning het my droomheldin in die foyer gestaan  en kon ek weer in stadige aksie na haar kyk en elke stukkie detail indrink. Ek moes ‘n geheuskyfie neem want ek het nie my “Traveller” kamera byderhand gehad nie.

 O ek wou nie die  heerlikheid van die Phoenix se portaal prysgee nie. Hier voor my eie oë het ‘n droom waar geword. Uiteindelik onafwendbaar moes ons huis toe want die tweede vertoning het begin. Sonder my.

 Die aand het ek kwalik geslaap. Planne beraam. Die volgende dag gesoek en gevra totdat ek Mimosa ateljees se adres in die hande gekry het. My bewonderaarsbrief aan Tani gerig. En gevra vir ‘n getekende foto. Asseblief. Miskien het sy die noodkreet van ‘n tiener tussen die reëls van my briefie gehoor. Twee weke later was daar ‘n koevert in die pos vir my. ‘n Getikte briefie waarin ek bedank word vir my belangstelling. Maar wat my hart tot stilstand gebring het, was die swart en wit foto wat uit die brief geval het. My godin met die goue lokke, haar oë hemelwaarts geslaan. En regs onder in die hoekie, geskryf met swart koki-pen: Baie liefde, Tani de Lange. My beker van geluk het oorstroom. Die foto is dadelik netjies geraam en het op my lessenaar gepryk. My inspirasie deur menige tienerkrisis. Tussen die foto en die rugkarton ‘n menigte geheime bêrebriefies versteek, selfs ‘n geheime kode in Tani-taal!

 Onlangs woon ek ‘n begrafnis by in die myndorpie van my jeug. Na die begrafnis ry ek  na die middedorp. Kies onwillekeurig  koers na die Phoenix teater, plek van Drome. Toe ek stilhou waar die spogmotor tydens die premiere jare gelede gestaan het, sien ek dat die teater nou ‘n Charismatiese kerk is.

 Ek klim uit en herleef die rooitapyt-aand. En dink wrang daaraan dat Tani nou al sekerlik Ouma Tani vir haar kleinkinders is. En voel byna soos die ontnugterde Toto karakter in die film Cinema Paradiso wat weer na jare terugkeer na sy tuisdorp net om te ontdek die filmteater gaan gesloop word…

 Maar soos Toto sien ek in die as van die inmekaargeplofde gebou die mitiese herrysenis van my droom. Brokstukkies van honderde flieks wat deur die jare hul storiepad deur my kop gebaan het. ‘n Blik vol fliekuitknipsels .‘n Helde/heldingalery teen die muur wat later afgehaal is toe die muur geverf is.   Weet ek : verbeeldingsvlugte word nie deur verfwerk of  sloping  vernietig  nie. Die krag van onthou, die krag van drome sal weer en weer herleef. Vlieg Phoenix, Vlieg!