Die eerste winter na die paradyspaar uit die Tuin van Eden verban is, was koud en genadeloos. Hulle het nie iets soos koue en dorheid geken nie. Skielik was hierdie mooi aarde waarvan hulle die opsigters was, stroef en onvriendelik. Die mooi groen gras het verwelk, baie bome het hulle blare verloor en die wêreld was eensklaps ‘n vaal en troostelose plek.
Hulle het intens verlang na die skoonheid en die gerief van die idilliese blyplek wat hulle deur hul eie toedoen, moes verlaat. Die vrou het so gewens dat iets haar net weer aan die prag van hul Tuin kon herinner.
Op ‘n dag het die Skepper die mensepaar in hulle nuwe blyplek ontmoet. Die man het moeg van sy werk op die landery gekom waar hy die grond omgedolwe het om dit voor te berei vir graan wat hy binnekort sou plant. Sweet het van sy voorkop afgedrup en sy hare was vol bruin stof. Die vrou het stram orentgekom waar sy besig was om die stof wat in hulle eenvoudige huisie op alles neergesif het, te probeer wegvee.
Die Skepper het met deernis na die mensepaar gekyk.
“Julle het deur julle daad van ongehoorsaamheid gekies om julle los te maak van my wil en plan vir julle. In julle nuwe leefwêreld sal julle die werklikheid van droogtes, koue, pyn en lyding ervaar. Soos Ek egter aan julle die belofte gegee het van Een wat sal kom om die slang se kop te vermorsel, gee ek ook aan julle ‘n teken dat ek die wêreld altyd na die gestrooptheid en koue van die winter weer nuut en mooi sal maak. Ek plant vandag hier vir julle ‘n Wakkerboom om julle te herinner aan die belofte van die nuwe seisoen.”
Toe die mensepaar by hulle agterdeur uitstap, staan hulle verstom. ”n Pragtige boom met takke wat wyd en hoog sprei, staan daar – getooi met die mooiste drag spierwit bloesels. Hulle eie Wakkerboom! Jaarliks het hulle die boom stip dopgehou vir die eerste bloeisel en dan wanneer dié sy verskyning maak, het hulle ‘n danklied gesing vir Skepper wat sy belofte hou.
In my laaste jaar op Laerskool, verhuis ons in die hartjie van die winter na die Vrystaatse Goudvelde. Ons voel vreemd in ‘n dorp waar ons niemand ken nie en alles maar vaal en troosteloos lyk. Dis die middel van Julie. Selfs die huis lyk bleekvaal. Dis ‘n skrale troos dat ons twee strate van die rivier af woon want die rivier het hoë sandwalle wat deur erosie uitgekalwe is en dus moeilik bereik kan word. Ons durf die vreemde skool aan en kom smiddags stil-stil tuis. Al wat groen is, is die nuwe skoolklere wat ons nou dra.
Amper ongemerk begin die verandering in die natuur. Een oggend roep my ma ons opgewonde na buite. Sy staan op die stoep en beduie met ‘n glimlag na bo. Toe ons opkyk, sien ons die wonder: die vaalgrys takke van die reuse ou boom teen die stoep het ‘n tooisel heldergroen blaartjies. Dit voel asof hulle byna oornag oopgegaan het. Miskien was ons net te besig om die klein swellende botsels te sien, maar op hierdie lente-oggend staan die boom in sy liggroen lentedrag. Sommer vinnig word die res van die tuin en die dorp groen en vertoon helder lenteblomme in tuine en parke. Langs die rivier bot die bome en is daar oral vinkneste. Die omgewing word eensklaps vir ons mooi. Ons voel sommer tuis. Ons eie Wakkerboom herinner ons jaarliks aan die koms van die lente.
Kort na Jeremia se roeping as profeet, is hy moedeloos oor al die opdragte wat hy ontvang het. Boonop is sy verweer: Maar ek is jonk. Hoe sal ek tog al die boodskappe aan ‘n wederstrewige volk kan oordra? Hulle sal my afkraak en spot. Tog laat die Here vir Jeremia iets sien wat hom kan versterk.
” Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien ’n amandeltak.
Toe sê die HERE vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring” (Jer 1:11,12)
Die naam van die Amandelboom hou verband met die Hebreeuse woord vir “wakker”. Juis omdat die die Amandelboom van die eerste bome is wat in die lente sy bloeisels vertoon, is dit dus gepas dat hy die Wakkerboom genoem word.
‘n Paar jaar gelede kry ek met my verjaarsdag ‘n Amandelboompie as geskenk. Omdat ek weet dat ek nie onbepaald in die huis gaan aanbly nie, plant ek die boompie in ‘n groot pot. Een oggend sit ek op die stoep en en teedrink. Die winter het skaars begin om sy wyk te neem. Skielik val my oog op die boompie. Sowaar! Die eerste bloeisels sit aan die takkie. Ek gryp dadelik my kamera om dit vas te lê. My eie wakkerboompie.
In die 1990 film “Awakenings” word die verhaal vertel van ‘n neuroloog (vertolk deur Robin Williams) wat die effek van die middel L-Dopa ontdek. Wanneer hy dit toedien aan pasiente wat lank ‘n ‘n tipe koma was, ontwaak hulle uit hierdie jarelange toestand van komatose. Dit voel soos ‘n nuwe lewe en bring ‘n opgewondenheid onder almal. Ongelukkig duur die euforie nie lank nie, want die effek van die middel is nie blywend nie. Geleidelik sak die pasiënte weer een vir een terug in hulle vorige toestand.
Elke lente se Wakkerboom word weer later ‘n winterboom. Die bloeisels en blare verdwyn en die takke staan maar weer kaal. Tog is elke lente ‘n herinnering aan die belofte van ‘n “wakker” Skepper wat ook sy belofte om alles nuut te maak, gestand sal doen.
Elke lente bring ons nader aan die Paradysseisoen.
Vier daarom vandag die lente!
Dankie. Dis besonders. Jy verras my elke keer as ek hier kom lees. Meer mense moet hierheen kom.
Dit is die “essens” van die lewe…Baie goed oorvertel. Ek’s so bly ek kon dit lees
I really like your website, even more so the pics, do you really take them yourself? Here in The USA we’ve been blessed with a vast selection of blooms, probably the most amazing of which are in all probability the springtime plants. Am I Able To use a few of the photos with my personal blogging site? I will backlink any photos back here obviously. Sarah Evans
Thank you Sarah for your comment. I am a keen photographer and only use my own pics in the Blogs. (Except when I use a photo of a film poster etc.) You are welcome to use some of the photo’s on your personal blogging site with a backlink. Wim Fourie
Ons kosteres by die kerk het ‘n stem hoor se:”jy sal sien” maar daar was niemand, op dieselfde tydstip het ons predikant “woord” gekry uit Jer 1:11+12. Ons kosteres het tydens gebed met ons predikant gepraat oor wat sy gehoor het. (Sy is vroeg in die jaar gediagnoseer met kanker in die baarmoeder) en die teks, dit wat sy gehoor het en die boodskap van die “wakker”boom die belofte van Jesus van die nuwe lewe. Dit alles saam met dit wat ek hierbo gelees het is net ‘n openbaring. Baie dankie