As vierjarige lê ek op ons kombuisvloer. Die laatmiddagsonlig stroom deur die venster in. Ek kyk op en sien groot ou boom se takke. Ek is moeg prentjies geteken en begin om my eie letters op die papier te vorm soos ek dit in my ousus se leesboek gesien het. Ek skribbel ‘n klompie van my hiërogliewe op die papier en hardloop opgewonde na my Ma wat voor die stoof besig is. Sy kyk na my geskribbel en “lees” my hiërogliewe: “My naam is Wimpie en ek kan skryf.” Net daar word die saadjie in my binneste gebore. Iemand kan lees wat ek skryf – ek gaan aanhou tot ek mooi kan skryf sodat ander mense kan lees dit wat ek op papier sit. Selfs al neem dit baie lank.
Vandag wil ek iets neerskryf oor vensters. En hoop dat iemand anders die “briefie in ‘n bottel” sal optel, oopmaak en lees.
Adventtyd is venstertyd. Nie alleen sien mens in die tyd dikwels versierde vensters met liggies en Kersboompies nie, maar die hele tydperk bied vir mens ‘n venster op ‘n nuwe begin.
Juis daarom bly die Adventkalender met sy vyf-en-twintig venstertjies waarvan een elke dag tot en met Kersdag oopgemaak moet word, altyd vir my ‘n lekkerte wat ek nooit sal ontgroei nie. Dit is ‘n geskenk wat ek graag aan kinders te gee en so iets van die afwagting en opwinding van die tyd tasbaar en sigbaar te maak.
Vensters het ‘n tweeledige gesig. Eerstens is dit die belangrike uitsigpunt na buite. Dit keer jou van inkerkering en vereensaming in jou eie klein wêreldjie. Tweedens bied vensters dit ‘n prentjie na binne. Kan mense van buite ook insien en iets sien van die lig wat binne-in ‘n huis skyn en selfs versierings wat in ‘n vertrek staan, veral nou in die kersgety.
Vandag sal ek graag iets wil skryf oor vensters met ‘n uitsig, vensters na buite. En graag begin met ‘n verhaaltjie. Op die internet is daar ‘n webwerf getiteld” Tommy’s window” (www.tommyswindow.com ). Daar kan mens inspirerende verhale en Powerpoint aanbiedings te siene kry. Die verhaaltjie wat hierdie webwerf en die versending van soveel inspirerende epos tot stand gebring het, is as volg:
Tommy was ‘n kreupel seuntjie wat in op die derde verdieping van ‘n ou gebou in die middestad gebly het. Sy gebrek het dit vir hom onmoontlik gemaak om te beweeg, dus het hy sy dae deurgebring in sy bed teenaan die venster wat uitgekyk het op die besige straat daaronder. ‘n Koerantjoggie-vriend van Tommy het op ‘n dag vir hom die boek gebring wat vertel van die Man wat soveel goeie dinge gedoen het. Dit was ‘n Nuwe Testament. Saam-saam het die twee maats dit deurgelees en die wonderlike waarheid verstaan: Dat Iemand hulle so liefgehad het dat Hy sy lewe afgelê het om hulle skuld te betaal. Kinderlik het Tommy hierdie belofte sy eie gemaak. Toe het hy die dringende wens gehad om ook hierdie boodskap met ander te deel. Maar hoe sou hy dit kon doen – hy was dan verlam?
Tommy het begin bid vir ‘n oplossing en daar het ‘n antwoord na hom gekom. Hy het begin om inspirerende versies uit die Bybel op stukkies papier neer te skryf. Die papiertjies het hy dan deur sy venster na buite laat val en dan het die flentertjies papier gedwarrel tot onder op die sypaadjie waar verbaasde voetgangers die papiertjies sou optel en die goeie nuus daarop lees.
‘n Welgestelde sakeman het eendag so papiertjie opgetel en dit het sy hele lewe verander – hy het die Goeie Nuus van Jesus se liefde vir hom ontdek. Hy het teruggekeer na die plek waar hy die papiertjie opgetel het en was net betyds om te sien hoe nog ‘n papiertjie neerdwarrel en voor die voete van ‘n krom ou vroutjie beland. Met veel moeite het sy gebuk en die papiertjie opgetel. Die sakeman het opgemerk hoe haar gesig by die lees daarvan ophelder. Sy het sommer flinker gestap toe sy verder van daar gaan.
Die sakeman het bly staan en die vensters bokant die straatvlak dopgehou. Uiteindelik het hy gesien hoe ‘n wit armpie uit ‘n venster op die derde vloer te voorskyn kom en nog ‘n papiertjie na onder laat val. Die sakeman het die posisie van die woonstel bepaal en hom met die trappe gehaas na die die spesifieke plek op die derde vloer. Daar het hy Tommy gevind en hom bedank vir die groot verskil wat hy in mense se lewens maak met sy boodskappies. Hy het ook voorgestel dat hy en sy vrou na Tommy sou omsien in sy gerieflike huis in die buitewyke van die stad. Tommy was baie dankbaar, maar het tog gesê hy sal eers sy Groot Vriend, Jesus, moet raadpleeg. Toe die sakeman die volgende dag terugkeer om Tommy se antwoord te hoor, het Tommy bloot gevra;” Gaan daar by die huis waarheen jy my wil neem ook mense onder my venster verbystap?” Toe die man verduidelik dat die huis op ‘n landgoed staan en dat daar nie mense sou verbystap nie, het Tommy geantwoord: ” Ek kan nie in ‘n huis bly waar daar nie mense onder my enster verbystap nie, want ek boodskappe wat ek moet aflewer. Baie dankie vir die aanbod, maar ek het ‘n werk om hier te doen.”
Die eenvoudige verhaaltjie laat mens net opnuut besef dat ons die vensters in ons lewens moet benut. Iewers het ek ‘n opening waardeur ek mense kan bereik.
Die foto bo-aan die Blog het ek in Maart 2005 op De Compagnie, Wellington geneem. ‘n Droom het vir my waar geword. Ek het die vorige jaar ‘n kreatiwiteits- en skryfkursus op dieselfde plaas bygewoon. Nou was dit ses maande later en kon ek tydens die reunie en opvolgsessie in die idilliese Jonkershuisie op die plaas bly. Ek kon ook my droom om te skryf, begin bewaarheid. Al daardie flenterjies papier en verhaalfragmente wat ek altyd onderin my lessenaarlaai gedruk het, kon ek nou begin gebruik. Dis die begin van ‘n nuwe reis en ek begin om my Pandora-kissie met goeie en minder goeie skryfidees te ontgin. Ek “pos” versigtig my skryfbriefies by die Venster van Moontlikhede. En sien met verbasing hoe sommige briefies opgetel word, gelees word. Sommige bring selfs ‘n reaksie na vore.’n Droom wat sewe-en-veertig jaar gelede gebore is terwyl ek letters op ‘n kombuisvloerprobeer vorm het, word waar.
Hoe lyk jou vensters na buite? Gebruik jy jy jou “posbus?”
Adventtyd vertel juis van die grootste Liefdesbrief wat daardie eerste Kersnag in die onwaarskynlikste posbus gepos is – ‘n stal in Bethlehem word God se posbus aan die wêreld, aan jou en my.
Die Brief roep om ‘n antwoord. Al is dit net ‘n flentertjie papier.
Ek sien uit om elke keer “n briefie” op te tel! Vir my maak elke briefie n ruitjie skoon – ek kan weer met ander oe na die lewe kyk.Baie dankie vir die voorreg om die lewe saam te beleef en te herleef. Vrede en vreugde vorentoe!!!!!!