Ek is my lewe lank op reis
Ek volg die weë van die twyfel
Ek soek na wat ek nooit sal vind nie
Want ek wil dwarsdeur die dood heen sing
Ek wil probeer om iets te maak
Ek wil nie breek nie, ek wil nie haat nie
Maar op soek na mooi woorde
Het die liefde my verloor
Koor:
En ek is altyd maar oppad
Altyd maar oppad
Ek reis onrustig en onseker
Tussen die liefde en die leegte
Die Afrikaanse vertaling wat Amanda Strydom gemaak het van Stef Bos se lied: “Tussen de liefde en de leegte”, het nogal deur my kop geflits die afgelope naweek. Dit was ‘n letterlike reis van Bloemfontein tot Welkom en weer terug die volgende dag. Met Stef as passasier word dit ‘n baie interessante reis en word selfs die bekende landskap nuut. Anders as die woorde van die lied was die reis nie onrustig en onseker nie, maar rustig en vol nuwe ontdekkings.
Miskien moet ek die verhaal van vooraf vertel.
Dit begin vyftien jaar gelede in Oudtshoorn. Tydens 1996 se KKNK loop ek en vriende in die hoofstraat van dié feesdorpie. Ons is so opgewonde oor al die vertonings wat ons al gesien het en sien uit na die klompie wat nog voorlê, o.a. ‘n vertoning in die Burgersentrum van Stef Bos, die Belgies/Nederlandse sanger. Sy eerste besoek aan die KKNK.
Langs die straat sit ‘n man op ‘n muurtjie. Hy is kaalkop geskeer en dra ‘n lang-kortbroek met ‘n oranje T-hemp. Hy smul lekker aan ‘n draairoomys. Ek herken hom as Stef Bos, wie se vertoning ons die aand gaan kyk. Ons stap nader, groet en stel onsself bekend. Hy groet vriendelik en vra uit vanwaar ons is. Hy onderteken vir ons ‘n plakkaat en CD van hom wat ons pas by ‘n stalletjie gekoop het.
Die CD heet : “Tussen de liefde en de leegte” Sy inskripsie lui: “Oudtshoorn 04-04-‘96 – Tot nog eens ergens ooit. Stef Bos.”
Ons gesels nog bietjie en hy vertel van die interessante ontdekking van soveel Nederlandse name in Suid-Afrika, waarvan Oudtshoorn sommer ‘n goeie voorbeeld is. Ons groet – beindruk met die gemaklikheid van Stef.
Die aand in die Burgersentrum lewer hy ‘n kragtoer van ‘n vertoning en neem hy ons op reis met woorde en musiek. Ons besluit dit is die hoogtepunt van ons fees.
‘n Reis met baie stasies begin daardie dag. By feeste en vertonings op verskeie plekke gaan kyk ek na Stef Bos se optredes: By Aardklop (Potchefstroom), Sterrewagteater, Wynand Mouton en Sand du Plessis teater (Bloemfontein), die Aula (Pretoria) en selfs ook Vooruit-teater in Gent, België. Verlede jaar tydens die Woordfees op Stellenbosch tree hy op saam met die February susters by ‘n wynplaas. Elke keer is dit van vooraf lekker om te luister na sy musiek en na die tyd met hom te gesels. Ook ‘n foto ter aandenking te neem. Dit word ‘n tipe ritueel. Toe my Reisgenoot deel van my lewe word, gaan sy saam na vertonings en die ontmoetings na die tyd.
In November 2004 stuur ek ‘n epos aan Stef. Daarin spreek ek die wens uit dat hy eendag in die Ernest Oppenheimer teater in Welkom kan optree, selfs al voel dit na ‘n gek idee, dit is tog ‘n droom van my.
Stef antwoord op my epos en sê dat nuwe plekke hom intrigeer en dat hy nog eendag in Welkom sal kom optree. ‘n Paar jaar gaan verby. Tydens die gesprekke na optredes herinner ek hom aan eendag se optrede in Welkom. Hy bevestig dat dit nog sal gebeur.
Tydens die Woordfees in Stellenbosch verlede jaar stem ons saam dat die optrede nou ‘n werklikheid moet word, want dit is bykans ses jaar sedert ek hom die eerste keer gevra het om hier te kom optree.
In Augustus verlede jaar stuur ek weer ‘n epos waarin ek my begeerte uitspreek dat die optrede ‘n werklikheid kan word. Stef stuur die epos aan sy agent en sê dat dié met moontlik datums na my sal terugkom.
Twee maande gelede word die datum bevestig: 4 Maart 2011. Die reëlings begin in alleryl. ‘n Heerlike vooruitsig, maar so baie moet voor die datum gebeur.
Toe ek en vriend Leon Vrydag om 12hoo by die groot venster van die lughawe in Bloemfontein staan, knibbel die twyfel steeds: “Sal hy werklik op die SAA vlug wees wat sopas geland het? Ek hou die mense wat uitklim afwagtend dop. Uiteindelik – die bekende figuur van Stef met sy rugsakkie nonchalant oor die skouer.
So begin ‘n letterlike reis na Welkom en ‘n figuurlike reis om die droom wat al sewe jaar daar is, te verwesentlik. Die reis word ‘n ‘n reis ook van verbeelding – gesprekke wat wissel van’n replika van Hitler se bunker in Bloemfontein en die werkinge van die Baaden-Meinhof bende tot ‘n seuntjie wat tande kry en die herkoms van die naam Verkeerdevlei. Erens, terwyl ‘n Coke, wat uit die yskassie opgediep word ons laaf, gaan die gesprek ook oor Eugene Marais se “Siel van die mier. Toe ons reeds die teater kan sien, haal Stef diep asem en sê: “Ek kan die teater ruik!”
Vir my is een van die spesiaalste belewenisse van die dag die heerlike voorskou van die aand se program terwyl Stef die Steinway vleuelklavier uittoets. So word ek ‘n eenman toeskouer in die mooie teater wat die klank van musiek selfsugtig kan indrink. Stef speel liede, ‘n keurspel bestaande uit o.a. Kloofstraat, die Taal van my hart en Stilbaai. ”n Solo vertoning vir ‘n solo-gehoor. ‘n Intens lekker ervaring wat afgerond word met die eet van ‘n prinsburger en Coke van Steers onder een van hulle sambreeltjies.
Vrydagaand is die foyer ‘n miernes (ja sowaar Eugene Marais se woelge geskarrel is daar!) van bedrywighede. Die port en knibbelkos is keurig uitgestal op mooi gedekte tafels. Die teater glimlag. Die glimlag verbreed toe die vertoning begin met die eerste note en woorde van Stilbaai
My hande is wakker
My oë wil slaap
My kop is in Stilbaai
My hart in die Kaap
Ek staan op die grens
Van die dag en die nag
En my kop weet nie meer wat
Om te doen met my hart
Die aand word ‘n hartsreis op maat van ou én nuwe liede. Die musiek word ingevul met eerlike vertellings wat die gehoor laat skater. Stef Bos het tuis gekom in Welkom. Toe die laaste note van “Ik heb je lief” in die ouditorium weerklink, staan Stef op na ‘n marathon vertoning van langer as twee uur. Die applous bevestig: iets baie spesiaals het vannaand hier gebeur. ‘n Stukkie Bos-betowering is oor die gehoor gesprinkel en almal is onwillig om op te staan en die atmosfeer te verbreek.
Toe ons Saterdagoggend na die lughawe ry om Stef te besorg, gesels ons oor die lekker van die vorige aand en die die vreemde reis wat mens aandurf as jy die eerste tree gee op die pad van ‘n verhouding.
By die lughawe drink ons vir oulaas ‘n koppie tee terwyl ons wag vir die vlug om aangekondig te word. Stef teken die plakkaat wat in my studio opgeplak gaan word om my te herinner dat drome tog waar word:
Voor Wim
Na jare, dan tog (wat hulle ook sê)
Uiteindelik in Welkom
Dankie vir die wonderlike aand
Ons sien mekaar
Stef Bos
Met die groetslag bevestig ons: daar sal ‘n weersiens wees. Tot dan sal ons gevoed wees met die sielsverrykend en helende klanke van musiek.
Voorwaar: “De macht van de Muziek!”
Ek is so bly alles het goed afgeloop.Wat is die volgende droom ?
Rene, die waarword van die droom is so lekker, dat ek beslis aan ‘n volgende droom sal werk. Op die oomblik rus ek eers!
Het Stef die eerste keer in Stellenbosch as student gesien saam met my sus.
Musiek sorg vir soveel mooi oomblikke.
Kry Stef vir ons in Kanada..U