Die Hart van Lig
Hartjiehortjiehuisie. Philippolis. 8 Oktober 2008
Die rare ding gebeur. In die toegeluikte huisie in Tobie Mullerstraat duur die nag langer en word daglig eers gestuit. Totdat – die son trefseker die uitgesnyde patroon op die luik vind en sy aankoms hartvormig aankondig. Dit word ‘n lekker wakkerwordspeletjie – kyk of die luikhart al lig deurskyn, dan is dit ‘n duidelike teken van die nuwe dag.
Lig. Jy weet as dit daar is. veral na ‘n lang nag met skrikdrome is lig die verspieder wat verlossing bring. Ek onthou een so uitgerekte wag-vir-die-lig nag toe ek vier jaar oud was. Ons het by my familie gekuier. Die vorige aand het ons ‘n oorlogsfilm in die inryteater gaan kyk. Ek dink nie my ouers het besef hoe grafies die geweldstonele gaan wees nie. ‘n Toneel van ‘n geweldige bombardement ruk die dorpie aan flarde. In die volgende toneel hardloop ‘n seuntjie beangs deur die vernielde strate opsoek na sy ouers. Uiteindelik vind hy die lyke van sy ouers net buite die dorpie aan die rand van die bos. Hulle lê leweloos verwronge met bloed op hulle gesigte. Hy gaan kniel by sy ma en tel haar hand op. Dit gly willoos terug. Die kamera fokus op die seuntjie se ontreddering en angs. Die nag sien ek die prentjie eindeloos voor my oê afspeel. Dit word ‘n lang nag. As mantra om die donkerte te besweer prewel ek my ouers se name. Uiteindelik verval ek in ‘n rustelose slaap. Toe ek wakkerword merk ek op dat die gordyne lig begin word. Soos die lig toeneem, kan ek die patrone op die gordyne al duideliker uitmaak – sulke bamgoesgrasse wat geleidelik verkleur. Uiteindelik is dit dag!
LIG. Net die sê van die woord klink sommer reg. Véérlig. Lig kan niks anders as lig wees nie. Aan die bestaan van lig kan mens nooit twyfel nie – jy wéét wanneer lig teenwoordig is.
Die bevrydende teenwoordigheid van lig maak my altyd opgewonde, veral as dit deurbreek op plekke waar die donker wou paaiboelie speel.
In haar outobigrafiese vertelling: “Om die son te aanskou” vertel Audrey Blignault van so ‘n donker tydperk in haar lewe na die motorongeluk waarin haar man dood is en sy ernstig beseer is. Terwyl sy by haar dogter en skoonseun kuier, dra sy die binnedoodsheid van seer en verlies. Dit duur etlike weke. Tot op ‘n dag. Haar kleinseun sit in sy stootwaentjie. Sy merk op hoe hy verwonderd die ligstrale dophou en dan gryp na die klein stofdeeltjies wat in die ligbane ronddans. Hy gryp aanhoudend en lag uitbundig. Op daardie oomblik gebeur daar iets in haar binneste. Sy self sien die lig wat so sonder voorbehoud skyn en ‘n klein seuntjie gelukkig maak. Skielik voel dit asof die lig ‘n pad deur die donker in haar binneste brand. Sy onthou ineens die woorde van die Bybelvers: “Soet is die lig en goed is dit vir die oë om die son te aanskou (Pred 11:7).
‘n Wonderlike eienskap van lig bly my by: ‘n eksperiment met ‘n glasprisma in die Skeinatklas. ‘n Sterk ligstraal val met ‘n bepaalde hoek by die prisma in en breek dan oop in ‘n kleure-reënboog. Lig herinner altyd aan die verrassing wat weggesluit lê vir diegene wat dieper wil kyk en bereid is om te wag.
In die film : Marvin’s Room speel ‘n jong Leonardo DiCaprio die rol van van Hank, ‘n tienerseun vir wie al die komplekse werklikhede van die lewe te veel raak en dan uit reaksie sy enkelouer ma (gespeel deur Meryl Streep) se huis aand die brand steek. Sy ma kry toestemming om hom tydelik na sy oupa, Marvin, te neem. Die oupa is al vir twintig jaar chronies siek en bedleênd. Hank is onwillig , maar wanneer hy wel sy oupa vir die eerste keer ontmoet, vorm daar ‘n vreemde band tussen hulle. Hy besef dat sy oupa eintlik niks het om hom te vermaak daar in die donker siekekamer nie. Hank prakseer ‘n plan – met ‘n spieëltjie kaats hy die ligstreep wat deur ‘n spleet in die gordyne val, tot by sy oupa op die bed. Wanneer sy oupa die ligkolletjie opmerk, begin hy reageer en daarna gryp. Met behulp van die spieëltjie laat Hank die ligkolletjie oral in sy oupa se kamer dans. Hy sien hoe sy oupa dit geniet. So klein gebaar, so groot reaksie.
Om oop-oog te reis beteken dat mens die ligstrale sal raaksien. Soms byna kinderlik weer daarna sal gryp en dit toelaat om tot diep binne jou te skyn. Dan kan mens ook soms soos ‘n stukkie spieël wees wat die lig inkaats tot by ander wat in gedempte vertrekke smag na die dans van lig.
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh1:5)
Explore posts in the same categories: Uncategorized