‘
‘n Oorrompelende liggroen lenteboom bevestig: die nuwe seisoen is hier. Om die verandering van die kaal takrangskikking na lewensgroen blaardraers te aanskou, is om die wederopstanding van die lewe te vier!
Saam met die nuutheid van die bottende seisoen ervaar ek onmiskenbaar die reiskriewelings in my lyf. Die meedoënlose winter het ons beperk tot ons klein leef-en werkkring. Nou nooi die nuwe seisoen ons om te ontdek en te waag. Om trein te ry en nuwe landskappe te ontdek.
Die boek wat ek lees, Mediterreense herinneringe, dra natuurlik by om my te laat droom oor allerlei eksotiese bestemmings en dorpies met die mooiste name wat musiekklanke oproep: La Maléne, Villeneuve, Minerve, Saint Julien-des-Molieres, L’Isle-sur-la-Sorgue…Op sy reis deur die Midi (Middagland, Land van die son) hou André P Brink noukeurig dagboek van al sy ervarings. Dit sluit veral die streke van Provence en Languedoc in.
Hy kom tot die gevolgtrekking: “Miskien is elke reis in ‘n dieper sin ‘n soektog – na pit, ‘n essensie, ‘n hart. En al kom jy op die duur maar net by ‘n stukkie van jou eie hart uit, dan het jy – wie weet – ‘n soort skat gevind waarvoor die man in die gelykenis sy grond gaan verkoop het.”
In die dorpie Maillane is Brink in sy eie woorde op ‘n klein piëteitsreis want dit is die tuisdorpie van Frederic Mistral, die skrywer wat Provincaals weer op die voorgrond gebring het. Teen die fasade van die dubbelverdieping huis waar Mistral gewoon het, is ‘n sonnewyster aangebring met die inskripsie:
Gai lesert, beu ton soleu,
L’ouro passo que trop leu,
E deman ploura beleu …
Vrolike akkedissie, drink jou son,
die tyd gaan alte gou verby
en more reen dit dalk…
Dit lyk vir my of die inskripsie ook ‘n Carpe Diem bevestiging is wat van pas is in die nuwe seisoen. Benut elke dag as ‘n gawe van Bo. Leef met oorgawe. Dan eggo dit ook die woorde van die Prediker:
Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop.’n Hond wat lewe, is beter
as ’n leeu wat dood is….
Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen… (Pred (9:4,10)
Dit was dan juis ook met hierdie dringendheid om nie dinge uit te stel nie dat ek en my reisgenoot tydens ons kuier op Philippolis besluit het om plekke wat ons altyd net verbyry, van nader te verken.
Telkens as ons op die pad tussen Trompsburg en Philippolis ry, sien ons die afdraaibordjie na die ou stasie: PHILIPPOLIS WEG.
Dié keer besluit ons om te kyk hoe die ou stasie lyk. Ons draai af met die grondpaadjie en ry die stuk of drie kilometer tot by die stasie. Toe ons by die hek inry, word ons getref deur die vervalle toestand van die eertydse mooi stasie: Philippolis Weg.
Ons begin summier foto’s neem van die ou naambord wat in sy verweerde toestand eintlik simbolies is van die verval en onbruik waarin die stasie verkeer sedert dit etlike jare gelede gesluit is. My reisgenoot stel haar kamera in om swart en wit foto’s te neem, terwyl ek die kleurfoto’s neem.
Dit word ‘n interessante middag op die stasie – ons neem ‘n paar detailfoto’s van die spore, boute en moere wat dit vashou, sinjale en watertenk. Toe kom die stasiehuise aan die beurt. Die vreemde is dat juis die verval in die huise goeie fotomateriaal bied, maar tog is daar telkens ‘n gevoel van hartseer om te dink dat dit eens bewoon was en dat die stasie ‘n ontmoetingsplek was waar sommige persone se reis ge-eindig het en ander se reis weer begin het.
Uiteindelik stap ons weer na die perron. Dit is behoorlik of mens in jou gedagtes ‘n prentjie kan sien van die stasie in sy bloeitydperk. Mense en goedere word hierheen vervoer en met opgewondeheid deur die wagtendes begroet. ‘n Seun, ‘n dogter keer terug van universiteit en sien met verlange uit na die kuier op hulle hartsdorpie.
Dit is asof ek weer die woorde en refrein van Richard van der Westhuizen se liedjie, Tussen Treine, in my kop hoor weerklink:
Elke keer was dit ‘n afskeid.
Elke keer weer ‘n begin.
‘n Honderd haltes langs die spoor.
Elke stasie het sy eie skim.
Tussen treine.
Tussen stasies.
Lê daar basies, net die leë spore.
Tussen treine.
Tussen stasies.
Lê die leë spasies van die onskuld nou verlore…
Onwillekeurig dink ek terug aan die epiese treinreis wat ek meegemaak het in 1967. Ek en my suster was deel van ‘n skooltoer na die destydse Rhodesië. Ons het vroegoggend op Virginia stasie opgeklim saam met die res van die toergroep en vir bykans drie dae gereis tot by die Victoria waterval by Livingston.
My ervaring van treinreis was baie beperk en dit het soos ‘n reuse avontuur gevoel om die kompartement te betrek en alles te inspekteer: Die groen banke wat ook sou dien as slaapbank snags, Die klein vlekvrye staal wasbakkie. Maar die eintlike avotuur was die venster met die afbeelding van ‘n springbokkop daarop wat kon afskuif. Dan kon jy jou kop uitsteek en die wind voel waai – ‘n sensasie kry van beweging en spoed. Die avontuur was lekker totdat daar ‘n stukkie steenkool jou oog beland het, dan het jy gou jou kop teruggetrek en hulp gevra om dit uit jou oog te kry.
Van die drie dagreise per trein om tot by ons bestemming te kom, onthou ek nie veel nie, net maar die opwindende gevoel om deur ‘n onbekende landskap te beweeg met die geklik-klak van treinwiele op spore as agtergrondmusiek. Ook die gerusstellende gevoel om saans (as daar uiteindelik rustigheid kom in die koepee) aan die slaap geskommel te word deur die ritmiese klanke en ligte skommeling van die treinwaens.
Iewers tydens die reis het ons die liedjie van die Sandpipers Guantanamera opskep tot Koos van der Merwe en dit dan gesing waar ons afgeklim het. Oppad na ons eindbestemming het ons op Bulawayo gestop en die Matoppos met sy kenmerkende klippe besoek en Cecil John Rhodes se graf besoek. Op ons reis terug het ons weer by die Khami-reünies vertoef.
Ons paar dae by die waterval was soos reuse ontdekking van hierdie grootse natuurwonder. ‘n Paar van ons het selfs die voorreg gehad om in ‘n ligte vliegtuig oor die waterval te vlieg. Vir my dertienjarige gemoed was dit byna te veel om te absorbeer.
Met die terugkeer het ons ouers ons op die stasie ingewag. Soos gesoute reisigers het ons die verhale van ons reis een vir een opgediep en die soeweniers as bevestiging uitgehaal. Treinry was nou onlosmaaklik verbind met die reiservaring!
Die fotosessie op die verlate stasie van Philippolis Weg het skielik al hierdie herinneringe weer na vore gebring. Toe ek en my reisgenoot later die middag terugry Philippolis toe is ons opgewonde oor die foto’s wat ons kon neem, maar tog hartseer oor die verlies aan die mooi herinneringe van treine en stasies.
Toe ons die swart en wit foto’s kyk wat die middag geneem is, is dit ineens of ons die klanke van ‘n wegstomende trein weer hoor. Ook die opbruisende gevoel onthou tydens die treinrit as jy jou kop by die venster uitsteek en die opwinding van ontdekkingsreisiger wees, ervaar.
Dan dink ek terug aan soveel dae.
Soveel stawe op die spoor.
Ja daar was voorheen ‘n tyd van treine.
Waar en wanneer het ons dit verloor?
Ja die verlies van die verlore stasies bring hartseer, maar tog het elke reis jou nader aan ‘n stukkie van jou kern en jou eintlike hartklop gebring.
Bon voyage die lente!
Wim, dis tog so jammer dat dinge soos treine en stasies wat so ‘n groot rol in ons lewens gespeel het, nou verniel en opgeroes lê. Ek dink maar net aan die vrees en trane van die onbekende wat gepaard gegaan het met die treinritte na ons weermag basisse toe, en later… ek is mos nou ‘n ‘ouman’ en kan dit ‘handle,’ en word dan eintlik ‘n bewys van jou manwees.
Jou treinrit het my laat verlang na dinge wat was en nie meer is nie.
Wel gedaan Wim!!
Dankie Len! Saam met die nuwe seisoen is daar so goeie skeut nostalgie wat my na die treine en reise laat verlang!