Kainos. Nuut. Nuwe begin. Nuwe lewe.
Buite in die natuur vind daar oral ontwaking plaas na die lang winterslaap. Die Kiepersol (Cussonia Spicata) wat so geskok is deur die swart ryp wat die Vrystaat tweekeer die winter getref het, stoot sy nuwe handjie-blare gretig uit. Byna soos klein bidhandjies wat vra vir ‘n nuwe begin.
Kainos nuutheid. Dis wat ek begeer na my lang hibernering die winter. Dikwels moet iemand hierdie nuutheid in ons wakkermaak.
Die liedjie van die King’s Singers druk hierdie gevoel mooi uit:
New Day
I will love you more than me
and more than yesterday
If you can but prove to me
you are the new day
Send the sun in time for dawn
Let the birds all hail the morning
Love of life will urge me say
you are the new day
One more day when time is running out
for everyone
Like a breath I knew would come I reach for
the new day
Hope is my philosophy
Just needs days in which to be
Love of life means hope for me
borne on a new day
You are the new day
In die lente van 2005 reis ek na Philippolis om my eie retraite te hou. Op soek na ‘n sleutel wat die nuwe sal innooi en die stagnasie van die oue sal verdryf. Ek is reg vir ‘n totale nuwe fase in my lewe, maar tog huiwerig om die oue (en oorbekende) alleenwees agter te laat. Daarom ‘n paar dae in die Artist’s Retreat op Philippolis om te dink, te doen en te besluit.
Ek kom Sondagaand 18 September daar aan, pak af en verlustig my in die mooi dubbelverdieping Karoo-huis. Die loom Sondagstilte hang oor die dorpie. Deur die venster sien ek ‘n geraamde prentjie van die historiese kerkgebou. Net die uurlikse lui van die kerkklok onderbreek die stilte. Ek luister karoomusiek. Later is slegs die stilte salwende musiek vir my siel. Ek stap na buite en gaan sit in die Labirint om die oneindige sterrehemel te bewonder. Die nagstilte word net soms deur veraf geluide onderbreek. Vanwaar ek in die Labirint sit, sien ek die verligte kruis op die koppie. ‘n Diep vrede sak op my toe.
Die ritueel herhaal ek elke aand. Dit word ‘n geestelike reis. Ook ‘n duidelike padwyser na die nuwe hoofstuk in my lewe. Ek is reg om ‘n lewensverbintenis aan te gaan.
Die Dinsdagoggend haal ek die verf en skoon doeke uit wat ek saamgebring het. Dis tyd om my hand aan die kwas te waag. My onmiddelike inspirasie is die kerk wat ek so duidelik deur die lang vertikale venster kan sien. Ek begin by die ligbron. Plak ‘n ronde maan van koperfoelie op die doek en begin om die kosmiese woelinge in die naghemel te verf. Toe volg die kerk wat soos ‘n skip verrys uit hierdie onstuimige hemel en spiralende aarde. Die spits van die kenmerkende Philippolis-toring reik na bo en word ‘n rustige baken in die ontstuimige heelal. Voor die kerk kring die gange van labirint. Maar dit vorm ook ‘n menslike brein, met ‘n oog en oor om die illusie van ‘n kop te skep. In die hart van die brein is ‘n goue sleutel. Die ontsluiting van die Kainos. Dit wat ek hier op Philippolis gevind het tydens my retraite. Dan, juis om hierdie nuutheid te bevestig, verf ek die horlosiewysers van die kerkklok dat dit op drie-en-twintig minute oor nege staan. ‘n Belangrike datum (23/9) wat Vrydag voorlê!
Onderaan die skildery verf ek die woord Kainos en die datum waarop dit geskilder is 20 Sept 2005.
Woensdag vertrek ek terug huis toe, maar eers nadat ek op Bloemfontein stilgehou en ‘n belangrike aankoop gemaak het.
Vrydagmiddag ry ek en my reisgenoot weer na Philippolis – die keer om te kyk na ‘n besondere historiese huisie wat in die mark is, maar ook vir ‘n ander rede waarvan sy nog nie weet nie.
Op die mooie gasteplaas, Bokpost, raak ons die Vrydagaand (23/9) verloof – op die selfde datum waarop my ouers vyf-en-vyftig jaar vroeër getroud is. Die volgende dag besluit ons ook om wel ‘n aanbod op die huisie te maak en die aanbod word kort daarna aanvaar.
Op ‘n helder herfsdag op Clarens in die Oos- Vrystaat word ons lewensverbintenis aan mekaar voltrek in ‘n sandsteenkerke voor familie en vriende as getuies. Dit is Goeie Vrydag en vir ons voorwaar Goeie Vrydag in die volste sin van die woord. Op ons huweliksuitnodiging pryk die prent van die Kainos kerk wat op Philippolis geskilder is.
Saam met vriende en familie vier ons die dag en die vreugde van ‘n nuwe begin. Sê ons ook dankie vir Hom wat sy belofte waarmaak:
“Kyk, Ek maak alles nuut.”
Hope is my philosophy
Just needs days in which to be
Love of life means hope for me
borne on a new day
You are the new day!