“Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit. U is met al my paaie goed bekend.” Ps 139:3
Die woorde pryk voorin ‘n geskenkboek wat ek ontvang het in 1982 toe ek ‘n belangrike besluit moes neem oor ‘n nuwe werkkring. Ek het die reis aangedurf. Sedertdien het dié teksvers al in verskillende omstandighede weer die deurslag gegee as ek keuses moes uitoefen.
“Reis is anders as net ry. Reis is langer, dieper en eindig meer as dikwels nooit nie. Selfs al kom jy terug, reis dele van jou heeldag. Mens kan in jou kop reis, of sommer net reis wanneer jy die son iewers deur die wolke sien breek. Die alledaagse rompslomp van lewe hoef nie in jou pad te staan nie.” Erens het ek die waar woorde oor reis raakgelees en ongelukkig nie die bron aangeteken nie.
Reis is die opwindende avontuur waarvoor jy soms ‘n reistas nodig het, maar meestal net jou sintuie.
Met die aanbreek van die lente is daar reiskriewelings oral in my lyf! Dalk is dit die rede dat ek tans twee reisverhale gelyktydig lees. Ek het begin met “Die Honger Reisiger” van Marié Heese en my verdiep in haar reisvertellings wat elk afgesluit word met ‘n resep of twee. Terwyl ek nog met die boek besig is, ontdek ek André Pretorius se interessante en stimulerende reissketse: “Iets ver en nuut.” Hy vertel van sy eerste grootogige reis toe hy as sewentienjarige die Olimpiese Vlam met sy eie oë sien brand het op die Montijuic-heuwel, Barcelona. Sedertdien reis hy steeds onophoudelik.
Hy som dit as volg op: “ Die drang na nuwe insig, ‘n vars perspekief, ‘n groter bekendheid met iets of iemand wat my aandag aangryp, die belofte van ‘n openbaring waarmee ek voorheen onbekend was – dit neem my altyd weer na lughawens, stasies, hawens.”
Die opwindende van reis is steeds dan jy ook met nuwe oë kyk na jou eie mense, herkoms. Pretorius skryf so daaroor:
“ Soms lê die grootste ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms sien jy op die reis niks duideliker as jou eie plek, die mense wat jy agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor besienswaardighede.”
My eie reiservarings as kind was maar beperk tot die kuiers by familie en vriende. Tog was my eerste groot reiservaring ons uittog van Stilfontein na die Kaap tydens ‘n langverlof van ses weke in 1959. Dit was ‘n epiese tog wat ons aangedurf het met die “two-tone” Vauxhall Victor wat my pa kort voor die reis gekoop het. Iewers in die haai Karoovlaktes het die motor oorverhit en moes ons met die water-seilsak wat aan die voorste buffer van die motor gehang het, gaan water skep uit ‘n boer se plaasdam. Daarmee het ons weer die verkoeler gevul nadat die motor afgekoel het. Maar dis ‘n verhaal wat vorentoe nog vertel moet word.
My reiskatalisator was my eerste kamera, want deur sy lens het nuwe vistas ontvou.
My Traveller Double Reflex kamera. Met sy profetiese naam.
Virginia, Vrystaat. Desember 1966. Ek word die trotse eienaar van die kamera tydens die jaarlikse Kersboom op die sportgronde van die myn se “Recreation Club”.
Die Groot Opgewondenheid. Ons stap die sportgronde vol afwagting binne. Pa, Ma, Ousus, kleinsus, kleinboet en ek. Ek is twaalf jaar oud. Op die terrein heers daar ‘n vrolike atmosfeer. Elke kind ontvang ‘n boekie met afskeurkoepons. Pienkes, bloues, geles, groenes en wittes. Vir elke koepon kan jy iets kry in ruil. Die heel belangrikste blou geskenkkoepon (vir seuns) en die pienke(vir dogters). Op die spesiale koepon is daar ‘n getekende Kersvader-prentjie.
Elke jaar is die ritueel dieselfde. So teen Juliemaand bring die verteenwoordiger ‘n verskeidenheid van geskenke waaruit die ouers kan kies.(Dit word vir ons kinders verswyg). Die bepaalde geskenk word dan teenoor die betrokke kind se naam geskryf. Tydens die Kersfunksie ontvang elke kind (via kersvader) dan die geskenk wat deur sy/haar ouers reeds maande tevore uitgesoek is. Die verwondering is dan groot dat kersvader so presies weet wat elkeen se hartsbegeerte is.
Dit is dan ook die groot hoogtepunt van die Kersboom die middag – die aankoms van kersvader. Want eers daarna mag die geskenk koepon ingehandig word.
Kersvader arriveer in 1966 nie met ‘n slee nie, maar wel met ‘n trekker en versierde sleepwa. Hy sit op ‘n Kersvader-troon en wuif goedig vir die opgewonde skare kinders wat om die sleepwa rondmaal. Uit sy skouersak gooi hy lekkers aan wie ookal gelukkig genoeg is om dit raak te vang.
Na die indrukwekkende aankoms kan ek nie wag om die die kosbare koepon in te handig nie. In ruil daarvoor word ‘n kleinerige toegedraaide geskenk aan my oorhandig. Ek skeur die kerspapier met onbetaamlike oorhaastigheid af. Ek kyk na die die prent op die kant van die kartondoos en trek my asem in: ‘n Kamera! Daar staan dit geskrywe: TRAVELLER DOUBLE REFLEX CAMERA.
Ek haal die kamera versigtig uit My hart klop opgewonde. My eie kamera! Met ‘n 120 film ingesluit. Hoe het Kersvader dan so goed geweet dat ek ‘n eie kamera begeer? Pa het ‘n Pentax SP500 wat hy gebruik. Soms, net soms mag ek die die kamera vashou en selfs by wyse van uitsondering ‘n foto neem. Dis so duur kamera, dat dit eintlik net Pa is wat dit mag hanteer. Maar vandag! Ek hou my eie kamera vas.Die dag word ‘n mallemeule van opgewondenheid en die koepons word een na die ander afgeskeur, ‘n Gele vir ‘n roomys, ‘n witte vir ‘n koeldrank, ‘n groene vir ‘n rit op die speeltreintjie.
Maar die wonderlikste bly steeds die koepon wat aan my die kamera besorg het. Nou is ek ‘n egte regte fotograaf!
My eerste rolletjie 120 film neem ek vinnig klaar. Ongelukkig vergeet ek soms dat die kamera nie self na die volgende raampie aandraai nie en neem dus soms twee foto’s in een raampie. Dit het interessante spesiale effekte tot gevolg. Ek neem bv. ‘n foto van my suster waar sy gehurkend poseer by die dieretuin. Net daarna neem ek ‘n pou af wat pronkend sy vere sprei. Maar albei in dieselfde raampie. Die resultaat: My suster in die omraming van ‘n dramatiese veretooisel!
‘n Paar maande later vertrek ek as dertienjarige standerd sessie op ‘n skooltoer per trein na die destydse Rhodesië. Daar sou my Traveller sy eerste vuurdoop hê toe ek poog om die asemrowende Victoria-waterval se koeëlronde reënboog op film te probeer vasvang.
My eerste proesel van ‘n buitelandse reis en ‘n kamera om dit vas te lê! My kamera was my oop-oog reisvennoot.
Sedertdien is my kameras my getroue bondgenote om reise, ervarings en mense op film (en deesdae digitaal) vas te lê. Ek (en deesdae met Reisgenoot aan my sy) “travel” steeds voort. En poog steeds om dit oop-oog en boekstawend te doen.
Koos du Plessis se liedjie “Swerwers” som die misterie van reis miskien die beste op:
jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een wat sonder afskeid ry
of sy wat eensaam agter bly?
of wie?
wie sou die ware swerwer wees
die een wat reis, die een wat lees
die enk’ling op sy slentergang
of elkeen wat na iets verlang
of wie?
wie sou die ware swerwer wees:
die een te voet, die een in gees
die een wat deur die ver land stryk
of hy wat deur die rookmis kyk?
of wie?
jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een met tas en reisbiljet
of elkeen wat nog drome het?
of wie?